Resensie: Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg

  • 9

Ek wens, ek wens
Zirk van den Berg
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795708558

Ek het ter voorbereiding vir die skryf van hierdie resensie ’n tweede slag Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens gelees. Die konteks van my tweede leeservaring is voorwaar wêrelde verwyder van voorheen. ’n Mens kan nie anders as om tydens iets soos die staat van inperking weens die koronavirus te wil wegbly van ’n meer sombere soort leesstof nie. Wanneer jy besef dat Ek wens, ek wens handel oor ’n lykbesorger, Seb, en dat die roman nogal uitwei oor die besonderhede van dié karakter se makabere werk, is dit dan moeilik om te verstaan waarom die omslagontwerp van die roman juis so kleurvol is. Waarom sou ’n mens nou sake van die dood met sulke kakelbont kleure wil illustreer? Nie lank ná ’n mens begin lees nie, besef jy egter dat die voorblad ’n soort herout is wat die heerlik ongewone aard van hierdie teks aankondig. "Lees voort!" roep hy. "Jy gaan verras word."

Sebastian Walters is ’n man met ’n voorspelbare loopbaan – so voorspelbaar soos die onvermydelike reëlmaat van die dood. Wat die res van sy lewe betref, is dinge saai. Hy woon saam met sy vrou, Helen, en twee tienerkinders, Josh en Katrina, en hy is ongelukkig in die huwelik en het ’n slegte verhouding met sy kinders. Na ’n kwarteeu as lykbesorger by White Lily Funerals dink hy daar is byna niks van die dood wat hom nog kan laat skrik of mislik voel nie. Hierdie ingesteldheid word duidelik uitgebeeld deur sy geoutomatiseerde omgang met die prosesse van die dood: die teraardebestellings, die uittap van bloed en ander liggaamsappe, die opstop en was en vaswerk en herbou van verminkte lyke – alles nogal sonder sensasie, en boonop goed deur die skrywer nagevors en op saaklike wyse in die roman uitgestippel.

Seb se eentonige wêreld verander egter wel op ’n dag nadat hy met die sonderlinge agtjarige seun Gawie (kort vir Gabriël) in aanraking kom. Ek wil niks bederf nie, en daarom wil ek nie te veel uitwei oor die besonderhede van dié seuntjie se impak op Seb se lewe nie, maar met die verskyning van hierdie klein wese bring hy vir die hoofkarakter ’n soort tyding. In die gevolglike sprokiesagtige gebeure maak die leser dan die ontrafeling van hierdie tyding mee.

Die omslagontwerp (deur Joey Hi-Fi) stel ’n Rubik-kubus voor en bied ’n mooi samestelling van kleiner illustrasies in rooi, turkoois, geel en groen, wat opvallend gekontrasteer word met ander beelde in swart, wit en grys. Dié beelde is ’n visuele leidraad waarmee die leser die romaninhoud betree. Die kriptiese illustrasies word goed in die narratief uitgewerk, en sodoende word ’n effektiewe skakel met Van den Berg se prosa geskep. Dit is lanklaas dat ek gedink het dat die omslag en die inhoud van ’n roman so doeltreffend met mekaar skakel.

Die teenstelling van die gewone en die merkwaardige wat deur die omslagillustrasie gesuggereer word, word dan ook aangetref in sekere beskrywings in die roman, soos in die verteller se waarnemings by ’n begrafnis: "Stemme verrys in samesyn, ’n swaarmoedige lied, en Seb kyk na die mense rondom die graf. Hulle is ook onder die waaksame oog van ’n klipengel wat op die graf langsaan pryk. [...] Hulle sing vir die lae wolke, miskien verbeel hulle hulle dat God in die grys newel luister, dat Hy reëndruppels huil [...]" (bl 8). En dan, verderaan: "Die eerste mense breek van die groep af weg, hou mekaar aan die elmboog of om die skouers vas. Sambrele flap oop, swart en blou en skelrooi, ’n gele met ’n smiley face op" (8–9). Dit is nie net deur sulke visuele teenstellings nie, maar ook deur die volgehoue fokus op die kleure van sekere dinge, soos kledingstukke, voertuie, ens, dat die leser gelei word om as ‘t ware saam met Seb met ander oë na die alledaagse te kyk.

Wat gee betekenis aan ’n lewe? Hoe kan ’n mens verhoed dat jy vasval in die versmorende alledaagsheid wat jy óf is, óf wat jou omring? Ek wens, ek wens stel belangwekkende vrae – al is daar sodanig niks nuut aan dié soort bepeinsing nie. Wat die roman egter onderskei, is die aanbieding van die verhaalwêreld waardeur hierdie vrae verken word. Die storie handel opsigtelik oor die dood – ’n lykbesorger en die huiweringswekkende wêreld van die begrafnisbedryf – maar dit is eintlik verbasend gepas dat so ’n aardige narratief uiteindelik heelwat te sê het oor die lewe, ten spyte van sy bemoeienis met die dood.

Van den Berg se roman is ’n genot om te lees, is met tye verstommend snaaks, en bied – veral nóú – ’n greintjie beskeie hoop.

  • 9

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Ai, om te dink Zirk bly net hier om die hoek van my af. Nieu Seeland kom volgende week uit Grendeltyd Vlak 3 af na Vlak 2 toe, en dan mag ons weer rondry en vriende besoek.

    Tyd vir my en Zirk om weer in die stad vir koffie en klets te ontmoet. Hy het my 'n boek belowe, en ek hoop dit is hierdie een.

    Lekker resensie, goed geskryf, wat my laat uitsien na die boek.

  • Baie geluk, Zirk!
    My droomaftreehuis is nog in Devenport...
    Chris se Shepherds and Butchers was puik en ek het Ryk se “Huilboek” verslind. Gevolglik is dié wenner op my kluitskoplys, saam met Elsa se “Spertyd” en die derde Hendrik Groen op 3 November.

  • Abraham de Vr ies

    Zirk, Ek wens, ek wens is die beste wat ek in lank gelees het; dankie daarvoor en geluk daamee. Braam ( de Vries)

  • Chris Marnewick SC

    "Leesstof vir Graad 11." Dit is juis wat Ek wens, ek wens so groots maak. Dit is gepas vir oud en jonk, en kan as 'n literêre werk of sommer as 'n lekker storie gelees word.

  • Ek het nog net een keer in my lewe 'n boek klaar gelees en dit onmiddellik begin herlees. Ek wens, ek wens sal die tweede boek wees. Ek kon dit nie neersit nie, dit lees regtig soos 'n sprokie. Dankie Zirk!

  • Mr DHF VERCUIL

    Chris. Kudos vir jou sagte antwoord wat die 'grimmigheid' in die se voetspore afgekeer en gestuit het. Jy is bevoorreg om digby Zirk te woon en julle was bevoorreg digby Ryk. Ek hunker om in Devenport te woon, maar weet nie of ons 7 SA eiendomme in Estcourt (2) en Vryheid (5) genoegdoende opbrengs sal oplewer nie. En my vrou is Dankbaar en tevrede soos Prophet sing (Die Kolonie). Ek en ons kinders (vir die huidige) ook. So terloops, Frank Opperman se eenmanvertoning speelvak is in Stellenbosch D.V. van 1 tot 6 Februarie. Groete. Dirk. PS Ons mis jou ewewigtigheid en gelykmatigheid as regspraktisyn.

  • Chris+Marnewick+SC

    Ai Dirk, hierdie Covid 19-ding maak dit moeilik om selfs vir Zirk te besoek al bly hy net so 'n halfuur se ry van my af, om nie eers van 'n besoek aan my geboorteland te praat nie. Ek leef nou in 'n "ek wens, ek wens"-situasie; kan nie wag om weer 'n Woordfees of KKNK by te woon nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top