
Zirk van den Berg en Chris Marnewick (Foto: verskaf)
Ek wens, ek wens
Zirk van den Berg
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708558
Inleiding
Ek het so pas vir Zirk van den Berg gelukgewens nadat hy die 2019-Media24-prys vir letterkunde (Afrikaans) gewen het vir sy roman Ek wens, ek wens (Kwela, 2019), toe LitNet my vra om ’n onderhoud met hom te voer. My opdrag is om met hom te gesels oor die Media24-prys wat hy gewen het, en dalk oor sy skryfwerk in die algemeen, temas, hoe die land waarin ons albei woon ons skryf- en leefwêreld beïnvloed, en wat ek ook al verder kies om oor te praat. Jinne, dit is soos om voor ’n regter te verskyn wat nie die stukke gelees het nie en wat die verrigtinge begin deur te sê: “Aanvaar dat ek niks weet nie en begin by die begin.” ’n Uitdaging soos dié kan my dae lank aan die praat hou; ek besluit dus om die onderhoud kort te hou, soos ’n argument in ’n appèl in Bloemfontein.
Ek begin by die begin en lees gou weer Zirk se ’n Ander mens (Kwela, 2013) wat deur Karin Brynard aangeprys is as: “Skitterend, skerp en spannend! ’n Sterk, karaktergedrewe en ongewone spanningsverhaal.” (Ek keer later terug na ’n Ander mens.) Terwyl ek lees, wag ek vir my Kindle se battery om te laai sodat ek Ek wens, ek wens kan lees voordat die onderhoud begin. Ek is halfpad deur die bekroonde boek toe ek in Auckland by die veerboothawe afklim en ’n blok of twee die stad in stap om vir Zirk te ontmoet. Die stad is stil, met sypaadjies in die middestad wat in verkeersbane afgemerk is. Ek hou links tot in die restaurant waar ons ooreengekom het om bymekaar te kom. Die restaurant is leeg en is seker aan die herstel nadat hulle besigheid, soos talle ander, gedurende Nieu-Seeland se fase 4-grendeltyd geheel en al gesluit was. Ons bestel iets te ete en raak aan die gesels, albei deur die grendeltyd se eensame opsluiting uitgehonger vir geselskap. Ons praat min oor die vrae wat ek vir Zirk per e-pos gestuur het en die gesprek woerts-wars links en regs oor die onderwerpe wat ek moet aanspreek.
Waar het jy die idee vir hierdie boek gekry, en hoe lank het jy daaraan gewerk?
Ek het ’n nota op my rekenaar wat op 15 Junie 2010 geskryf is – tien jaar en drie dae voor verlede week se prys. Dit sit die idee uiteen. Waar die idee vandaan kom, weet ek eerlikwaar nie. En ek het jare lank ook nie geweet wat om daarmee te maak nie. Ek het die toneel met die seuntjie wat die begrafnisondernemer besoek, kort daarna geskryf, maar toe weet ek nie of ek op ’n fliek, ’n TV-reeks of ’n boek sit nie. Eers in 2017 het ek uit desperaatheid die storie eenvoudig van begin tot einde neergeskryf.
Het jy vooraf ’n uitgewer daarvoor gehad? Indien nie, hoe het jy te werk gegaan om dit by aanvaar te kry?
Na ’n afwesigheid van meer as 20 jaar in Afrikaans het die destydse uitgewer by Kwela my in 2012 se koers gevra om my speurverhaal Nobody dies (’n Ander mens) vir hulle te vertaal. En toe doen ek ’n paar Wilbur Smiths vir hulle. Ek het dus ’n bestaande verhouding met die uitgewery gehad, en het maar my goed aangestuur – jare lank sonder sukses.
Ek was vroeg in 2017 juis besig met die derde boek in my Hochnamib-trilogie en besef toe ek moet stapelgek wees – niemand wil dan eers die eerste een uitgee nie. Toe besluit ek ek vat liewer die beste idee in my laai en skryf hom. Dit was Ek wens, ek wens.
Het jy iets van die skryfkuns geleer terwyl jy Wilbur Smith se boeke vertaal het? Indien wel, wat?
Ek het eenkeer raad gelees dat as jy wil leer skryf, moet jy ’n boek waarvan jy hou vat en hom in geheel oortik. Dit het vir my gek geklink, maar nou, nadat ek meer as ’n miljoen woorde vertaal het – wat nog meer intens is as oortik – moet ek erken ’n mens leer op hierdie manier iets. Wilbur Smith is nou nie iemand wat ek sou kies om te lees nie. Hy is egter goed daarmee om historiese gegewens dramaties aan te bied. Verder het ek heelwat gesien van wat ek liefs nié wil doen nie. En sy prosa het my vertroue in my eie skryfwerk versterk!
Wat is die sentrale tema van die boek (sonder om die storielyn te verklap)?
Eenvoudig: Wat maak ’n mens met jou lewe, waarvoor wens jy? En iets hoopvols omtrent jou vermoë om dinge te verander waarvan jy nie hou nie. Dit was in een stadium van my lewe vir my ’n groot openbaring dat ’n mens dinge kan verander.
Hoe dapper of desperaat moet ’n mens wees om self daardie veranderings aan te bring?
Baie, die eerste keer. Die wete dat jy kan, maak dit later makliker.
Waar kom die karakters vandaan? Het jy hulle op persone wat jy ken, of geken het, baseer? Waarom of waarom nie?
My karakters is gewoonlik maar doodgewone mense, want dis die mense wat ek ken. Ek het nie vir die karakters in die boek na enige spesifieke mense gekyk nie – jou karakters dra aspekte van verskillende mense, en baie van jouself.
Ek gaan later terugkom na hierdie een toe – die tema van die gewone man of vrou wat altyd in die agtergrond is. Maar eers oor skryfwerk in die algemeen: Hoe gaan jy te werk om ’n fiktiewe karakter “lewe” te gee, ’n identiteit en persoonlikheid wat die karakter laat uitstaan en om die leser te oortuig?
Die verteller is die eerste karakter wat ’n skrywer moet skep – dit bepaal die stemtoon waarin die storie vertel word. Die storie kry nie sy loop voordat die vertelstem gevestig is nie. Verder laat jy maar net die mense in jou kop los in die storie se milieu en kyk wat word. Ek soek gewoonlik die interessantheid in elke karakter, die unieke of onverwagte, in soverre hulle bladsytyd dit toelaat. Daar is nie eintlik oninteressante mense nie.
Het jy ’n skryfprogram wat jy slaafs volg, of skryf soos die muse jou lei of aanpor?
Jack London het gesê hy jag na inspirasie met ’n knuppel in sy hand. Ek voel ook so – jy wag nie vir die muse nie, jy soek haar. As ek met ’n skryfprojek besig is, doen ek dit elke oggend tot so tienuur, wanneer ek oorslaan na my dagwerk toe om den brode. Op die oomblik hinkepink ek tussen stories.
Is daar ’n skrywer met wie jy identifiseer as synde iemand net soos jy? Hoe so?
Die Fransman Romain Gary miskien. Hy het soveel verskillende soorte boeke geskryf, en ek kan met daardie rusteloosheid identifiseer. King Solomon en The life before us, wat hy onder die naam Émile Ajar geskryf het, tel onder my absolute gunstelinge. Die vertelstemme daarin is totaal verloklik en die sentimente wonderlik aweregs. Die verteller se geïmpliseerde lewensbeskouing is vir my een van die aantreklikste goed omtrent lees. Ek kan baie kommersiële boeke eenvoudig nie lees nie omdat die verteller my verveel.
Wat lees jy? Watter skrywers het ’n rol in jou ontwikkeling as skrywer gespeel?
Ek lees deesdae skandalig min, en nog minder Afrikaans. My verwysingsveld in die taal is daarom oud. Ek dink nie enige boek het my al ooit so platgeslaan soos Eben Venter se Ek stamel, ek sterwe nie. Ek het letterlik op die sypaadjie gesit en huil.
In my ontwikkeling as skrywer is daar te veel om te noem – basies omtrent almal wat ek in my tienerjare gelees het – van Raymond Chandler en Philip K Dick tot Toergenjef en Dostojewski. Ek het by geleentheid beken dat my droom nie is om ’n suksesvolle skrywer te wees nie, maar om een in die 1970’s te wees. Ek dink ek het daai boot verpas ...
Waar kom idees vir ’n boek in die algemeen by jou op – drome, dagdrome, vorige ondervindings, Freud se onderdrukte begeertes, vrese ... ?
Ek dwaal so ingedagte en partykeer begin iets vorm aanneem, ’n slymerige ghwel in ’n waterstroom. Dit verhard mettertyd, goed plak daaraan vas, dit groei en vervorm. Dis wonderlik om te beleef. Kreatiwiteit is iets waaraan ’n mens verslaaf kan raak.
Jou agtergrond as joernalis – hoe versoen jy die dissipline van die joernalis met die skrywer se skeppingsvryheid (om stories op te maak)?
Skryf van aller aard is maar net die verpakking van inligting. Ek het metterjare nogal veelsydig geraak daarmee.
Oor ’n Afrikaanse skrywer in Nieu-Seeland: Hoe affekteer jou verblyf hier in Nieu-Seeland jou skryf- en leefwyse? Is dit makliker om oor Suid-Afrika en sy mense te skryf van hier ver af?
’n Mens se lewenswyse word fundamenteel geaffekteer. Dis die verlies aan jou geskiedenis wat swaar is, en ek sukkel met die verlies aan spesifieke vriende. Dan is ons ook afgesny van die Suid-Afrikaanse milieu. Die taal waarin ek werk, het aangeskuif vandat ek weg is. Ek is ook bewus daarvan dat ek uit voeling is met die sosiale kwessies van die dag, wat ’n tweesnydende swaard is. Ek kan beswaarlik nou ’n boek skryf wat in die hedendaagse Suid-Afrika afspeel – dié dat ek meestal in die geskiedenis karring.
Mis jy nie jou vriende en eertydse kollegas en die interaksies met hulle nie?
Erg. My ou gabba is André le Roux van Struisbaai-blues en Sleep vir jou ’n stoel nader. As ek in die Kaap kom, bly ek by hom en ons kuier verder waar ons laas opgehou het. Ek het my stoel in sy studeerkamer. Ons kry dit ongelukkig nie eintlik reg om in noue kontak te bly van ver af nie.
Ek en André en Kerneels Breytenbach het saam by Die Burger se kunsblad gewerk in die laat 1980’s. Kerneels was later hoof van Human & Rousseau en is steeds ’n baie ondersteunende vriend wat betrokke bly by my skrywery. Sy Hond se gedagte was ook op die kortlys vir hierdie prys. Twee uit drie vir die kunsblad!
As jy raad soek oor ’n storielyn (“plot”) of ’n karakter, wie raadpleeg jy? Het jy ’n sogenaamde “eerste leser” aan wie jy ’n manuskrip voorlê voordat na ’n uitgewer toe gaan?
Ek praat soms met my vrou (Elsabé) en deesdae nogal baie met my dogter, wat ’n goeie aanvoeling vir storie het. Meestal praat ek maar met myself. Elsabé en my uitgewer, Carolyn Meads, moet dit gewoonlik eerste ontgeld as lesers.
Jy was bevriend met ’n ander Suid-Afrikaner wat hier in Auckland gewoon het? Wil jy daaroor praat?
Ek het my beste vriende in Suid-Afrika agtergelaat. In die 22 jaar wat ek in Nieu-Seeland woon, was dit eintlik net Ryk Hattingh met wie ek hier so ’n gevoelsverhouding gehad het. Hy was ’n enorme mens. Hy kom soos ’n orkaan by die voordeur in. “Ou Zirkie,” sê hy, en trek los.
Ek is so bly dat hy, na 18 jaar van skoene herstel hier, as skrywer erken is in die week voor sy dood, met die kykNET/Rapport-prys vir Huilboek.
Hy was ook, terloops, die eerste leser van Ek wens, ek wens. Dis al van my wat hy ooit gelees het. Die dag toe hy begin lees, laat weet hy sy handlanger in die skoenherstelplek hy kom nie werk toe nie, hy lees nou eers klaar. Sy positiewe reaksie op die manuskrip het vir my geweldig baie beteken, en ek het die boek aan hom opgedra. Ek sou bitter graag die boek se prys saam met hom wou gevier het. Soos voorin die boek staan: “Ek wens jy was hier.”
Oor die Media24-prys: Hoe belangrik is literêre pryse vir skrywers (nie net die geld nie) – wat beteken dit vir ons?
In die wye wêreld beteken dit bykans niks – ek gaan nog steeds Dinsdagaande die vullisdrom straat toe sleep en my bekommer oor werk en geld; nog steeds worstel met die gewone selftwyfel. Maar tog is hierdie prys vir my ’n geweldige ding. Ek het as tiener daarvan gedroom dat kenners eendag my skryfwerk se meriete insien, en daardie kind spook nog in my binneste. Ek skryf redelik onomwonde stories, en dis ongelooflik bemoedigend dat ’n boek van dié aard sulke erkenning kry.
Het jy geweet Ek wens, ek wens is ingeskryf vir oorweging? Hoe het dit gebeur?
Nee, die uitgewer hanteer als. Ek was verbyster om te hoor dit het die kortlys gehaal. Dit sou ek nie in my wildste drome kon gedink het nie.
Hoe het jy die nuus dat jy gewen het ontvang, en wat was jou reaksie? En jou vrou s’n?
Ek wil nou nie vir Kerneels te na kom nie, maar ek het gedog dis ’n uitgemaakte saak dat Etienne van Heerden sou wen. Hy het hierdie prys immers al vier keer gewen, sy boek se resensies was gloeiend, en hy het onlangs die UJ-Prys daarvoor gekry. Ek was so oortuig dat ek besluit het om nie op te staan vir die aankondiging nie – dit was 4 vm in Nieu-Seeland. Boonop het ek die verkeerde dag beetgehad. Hoe ook al, die aand gaan slaap ek en hou vir die eerste keer in weke my telefoon aan – my seun was laat uit en dalk soek hy my. Daar biep die foon in die middel van die nag. Ek sien dis die uitgewer se publisiteitsbeampte, Helené Prinsloo, en skakel die foon af om verder te slaap. Jy moet kyk, sê my vrou, dis dalk belangrik. Toe sit ek maar weer die foon aan, en kry die boodskap: “Jy WEN!” Elsabé het gejil en ek het gelag, meer verbouereerd as enigiets. Daar sit ons toe kiertsregop in die bed saam met die kat, en kyk aanlyn na die video. Ek kan die besigheid nou nog nie kleinkry nie. Die beoordelaars is baie dapper mense, dink ek.
Vertel meer van jouself en van jou vorige boeke. Watter een sou jy kies as jou gunsteling, en waarom?
Ek hou uiteraard van al my boeke – ’n mens werk nie so lank aan iets waarvan jy nie hou nie. Ek het anderdag ’n stuk in Wydsbeen gelees, doer uit 1991, en dit het gevoel asof ek dit nou sou kon skryf.
Die vertes in, die eerste boek in my Hochnamib-trilogie, is myns insiens my beste boek sover. Ek is eintlik nog meer ingenome met die drie boeke as ’n geheel, hoewel lesers eers oor ’n maand of wat die tweede deel te lese gaan kry en die derde dalk volgende jaar.
Maar hulle sê skrywers is slegte beoordelaars van hulle eie werk. Ek het Ek wens, ek wens op my webwerf (www.zirkvandenberg.com) as ’n “ligte snuistery” beskryf ...
In die algemeen: Hoe het jy die COVID-19-“eensame opsluiting” ondervind? Is daar iets vir ons skrywers om daaruit te leer?
Ek is maar ’n bietjie van ’n kluisenaar van aard en werk in elk geval van die huis af. My daaglikse lewe het dus skaars verander. Dit was lekker om my gesin by my te hê.
Wanneer laas was jy in Suid-Afrika en hoe het jy dit beleef?
Ek was in Maart verlede jaar in Suid-Afrika en Namibië, vir Ek wens, ek wens se bekendstelling, Woordfees, en so aan. Dit was byna van hoek tot kant wonderlik. Ek kon selfs vir die eerste keer na Tafelberg kyk sonder ’n rukking in my binneste. Die grootste probleem vir my was die vertoon van weelde. Ek was voorbereid op die armoede, maar nie op die rykdom wat ek gesien het nie. Miskien het iets van Nieu-Seeland se ingetoënheid op my afgesmeer.

Zirk van den Berg (Foto: verskaf)
Postea, oftewel die dag na die onderhoud ... Zirk, ek het laasnag min geslaap, soos die nag voor ’n marathon, met elke weefsel gerat vir die wedloop. Ek het nog ’n aantal vrae wat deels voortspruit uit die onderwerpe wat ons gister aangeraak het, en deels uit die feit dat ek nou my lees van Ek wens, ek wens afgehandel het.
Ek wens, ek wens is ’n kort roman, so by die 35 000 woorde. ’n Boek is soos ’n regsargument; dit is voltooi wanneer die sentrale boodskap oortuigend oorgedra is. Kan jy die staaltjie herhaal wat jy my gister hieroor vertel het?
Daar is hierdie ding dat kunswerke in sekere bekende formate moet inpas. Die misdaadskrywer Charles Willeford het ’n pulpboek genaamd The woman chaser geskryf. Dit gaan oor ’n ou wat ’n idee kry vir ’n fliek, dit dan maak, en almal wat dit sien, dink die fliek is ’n absolute meesterstuk. Die probleem is dis 60 minute lank. Die TV-mense sê hy kan 12 minute uitsny dat dit in een uur uitgesaai kan word met advertensies. Die rolprentmense sê hy moet 20 minute bysit dat dit in teaters kan kom. Maar die ding is perfek soos hy is. Op die ou end verbrand hy die filmrol.
Toe ek Ek wens, ek wens geskryf het, het ek besluit om my nie hieraan te steur nie, om die storie van begin tot einde te skryf en basta. Gelukkig het ek ’n onverskrokke uitgewer gevind. Hier in Nieu-Seeland het uitgewers reguit vir my gesê hulle gee nie sulke kort boeke uit nie. Ek het darem op die ou end een gekry wat kans gesien het, en die boek kom in Oktober hier uit, natuurlik in Engels.
Ons het gister gesels oor wat ek die “tweede beste” genoem het en wat jy as die koor agter die pop- of rockster voor op die verhoog beskryf het. Dit lyk vir my of die sentrale karakters in ’n Ander mens (Daniël) en Ek wens, ek wens (Seb) albei van daardie agter-die-skerm-karakters is: doodgewone mense wat noodsaaklike werk doen wat nie aan die algemene publiek (en lesers) bekend is nie. Daarby het beide Daniël en Seb ’n ooglopende gebrek aan selfwaardering. Jy skryf met empatie vir sulke mense – is dit ’n tema wat jy opsetlik uitdra, of is dit maar toeval dat hierdie twee karakters so uit die papier uit opgestaan het?
Ek glo hierdie beskrywing sal nogal by heelparty van my boekhelde pas. Jy sou kon sê daar is drie soorte stories: Dié oor buitengewone mense in buitengewone omstandighede verkoop soos soetkoek; dié oor buitengewone mense in gewone omstandighede wen pryse; dié oor gewone mense in buitengewone omstandighede ... dis waar ek boer. Ek vind aanklank by die persoon net buite die kollig. Elsa Joubert is byvoorbeeld ’n baie meer gerekende skrywer as haar man, Klaas Steytler, maar dis by Klaas wat ek veral aanklank gevind het. Miskien is dit omdat ek die indruk kry dat dinge vir die sterre maklik is, en ek voel aangetrokke tot die gesukkel en die sukkelendes. Ek weet nie of dit die vraag beantwoord nie.
“Hy besef dat sy lewe een van kleinighede is - gemak, gewoontes en irritasies. Hare is groots – liefde, verraad, dood.” So dink Seb tydens een van die sleuteltonele in die boek. Dink jy dat ons lewens (tot nou, met COVID-19) so gemaklik geraak het dat ons ons net oor kleinighede kwel terwyl die ernstige bedreigings vir ons bestaan, vir ons kultuur en selfs ons taal by ons verbygaan?
Ek is nie iemand wat veel in groepsverband dink nie; vir my gaan dit maar altyd om die enkeling. (Ek was byvoorbeeld self nogal verbyster toe Die vertes in ʼn politiese kleur kry.) As iemand van een van my karakters af ʼn interpretasie na die wyer gemeenskap trek, dan is dit uit my hande. My karakters word nie as simbole bedoel nie. Wat ek wel kan sê, is dat daar mense is wat neig om hulle lewens met nietighede te vul, wat wegdeins van pyn en ekstase. Ek is self so.
Jy skryf met deernis oor problematiese gesinslewens (die polisieman Acker s’n in ’n Ander mens) en Seb s’n (en ook in Annie s’n) in Ek wens, ek wens, telkens met ’n bevredigende oplossing. Waar kom jou inspirasie vandaan om so oor sulke verhoudings te skryf? (Ek vra dit teen die agtergrond van gesinsgeweld wat endemiese afmetings afgeneem het, nie net in Suid-Afrika nie.)
My vrou is ’n kunsterapeut wat grotendeels met gesinsgeweld en seksuele molestering werk. Ek is onder die indruk daarvan dat talle mense ongelooflike wreedheid deurmaak. Maar daar is ook minder dramatiese goed wat skade doen, soos The Who se een liedjie wat praat van “a shooting or raping, or simple act of deceit” sê. Daardie bedrog maak ook seer. Ek is trauma gespaar, en die meer alledaagse haakplekke is waar my fokus lê.
Seb, die hoofkarakter, is ’n lyksbesorger, en sy werk word in besonderhede uiteengesit. Ek meen dit sou noukeurige navorsing van jou as skrywer vereis het om dit akkuraat en oortuigend binne die raamwerk van die storielyn oor te dra sonder om die leser met onnodige besonderhede te vervreem. Wat het jy moes doen, en hoe het jy dit gedoen?
Ek het ’n kennis wat ’n lyksbesorger is, en hy het sy beroepskennis met my gedeel. Ek weet nou nog nie waarom Seb hom juis as lyksbesorger by my aangemeld het nie, maar so het dit gebeur, en toe moes ek gaan navors.
Die dood en wat daarna met die liggaam gebeur, is, by gebrek aan ’n beter woord, ’n aardige onderwerp vir fiksie. Mag ek vra of daar lesers is wat liefs nie die boek moet lees nie?
Ek dink iemand wat pas ’n geliefde verloor het, of wat dalk self op sterwe staan, sal dalk eerder salig onbewus wil bly van party besonderhede. Maar volgens ’n klompie bejaarde tannies met wie ek gepraat het, is die boek nie te grieselrig nie. Daar is geen sprake van dat die verteller of leser hulle in grusaamheid verlekker nie. Maar, soos jy sê, dit is ’n aardige onderwerp.
Ons het gister gesels oor wat jy die afstompingsproses genoem het. Ek het dit in die bewaarder gevind wat in die dodeselle gewerk het (In die laksman se skoot, Protea, 2016), en jy beeld dit uit in Seb, wat soortgelyks met die lyke moet werk. Dink jy daardie afstomping, waar die deelnemer sonder emosie te werk gaan terwyl ander sou terugdeins as gevolg van die grusame aard van die werk, is ook teenwoordig in ons as skrywers? (Ek het dit wel ondervind in my werk as advokaat, en vermoed dat jy dit dalk ook in jou vorige lewe as joernalis ondervind het.)
Nee. Om sensitief te bly, is broodnodig as skrywer.
Het ons lewens verskraal (jou woord) soos Seb s’n as gevolg van ons beroepsgedrewe emosionele distansiëring van die pyn en lyding van die mense om ons? Hoe oorkom ons dit, ek en jy, as skrywers?
Vir my is die vertel van stories ’n manier om met werklikhede om te gaan. Jy kan baie openlik wees as jy ’n masker op het. Jy kan dinge in die gesig staar, en miskien lesers help om goed onder oë te sien wat andersins verborge sou bly. Nie dat my beweegredes ooit didakties is nie. Ek skryf maar om dinge vir myself uit te pluis. En omdat ek nie uniek is nie, is daar ander mense wat met dieselfde dinge sit, wat hulle dan herken.
Om terug te keer na die onderwerp wat ek vroeër uitgestel het: Is ons as skrywers soos advokate en joernaliste buitestanders, waarnemers eerder as deelnemers aan die onderliggende gebeure? Voel jy dat jy so ’n buitestander is, ’n waarnemer, met die taak om jou waarnemings in die vorm van ’n fiktiewe relaas te boek te stel?
Ek was so half verbaas toe die woord “buitestander” by hierdie boek se bekendstelling ter sprake kom, want dit is nie iets waaroor ek dink nie. Om vreemd te voel in baie omstandighede, om te kyk eerder as deel te neem, is maar hoe die lewe vir my is. Dis niks om op trots te wees nie.
’n Roman, en so ook ’n novelle, moet ’n les vir die leser inhou. Wat is die les van Ek wens en wens?
Nee wat, ek is nie ’n ou vir lesse nie. Ek skryf die storie so goed ek kan, en dan kan lesers maak wat hulle wil. Die leeservaring is ’n spanpoging.
Lees ook:
Media24 Boeke Literêre Pryse: WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie
2020 Media24 Books Literary Prizes: Herman Charles Bosman Prize for English fiction
2020 Media24 Books Literary prizes: MER Prize for Youth Novels
2020 Media24 Books Literary Prize: Recht Malan Prize for Nonfiction
Media24 Boeke Literêre Pryse 2020: Elisabeth Eybersprys vir Afrikaanse en Engelse Poësie
Media24 Boeke Literêre Pryse 2020: MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke – commendatio’s
Media24 Boeke Literêre Pryse 2020: MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke
Kommentaar
Dankie Chris vir die kwaliteit kruisondervraging en Zirk vir die boeiende antwoorde. Ek het dit voorwaar geniet!