Brand (2019)
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie boek is beslis vir enige leser wat die somervakansie aan die brand wil lees. Die eenwoord-titel is beslis ’n vooruitwysing vir die verhaalgebeure, maar glad nie wat die leser verwag nie. Die storielyn sal enige tiener se aandag trek en behou tot die heel einde.
Daar is twee storielyne wat uiteindelik met mekaar verbind word, alhoewel die leser dit nie sal sien kom nie. Vir die leser wat dink die skrywer en iewers dalk die “plot” verloor, lees net verder - die goeie goed kom nog. Die hoofkarakter, Arian probeer op sy manier uitpluis waar hy in die wêreld hoort, want hy is nie ’n swemjock soos sy broer nie en ook nie ’n akademiese uitblinker soos sy sussie nie. Estie het iemand ná aan haar verloor en ontwikkel ’n bietjie van ’n obsessie met Arian.
Fanie Viljoen is ’n gevestigde kinder-, jeug- en volwasseliteratuurskrywer. Hy het al toekennings ontvang vir verskeie van sy boeke; die Sanlamprys vir Breinbliksem (2005) en Onderwêreld (2008) asook die ATKV-Kinderboektoekenning (2009). Van Viljoen se gewildste boeke is; Breinbliksem (2005), die Nova-reeks (2010-2014), Uit (2014), Dromers (2017), Onderwêreld (2007), Aksieheld Austin (2019) en vele ander. Baie van sy jeugverhale word al ’n geruime tyd as voorgeskrewe tekste in skole gebruik. Onderwêreld (2008) word alreeds vir twee jaar as graad 12-teks gebruik, en Dromers (2017) en Spring (2013) word gereeld vir graad agts en neges voorgeskryf. Hy het ook groot sukses met Die dag toe die draak kom / The Day The Dragon Came (2019) in ’n kort rukkie behaal. Hy het die tekste juis met die doel geskryf om kinders te help bemagtig teen situasies van misbruik en seksuele geweld. Dit is onlangs geselekteer deur ’n Chinese uitgewer om vertaal te word. Viljoen woon tans in Bloemfontein en skilder en skryf voltyds.
Om boeke vir tieners te skryf is geen grap nie, maar Viljoen het hierdie kuns reeds goed bemeester. As jy vir tieners skryf moet jy jou spreekwoordelike eendjies in ’n ry kry en hou, want tieners selfs meer as kinders, kan ’n lieg of fout kilometers ver sien. Selfs ruik, as die betrokke jong leser ’n kranige boekwurm is.
In hierdie geval het Viljoen die leefwêreld van die karakters baie goed uitgebeeld en praat die karakters uit die monde van werklike mense. Arian se fassinasie met ’n verlate ou huis is oortuigend en nie sommer vir die “show” nie.
Die leser kan iets dieper oor die karakters leer, sou daar na plekke, objekte en figure as simbole gekyk word, veral omdat daar groot verandering in Arian se lewe plaasvind.
Viljoen kry dit reg om in sy karakters se koppe te klim, sonder om vir hulle te dink. Die karakterisering is uitstekend gedoen, soveel so dat ek as leser met tye my vervies het vir heel party karakters se gedrag en uitlatings. Die gebruik van ’n derdepersoonsverteller skep die regte hoeveelheid afstand, maar terselfdertyd ook betrokkenheid, want die leser weet wat in albei karakters se lewens aangaan. Dit help om Estie en Arian se storielyne met mekaar te verbind. Dit is narratologies goed geskryf, maar ook nie oordoen sodat die verteller sy leser verveel of probeer preek nie.
Dit is goed om te sien daar word akkurate verwysings in jeugfiksie gemaak. Dis iets wat lankal algemeen in volwasse tekste voorkom, maar word minder gereeld in jongvolwasse- of tienerverhale gebruik.
Die vertelling herinner mens nogal aan ’n “coming-of-age”-tipe verhaal. Tog pas dit nie binne die riglyne en vereistes van so ’n verhaal nie. Die bildungsroman is die bekende verhaalvorm waar ’n verteller oor sy grootwordjare vertel (“bildungsroman”, 2019). Die kernfokus is die verskillende aspekte van opvoeding, gewoonlik met ’n morele invalshoek. Bekende voorbeelde is David Copperfield (1850) en Great Expectations (1861) deur Charles Dickens. Daar is gewoonlik twee vertellers, maar hulle is dieselfde persoon (as kind en as volwasse). Brand (2019) eindig voor enige finaliteit gegee kan word en alhoewel daar twee vertellers is, is dit nie ’n volwasseverteller of ‘n kinderverteller van dieselfde karakter nie. Daar is tog ’n bietjie van ’n “comng-of-age”-gevoel aan die storie, maar nie genoeg om dit ’n voorbeeld van ’n bildungsroman te noem nie.
Dit sluit beslis aan by die hedendaagse tendense om bildungsromans te vermeng met wetenskapfiksie, toekomsfiksie of distopiese fiksie. Die boek kan moontlik beskou word as ’n knippie van verskillende aspekte van hierdie genre-fiksies. Daar is die nodige twyfel, soeke na identiteit, ’n onwaarskynlike protagonis en die rol van sosiale media wat op die voorgrond geplaas word.
Ten slotte is hier ’n hele string verskuilde lewenslesse om te leer. Viljoen kry dit reg om opregte tienerkarakters te skep wat ’n ongewone verhaal tot gevolg het. Daar is selfs elemente van jongvolwasseliteratuur te bespeur en lei tot ’n teks wat dit moeilik maak om net as jeugfiksie of jeugliteratuur te klassifiseer. Beslis ’n boek om op enige leser se vakansieleeslys te plaas.
Bibliografie:
“Bildungsroman”. Literary Devices.net. Aanlyn beskikbaar: https://literarydevices.net/bildungsroman/ [2019, Desember 11]