Naomi Meyer gesels met Derick van der Walt oor Toring van Jasmyn, wat in 2019 die Sanlamprys vir Jeuglektuur verower het.
Toring van Jasmyn
Derick van der Walt
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624087519
Derick, jy is ’n gesoute skrywer – van volwasseneromans én van jeugboeke. Waar het jou idee vir Toring van Jasmyn ontstaan?
Dit gaan behoorlik absurd klink, en as iemand anders dit vir my gesê het, het ek my oë gerol. Ek het regtig een nag in 2016 gedroom oor ’n Afrikaanse gesin van Pretoria wat in Istanbul vakansie hou en toe word die mooi blonde dogter ontvoer.
Waar die droom vandaan gekom het, het ek nie ’n koekie se clue nie. Ek het nooit aan Istanbul as ’n moontlike vakansiebestemming gedink nie. Die plek was nie eers in my gedagtes nie.
Maar ek het die volgende oggend gewonder of ek nie dalk iets beet het nie. Ek kyk deesdae met ander oë na drome!
Duidelik het jy baie navorsing rondom Turkye gedoen – jou karakters beleef die stad met al sy geure en smake. Het jy onlangs daar gereis? Of hoe het jy jou navorsing gedoen?
Ja, ons is ná die droom vir 10 dae Istanbul toe. Dis moeilik om oor ’n plek te skryf as jy nie weet hoe dit proe, ruik, klink en voel nie.
Soos Murphy dit wou hê, het die staatsgreeppoging plaasgevind in Istanbul en Turkye se hoofstad, Ankara, die eerste nag toe ons in Istanbul oornag het. Ek het dwarsdeur al die drama geslaap en nie ’n helikopter of ’n masjiengeweerskoot gehoor nie. Mense is doodgeskiet op die brug naby ons hotel en daar was benoude Suid-Afrikaners wat nie kon land uit nie. Vlugte is gereeld gekanselleer en hulle was bang.
Ons het die volgende oggend, soos die meeste ander toeriste, versigtig en onrustig om die blok gestap, nie seker wat om te verwag nie. Ons kon tog nie vir 10 dae in die hotel sit nie. Orals het mense soos gewoonlik rustig die sypaadjies voor hulle restaurante afgespuit en voorraad is uit afleweringsvoertuie die restaurante ingedra.
Teen 12 die middag was dit business as usual in Istanbul. Die strate het gewemel, die restaurante was vol en die toeriste het gekoop dat die biesies bewe. Die mense van Istanbul beweeg duidelik vinnig aan. My mond het letterlik oopgehang.
Maar dit was toe ’n heerlike vakansie. Dis ’n wonderlike stad en relatief goedkoop vir ons Suid-Afrikaners om in vakansie te hou.
Wat vir my so oulik was, is hoe jy ’n uitdrukking soos "dis nie iets om oor huis toe te skryf nie" verplaas na ’n jeugdige karakter: "My rapport was nou nie juis iets om op Facebook te sit nie." Is daar jongmense in jou lewe – mense wat jy hoor praat, of wie se leefwêrelde jy ken?
My drie seuns is nou al uitgevrete, maar ons het vriende en familie wat steeds tieners het. Ek bly in voeling, hoewel ek nie dink dis nodig nie. Ek skryf oor mense – hulle ouderdomme is nie belangrik nie.
Ek en Lenie het ’n jaar en ’n half gelede vir die eerste keer oupa en ouma geword, van ’n tweeling nogal: Lea en Daniël. Dis die begin van ’n nuwe siklus Van der Waltjies. Ek mag dalk selfs in die toekoms vir jonger kinders skryf, iets wat nie nou vir my gemaklik gebeur nie.
Hoe verskil dit vir jou om vir jongmense en vir volwassenes te skryf? Is daar groot verskille aan die manier om ’n boek te benader?
Hoegenaamd nie. Die ouderdom van die karakters en die potensiële lesers is vir my bloot toevallig. Ek het nog nooit gedink ek skryf uitsluitlik “jeugboeke” nie. Ek vermoed dat ek meer volwasse lesers het as jongelinge.
Dit is wel lekker om karakters van jou eie ouderdom te skryf, het ek ontdek toe ek Daan Dreyer se blou geranium geskryf het. Jy weet wat in dáárdie koppe aangaan.
Dink jy baie jongmense lees nog boeke?
Ek dink nie so nie. Tóg sê die juffrouens en menere dat jy steeds kinders kry wat met ’n boek onder die arm op die speelgrond rondloop. My boeke Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol is voorgeskryf en ek raak regtig bewoë as skole my nooi om oor dié boeke te praat en die kinders sê vir my hoe baie hulle hierdie stories geniet het. Dis hoofsaaklik Engelssprekende tweedetaalleerders van Afrikaans wat deur my voorstedelike Afrikaans moes worstel.
’n Mens voel dan dat daar tog ’n punt aan die geskrywery was. Dit was nie sommer maar net lekker ou storietjie-storietjie nie.
Ek het nagedink oor Turkye as land terwyl ek jou boek gelees het en ek is seker enige jong leser van jou boek sal ook so maak. Het jy doelbewus daarop probeer wys dat daar ook in ander lande misdaad of gevare of terreur bestaan in vergelyking met hierdie land van ons, waar dit so bitterlik gevaarlik is? Of was dit nie so beplan nie?
Ek glo dat ’n mens nie doelbewus ’n lessie of ’n prekie in enige skryfwerk moet insluit nie. (Almal ruik dit gou.) Dus, nee, ek wou nie iets spesifiek sê nie. Ek het glad nie aan ooreenkomste en verskille tussen Suid-Afrika en Turkye gedink nie.
Miskien wel dat mense, veral jongmense, oral maar dieselfde drome en vrese het, al is die kultuur heeltemal anders as waaraan jy gewoond is.
Nie alle boeke skryf ewe lekker nie. Waaraan ek nou werk, is nogal ’n sad spulletjie en ek weet dit gaan my vir maande in ewige mistroostigheid hê. Dit was lekker om Toring te skryf. Ek was vir maande in my kop in Istanbul op vakansie.
Jou boek lees soos ’n opwindende soort spanningsverhaal. Al is dit nie naelbytspanning nie, laat jou proloog tot die storie mens heeltyd bang wees dat die karakters nie oukei gaan wees nie. Wil jy kortliks vertel wat was vir jou die belangrikste aspekte van die storie – dit wat jy beplan het, of dit wat dalk net organies so ontwikkel het?
Ek het niks beplan nie. Ek het lank gesukkel om ’n storielyn oor die “ontvoering” te bedink. Daarom het ek die manuskrip eenkant gesit en eers Tussen vriende geskryf wat in 2018 by Quellerie verskyn het.
Die toneel waar Marcus vir Meryem geld in die hand stop om haar broer in ’n mooi plek te laat begrawe as hy sou doodgaan, was die eerste stukkie wat ek geskryf het. Ek het geweet dit is die rigting waarin die einde gaan mik.
Ek het ook aanvanklik geskryf dat een van die karakters doodgaan. Maar ’n mens raak geheg aan jou karakters en ek het gou besluit ek kan dit nie aan die karakter en die lesers (en myself) doen nie.
Van beplan versus organiese ontwikkeling gepraat: Hoe skryf jy aan ’n storie – beplan jy dit vooraf, of ontwikkel dit soos wat jy skryf?
In my “regte” werk word my lewe gerig deur sperdatums, sommiges weekliks. Ek kan dus nie stilsit nie. As dit by kreatiewe skryf kom, het ek geen stelsel nie. Dit gebeur so tussendeur.
Ek beplan absoluut niks nie. Dis ’n organiese proses. Daar is gewoonlik darem ’n storie in my kop en ek weet presies waar dit gaan eindig, hoe die hoofkarakter se kop werk en wat die “atmosfeer” van die storie gaan wees.
Ek het pas met ’n nuwe boek begin en die eerste ding wat ek geskryf het, was die heel laaste sin. Ek weet daai sin gaan nie verander nie. Hoe om daar te kom, is natuurlik ’n ander en ’n baie lang storie. Maar dis vir my die lekker van skryf. Dis ’n groot avontuur en ek weet glad nie wat gaan gebeur nie. Dis vir my óók ‘n verrassing.
Het jy ’n skryfroetine en hoe lank het dit jou geneem om die storie te skryf?
Soos hier bo gesê, het ek hoegenaamd geen roetine nie. Aan die begin het dit my baie benoud gemaak. Ek wou op ’n tyd soos Deon Meyer, voordat hy voltyds begin skryf het, elke oggend vieruur opstaan om te skryf voordat ek werk toe gaan. Nee, ek is doodeenvoudig net te lui en te koulik in die winter.
Ek het nou vrede daarmee gemaak dat dit is hoe dit altyd gaan wees en ek kou nie meer my polse daaroor nie. Die ongeordenheid werk vir my.
Ek hou nie boek nie, maar ek het so min of meer so ses tot agt maande (so aan en af en give and take) hieraan geskryf.
Wat was jou gunstelingboeke as kind en as tiener? En waarom?
Op laerskool was ek mal oor alles wat Elsabé Steenberg geskryf het. Dié vrou verdien ’n mooi monument. Ek onthou van haar boeke soos Bergpad na Eden en Die heuningwolk nog in besonderhede. Ek vermoed sy het ’n groot invloed op my skrywerasies gehad. Dis waarskynlik haar menslike stories en karakters wat met my gepraat het.
Ek het ook Cor Dirks se Uile-reeks baie geniet. Maar nee vir die vervelige en verspotte Trompie- en Saartjie-gedoentes.
Op hoërskool het ek volwasseneliteratuur gelees. In graad 8 het ek my ma se Lady Chatterley’s lover skelm gelees en ’n jaar later John Steinbeck per ongeluk ontdek. My plan is steeds om al sy boeke te herlees. Ek dink hy het ook my denke oor stories beïnvloed. Ai, daai mooi stories oor gewone mense wat moet sink of swem. My gunsteling was East of Eden.




