Titel: Jan, Piet, Koos en Jakob
Outeur: Loftus Marais
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-07381-7717
Nadat Loftus Marais se debuut (staan in die algemeen nader aan vensters, 2008) ’n dekade gelede met vyf pryse bekroon is en Kry my by die gewone plek aguur in 2012 met die subtitel “Kaapstadse gedigte” verskyn het, word sy aanhangers in die winter van 2019 met ’n bundel gedigte uit sy Johannesburg-era beloon (bladsye 17, 19, 38, 42, 50, 52, 55, 56). Jan, Piet, Koos en Jakob is ’n boek portrette van Jan en alleman wat die leser uitvang dat ons onsself daarin verwoord en weerspieël sien staan. Die leser is die een wat in die woordspieël kyk, deur die raaisel van idiomatiese en kollokwiale taal sien, en ’n eiening beleef. Die titel speel met die uitdrukking “Jan, Piet (Paul) en Klaas” wat na “elkeen, almal” verwys (Prinsloo 2009). Dit is egter net die begin van Marais se spel met name en vorme, asook idiomatiese en metaforiese verwysingsvelde daarvan, wat hierdie bundel gedigte aanmekaar ryg.
Die keuse van die alledaagse, tipiese name maak dit moontlik om die gedigte stereotipes te ontleed, maak dit vir die gedigte moontlik om stereotipes te ondersoek, te benoem en daarop kommentaar te lewer. Die name word metafories gebruik om gebeurtenisse uit die daaglikse lewe (botsings, hande-arbeiders, werkloses, die middelklas, kuns, huismoles, verhoudings, aanlyn banksake, selfoontorings, Skype) met humor en ironie te belig. Sodoende word Marais se derde digbundel ’n boek oor ons samelewing met portrette van wie ons is, waar ons leef, wat ons doen en tot stand bring, en wat met ons gebeur. Die register is wyd: van padwoede tot parkeerprobleme, van gym as cruising tot SuperSport, van studentikoos tot liefkoos, van Jacobus Hendrik Pierneef tot Piet Mondriaan, van Jacob Zuma tot die ware Jakoba en vader Jakob, van son (Jan Bantam) tot suidooster (Janjie Skuinsdwars). Die idiomatiese gebruik van die vier name in die titel word vernuftig ontgin (Piet Snot, Jan Salie, Piet Verdriet, Jan Balie, Bang Jan dooie Jan, Geldpiet, Bloukoos), soos ook voël- en diername (Piet-my-vrou, Jan Langpoot, Janolus Capensis, Rooikoos) en liedjies ("Vader Jakob", "Jan Pierewiet"), terwyl die onterende geskiedenis van naamgewing as teken van besitterskap in "Wit man" (bl 16) en via die kinderspeletjie in "Jakob-waar’s-die-perde" (bl 60) uitgewys word.
Soos wat visueel uitgebeeld word op die voorblad deurdat die name van die titel direk onder mekaar gedruk word (die outeur se naam en van ook), loop ’n bemoeienis met lyste en die handeling van lys, van inventaris maak, soos ’n ruggraat deur die boek. Afsonderlike gedigte word aan laasgenoemde bemoeienis afgestaan, naamlik "Name" (bl 46) en "Lys" (bl 71). Ook die leser word verlei om lysies te maak by die lees van die bundel. Hierdie lysies sluit onder meer lysies name, lysies portrette (woordportrette, selfportrette, landskapskilderye, beeldgedigte), lysies oor die aard en vergestaltings van liefde, en lysies belewenisse in. Die aanvanklik onskuldige handeling van benoeming en lysies maak, en die digterlike procedé waarby die leser betrek word, word in die sterk slotgedig ontmasker. “(E)k wil hê u moet verstaan,” sê Bloukoos (bl 88) nadruklik:
’n naam is meestal roep
en nie soos baie mense dink ’n wens of die geskiedenis
of selfs ’n portret nie
Alhoewel die proses van inventarisering en optekening deur Bloukoos erken word as ’n vergestalting van die ars poëtikale wanneer hy wys op “die almoëndheid van lýs” (bl 88), betig die spreker in die gedig ook enige moontlike aanname van die leser dat gedigte mag poog om volledige weergawes (illustrasies, portrette) te wees. Waar Marais (2008:40) in sy vroeëre ars poëtikale gedig "Die digter as rockstar" teen NP van Wyk Louw ingeskryf het (“ék het nie ’n beiteltjie nie / ek het ’n fokken lugdrukboor”) reken hy hier met Opperman af. Die kunsteoretiese aanspraak wat gemaak word, is een wat “Kuns is boos!” (Opperman 1954) teenstaan. Die spreker in "Bloukoos" sê dit hard en duidelik: “ek lê nie boosheid vas nie” en kwalifiseer dit wat hy vaslê onmiddellik verder deur daarop te wys dat volledigheid onmoontlik is, dat die gedigte, die lyste, die name slegs “roep” en nie ’n hele lewe voorspel (“’n wens” is nie – vergelyk ook "By Lara se doop," bladsye 86-87) of ’n volledige, finale geskiedenis vertel nie.
Die bundel bevat ’n aantal gedigte waarin die natuurwentenskaplike (“hidrofonika en spektrogramme”, bl 19; “drumpelmeganika”, bl 25; wiskunde, meetkunde – bl 29 oa) op die voorgrond tree, en ook gedigte oor gedateerde tegnologie (vergelyk die “Tegnonostalgie”-gedigte, bladsye 30 en 31 en handelsname van gebruiksitems soos “portapool” en “tupperware,” bl 10). Die woorde uit hierdie terreine wat nie in die eerste plek met wat "poëties" is geassosieer word nie, dra tot die kantige, gespierde aanbod in Marais se verse by. Hierby moet ook die groot aantal min gebruikte woorde uit verskillende sfere genoem word. Die woorde lê gemaklik in die verse waarin dit wel voorkom, maar ook verrassend is woorde soos “aanvangsmarge,” “verbandhouersbelegging,” “verdienstegroeimodel” en “wynplaasoligarg” (bl 39). Dié onverwagse woorde en neologismis soos “sloofsool” en “ploegskaarkurwe” (p. 48) is 'n plesier om te lees. Min gebruikte of voorlopig verleerde woorde soos “labberlotterig” (p. 78), “almoëndheid”, (bl 88) en “wiegel”, (bl 57) kom voor, en reëls soos “die / byvoeglike naamwoordagtigheid / van wind” (p. 80), met “riviere se vrygewigheid” en die soeke na ʼn “silwerte” in water – “ʼn silwer so gesilwer dat dit nie / kan silwerder wees nie maar dit is” (bl 41).
’n Hoogtepunt wat betref Marais se spel met woorde, betekenisvolle name en idiome, en 'n poging om in en deur die gedig te kommunikeer, kom in ‘“Liefkoos”’ (bl 49) voor. In hierdie gedig word die woorde soos liefdesappels na die geliefde aangedra. Die liefdesverklaring bestaan uit beskrywings van woorde – nie lemmas nie, maar assosiasies wat op verbluffende wyse sensories reëel beskryf word, asof die digter hier 'n alchemis is. Die beskrywings van die “ouderwetse woorde,” (“hartstog”, “aanvly”, “kafoefel”, “vlerksleep” en “skattebol”) weef die liefdesgedig aanmekaar, liefkoos die geliefde – en laat die leser asemloos, veral voor ’n slot wat saamspeel óf onbegrip kan suggereer:
“Liefkoos”
ek bring vir jou die ouderwetse woorde
op my palm, een vir een: hier is “hartstog” –
dis ’n punterige ligpers knol en smaak medisinaal
as jy dit lek, en “aanvly” is ’n warm lintjie
breed en glad en möbiusrig en goud,
ek bring “kafoefel” na jou neus toe
en die hopie gitswart poeier ruik na gras
en die kristal van “vlerksleep” vryf jy tussen
vingertoppe, sê dit gee ’n statiese, elektriese
soort lading af, ek lag, ek lig die skulpding
“skattebol” – so klein – op na jou oog,
jy inspekteer patrone wat die buitekant bespat
en vra my, is daar dalk iets binne-in?
Marais se bundel staan in die tradisie waarin gay manlikheid ondersoek en verwoord word, en sy verse is ferm en robuus – ook die teer liefdesverse. Daar is geen tekort aan mooi en goeie voorbeelde van laasgenoemde nie, vergelyk "Hakskeen" (bl 48), "Piet X" (bl 19) en "Jan Bantam" (bl 44):
... die son is mansmens: kyk ...
sy kenteken ’n bantam soos die franse
rugbyspan; verkenning in die uur
van aflaailorries, en merk op
sy mars: die kortgatkraaier, dis ’n les
(indirekte realisme vir beginners) maar
ons dank die jirre vir astrantheid soos hy
dinge tot hulself inroep: glas en dakteels,
blaar en damblak, hoofweg, heuwel;
...
Vergelyk ook die insig en beskrywing in die beeldgedig "Die wasvrouens, Peter Clarke" (bl 57):
landskap is ’n ding wat enigeen kan ophang
maar net sommiges mag aantrek. hierso kantel
waarheid uit, die lug sny strata, hoek en ongemak
in rang / dit is ’n simonstadse dokwerker se kuns dié
en ook nie, ten spyte van die seilspanspanning
en die kabbels in die linkerland, ken peter diens
te goed, die diep posture, vroue heup en elmboog
oor heuwel, land in beige en blou en swart gekopdoek
want dis weersin én ’n moeër toegewing,
[...]
Dieselfde kwaliteit is reeds in die openingsgedig "Jakob Engelstoeier" (p. 9, my beklemtoning) merkbaar:
die engel het nie tepels of ’n naeltjie nie
sy vel is harder as wat mens verwag
die spiere voel na appel, koue weiering van meegee
en sy sweet wat ruik na houtsaagsels en room
[...]
maar nee wag ek wou hier praat oor my tegniek
1. sit jouself voort as ritmiese teenwerpery
2. dink been, nie vleis nie, dink essensie as jy
hemelmannetjies wil omdop
maar ek’t te veel heup gedink, toe seergekry
3. dis nie dans of seks nie, dis ’n opbou tussen vel- en
sweetgrense, as dit dalk sin maak
nag van rou kniekoppe, veerpenne geknak
die enigste gereedskap wat ek het is lyf
en ná die inspan, met g’n wenner nie, eers dan
die liggaam se vermetelste voortbrengsel, stem:
ek vra die vreemdheid wat’s sy naam
Die bundel is nie in afdelings, volgens name of temas of via enige ander moontlike indelings, georganiseer nie. Die openings- en slotgedigte lees wel soos teenhangers van mekaar en span só ’n raam vir die 82 gedigte in die bundel. In "Jakob Engelstoeier" (bl 9) word daar “eers” aan die einde van ’n nag se fisiese inspanning en nuttelose geveg (vgl “g’n wenner nie”) navraag gedoen oor aard, identiteit en hoe om te benoem. Die slotreël lui: “ek vra die vreemdheid wat’s sy naam”. Ná ’n hele bundel gedigte oor name en benoeming, is dit eweneens die laaste reël van die slotgedig, "Bloukoos" (bl 88), wat naatloos hierby voeg. Die eiening vind eers aan die einde plaas: “aaa hier u naam”. En dan sluit die bundel met ’n kopknik aan TS Elliot af: “en nou kan ons begin”.
Jan, Piet, Koos en Jakob bied gedigte oor mense, skilderye, herinneringe, plante, diere, en fenomene. Dit stereotipeer, ontmasker en parodieer. Marais se skerp waarnemings word met vernuf verwoord. Die spel met die idiomatiese en die kollokwiale, die spieël vir die samelewing, die liefdesgedigte, en hoe ons dinge benoem, bied vir die leser ’n padkaart deur die gedigte. Lees gerus hierdie bundel. Jy sal dit weer wil lees.
Bronnelys
Marais, L 2008. "Die digter as rockstar." In: Staan in die algemeen nader aan vensters. Kaapstad: Human & Rousseau. bl 40.
Opperman, DJ 1953. "Kuns is boos! Die kunsbelydenis van 'n digter". Standpunte 8(2): 43-54. Desember.
Prinsloo, AF 2009. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Kaapstad: Pharos.