Wen 'n eksemplaar van Boererate deur Danie Smuts

  • 1

Het jy 'n boereraat waarin jy onfeilbaar glo? Stuur jou gunsteling boereraat na [email protected]. Die redaksie sal vanuit al die inskrywings 'n gelukstrekking maak om te bepaal wie 'n eksemplaar van Boererate kan wen, met komplimente van Penguin Random House Struik. Onthou asseblief om jou naam en telefoonnommer by jou inskrywing in te sluit sodat ons jou kan kontak. Sluitingsdatum: 4 Junie 2015.

Boererate
Danie Smuts
Penguin Random House
ISBN: 9780143539216

Koop Boererate by kalahari.com.

Alkoholverslawing? Tant Hettie Jordaan van Frankfort het raad. "Eet elke oggend 1 lemoen, gebruik wilskrag en jy is genees." Boererate deur Danie Smuts het pas by Penguin verskyn. Melt Myburgh, uitgewer by Penguin, vertel vir Naomi Meyer van die dinge wat mense glo genesing kan bring, en ander interessanthede.

Hallo Melt, wat beskou jy as 'n boereraat en hoekom het Penguin besluit om die boek Boererate (weer) uit te gee?

Hallo Naomi. Die HAT se omskrywing van ’n boereraat is presies wat ek verstaan onder dié term: tuismedisyne wat in die ou dae, toe dokters so skaars soos hoendertande was, gebruik is om kwale te genees. Die ou boere het gebruik gemaak van dinge in en om die werf om hul medisyne te brou. In sy voorwoord tot Danie Smuts se Boererate, wys “Prof dr Nol van Blerk” op die ontstaansmoontlikhede van dié rate – hoorsê, waarneming, ondervinding, mite, geloof en – glo dit of nie! – die magiese.

Die pad wat Penguin geloop het om die boek, wat in 1989 deur Saayman & Weber, uitgegee is, weer uit te gee, is interessant. Een van ons verkoopspersoneel, Marlene Falconer, het met ‘n eksemplaar opgedaag en voorgestel dat ons die boek moet heruitgee, aangesien daar eindelose navrae daaroor is, veral op die internet.

Omdat Saayman & Weber nie meer bestaan nie, en die legendariese uitgewer Daantjie Saayman ’n paar jaar gelede oorlede is, was dit ’n uitdaging om die kopiereghouer op te spoor. Na drie maande se navrae het ek uiteindelik by Daantjie se seun uitgekom, wat my ingelig het dat Danie Smuts se dogter die kopiereghouer is, maar niemand het geweet wie sy is of waar sy har bevind nie. Danksy ’n Facebook-update het ek Smuts se dogter, Anna Vimercati, binne vyf minute opgespoor, skaars ’n klipgooi van ons kantoor in Johannesburg af.

En hier is die boek nou, terug weens publieke aanvraag.

Melt Myburgh (foto: LitNet)

In die boek verskyn rate vir enigiets van hik tot lewerkanker. Watter rate beskou jy as van die interessantste of mees humoristiese?

Dié raat teen borskanker is fassinerend (let op die taal wat dateer uit ’n tyd voor Afrikaans amptelike status gehad het):

Kanker: 'n Foorbeeld fan 'n frou wat di kanker an haar bors had en wat reeds so erg was, dat daar al 8 gate ingefreet was en weer hersteld geworde is deur di folgende raad: Sy het 8 paddas geneem in 'n neteldoekse sakkie op die bors geleg, wat dadelik op die bors so fas kleef as bloedsuiers, toen hulle fol gesuig het, fal hulle met hewige stuipe af, sonder dat di uitsuie pyn feroorsaak. Dit word herhaald tot 120 paddas toe wat hulle algar fan tyd tot tyd doodsuig; en di bors is nie alleen genees ni, maar het selfs ten folle di natuurlike grootte weer terug gekry.

Dié raat kom uit Die Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepte Boek van EJ Dijkman en is ingestuur deur Dirk van Rooyen van Garsfontein.

Dan kan bleskoppe by die volgende baat:

Kaalkop: 1 klein plastiekbakkie, 2 stukkies lyn, 3 stukkies sellotape, halwe koppie water, 'n eetlepel tafelsout. Vat die 2 stukkies lyn, wat ewe lank moet wees en plak dit met die sellotape aan weerskante van die bakkie vas. Plak die ander ente van die lyn aan die plafon bo-aan 'n deurkosyn se bo-ent vas. Plaas 'n stoel onder die bakkie. Gooi nou die ½ koppie water versigtig in die bakkie. Nou word die tafelsout effe klam gemaak en aan die kaal kop gesmeer. Dan gaan sit die kaalkop-persoon op die stoel en vra ook een van die gesinslede om by hom te kom staan. Eerlank sal die hare wat nog onder die kopvel is, dors word en uitkom om water te drink. Sodra hulle mooi uit is, moet die lid van die gesin vinnig 'n knoop in elke haar maak sodat hulle nie kan terugtrek nie. En siedaar, 'n welige haardos. (Ouma Alida Neveling, ingestuur deur Sarie Herbst van Germiston.)

En as jy iemand by Eskom ken, kan jy korte mette maak van jou probleme met rumatiek:

Rumatiek: Jy neem ou transformatorolie en vryf dit goed in elke aand voordat jy gaan slaap. Dit moet spesifiek ou olie wees, omrede die ou olie elektrisiteit bevat. Die transformators word gewoonlik na 'n sekere tyd vervang met nuwe olie. So die mense kan maar 'n vriend vra wat by ESKOM werksaam is om 'n bietjie ou olie te bekom. Al die dorpe het gewoonlik 'n ESKOM-substasie. Ek wil net noem dat dit 'n baie skoon olie is en mense hoef nie bang te wees vir hulle beddegoed nie. Hierdie raat kan ek waarborg. (Neels Joubert van Secunda.)

Danie Smuts, heel regs, saam met Emgee Pretorius (heel links) uit 'n toneel in Koöperasiestories (fotobron: http://www.myheritage.com)

Op ernstiger trant: ons almal wil seker drink uit die fontein van onsterflikheid. Is dit ook die soort leser op wie die boek toegespits is?

Nee, lesers wat oral rondvra vir Danie Smuts se Boererate is oor die algemeen mense wat soek na iets moois uit die Afrikaanse kultuur. En boererate is ’n stukkie Afrikaner-erfenis waarop Suid-Afrikaners met reg trots kan wees. Boererate-lesers is nie mense wat net nostalgies is oor die Afrikaner se kultuurgoedere nie, maar ook geïnteresseerd is in hoe mense in die verlede gedink, gepraat en geleef het, en hoe mense in die 1970’s en 1980’s geklink en gepraat het toe hulle dié rate na Danie Smuts se boererateprogram op Springbok Radio ingestuur het. Dit is ’n unieke, vermaaklike stukkie kultuurgeskiedenis hierdie.

Daggaplante (bron: timeslive.co.za)

Kan die boek as mediese handboek ingespan kan word? Indien nie, wat is dit dan?

O liewe genade, nee! Ons het ook ’n lywige vrywaring voorin die boek geplaas wat lesers waarsku om eerder ’n mediese dokter te gaan spreek as hulle ’n ongesteldheid het. Dagga is een van die ou boere se gunstelingkure vir ’n verskeidenheid kwinte en kwale, en dié kruid is nog onwettig in Suid-Afrika. Ons wil darem nie mense aanmoedig om die wet te oortree nie. En om eerlik te wees, ek dink ’n raat soos die volgende kan van die pasiënt ’n alkoholis maak:

Swanger (dié raat is vir iemand wat nie kan swanger raak nie): 1 bottel ou portwyn, 1 botteltjie bruindulsies, 1 botteltjie wonderkroonessens, 1 botteltjie versterkdruppels, 1 botteltjie fosfirien. Gooi al die botteltjies in die portwyn. Neem 3 maal 'n dag 'n halwe kelkievol. Die persoon het nog nie eers die bottel klaar gedrink nie, toe was sy swanger. (Mev D Scharneck van Petit.)

Uiteraard is daar enkele rate wat ooreenstem met wat medici vandag sou aanbeveel, maar daaroor moet medici geraadpleeg word.

Is daar boererate waarin jy self glo?

O ja. Hierdie een werk vir mense wat gewig wil verloor:

Vettetjies: Drink elke ½ uur 'n glas water. Dan het jy soveel water gedrink dat daar niks plek is vir kos nie. (Anniekie van Heerden, Pretoria-Noord.)

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het op 'n keer 'n raat gehoor van hoe om van aambeie ontslae te raak. Jy vat 'n Nugget-politoerblikkie se deksel en gooi dit half vol met water. Jy sit dit op 'n kombuistafel neer. Jy trek jou broek af en smeer growwe sout op die aambeie. Jy hurk oor die deksel met die water in. Na 'n ruk word die aambeie dors en klim dan teen jou been af om te gaan water drink. Sodra hulle by die water is spring jy van die tafel af en trek jou broek so vinning as moontlik op en gee pad. Siedaar jy is ontslae van die aambeie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top