Die skrywer en akademikus Johan Fourie lewer op Dinsdag 17 Mei 2022 om 17:30 sy professorale intreerede aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Ekonomie met die lesing “South Africa’s long walk to economic freedom: a personal journey”. Melt Myburgh het in die aanloop tot dié spesiale geleentheid met hom gesels.
Mense wat die geleentheid wil meemaak, kan hier RSVP.

Johan Fourie (Foto: verskaf)
Johan, die titel van jou intreerede, “South Africa’s long walk to economic freedom: a personal journey”, roep nie alleen Nelson Mandela se seminale outobiografie in lesers se gedagtes op nie, maar ook jou boek wat in 2021 verskyn het: Our long walk to economic freedom – lessons from 100 000 years of human history. Wat is jou droom vir Suid-Afrikaners in terme van ekonomiese welvaart, en hoe rig dit jou lewe en werk?
Die intreerede maak nie ’n voorspelling vir wat Suid-Afrika kan of moet wees nie. Dit is ’n terugblik op my eie familiegeskiedenis, ingevleg met momente in Suid-Afrika se ekonomiese geskiedenis. Dis beslis ook nie ’n omvattende ekonomiese geskiedenis nie – my voorgeslagte was byna almal boere op Oudtshoorn, en daar is ook net sóveel wat mens daarvan kan sê!
Die titel verwys inderdaad na my boek wat verlede jaar by Tafelberg verskyn het. (Die goeie nuus is dat ’n bygewerkte Afrikaanse weergawe einde vanjaar die lig sal sien.) Dit sinspeel natuurlik wel op Mandela se Long walk, maar ook op die ekonomiese vryheid waarvan die EFF praat. Tog dink ek die belangrikste woord in die titel is Ons, want welvaart kan net geskep word wanneer mense afhanklik van mekaar is.
En daarin is ook die optimistiese beskouing, want ten spyte van al die slegte goed waarvan ons elke dag lees – en daar is inderdaad baie goed wat mens teen die mure uitdryf, om maar net aan Binnelandse Sake-toue te dink – leef ons vandag langer en meer interafhanklik as wat ons voorouers geleef het. Lewensverwagting is maar net een maatstaf van hoe ons beter af is. Daar is etlike ander. Ons vergeet somtyds hierdie groter, langertermyn-prentjie as ons ’n koerant lees.
In jou boek pas jy die lesse wat die geskiedenis van die mensdom ons leer, toe op ons situasie van vandag, en in jou intreerede verskuif jy die fokus na jou persoonlike familie-ervaring. Wat het hierdie verskuiwing in fokus geïnspireer?
Ek werk die afgelope vyf jaar aan die Biography of an Uncharted People-projek wat historiese, kwantitatiewe bronne transkribeer en analiseer. Die doel is om stories oor gewone mense te vertel, mense wat nie noodwendig konvensionele argiefrekords nagelaat het nie. Ek het gedink dit sal lekker wees om hierdie kwantitatiewe geskiedenis te kombineer met stories uit my boek. En omdat die Fouries ongeveer 0,7% van die wit bevolking uitmaak, is hulle ’n lekker lens om hierdie navorsing deur aan te bied.
Is dit ’n uitdaging om ’n persoonlike geskiedenis met ’n akademiese narratief te versoen?
Ek het beslis iets vars probeer doen – of dit werk of nie, sal mense maar Dinsdagaand beoordeel. My Fourie-voorgeslagte is maar net plekhouers vir al die ander gewone mense van die tyd. Daar is niks interessants of buitengewoons aan hulle nie, daarom dat hulle juis so goed werk vir die storie.
Kommentators op jou boek loof die toeganklikheid van die inhoud, en hulle wys daarop dat jou benadering verfrissend en dikwels “entertaining” is. Wat is jou beskouing van die verteerbaarheid van akademiese navorsing vir nie-akademiese landsburgers?
Dit is iets waaroor ek nogal gereeld dink: Hoe maak ons navorsing verteerbaar vir ’n groter gehoor? Een van die projekte wat ek onlangs aangepak het, was om my studente in kontak met bekende kunstenaars te plaas, en die kunstenaars te vra om hul navorsing visueel te interpreteer. Ons het toe ’n kunsuitstalling gehou – Charting the uncharted. Dit het baie aandag getrek, baie meer as wat ons sou getrek deur net ’n gewone akademiese konferensie te hou. En die studente en die kunstenaars het baie daarby baat gevind. Veral as jy werk met moeilike onderwerpe – soos slawe wat weggehardloop het – dan is ’n forensiese kunstenaar se kunswerk gebaseer op die beskrywing soos dit in ’n koerantadvertensie verskyn het, nogal treffend. Akademici – en ek sluit myself hierby in – kan beslis meer doen om met breër gehore te gesels.
In jou intreerede gaan jy die heersende situasie van die pandemie as vertrekpunt gebruik en terugbeweeg na die geskiedenis van jou voorsate in die uiteensetting van jou betoog. Jy het vir die Presidensie uitgebreide navorsing in die Paarl-omgewing gedoen oor die impak van Covid op ons gemeenskappe, nie waar nie?
Toe Covid uitbreek, was ons reeds twee jaar besig om sterftekennisse van mense tussen 1915 en 1920 in te samel. Ons was dus in ’n wonderlike posisie – as ek dit so kan noem – om advies te gee oor wat tydens die Spaanse Griep gebeur het. Daar was natuurlik reeds uitstekende navorsing beskikbaar, onder andere Howard Philips se proefskrif, maar ons data het gewys hoe veral sommige groepe onder die Spaanse Griep deurgeloop het; nie almal is ewe erg getref nie.
Ons het ’n verslag aan die Presidensie gestuur wat goed ontvang is. In ’n artikel wat daarna gepubliseer is, het ek en Jonathan Jayes, ’n M-student, vyftien dorpe ondersoek. Dinsdagaand sal ek na die Paarl verwys.
Johan, in jou rede gaan jy sekerlik aanduiders gee van hoe Suid-Afrika vorentoe moet beweeg na ’n suksesvolle, regverdige ekonomiese bestel. Intussen is die nasionale vervolger, Shamila Batohi, besig om haar papierwerk agtermekaar te kry om binnekort die staatskapers wat soveel verwoesting gesaai het, te vervolg. Dink jy al die kriminele sal uiteindelik voor stok gekry word?
Ek het geen beter insig as die gewone man op straat oor wat met staatskapers gaan gebeur nie, maar wat ek wel kan sê – en wat ek vermoed die meeste lesers reeds weet – is dat ons nou sien hoe seer die staatskapers die staatskas en -instellings gemaak het. Ons was bitter naby aan ’n vinnige spiraal na ’n mislukte staat. Ek dink nie ons is tans daar nie, maar ons is beslis ook nog nie waar ons kan wees nie.
Die doel van my intreerede is om die dinge te beklemtoon wat help om ’n welvarende samelewing te skep, dinge wat ons meer produktief maak en wat ons help om seker te maak dat almal in hierdie vooruitgang deel. Een daarvan is die belangrikheid van ’n goeie regstelsel. Hopelik sal die skuldiges vinnig aan die pen ry.
Een van die grootste dilemmas waarmee Suid-Afrikaners sit, is om die ekonomiese ongelykhede wat deur ons troebel geskiedenis geskep is, uit die weg te ruim sodat die balans herstel kan word. Is dit enigsins moontlik, en hoe lank gaan dit duur?
Ek dink die meeste Suid-Afrikaners gee meer om oor sosiale mobiliteit as oor ongelykheid. Die twee is verwant, maar nie so stram as wat mens dalk dink nie. Wat ek daarmee bedoel, is dat arm Suid-Afrikaners hoop op ’n beter lewe vir hulself en hul kinders; hulle gee nie werklik om of die rykste Suid-Afrikaner R1 miljard of R10 miljard of R100 miljard sterk is nie. Daar is baie wat ons kan doen om sosiale mobiliteit aan te moedig sonder om ryk mense die skuld vir als te gee.
Johan, as akademikus en navorser is jy voortdurend betrokke by projekte en studies om die impak van gebeure in ons samelewing te analiseer en te verreken. Luister instansies (en die regering) na jul bevindinge en aanbevelings?
Uit die aard van my navorsingsveld het ek maar min direkte kontak met beleidmakers. Maar my boek het beslis gesprekke losgemaak, iets waaroor ek baie bly is. Ek het iewers ’n foto op Tito Mboweni se Twitterprofiel gesien waar Our long walk in die agtergrond lê, so miskien kom die idees daarin tog uiteindelik by die regte mense uit!

Die Fouries se plase in die Kaapkolonie omstreeks 1850 word op die kaart in swart aangedui (Grafika: Johan Fourie)
Sou jy ’n jong Fourie van 18 jaar oud aanraai om sy/haar toekoms te projekteer op die buiteland, of sal Suid-Afrika ’n tuiste vir ’n voorspoedige toekoms kan bied?
Daar is baie waarde daarin om ervaring in verskillende kontekste op te doen. En om (internasionale) netwerke te bou. Ek dink ’n 18-jarige Fourie moet gaan na waar die geleenthede is. Daar is steeds baie opwindende goed wat in Suid-Afrika gebeur, miskien dalk meer in die Kaap-omgewing as elders, en veral in die tegnologiesektor. In Europa en Amerika is die mededinging fel – ons kan baie by hulle leer, maar die geleenthede hier aan die suidpunt bly enorm vir dié met die energie en durf om ’n kans te vat.
Jou intreerede Dinsdagaand is een van baie merkers wat jou sukses as akademikus markeer. Hoe voel jy oor hierdie fase van jou professionele lewe? Die Fouries, wat so ’n sentrale plek in die betoog van jou intreerede gaan inneem, is darem seker baie trots op jou?
Met ’n pa wat ’n onderwyser en ’n ma wat ’n bibliotekaresse was, was daar nie veel anders wat ek kon doen as die akademie nie … Ek is baie gelukkig om te geniet wat ek doen, en om in ’n departement te wees waar mense saamwerk. Dis ook lekker om saam met slim en innoverende postdocs en PhD’s te werk. Ek het ook wonderlike vriendskappe gesmee met kollegas oorsee.
Ekonomiese geskiedkundiges neem hulself nie te ernstig op nie. Jy sou dit nie kies as jy wou geld maak nie; almal is daar omdat hulle ’n passie daarvoor het. Dis nie almal wat so gelukkig is om ’n beroep te kies wat meer passie as werk is nie.
Lees ook:
’n Uittreksel uit Johan Fourie se Our long walk to economic freedom
Lees ook hierdie navorsingsartikels in LitNet Akademies se Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-afdeling:
Derick Blaauw, Anmar Pretorius en Rinie Schenck: “Die COVID-19-pandemie en strukturele kwesbaarheid van dagloners in Windhoek, Namibië”
Ewert Kleynhans en Clive Coetzee: “Assessering van die ruimtelike aard van armoede in Suid-Afrika met behulp van satelliettegnologie”
Bennie Linde: “Die dualistiese benadering tot arbeidsverhoudinge in die hedendaagse Suid-Afrika: ’n Sisteemteoretiese perspektief”