Die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2020 is vanaand (Donderdag 18 Junie 2020) bekend gemaak. Meer as 80 boeke wat in 2019 by Media24-uitgewerye verskyn het, is vanjaar ingeskryf in ses kategorieë met prysgeld van altesaam R210 000.
Die pryse is vanjaar vir die eerste keer in meer as 60 jaar nie persoonlik oorhandig nie. Weens die COVID-19-inperkingsmaatreëls is die pryswenners virtueel aangekondig.
Die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie (romans, kortverhale en drama), wat in 1954 vir die eerste keer toegeken is, gaan vanjaar aan Zirk van den Berg vir sy roman Ek wens, ek wens. Die roman, wat deur Kwela uitgegee is, vertel die storie van ’n begrafnisondernemer wat gelate sy voorspelbare lewe leef totdat hy ’n terminaal siek kind ontmoet. Van dié boek sê die keurders onder meer: “Daar is boeke wat ’n mens in ’n ommesientjie kafdraf, maar wat jou jare lank bybly. Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg is ook so ’n groot, klein boek. Dit sorg vir ’n oorrompelende leeservaring, maar dit kom die leser se wêreld binne sonder ’n gedawer of gedruis. Dit is, in elke sin van die woord, ’n betowerende teks.”
Die ander skrywers op die kortlys was Kerneels Breytenbach met Hond se gedagte (Human & Rousseau) en Etienne van Heerden met Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Tafelberg).
Die Recht Malanprys vir niefiksie is toegeken aan Jonny Steinberg vir One day in Bethlehem oor ’n man wat 19 jaar in die tronk was vir ’n moord wat hy nie gepleeg het nie en tydens apartheid én daarna deur die strafregstelsel in die steek gelaat is. Die boek is deur Jonathan Ball Publishers uitgegee. Die keurders sê oor One day in Bethlehem: “Die skrywer se omvangryke navorsing blyk duidelik uit die teks, maar die storie word vindingryk en sensitief vertel en die navorsing oorweldig nooit die menslike aspek nie. Dit is ’n onvergeetlike boek wat die leser herinner dat “‘die verlede nooit dood is nie. Dit is nie eens verby nie.’”
Saam met Steinberg op die kortlys was Adam Habib met Rebels and Rage en Michelle le Roux en Dennis Davis met Lawfare. Albei boeke is deur Jonathan Ball uitgegee.
Nog ’n Kwela-skrywer, Trevor Sachs, wen die Herman Charles Bosmanprys vir Engelse fiksie met sy debuutroman Lucky packet. Dié roman, oor ’n jong Joodse seun wat in ’n hoofsaaklik Afrikaanse dorp in die ou Noord-Transvaal grootword, is deur die keurders as ’n leesbelewenis beskryf. “Die boek is pragtig geskryf en hoewel die storie oor ’n kind handel, word ons nooit met sentimentaliteit gekul nie. Dit is eerlik en hanteer swaarder oomblikke met ’n ligte hand.”
Sachs het die kortlys gedeel met Finuala Downling met Okay, okay, okay en Ekow Duker met Yellowbone. Albei boeke is ook deur Kwela uitgegee.
Loftus Marais is met die Elisabeth Eybersprys vir poësie bekroon vir sy derde bundel, Jan, Piet, Koos en Jakob, wat verlede jaar by Human & Rousseau verskyn het. Die keurders verwys na Loftus Marais se “verstommene digterlike vakmanskap” en sê onder meer: “Dit sit nie in elke digter se klere om ’n sukses van ’n eenheidsbundel te maak nie. Tyd en ruimte (die stad Kaapstad) het in Marais se vorige bundel, Kry my by die gewone plek aguur, gesorg vir ’n besonder hegte eenheid; in Jan, Piet, Koos en Jakob word ’n meer speelse ordeningsbeginsel gebruik, naamlik vier algemene Afrikaanse mansname waarmee onder meer die homoërotiese inhoud van die bundel aangedui word... Deurlopend gaan die verse oor die alledaagse en spesifiek oor die dikwels navrante aard van kleiner alledaagse ervarings. As ’n verbluffende voorbeeld van fyn digterlike ambagtelikheid is Jan, Piet, Koos en Jakob ’n waardige wenner van die Elisabeth Eybersprys vir poësie.
Al vier digters waarvan werk verlede jaar by Media24 verskyn het, het in aanmerking gekom vir die prys. Die ander digters op die kortlys was Ronelda Kamfer met Chinatown: gedigte (Kwela), Hennie Nortjé met Kryt (Queillerie) en Mongane Serote met Sikhahlel’ u-OR: A praise poem for Oliver Tambo (Kwela).
Die MER-prys vir jeugromans is vir die tweede keer toegeken aan Edyth Bulbring vir The choice between us, uitgegee deur Tafelberg. Die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke word gedeel deur Fanie Viljoen as die skrywer van Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies (Human & Rousseau), en Theodore Key as die illustreerder van Die hasie van fluweel, geskryf deur Margery Williams en vertaal en verwerk deur Linda Rode (ook Human & Rousseau). Beide Viljoen en Key is vorige MER-pryswenners.
Die ander skrywers en illustreerders op die MER-kortlyste was: By die MER-prys vir jeugverhale: Derick van der Walt met Toring van Jasmyn en Fanie Viljoen met Brand (albei Tafelberg); by die MER-prys vir die skrywer van ’n geïllustreerde kinderboek: Mari Grobler met Bella en Sebastiaan (Tafelberg) en Dihanna Taute met Die legendariese Lua Verwey 2: ’n Plaas se geraas (Human & Rousseau); en by die illustreerder van ’n geïllustreerde kinderboek: Vian Oelofsen vir Liewe Heksie en die pampoene deur Verna Vels (Human & Rousseau) en Tumi K Steyn vir Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen (ook Human & Rousseau).
Die wenner van elke kategorie ontvang R35 000. By die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke word die prysgeld verdeel tussen die skrywer en illustreerder.
Die keurders was: Vir die WA Hofmeyrprys: Sonja Loots, Francois Smith en Bibi Slippers; vir die Recht Malanprys: Pierre de Vos, Pauli van Wyk en Johanna van Eeden; vir die Elisabeth Eybersprys: Charl-Pierre Naudé, Andries Visagie en Rustum Kozain; vir die MER-prys vir jeugromans: Henriëtte Linde-Loubser, Naomi Meyer en Magdel Vorster; en vir die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Jaco Jacobs, Aldré Lategan en Magdel Vorster.