Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

______________________________________

Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach is in Johannesburg gebore, en het aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hy was joernalis by Beeld en Die Burger voordat hy uitgewer by Human & Rousseau geword het. Ná jare as publikasiebestuurder van NB­ Uitgewers, is hy nou voltyds skrywer. Sy mees onlangse romans is Piekniek by Hangklip en Ester. Hy woon op Bettysbaai.
______________________________________

Opsomming

Hond se gedagte
Kerneels Breytenbach
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179294

Fleur de Villiers is nie ’n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel Maurice Kumalo haar vra om ’n biografie oor die Springbok­rugbykaptein Katstert Nel te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Haar voorliefdes in die lewe behels eerder fynere dinge, soos ondersoekende joernalistiek, goeie kos en wyn. Wat op aarde weet sy van rugby, so op die vooraand van die Wêreldbekertoernooi in die jaar 2025?

Daar wag ’n groot verrassing op Fleur. Want in die domein van Jaap Schvantz en sy eggenoot Krystle, aan die hoof van Corpus Christi se kolossale besigheid (deesdae is die kerk en rugby één), is daar ’n klankie in die lug. En Fleur, ervare joernalis wat sy is, kry gou snuf in die neus.

Hond se gedagte is ’n hoogtepunt in Kerneels Breytenbach se oeuvre. Dit is ’n roman wat spreek tot rugbykenner én rugbyleek. Want wat is rugby anders as ’n metafoor vir die lewe – net een span kan wen, en nie almal volg altyd die reëls nie . . .
______________________________________

Uittreksel

Die gil kom van die kwartlyn af, maar daar is niemand om dit te hoor nie. Ook Fleur de Villiers is afwesig, eensaam in haar bed in Hough­ ton. Die kreet sal vandag nog haar lewe begin beduiwel en die weke wat voorlê­ dompel in ’n gemors van onsmaaklikheid en ander rugby­ drama.

Josephus (Slapogie) Losper is die een wat skree, daar op die kwart­ lyn aan die Doornfonteinkant van Ramses Ellispark Stadion op hier­ die voorlaaste­ Sondag van die tweede wêreldrugbytoernooi in Suid-Afrika.

As sy hier was, sou Fleur verklaar het dat dit nie vir haar heeltemal sin maak nie. Hier bevind Slapogie hom nou met ’n gebreekte toon op die rugbyveld waar hy gister vir hom met ’n enkele strafskop ’n plek oop­ geskop het in die geledere van Springbokrugby se grootste helde.

Onsterflike roem, om die korrekte rugbyterm te gebruik.

Die rugbyheld het vroegoggend teruggekeer na die toneel van sy triomf. Hy beleef intense heimwee na die groot oomblik, drie minute ná die eindfluitjie reeds moes geblaas het in die kwarteindwedstryd tussen die Bokke en die Aussies.

Hy wens die 70 000 toeskouers by gister se wedstryd het nie die sta­ dion verlaat nie.

Hy smag na die euforie wat hy saam met hulle gevoel het; die bruising in die bloed nadat hy, Vanwyksvlei se grootste seun, van sy eie kwartlyn af ’n strafskop oorgeskop het. ’n Sege weggeraap het uit die greep van die Aussies.

“’n Wen is ’n wen,” het hy agterna op die perskonferensie verklaar,­ “al is dit met een punt.”

Wie is die twee vuige vroue saam met Slapogie, daar op die heilige grasperk? Slapogie sal kan sê hoe hulle is, maar nie wie nie. Hy noem hulle Baby Doll en Piglet, maar dit is nie eg Argentynse name nie. Albei is in die land vir die joligheid en oormaat van alles wat rugbyspelers van dwarsoor die wêreld hulle bied. Slapogie se manjifieke skop van gister het hulle na sy bed gelok. Die skop en die schnarf.

En natuurlik sy slap ogie.

Slapogie het aan die einde van ’n lang nag besluit om die slaap ’n bietjie langer te ontwyk sodat hy Baby Doll en Piglet kon wys dat hy dit weer kan doen. Hulle is seer geskaaf en rugseer, maar hulle is bitter wakker.

Alles in die lewe kan Slapogie wéér doen. Dis sy filosofie.

Hy het hulle deur die tonnel na die speelveld gelei. Rondom­ hom gekyk, na die rye leë sitplekke. Die skoonmakers het die plek van ’n kant af verlos van die gemors wat rugbyskares agterlaat. Papier, plastiek­bier­ bekers, drek en kots; die onstigtelike dinge wat ’n ewe groot en waar­ derende skare (wat oor enkele ure hierdie stadion gaan vul vir die groot weeklikse dankseggingsdiens) uitermate sal ontstel.

Slapogie sal daar wees. Saam met sy makkers, die draers van groen en goud.

Om te getuig.

Vroegoggend, met die son wat al ’n perskeskyfie uitgestoot het bo die winterhorison, rigting OR Tambo, staan hy met net sy hardloopskoene aan. ’n Man kan nie uit ’n gelouterde liefdesbed opstaan en dadelik sy toks aantrek nie.

Om die heilige waarheid te vertel, soos hy hier staan met sy wife-beater-frokkie en Wallaby-broek wat ’n voorganger van Piglet in Sydney vir hom geskenk het, voel hy naak. Kaal werk vir hom, geen fout nie. Dit het heelnag gewerk terwyl Baby Doll en Piglet die een lyn ná die ander gesny het. “Gooi gruis, girls” het hy meer kere gesê as wat sy geskommelde­ geheue nou kan onthou. En hét hulle! ’n Lang lyn wat begin in die kuiltjie onder een van die twee se ken, en dan tussen die Twee Susters deur, groot schnarf by die naeltjie, en dan na die voor­ tuin.

Waar hy dan vir hierdie twee Argentynse chicks sy Vanwyksvleise moves gewys het.

Slapogie se kop voel asof iemand sy sinusholtes met staalwol byge­ kom het.

Maar wat! Hy kom van anderkant die plaas Smouskolk. Hy kan die hele Verneukpan snuif en daarna steeds ’n goeie game hê.

Hy neem die kicking tee en stap kwartlyn toe. Doen ’n soort samba al voor Piglet uit. Sy aap hom die passies na, rugbybal onder die arm. Haar gegiggel en Spaanse gekoer eggo vanuit die gestoeltes terug. By die kwartlyn­ draai hy om, tree twee treë terug, en plaas die kicking tee op die geseënde gras.

“Bal,” beveel hy. ’n Woord wat die kommunikasiegaping oorbrug. Piglet probeer die bal flink aangee, maar dit glip uit haar vingers. Slapogie dink nog daaraan om vorentoe te buk, maar die aand se

joligheid haal hom in. Hy kraai van die lag en gee ’n lang tree na die bal toe, probeer dit soos ’n sokkerspeler net voor dit die grond tref, vang en hoog die lug in te skop, sodat hy dit makliker kan vang.

Wanneer sy voet die bal tref, hoor hy die geluid van sy groottoon wat breek voordat hy kan verstaan hoekom die bal dan nou skielik soos ’n baksteen voel.

Iets word losgemaak in die oerdeel van sy brein. Slapogie brul soos Ramses Ellispark dit nog nooit gehoor het nie.

Piglet gil.

Baby Doll skree iets en kom aangehardloop na Slapogie, wat nou besig is met ’n Skotse dans op sy beste aftrapvoet. Ná ’n paar hobbels syg hy onelegant op die gras neer.

“Watse bal is dit?” Slapogie probeer sy voet uit die ligte drafskoen ver­ wyder sonder om die toon verder seer te maak.

“Dis ’n present.” Die Argentynse groupie praat ’n gefragmenteerde Engels. Ieta prê zent.

“Vir wie?”

Slapogie is die bliksem in.

“Joe.”

Baby Doll plaas haar hand op Slapogie se skouer.

“Wat is daarin?”

“Gooi gruis.” Baby Doll glimlag trots in Piglet se rigting. Gô grêz.

Twee weke voor die final en sy kan al Afrikaans praat.

Uit die hoek van sy oog sien hy die eensame figuur van sy kaptein, Katstert Nel, uit die bek van die tonnel gestap kom. Saam met sy blik­ semse hond.

“Ons gaan daai hele bal nodig hê,” sê Slapogie.

“Gô grêz,” sug die minnares van die Pampas.
______________________________________

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top