Zirk van den Berg se roman Tweegevreet, wat in 1905 in die destydse Suidwes-Afrika afspeel, het onlangs verskyn. Melt Myburgh het gedagtes met die skrywer uitgeruil.
................
Tweegevreet is pragtig deur Kwela Boeke uitgegee, en mens sien in die omslagontwerp dat dit deel van ’n reeks is, met Die vertes in as voorganger wat in 2018 verskyn het. Hoeveel boeke kan lesers in die reeks te wagte wees?
Toe ek in 2013 met Siegfried Bock en Duitswes begin worstel het, het ek gereken ek sou ’n minireeks skryf, miskien vier of vyf boeke. Omtrent niks het heeltemal uitgewerk soos ek gedink het nie, maar daar is weliswaar nou drie boeke wat eintlik ’n samehangende geheel vorm, al kan elke boek ook afsonderlik gelees word. Die slotaflewering is in my uitgewer se hande.
Die karakters wat lesers in Die vertes in leer ken het se wel en wee word in Tweegevreet voortgesit – die geregsdienaars Siegfried Bock en Hans Stempsky, en die plaasvrou-weduwee Lisbeth Kamke. Moes jy opnuut energie vir dié karakters bymekaarskraap om hulle in die nuwe boek deur te sien, of was dit ’n kwessie van aangaan waar jy in die vorige boek opgehou het?
Tussen die boeke was dit soos om deur ’n motorhek te ry – drrrrrrr, en ek is anderkant, sonder om veel spoed te verloor.
Die karakters het lewens buite die boeke, voel dit vir my, en ek teken net die relevante dele op. Iemand soos Eva, byvoorbeeld, het haar eie verhaal wat so half buite die reikwydte van my boeke val. Dis eintlik waar van omtrent almal. Elke mens het sy eie storie.
Ek hou van die idee dat daar ’n voller werklikheid is as wat in die boek opgehaal word. Lesers kry te doen met ’n slice of life.
Waaraan ek veral plesier het, is om ’n newekarakter in een boek te vat en in ’n ander boek meer prominent te laat figureer, soos Hans Stempsky in Tweegevreet. Daar is ’n kêrel genaamd Jager Orlam wat twee keer vlugtig in Die vertes in verskyn, en wat ’n hoofkarakter in die derde boek is.
Die geskiedenis van Duits-Suidwes-Afrika is soos ’n wye doek waarteen die verhaal ontvou. Trouens, ons bevind ons in Tweegevreet in die jaar 1905. ’n Skrywer moet uiteraard met respek daarmee omgaan wanneer ’n verhaal in ’n bepaalde tydgreep afspeel om getrou te bly aan die geskiedenis. Vertel asseblief van jou verbintenis met Namibië en jou navorsing oor die periode waarin die verhaalgebeure voltrek word.
Die navorsing geld vir die reeks eerder as die spesifieke boek. Gaan ek soos ’n bitterbal klink as ek noem dat ek meen van die aandag wat Tweegevreet nou kry eintlik Die vertes in moes toeval? Daardie boek lê my geweldig na aan die hart. Ek meen lesers se genieting van Tweegevreet sal ’n ekstra dimensie kry as hulle Die vertes in ook gelees het.
Maar om jou vraag te antwoord: Ek is ’n gebore Suidwester, soos ons in daardie dae was. My familiegeskiedenis lê daar. Die land en sy geskiedenis resoneer met my. Ek het vir die boek plekke besoek, baie gelees en na baie foto’s gekyk. Omdat baie van die materiaal net in Duits beskikbaar was, ’n taal waarin ek tot onlangs net die skelwoorde geken het wat in die War Picture Library comics van my jeugjare was, moes ek myself leer totdat ek darem kon verstaan wat ek lees. Ek het ook hulp van verskillende kenners gekry, onder meer ’n paar akademici wat spesifiek oor die Landespolizei navorsing gedoen het.
Soos wat die romantitel suggereer, word kwessies rondom identiteit in die roman verken – dubbele identiteit, versweë identiteit, en ook die balans tussen leuen en waarheid. En jy takel dié temas tot in die fynste besonderhede ten opsigte van elke karakter. Stempsky se persona het selfs ’n “eggo”, ’n “ander self” wat wegraak wanneer hy hom in die geselskap van Lisbeth bevind. Wat is jou gedagtes rondom identiteit? Ek kry die indruk dat jy eindelose pret gehad het met dié tema in die boek.
Identiteit is om die een of ander rede nogal ’n tema in my werk. In ’n Ander mens gaan die ou in die getuienisbeskermingsprogram in om letterlik ’n ander identiteit te kry. In Halfpad een ding is die hoofkarakter ’n spioen wat voorgee om iemand anders te wees. Daar lê ’n ligte manuskrip by die uitgewers waar identiteit nog meer verwarrend raak. In Tweegevreet is daar mense wat bewustelik valse gesigte voorhou en ander wat gaandeweg verword. Die saad waaruit hierdie storie gegroei het, gaan om verskuiwende identiteite en die onverwagte gevolge wat dit kan hê.
Ek weet nie wie dit oorspronklik gesê het nie, maar hierdie aanhaling wat ek eenkeer by die skilder Larry Scully gehoor het, bly my by: “Man is a process masquerading as a structure.” Identiteit is nie vas nie.
Vroeg in die verhaal onderneem jou hoofkarakter Siegfried Bock ’n reis te perd vanaf die polisiestasietjie in die Hochnamib na Windhoek. En daar doen hy om ’n bepaalde rede aan by ene Leimbach se fotografie-ateljee. Is die beskrywing van die ateljee gegrond op historiese gegewens? En is die verwysing na die “ligte porno”-foto’s van swart modelle wat in die ateljee geneem is ook gegrond op geskiedkundige feite?
Daar is inderdaad sulke foto’s. Dit is nie ’n sterk tema in die boek nie, maar is tog deel van die ontering van plaaslike mense wat indertyd aan die orde van die dag was.
Terwyl Siegfried Bock in Windhoek is, kruis sy pad met dié van die skilder August Niedermeyer. Moes jy gaan kyk na skilderye van die tydperk rondom die eeuwending tussen die 1800’s en 1900’s om ’n volledige prentjie van die fiktiewe karakter te vorm?
Kunsgeskiedenis was my hoofvak op universiteit en ek was vir etlike jare Die Burger se kunsresensent. Die grootste gemene deler onder my vriende in Nieu-Seeland is dat hulle beeldende kunstenaars uit Suid-Afrika is (onder meer Frank van Schaik, wat Wydsbeen se omslagskildery geskep het). Ek het dus nie nodig gehad om spesifiek navorsing oor kuns te doen vir hierdie karakter nie.
Terloops, om ’n kunstenaar van watter aard ook al as karakter te hê, is nogal gevaarlik. As skeppende mense sien skrywers maklik meer van hulleself in daardie karakters as wat vir lesers interessant is. Ek het iewers gelees dat van die ou Amerikaanse pulptydskrifte ’n reël gehad het dat skrywers nie enige vorm van kunstenaar as hoofkarakter mag hê nie. Dis ’n vermaning om in gedagte te hou.
Die Namibiese landskap beïnvloed jou karakters se perspektief van hul werklikheid. In ’n stadium merk iemand op: “Die berge in Suidwes is sewe keer verder as wat dit lyk.” Watter uitdagings skep dit vir ’n skrywer wanneer sy karakters hulle op ’n nuwe kontinent bevind waar nuwe magsverhoudinge tussen inkommers en die inheemse volkere geld?
Indertydse bronnemateriaal help baie. Die stelling in jou vraag is byvoorbeeld iets wat die soldate werklik geleer is. En natuurlik is daar ook ’n element van pure verbeelding.
Ek moet bely dat ek nie juis ’n politieke dier is nie. My aanvanklike idee was om misdaadstories te skryf, maar die politieke omstandighede was sodanig dat ek dit eenvoudig nie kon ignoreer nie, ewe min as wat my karakters kon.
In Tweegevreet speel die landspolitiek ’n kleiner rol as in Die vertes in of die derde boek, maar die koloniale ongelykheid is onvermydelik en oral teenwoordig.
Die gewoontes van inheemse groepe soos die Namas, Damaras en Herero’s kom in die boek ter sprake, onder meer wat betref taboes rondom die hantering van lyke wanneer iemand te sterwe kom. Vertel asseblief van die navorsing wat jy hieroor moes onderneem.
Ek is allermins ’n kenner en het eintlik net genoeg opgelees om kortstondig die illusie te skep dat ek iets weet! ’n Hoogtepunt wat die volkekundige navorsing betref was dat die vermaarde Namibiese etnoloog doktor Kuno Budack my aan huis ontvang het. Hy is werklik ’n besondere man wat in sy jeug in Oos-Duitsland toegesluit is oor sy sieninge. Hy is ’n lewende legende in Namibië. Ek het dit erg waardeer dat hy bereid was om my onkundige vrae te beantwoord.
Op bladsy 86 sê die verteller: “Mense wat boeke lees is deel van ’n geheime orde van die verbeelding.” Jou karakters is aangewese op skryf om te kommunikeer, maar ook om dagboek te hou en gebeure op te teken sodat dit nie in die vergetelheid verval nie. Ook om illusies en leuens in stand te hou. Wat is jou siening as skrywer van die verbeeldingswêreld?
Lesers is ’n besondere spesie, my gunstelingmense. Deur lees verbreed jy jou horisonne en jou kapasiteit vir empatie. Dis liefde vir lees wat my ’n skrywer gemaak het. Saul Bellow het tereg gesê: “A writer is a reader moved to emulation.” Ek hou van sekere boeke, en probeer dan self nóg van hulle opmaak.
Oor die breër rol van die geskrewe woord in ons wêreld kan slimmer mense interessanter dinge kwytraak. Vir my is deel van die antwoord dat die sakewêreld meer van geskrewe tekste gebruik maak as wat die meeste mense besef, en ek verdien my dagloon deur hulle daarmee te help. Dis maar soms ’n gekners, en dan ontsnap ek in stories. Ek bring ’n aansienlike deel van my lewe in verbeelde wêrelde deur.
Tweegevreet is op primêre vlak ’n misdaadverhaal waar die raaisel rondom ’n moord opgelos moet word. Maar dit is veel meer. Hoe voel jy oor misdaadfiksie en hoe benader jy die genre as ’n “literêre” skrywer?
Die onlangse WA Hofmeyr-prys wat hulle vir Ek wens, ek wens gegee het, maak seker die term literêre skrywer verstaanbaar, maar dis nie hoe ek daaroor dink nie. Ek is nie mooi seker ek verstaan eens wat ’n boek literêr maak nie. As dit om tegniese vernuwing of filosofiese mymeringe gaan, is ek allermins literêr. Vir my gaan dit daaroor om eerlik en onderhoudend oor mense en dinge te skryf, en om clichés te vermy. (Behalwe natuurlik as hulle ’n positiewe bydrae maak – clichés is kragtig, anders sou hulle nie in die eerste plek inslag gevind het nie.) Ek slaan ag op karakter en situasie, en probeer die prosa lewendig hou.
’n Onliterêre vriend wat Die vertes in gelees het, het opgemerk dis soos ’n filmfeesweergawe van ’n aksieverhaal. Ek hou van daardie beskrywing.
Misdaadverhale is weliswaar van my gunstelinge om te lees, hoewel ek deesdae toenemend om die rande van die genre boer. Ek is sielsmoeg vir tawwe poliesmanne en het reeksmoordenaars nog altyd vervelig gevind. Gewone mense met swakhede is interessanter as maniakke of dronkgatte. Enigiemand wat wil verskil, kan gerus Massimo Carlotto se Death’s dark abyss, Jim Thompson se The getaway of van Dürrenmatt se misdaadverhale gaan lees.
Tweegevreet is ’n misdaadverhaal en eintlik in wese ’n ander soort storie as Die vertes in. (Ek weet dis sleg vir verkope, maar ek probeer om nie dieselfde boek oor en oor te skryf nie.) Hopelik het Tweegevreet soos sy voorganger ook die kwaliteit dat hy sy gegewe vars en met erns benader. Dit gaan meer om die mense as die misdaad.
Lees ook:
Boeke met Burger: ’n Zoom-gesprek met Zirk van den Berg, Carina Stander en Alettie van den Heever
Skrywersonderhoud: Chris Marnewick gesels met Zirk van den Berg