Die dag toe die draak kom: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

  • 0

Fanie Viljoen (Foto: Hanneri de Wet)

Fanie Viljoen vertel vir Naomi Meyer van sy boeke Die dag toe die draak kom (vir seuns en vir meisies).

Fanie, baie geluk. Jy het al baie boeke van waarde in jou lewe geskryf en hierdie twee boeke waaroor ek jou vandag vra, is dapper en noodsaaklik. Jy het twee boeke oor seksuele misbruik geskryf – een vir seuns en een vir meisies: Die dag toe die draak kom. Dis ontsaglik belangrik om hieroor te praat, maar soms is daar iets wat mens se aandag op ’n onderwerp vestig, of mens inspireer om juis nou oor iets te skryf. Waarom het jy juis hieroor geskryf, juis nou?

Nadat ek die fliek Spotlight gesien het, het ek besluit om iets vir ons land se kinders oor seksuele misbruik te skryf. Die fliek was dus die eerste stukkie inspirasie. Nadat ek gehoor het van vriende wat ook as kinders misbruik is, was ek net meer vasberade om die verswyging van hierdie euwel in ons samelewing aan te pak – en die draak as te ware die stryd aan te sê.

Die boeke is toeganklik en in storievorm. Die hoofkarakters is kinders wat herkenbaar sal wees vir jong kinderlesers. Maar sekerlik het jy baie navorsing gedoen. Hoe het jy dit gedoen, en met wie het jy hieroor gepraat?

Ek het baie gaan oplees oor die onderwerp en het via ’n pediater kennisgemaak met dokter Marianne Kotzé. Sy het my verskriklik baie gehelp en het jare se kennis oor die onderwerp. Sy ondersoek onder andere kinders wat seksueel misbruik is en getuig later in die hofsake. Edith Kriel van Jelly Beanz Inc het ook via Skype en e-pos gehelp, en die manuskrip voor publikasie gelees.

Ek moet ’n pynlike vraag vra. Voor in die boek dra jy dit op aan almal wat al die draak teëgekom en oorwin het. Hoe oorwin ’n kind die draak? Kán dit? Het enigiemand jou ’n positiewe verhaal vertel van hoe hulle as kind die draak oorwin het?

Vir ’n kind word die draak oorwin as hy (of sy, natuurlik) die moed het om te praat of om hulp te vra. Kinders kan hulself nie uit die omstandighede neem nie, en ons kan dit nie van hulle verwag nie. Dis waar volwassenes ’n rol speel. Die boek is ’n beginpunt vir ouers en kinders om daaroor te praat.

Die einde van die boek maak dit egter ook duidelik dat, selfs al word die pedofiel in hegtenis geneem, moet die kind vir ’n paar mense in die sisteem vertel wat met hom gebeur het, ’n mediese ondersoek deurloop, moontlik ’n hofsaak deurmaak. Elke stappie op hierdie pad is ’n stappie nader aan die oorwinning teen die draak.

Die volwassenes met wie ek gepraat het, se stories is almal maar hartseer. Ek kan nie te veel daaroor uitwei nie, maar die drake het hul almal se lewens beïnvloed.

Hoe algemeen geskied seksuele misbruik teenoor kinders in hierdie land?

Die Optimus-studie wat tussen September 2013 en Februarie 2015 gedoen is, se bevinding was dat ’n derde van ons kinders voor die ouderdom van 17 seksueel misbruik word – seuns meer as meisies (36,8% teenoor 33,9%). In 60% van die gevalle is iemand in die kind se sosiale kring daarvoor verantwoordelik. In 43% van die gevalle is dit kinders wat ander kinders seksueel misbruik.

Hoe beskerm mens as ouer jou kind hierteen?

Ek is bly jy stel die vraag só, want soos die kenners vir my gesê het: ons kan nie regtig verwag dat kinders hulself teen pedofiele moet beskerm nie. Dit bly die ouer of versorger se plig om die kind te beskerm. Om openlik met jou kind oor seksuele misbruik, onaanvaarbare aanraking en die hou van slegte geheime te praat, is die eerste stap. Ouers moet ook uitkyk vir tekens van misbruik, byvoorbeeld bloed in onderklere, ’n uitermatige bewustheid van seksuele organe, gereelde blaasinfeksies, en meer. (’n Vollediger lys is agter in die boek vervat.)

Wat van volwassenes wat hier lees en daardie draak in die kinderdae is nooit oorwin nie? Hoe maak mens vandag?

Dit is die tragedie – baie van ons mense se grootwordjare was gekenmerk deur ’n gebrek aan kennis oor die onderwerp. As dit in ’n gesin gebeur het, is dit dikwels verswyg. Ek is nie seker hoe die regsaspekte sou werk as jy ’n volwassene is nie, maar ’n mens moet met ’n sielkundige of ten minste ’n vertroueling daaroor gaan praat.

Die storie van Kevin en oom Jason, sy ma se ou: Dis fantasties dat ’n seun kan lees en verstaan dat hierdie draak ’n vrou kan wees of ’n man; dit kan iemand wees met wie hy eintlik dink hy goed oor die weg mee kom. Die man kan dalk lyk of hy ’n positiewe rol in die seun se gesin speel, want hy kan dalk ’n soort pappa-figuur wees. Jy beskryf die grooming dus effektief - dit voel nie aanvanklik so verkeerd nie. Die ongemak gebeur dus nie dadelik nie. Dink jy grootmense moet met kinders hieroor praat, selfs al vermoed hulle nie onraad nie? En wat moet hulle sê?

Ek dink dis die groot ding: Ons moet hieroor begin praat. Die dag toe die draak kom sal dit makliker maak. Lees die storie saam met jou kind, vra vrae terwyl jy lees, beantwoord sy/haar vrae. Praat veral oor die illustrasie van die naakte seun en dogter. Ja, hulle sal seker ’n bietjie daaroor giggel, maar vertel vir hulle van geslagsdele met behulp van die eenvoudige prentjie. Hou die gesprek informeel en skep ’n gemoedelike, veilige atmosfeer. Indien jy vermoed dat jou kind seksueel misbruik word, sal jy vind die boek gee ook raad rakende daardie gesprek, byvoorbeeld deur privaat met jou kind te praat, woorde te gebruik wat hulle sal verstaan, en meer.

In die storie van Kyla en oom Jason is Kyla ook aanvanklik positief oor oom Jason. Sy kan sien hy maak haar ma gelukkig. En as sy bang is in die nag, kan hy dalk sterk genoeg wees om die draak weg te jaag? Want iets is verkeerd in hierdie huis. Iets maak haar bang. ’n Baie belangrike komponent in die storie (ook in die een met Kevin), is dat die ma uiteindelik ook uitpraat, dat sy ook die draak aankla. Namens enige kind wat al in hierdie situasie was: Hoe maak jy as jou ma (of die ander party in die huis) ontken wat aan die gang is?

Die ma in die huis ontken dit wanneer sy die eerste keer daarvan hoor. Dis ook so tragies, maar dit gebeur male sonder tal in ons land, want die erkenning daarvan gaan die gesin se hele wêreld omvergooi. Daarom is swyg vir baie mense die antwoord. Maar Die dag toe die draak kom maak dit duidelik in die eindnotas: As jy seksuele misbruik verswyg, kan jy tot vyf jaar tronkstraf kry.

Dit sluit aan by die vorige vraag, maar verduidelik asseblief die Veilige Hand-metode.

Die juffrou in die boek leer vir die kinders hoe om ’n naam aan elke vinger van jou hand toe te wys – elke naam is iemand wat jou sal kan help; byvoorbeeld Ma, Ouma, Juffrou, die skoolhoof, ’n tannie. As die eerste persoon jou nie kan help nie, moet jy na die volgende persoon toe gaan en hulp vra. As hy/sy jou nie help nie, gaan jy na die volgende persoon toe; as hy/sy jou nie help nie ...

Vir wie het jy die boeke geskryf? (En weet maar: vandag het jy ’n kind se lewe verander. Omgedraai.)

Ek het die boek vir Suid-Afrika se kinders geskryf, om ’n klein bydrae te lewer wat dalk ’n groot verskil in hulle lewens kan maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top