Reinet Nagtegaal se langverwagte tweede roman, Abra K'Dabra, word vanjaar tydens die Stellenbosse Woordfees bekendgestel. Op Saterdag 10 Maart gesels sy om 16:00 in die Protea Boekwinkel oor dié publikasie. Melt Myburgh het vyf speelse (en minder speelse) vrae aan haar gestel:
Reinet, jou nuwe roman Abra K'Dabra word binnekort op die Stellenbosse Woordfees bekendgestel. Is daar hekse en toorgoed in die boek, of wend jy jou soos Madonna tot die Kabala?
Te-he-he! Hekse en toorgoed, ja! Maar nét as jy in heks die transponering van klanke in werklikheid sien. Die trefkrag van die leuen.
Het jy al ooit gesien hoe iemand iets vertel en dit uiteindelik presies so gebeur? Dis die storie van my lewe – ek het alles wat ek wou hê, met woorde geskep! Dis die enigste heksery waarom dit hier gaan. Die krag van woord-suggestie.
Die boek gaan grootliks oor oeroue rituele waarvolgens die ou Jode “golems” geskep het deur die gebruik van klanke en energieë. Drie vroue binne 'n regspraktyk ('n regter, 'n advokaat en 'n skoonmaker) ontdek opnuut die tradisie van die ou alchemiste en die Boek van die Skepping, en speel dan daarmee binne die strak parameters van 'n regspraktyk. Natuurlik met tragiese gevolge.
Deur die roman loop twee geskrifte lynreg met mekaar op parallelle spore sonder om in mekaar te vleg: die uittreksels uit die Boek van die Skepping en die doenighede van die drie “hekse”. Dis nie soseer die Kabala nie, wel die ou Hebreeuse geskrifte waaruit die Kabala uiteindelik ontstaan het, soos die Sefer Yetzirah (Boek van die Skepping) en die Zohar. Die karakters is terselfdertyd ware alchemiste wat herleef en alchemistiese rituele lewend maak, soos dr Robert Fludd en Theopastrus von Hohenheim (Paracelsus).
Min mense weet dat jy 'n Afrikaans-onderwyseres was voordat jy naam gemaak het as regsgeleerde en skrywer. Het jy die skoolhouery enigsins geniet?
Dit was van die wonderlikste jare in my lewe. Ek het nou nog kontak met sommige van die leerlinge vir wie ek vlugtig klas gegee het.
Ek is verskriklik didakties. My kinders, en selfs my vriende, hol soms weg as ek eers lostrek met nuwe feite wat ek versamel het. Siestog, die kinders kon nie eintlik weghol nie. Ek het eintlik Engels en Duits vir matrieks gegee, en een jaar lank Afrikaans vir graad agts.
Ek het 'n wonderlike tyd met die kinders gehad, want ek was self maar pas uit my tienerskoene, maar ek sou dit nooit kon volgehou het nie. Ek moet bieg dat ek nie die brieke het wat 'n mens nodig het om kinders gedissiplineerd te hou nie. Ek glo nie in brieke nie en kinders het dit blykbaar nodig om veilig te voel. Die skoolhouery self het ek benouend beleef en ek glo dit verg enorme energie. Dus: my hoed af vir alle onderwysers wat binne die beperkings steeds kreatief bly ter wille van hul leerlinge.
Sal jy ooit 'n jeugboek aanpak, of is dit jou dogter Jackie se domein?
Ek is besonder lief vir die jeug, maar kan nie meer die jeug se taal praat nie. Ek het 'n kortverhaal vir graad sewes geskryf wat in 'n leesboekie opgeneem is, en dit was regtig lekker, maar moeilik!
Hoe voel jy oor Afrikaanssprekende ouers wat hul kinders na Engelse skole toe stuur?
Ek het geen gevoel vir sulke ouers nie – laat daar 'n meulsteen om hulle nekke gehang word, want die moedertaal, o skoonste taal ... bla-bla-bla.
Praktyk en rede.
Dit gaan nie vir my soseer om Engels nie, maar om ander blootstelling. Soveel as moontlik. Kinders kan dit vat en dit maak hulle interessante grootmense. My kinders is Christelik grootgemaak en ek het hulle in 'n Joodse skool gesit. Dit was goed vir hulle.
Ouers moet die keuse gegun word om self te besluit wat vir hulle die swaarste weeg: moedertaal, of die kind se blootstelling aan soveel invloede moontlik.
Ek glo dat 'n mens jou ouers kies. My keuses is dus binne die onbestaanbaarheid van objektiewe tyd (blikskottel, Reinet! As daar so iets bestaan ... ha-ha!) ook vir my kinders aanvaarbaar, omdat hulle op die tydstip toe hulle my as ouer gekies het, reeds geweet het wat ek hulle gaan bied.
Ag, Here, jy is so ryk ... Wil jy nie maar vir Dirk los en met my trou nie? Asseblief!
Ek hou 'n harem aan. Ek hoef hom nie te los nie. Kom net, en bring nog 'n lover saam!
XX