Resensie: Toring van Jasmyn deur Derick van der Walt

  • 0

Toring van Jasmyn
Derick van der Walt
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087519

Toring van Jasmyn, Derick van der Walt se nuutste jeugroman, begin met ’n toneel wat jou in die maag skop. Jy bevind jou in Turkye, op straat. Dis besig. Die stad druis met toeriste en plaaslike inwoners wat op sypaadjies sit en eet of kuier. Jy sien eers die wit lig, dan hoor jy die bom ontplof. Jy staan hulpeloos buite die aksie en kyk in, na ’n omgekeerde wêreld, histeriese mense en bloed. En ’n voet sonder ’n lyf.

Dan word jy skielik weggepluk en verplaas na ’n vliegtuig onderweg na Istanbul, met Markus Combrink, sy suster Nina, sy pa en ’n ander jong seun genaamd Neil aan boord. Markus, lees mens sommer dadelik raak, is ’n ou knorpot. Hy is glad nie lus vir die vakansie in die vreemde nie; hy is nie beïndruk met sy wysneussuster of sy pa (wat sy ma gelos en met ’n ander vrou getrou het) nie, en nog minder met Neil. Laasgenoemde het albei sy ouers verloor en dié vakansie is nie net ’n wegkomkans nie, maar ’n toetslopie om te sien of Neil moontlik by die Combrinks sal aanpas as Markus en Nina se nuwe boetie. Almal is opgewonde oor die vakansie, maar vir Markus is die lewe tans een groot, bitter pil.

Terwyl Markus en Nina se pa die paar dae in Turkye gebruik om vergaderings by te woon en te werk, benut die tieners die tyd om die kleurvolle stad met al sy eksotiese markte en winkels en mense en geure te verken. Hulle dwaal sorgeloos deur die strate, leer die kortpaadjies ken en maak selfs maats met twee Turkse tieners: die speserysmous Sahib en sy suster, Meryem. Kort voor lank voel die drie Suid-Afrikaanse tieners één met die stad en deel van die groter prentjie. Die gasvryheid en vriendelikheid van sekere van hulle nuutgevonde kennisse staan egter in skrille kontras met die politieke onderstrominge en die openlike vyandigheid wat hulle eerstehands van sommige plaaslikes ervaar. Selfs van hul vriend Sahib se neefs.

Deurgaans spook die openingstoneel van die boek egter by ’n mens. Jy weet dit kom. Jy weet iewers gaan die bom ontplof, ook die spreekwoordelike een. Iemand gaan baie seerkry, waarskynlik doodgaan, maar wié dit is, weet jy nie. En wanneer die chaos losbars, sit Marcus, Nina en Neil te midde van dit als.

Die skrywer kry dit goed reg om die voortdurende politieke konflik in die land asook die konflik tussen Markus en al die ander in te span en die leser aan die raai te hou oor die uitkoms van die verhaal. Gaan Markus sy pa vergewe? Gaan hy Neil aanvaar? Wie is die mans met die swart en rooi klere? Een enkele groot gebeurtenis sorg egter vir ’n wending wat alle ander simpel klein bekgeveggies na pousepraatjies op ’n laerskoolspeelgrond laat klink. Nina verdwyn en niemand weet waar sy is nie. Of weet Sahib? Haar verdwyning trek ’n paar belangrike drade in die boek bymekaar en die uitkoms is, soos ’n mens maar altyd heimlik hoop, na wense.

Een aspek van die boek is egter nié volkome na wense nie. So hard soos wat die openingstoneel mens aanvanklik op die maag skop, so oorbluf laat dit jou terugskouend. Die toneel skep ’n besliste verwagting dat die leser iewers deur die loop van die boek ’n verlies gaan ly. Spesifieke karakters wat in die openingstoneel beskryf word, vra onmiddellike aandag en eis jou simpatie. Een van hulle sterf immers. Mens sou swéér hulle is die spil waarom die boek gaan draai. Maar dan blyk dit dat hulle niks meer as randfigure is wat die tafel dek vir die onstuimige omgewing waarin die boek afspeel nie. ’n Pertinente terugkeer na die toneel word ook geantisipeer, maar helaas. Dis asof die skrywer later in die verhaal wegskram van die impak van die boek se eerste drie blaaie. Van der Walt erken self dat hy van plan was om een van sy hoofkarakters te laat sterf, maar uiteindelik kleinkoppie getrek het. Dié toneel is waarskynlik herskryf nadat hy te geheg aan sy karakters begin raak het. Dis ’n jammerte, want ek voel effe mislei deur die skrywer se jammerhart.

Die boek, wat in 2019 die goue Sanlamprys vir jeugliteratuur gewen het, is gebore uit ’n droom van die skrywer (sien skrywersonderhoud met Naomi Meyer), en na die droom het hy self ’n reis na Turkye onderneem. Die karakters praat duidelik nie bloot uit ’n reisgids of ’n internetartikel nie – Derick se persoonlike ervaringe en waarnemings sit lekker gemaklik en geloofwaardig in die teks. Nes in die boek het Derick se besoek met ’n staatsgreeppoging saamgeval. Mense is doodgeskiet, maar gelukkig het hy deur die hele drama geslaap en kon hy en sy reisgenote ongedeerd verder vakansie hou en navorsing vir dié wenverhaal doen.

Die enkele punt van kritiek ten spyt, is Toring van Jasmyn weer eens ’n wonderlike getuigskrif van Derick van der Walt se vermoë om in tieners se koppe in te klim en om sy karakters regte mense met regte probleme en versugtinge te maak. Die boek is ’n waardige wenner van die Sanlamprys. Mag die skrywer net nóóit weer te bang wees om sy eie darlings dood te maak nie.

Lees ook:

Skrywersonderhoud: Derick van der Walt oor Toring van Jasmyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top