Titel: Hond se gedagte
Skrywer: Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179294
“Daar is inderdaad in rugby die soort musiek en poësie wat ek later jare in ’n goeie corrida in Spanje leer waardeer het: ofskoon die towerkuns van ’n werklik goeie vertoning hoofsaaklik bepaal word deur die feit dat dit so seldsaam is, is dit net so waar dat ’n werklik goeie rugbywedstryd beoordeel moet word teen die agtergrond van tallose miserabele en dikwels morsige mislukkings. Miskien is dit juis dít wat ’n mens so aangryp omtrent Springbokrugby, wat maar alte dikwels op mislukte kragvertonings uitloop, met die gevolg dat die rare volmaakte juwele skitter met ’n glans wat mens maar selde elders teëkom.”
(André P Brink in ’n Vurk in die pad – ’n memoir, 2009:76)
1. Inleidend
Die pas afgelope Wêreldrugbybekertoernooi in Japan het menige Suid-Afrikaanse rugbyliefhebber groot vreugde besorg toe die Springbokspan op 2 November 2019 die Engelse Rose met ’n eindtelling van 32–12 verslaan het en sodoende die gesogte Webb Ellis-trofee vir die derde keer verower het. Springboktruie is om elke hoek en draai gewaar en op Facebook en ander sosialemediaplatforms het Suid-Afrikaners die Groen-en-goud se sege met trots uitgebasuin. Grapjasse het humoristiese foto’s sowel as sarkastiese opmerkings onder mekaar gedeel en sommige ondersteuners het selfs so ver gegaan om te verklaar (soortgelyk aan die opmerking in Breytenbach se roman) dat hulle “wil wraak neem vir al die mense, swart en wit, wat aan die hand van die Kakies gesneuwel het in die tweede Anglo-Boereoorlog” (Breytenbach, 2019:203). ’n Enerse euforie het in gemeenskappe regoor Suid-Afrika geheers as tydens die Springbokspan se sege oor Nieu-Seeland in die 1995-Wêreldbekereindtoernooi. Vir ’n paar uur het Suid-Afrikaners vergeet van kredietafgraderings, beurtkrag, kommissies van ondersoek na staatskaping en politieke kaskenades. ’n Gevoel van samehorigheid en nasietrots het geheers.
Intussen het Kerneels Breytenbach se jongste roman, Hond se gedagte, midde dié internasionale rugbyskouspel verskyn. Breytenbach is veral bekend as skrywer, resensent en ouduitgewer. Sy oeuvre tot op hede sluit in Morsdood van die honger (1992), Glimlag (1993), Piekniek by Hangklip (2011) en Ester (2014). Om Hond se gedagte tydens (en na afloop) van die Wêreldbekerskouspel te kon lees, kan bloot beskryf word as ’n rit op die skouspelagtige rugbytuimeltrein wat Erns Grundling se reisboek Sushi en Shosholoza – Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan (en die gepaardgaande televisiereeks wat hoofsaaklik op rugby en die Wêreldrugbybekertoernooi fokus) na ’n kinderpartytjie laat lyk. Breytenbach moker die skandes en sakrale tradisies wat agter die rugbyfenomeen skuil met ’n spreekwoordelike lugdrukboor oop – vergeet maar van die beiteltjie.
2. Rugby en Afrikaanse letterkunde
In sy artikel “Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948–1995: ’n historiografiese studie” wys Wouter de Wet (2016:113) daarop dat “die hervatting van internasionale rugby na die Tweede Wêreldoorlog nuwe belangstelling onder rugbyondersteuners wêreldwyd gekweek [het en] tientalle populêre rugbyboeke in die daaropvolgende jare in Suid-Afrika verskyn [het]”. Hierdie boeke was hoofsaaklik niefiksie en dit is gevolglik opvallend dat daar betreklik min Afrikaanse fiksieboeke met rugby as tema verskyn het indien veral Afrikaanssprekende lesers se liefde vir die spel in ag geneem word.
Verskeie prominente Afrikaanse skrywers en digters was immers self rugbyspelers of het ’n besondere belangstelling in die sport getoon. Die digter-skrywer Uys Krige was ’n kranige rugbyspeler en het in 1932 tydens sy verblyf in Frankryk vir Toulon se tweede span uitgedraf (Kannemeyer 2002:137). In sy reisskets “Rugby in Frankryk” wat in Sout van die aarde (1961) opgeneem is, beskryf Krige op elegiese wyse die Franse se passie vir rugby sowel as sy eie ervarings as speler. Alhoewel André P Brink ’n voorliefde vir tennis gekoester het, was hy ’n toegewyde rugby-ondersteuner. In sy outobiografie ’n Vurk in die pad (2009) skryf Brink waar sy liefde vir die spel begin het en op welke wyse dit sy lewe beïnvloed het – ook (heel ironies!) sy liefdeslewe: “Maar rugby het ook opgeduik in die kosbaarste dimensie van my persoonlike lewe. Teen die end van 2004 het ek Karina [Szczurek] in Salzburg ontmoet. Kort daarna was dit rugby wat die seël op ons verhouding geplaas het” (2009:78).
Slegs enkele Afrikaanse romans en gedigte waarin rugby prominent as tema figureer, het tot op hede verskyn, waarvan die oorgrote meerderheid jeugromans is. Van die bekendste jeugtekste sluit in ID du Plessis se Springbok-reeks bestaande uit Die Springbok (1932), Die silwervaring (1933), Die rugbykroon (1934) en Rugby in Rio (1941), Kobus Maree se Proefwedstryd vir Wikus (1993) en Fanie Viljoen se Monsterrugby (2016). John Miles se Blaaskans (1983) fokus op die lewe van ’n onderwyser en rugbyheld Flip Nel wat by ’n gevaarlike politieke spel betrokke raak. Miles se hoofkarakter sinspeel op die befaamde Springbokrugbykaptein Philip Jacobus “Flip” Nel wat tydens sy rugbyloopbaan 46 wedstryde vir die Springbokspan gespeel het. In Hond se gedagte is die Springbokkaptein ironies genaamd Katstert Nel – ’n intertekstuele verwysing na dié legende. Tydens ’n onderhoud met Fleur de Villiers merk Katstert Nel terloops op: “Maar jy moet miskien John Miles se Blaaskans gaan lees, as jy die volle prentjie wil kry.” Die liefde vir rugby word dus van een generasie na ’n ander oorgedra.
In 1994 debuteer Braam van der Vyver met die satiriese rugbyroman Stywe arm waarin hy onder meer oor korrupsie binne rugbykringe spekuleer. Meer onlangse romans sluit in Louis de Villiers se omstrede Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) en FJ Labuschagne se Beseringstyd (2014) waarin rugby en godsdiens as temas sterk figureer. Breytenbach se roman sluit tematies sterk by Labuschagne aan in terme van rugby en godsdiens as temas en lewer gevolglik ’n belangrike bydrae tot die enkele rugbyromans wat tot dusver in Afrikaans verskyn het.
Wat die Afrikaanse poësie betref, is rugby een van die temas wat nog ontgin moet word. Enkele gedigte, soos Jeanne Goosen se “die dag op nuweland” uit haar bundel ’n Uil vlieg weg (1971), betrek rugby as tema en is veral relevant tot dié bespreking aangesien die gedig as satire tematies aansluit by Breytenbach se roman. In ’n onderhoud met Louis Esterhuizen op Versindaba merk Marlene van Niekerk tong-in-die-kies op dat “[d]ie groot ‘rugbybundel’ (ahem) nog geskryf [moet] word” (2016).
3. Hond se gedagte
Die romantitel verwys na die Afrikaanse idioom “om hond se gedagte te kry”. Volgens De Wet (2011:188) dui die idioom daarop dat ’n persoon agterdogtig raak wanneer hy/sy “hond se gedagte” kry. Reeds met die intrapslag dui die titel op die misterieuse gebeure agter die skerms. Die roman speel af oor ’n tydperk van twee weke voor die Wêreldrugbybekereindstryd in 2025. Ses jaar in die toekoms in word Facebook stelselmatig deur ’n nuwe mediaplatform genaamd SocialEyes uitgeskouer en ’n koning staan aan hoof van die Britse koningshuis. Sportkwotas is iets van die verlede en rugby is steeds Suid-Afrika se spreekwoordelike (en in die roman se geval letterlike) godsdiens.
Fleur de Villiers is ’n vryskutjoernalis wat deur ’n ou vriend genader word om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein Katstert Nel te skryf. De Villiers se karakter is tekenend van (en heel moontlik gebaseer op) ’n gerekende joernalis soos Fleur de Villiers wat tussen 1960 en 1986 ’n prominente rol as ondersoekende joernalis in Suid-Afrikaanse mediakringe gespeel het. Fleur het nie ’n bang haar op haar kop nie. Haar joernalistieke insig en instink is so fyn ingestel soos dié van Devi Sankaree Govender en Debora Patta.
’n Gevoel het haar gepla, nog voordat sy haar laaste ronde onderhoude afgehandel het. Iets word vir haar weggesteek. ’n Ontbrekende brok inligting. Die kropgevoel het oorgegaan in ’n baie sterk spesmaas. Sy het gesoek vir leidrade. Die ongemak het gegroei; sy het haar in die domein van die Corpus Christi en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie bevind, dáár waar God se Groot Waarheid die pas aangee. (23)
Fleur is egter nie ’n kenner of groot liefhebber van rugby nie. Die skryfprojek word uit geldnood aanvaar en soos die gebeure ontvou, kom Fleur tot die besef dat daar ’n slang in Ramses Ellispark se gras skuil. Dit lei haar op ’n speurtog agter die waarheid aan. Skuil daar dalk meer agter die legendariese Katstert Nel?
3.1 Popol Vuh, godsdiens en humor
Tydens Fleur se speurtog om agter die kap van die byl te kom, kuier sy gereeld by haar gunstelingkroeg en restaurant. Popol Vuh. Lesers sal tydens die lees van die roman opmerk dat Breytenbach ’n georkestreerde spel met die leser speel wat naamgewing betref. Dit dra by tot die humor in die roman. Nie alle name is bloot toevallig nie (soos reeds vroeër in Fleur de Villiers se geval aangedui). Die naam Popol Vuh verwys na ’n antieke teks waarin die mitologie en geskiedenis van die K’ich’e-nasiei (deel van die Majas) opgeteken staan. Die naam Popol Vuh verwys na “Boek van die gemeenskap” of letterlik “Boek van die mense”. Sodoende word die kroeg se naam by een van die prominente temas van die roman betrek, naamlik godsdiens. Popul Vuh word as sulks die bron van Fleur se kennis oor die geheime wat agter die skerms afspeel.
In ’n onderhoud met Naomi Meyer merk Breytenbach op: “Die plesier van Hond se gedagte was vir my om rugby te gebruik om mense oor godsdiens te laat nadink. Die boek handel oor geloof – hoe mense dit verloor, hoe hulle geloof herwin, hoe bereid hulle is om in wonderwerke te glo.”
Dit sal geen oordrywing wees om te sê dat Suid-Afrikaners ’n obsessie met rugby het nie. By voormalige Model C-skole word rugby sonder twyfel as die belangrikste sportsoort beskou en word die meerderheid hulpbronne aan dié sportsoort toegewys. Dit is dus nie vergesog om te sê dat rugby in talle gemeenskappe waar rugby as sport beoefen word (selfs buite Suid-Afrika), op soortgelyke vlak as godsdiens beskou word nie. Breytenbach stel rugby en godsdiens in die roman gelyk aan mekaar en slaag daarin om deur middel van fiksie lig te werp op die sterk band wat daar tussen godsdiens (of geloof) en rugby bestaan. Laasgenoemde word wel op humoristiese wyse as deel van die narratief ingespan om ’n gewigtige (en selfs omstrede) onderwerp te belig.
Corpus Christi (wat geloof verteenwoordig) en die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarvu) word deur Jaap Schvantz, PW Botha se laksman tydens die tagtigerjare, en sy vrou. Krystle, die dogter van ’n struggle-aktivis, Martha Bosch, bestuur. Schvantz (Duits vir die manlike geslagsorgaan) en Krystle se karakters word ingespan om die mens se geldgierigheid uit te beeld, maar plaas veral klem op die misbruik van geloof vir geldelike gewin.
“Corpus Christi is meer as ’n kerk”, sê sy. “Dis ’n maatskappy. Met begrotings en winsteikens.” […] Afrikaners is die grootste ondersteuners van rugby. Of was. En toe die getalle begin verminder, bywoning rampspoedig begin daal, het Corpus Christi die antwoord gebring. Koppel die Afrikaner se godsdiens aan sy sport, en hy is oorwinbaar.” (193)
Rugby en geloof word deur Corpus Christi en Sarvu tot eenheid saamgevoeg ter wille van geldelike gewin. Sodoende ontbloot Breytenbach die ongesonde verhouding wat tussen rugby en geloof binne die Suid-Afrikaanse samelewing gedy en lewer terselfdertyd belangrike sosiopolitieke kommentaar op die mag wat geloof en sport as eenheid binne ’n gemeenskap kan uitoefen – hoe ongesond dit ook al mag wees.
Wat Hond se gedagte van ander rugbyromans onderskei, is ongetwyfeld Breytenbach se skerp sin vir humor. Skreeusnaakse insidente soos Slapogie Losper se seksorgie met twee Argentynse prostitute waartydens hy ’n toon breek, die losskakel Pedrovene Smith wat gedigte skryf en die sekswerker wat haar vlees en gees op haar taalkundeprofessor gemodelleer het, kom in die roman aan bod. Fleur moet boonop vrede maak met haar bejaarde moeder, die skrywer van Die regte manier om te lewe (Wat uit Emsie Schoeman se Goeie maniere & etiket geplagiariseer is) en 'n demensielyer, wat haar kinderjare ontsier het. Die humor is vlymskerp en Breytenbach se spel met taal dra by tot ’n genotvolle leeservaring.
Breytenbach tree ook intertekstueel met JM Coetzee in gesprek. Tydens die 1995-Wêreldrugbybekertoernooi het Coetzee ’n artikel in Southern African Review of Books gepubliseer waarin hy krities oor Suid-Afrikaners se verhouding met rugby geskryf het. In Hond se gedagte word Coetzee se idees soos volg tydens ’n bespreking van die verhouding tussen rugby en godsdiens betrek:
Dit is ’n laevlak-transendasie. Maar Coetzee het nie Corpus Christi geken nie. Hy het rugby uitgelig, gesê dat Saterdagmiddag danksy rugby vir baie mense ’n groter betekenis het as Sondagoggend. Nou, Corpus Christi verbind die twee, nè? Die rugbywedstryd het net betekenis as jy Sondagoggend gaan dankie sê vir die gawes aan jou toegedeel. (388)
Coetzee se wyse woorde word prakties gedemonstreer deur middel van fiktiewe gebeure in die roman. In Hond se gedagte word die betekenis van Saterdagmiddae met Sondagoggende gekoppel.
3.2 Waar pas die hond(e) dan in?
Een van die belangrike karakters in die roman is Katstert Nel se hond, Dawk. Dawk is ’n Duitse herdershond vernoem na “Dok” Danie Craven (1910–1993)ii wie se invloed op Suid-Afrikaanse rugby legendariese status beklee. Craven se gedagtes en filosofie oor rugby figureer sterk in die roman. (Boonop dra Dawk se karakter by tot een van die groot onthullings in die roman.) Terselfdertyd kom Alice, kleindogter van die gravin van Athlone, op besoek na Suid-Afrika vir ’n internasionale hondeskou. Die Springbokrugbyspan en die gravin se kleindogter gaan voor die eindstryd in dieselfde hotel tuis. Die aand voor die eindstryd sorg die honde egter vir groot drama in die hotel wat almal behoorlik op hol het. (Lesers wat Jeanne Goosen se roman ’n Pawpaw vir my darling gelees het, sal laasgenoemde gebeure veral geniet.)
Sonder om te veel geheime van die roman te verklap (en daar is heelwat!), is dit veral die gravin se kleindogter en Dawk wat onder andere “hond se gedagte” by Fleur de Villiers en haar medejoernaliste geskep het. Terselfdertyd word Katstert Nel en Dawk aan die einde van die roman by die oorkoepelende tema van geloof betrek. Met laasgenoemde slaag Breytenbach daarin om die leser te dwing om ernstig te besin oor die rol en waarde van geloof – hoe geloof verloor, maar ook herwin kan word.
-
Samevatting
Hond se gedagte is ’n lywige roman waarin belangrike sosiale kommentaar gelewer word oor Suid-Afrikanerskap, rugby, geloof en die rol van die kerk. Belangrike en interessante temas, soos vooroordele, stereotipering, demensie, magsug en geldgierigheid, kom ook aan bod. Hierdie roman vorm ’n mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing (die verlede, hede en toekoms), maar fokus veral op die Afrikanergemeenskap. Breytenbach dwing die leser by wyse van spreke om daadwerklik introspeksie te doen en vrae te vra oor belangrike vraagstukke waarmee die samelewing daagliks gekonfronteer word. Laasgenoemde geskied egter op humoristiese wyse en die roman slaag daarin om ’n genotvolle leeservaring te verseker sonder enige pretensieuse hoogdrawendheid. Breytenbach beskik boonop oor die vermoë om sensuele sekstonele te skryf wat nie sy naam op die Literary Review se Bad Sex in Fiction Award-lys sal laat verskyn nie. Alhoewel nierugbyliefhebbers moontlik langtand aan die roman sal begin lees, sal die geleidelike opbou van spanning, die nimmereindigende dramatiese intrige en skreeusnaakse humor lesers soos een van Jeanne Goosen se opgewonde toeskouers in “dag op nuweland” naarstiglik laat aanhou lees – selfs al weet jy nie wat die verskil tussen ’n skrumskakel en slot is nie. Die eindresultaat was net so opwindend soos die Wêreldbekereindstryd op 2 November 2019.
Met Hond se gedagte het Breytenbach ’n waardevolle en belangrike bydrae tot die rugbyroman in Afrikaans gelewer.
Bibliografie
Brink, AP. 2009. ’n Vurk in die pad – ’n memoir. Kaapstad: Human & Rousseau.
Coetzee, JM. 1995. Southern African Review of Books (38), Julie/Augustus.
De Wet, J. 2011. Wat praat jy! Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings. Pretoria: Protea.
De Wet, W. 2016. Tendense in populêre werke oor Suid-Afrikaanse rugby, 1948– 1995: ’n Historiografiese studie. Historia, 61(1):113–31.
Esterhuizen, L en M van Niekerk. 2016. Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes. Versindaba. http://versindaba.co.za/2016/06/16/onderhoud-met-marlene-van-niekerk-die-aarde-as-oester-en-ander-skryfkundes (10 November 2019 geraadpleeg).
Kannemeyer, JC. 2002. Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.
Meyer, N en K Breytenbach. 2019. Kerneels Breytenbach oor die Wêreldbeker 2019 en oor Hond se gedagte. https://www.litnet.co.za/kerneels-breytenbach-oor-die-wereldrugbybeker-2019-en-oor-hond-se-gedagte (11 Oktober 2019 geraadpleeg).
Eindnotas
[i] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Popol_Vuh.
[ii] Sien https://en.wikipedia.org/wiki/Danie_Craven.
Kyk ook:
Video: Bekendstelling van Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach
Lees ook:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach
Kerneels Breytenbach oor die Wêreldrugbybeker 2019 en oor Hond se gedagte
Kommentaar
Ek vind dit vreemd dat die resensie en die video oor die bekendstelling van die roman GEEN kommentaar op hierdie forum opgelewer het nie. Ek verwys spesifiek na die twee WTF-momente wat deur die skrywer self as "wonderwerke" beskryf word. Ekself het maar swaar gesluk aan die manier waarop "channeling" en wegraping in die roman toegepas word.
Heel moontlik is daar ’n leesgroep wat die roman bespreek het. Indien wel, hoe het julle op die twee "wonderwerke" gereageer?