Kerneels Breytenbach praat met Naomi Meyer oor die rugby en oor Hond se gedagte.Kerneels, ek het hond se gedagte dat jy die afgelope paar naweke die rugby getrou volg. Jy en miljoene ander Suid-Afrikaners! Wat is jou gedagtes oor die afgelope naweek se wedstryd en die Springbokke se vertoning tot dusver?
Ja, ek was vasgenael voor die TV! Ek dink nie die Bokke het al hul beste gelewer nie. Ek moet met Jean de Villiers saamstem dat hul vertoning teen Wallis nie werklik hul beste poging was nie. Nou hoop ek dat hulle komende naweek ’n skouspelagtige vertoning sal lewer en Engeland sal stil speel.
In jou boek Hond se gedagte speel rugby 'n prominente rol. Jou vroulike hoofkarakter is nie baie gefokus op rugby nie. Het jy 'n spesifieke vrou in gedagte gehad toe jy oor haar geskryf het? Of vertel my oor jou karakter, die een wat jy geskep het? (En hoe reageer sy op die Wêreldrugbybeker?)
Ek het gedink aan Fleur de Villiers wat ’n paar dekades gelede by die Sunday Times politieke kommentaar geskryf het, maar omdat ek haar in ’n meer moderne tyd moes plaas, het ek eienskappe van eietydse joernaliste aan haar toegedig, ’n bietjie van Marianne Thamm, ’n bietjie van Sylvia Vollenhoven. My Fleur de Villiers sien rugby as ’n kulturele sfeer waarby sy geen aanklank vind nie. Sy hou nie van rugga buggers nie. Maar wanneer sy om den brode daarby betrokke raak, sien sy skielik dinge raak wat altyd vir haar verhul gebly het. Sy besef skielik dat rugby se wortels ver terug na antieke tye strek, en dat die samekoms van rugby en godsdiens in ons land nie toevallig is nie.
Het jy op natuurlike wyse en uit natuurlike belangstelling navorsing oor rugby gedoen en was dit dus vir jou lekker om die boek daaroor te skryf? Of wat beskou jy as die tema van die boek?
Ek het nog my hele lewe lank op een of ander manier die werkinge van rugby en die binnewerkinge van die rugbybedryf gevolg. Deur 'n sameloop van omstandighede het ek my toks al in die laerskool opgehang. Tog het ek meer ure aan rugby afgestaan as die meeste van my skoolmaats, en in die beste geselskap - my pa s’n. Ek het my rugby geleer langs die klubvelde van die Transvaalse Rugbyvoetbalunie, nie as speler nie, maar as kyker. My pa had 'n vriend, Wouter du Toit, wat 'n nek was by die skeidsregtersvereniging. Du Toit het hom omgepraat om een van die mense te word wat elke naweek gaan kyk hoe hanteer die skeidsregters hul wedstryde, en dan verslae oor hulle te skryf. Omdat my pa op sy dag vir Wanderers flank gespeel het en ook op skolevlak die fluitjie gedra het, het hy dit met groot toewyding aangepak. Op dié manier het ek rugby weekliks ingekry langs die velde van Diggers, Simmer & Jack, Wanderers, Alberton en dikwels ook die ou Ellispark. Rugby het deel van my jeug geword en daarna deel gebly. Ek het miskien meer van die reëls geweet as sommige van my skoolmaats, maar dit is iets wat eers later in my guns begin tel het. Ek het deur die jare tred probeer hou met die reëlveranderings, en selfs in ’n stadium geweet watter kleur die reëlboek was. Vandag het ek ’n app op my foon daarvoor. Die plesier van Hond se gedagte was vir my om rugby te gebruik om mense oor godsdiens te laat nadink. Die boek handel oor geloof – hoe mense dit verloor, hoe hulle geloof herwin, hoe bereid hulle is om in wonderwerke te glo.
Vertel my van die skryf van hierdie boek? Die vonke van inspirasie, die skryfproses, die beplanning en die lekkerste en moeilikste aspekte rondom die skep van hierdie boek.
Sedert ek in die vroeë 1970’s Van Wyk Louw se “Die hond van God” gelees het, en deur my Afrikaans-dosent aangeraai is om Dostojewski se The Brothers Karamazov te gaan lees om Louw se werk beter te kan verstaan, het die gedagte oor wonderwerke en hoe mense daarin glo by my bly spook. Ek het al baie eienaardige dinge op die rugbyveld sien gebeur, en het begin speel met die idee van ’n insident met religieuse implikasies tydens die eindwedstryd van die Wêreldbeker. En ek het ’n hond gehad, Jasper (het gelyk soos die een op die omslag van die boek), en die dinge het bymekaar gekom. My oorlede vrou, Carien, het altyd geterg dat Jasper salig onbewus is van die feit dat hy nie ’n mens is nie, en dat niemand dit tog vir hom moet sê nie. Nou ja, hoe kon ek anders?
Wat voorspel jy gaan eerskomende Saterdag gebeur?
Mens het eintlik geen ander keuse as om in wonderwerke te glo nie, nè?
Lees 'n uittreksel van Hond se gedagte hier:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach