Media24 Boeke Literêre Pryse: WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie

  • 2

MEDIA24 BOEKE LITERêRE PRYSE 2019
WA Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie (romans, kortverhale of drama)
Keurders: Sonja Loots, Francois Smith, Bibi Slippers

WENNER
Zirk van den Berg: Ek wens, ek wens (Kwela)

Foto van Zirk van den Berg: verskaf

Daar is boeke wat ’n mens in ’n ommesientjie kafdraf, maar wat jou jare lank bybly. The old man and the sea deur Ernest Hemingway, The great Gatsby deur F Scott Fitzgerald, Die klein prinsie deur Antoine de Saint Exupéry en Things fall apart deur Chinua Achebe is enkele voorbeelde van bondige romans wat lang skaduwees gooi. Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg is ook so ’n groot, klein boek. Dit sorg vir ’n oorrompelende leeservaring, maar dit kom die leser se wêreld binne sonder ’n gedawer of gedruis. Daar is geen poging tot grootdoenery en geen truuks of fieterjasies nie. Dit gee eerder voor om doodgewoon te wees – soos die hoofkarakter Sebastian Walters (Seb), ’n begrafnisondernemer wat sy voorspelbare lewe gedwee leef. Só gelate met sy lot is Seb dat hy glo dit help nie om te wens of te droom nie. Hy dink hy leef nugter, maar eintlik is hy hoopverlore. Eers wanneer hy vreemd bekoor word deur sy ontmoeting met ’n sterwende kind genaamd Gawie (oftewel Gabriël), begin Seb vars dink oor sy hartbegeertes. Ook die leser word tot nadenke gestem. Wat wil ons die heel graagste hê? Ek wens, ek wens is snaaks, slim, teer en verrassend. Dit is, in elke sin van die woord, ’n betowerende teks.

Resensie: Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg

KORTLYS

Kerneels Breytenbach: Hond se gedagte (Human & Rousseau)

Rugby, godsdiens, korrupsie, politiek, dwelms, seks ... Dit is ’n tipies Suid-Afrikaanse mengsel wat Kerneels Breytenbach in sy satire Hond se gedagte opdis, maar sy hoofbestanddele, rugby en godsdiens, en die wyse waarop hy dit saamklop en dit versny met die joernalistiek en die letterkunde maak hiervan iets heel buitengewoon. Dis die werk van ’n ware vakman; uit ’n wye reeks taalregisters vat Breytenbach laag en hoog om die volle bestek daarvan te laat sidder. Hy ontgin die taal van die sportwetenskap, die filosofie, argitektuur, musiek en die gastronomie, onder meer, van die boertige trôe daarvan tot die hoogste suiwerste pieke. En hierdie mengsel van hoog en laag is altyd snaaks. Sexy ook. Maar tot in die murg in snaaks. Kan ’n boek wat oor geloof gaan snaaks wees? Hier is een van die klinkendste bewyse. Maar jy lag al hoe ongemakliker as jy agterkom dat die toekoms wat Breytenbach in hierdie roman skep plek-plek reeds werklikheid geword het. Hond se gedagte is ’n futuristiese raaiselroman waarin die leser die kans kry om ’n soms absurde misterie te ontrafel, om dan lag-lag die kropgevoel begin te kry dat die kans baie goed is dat hierdie absurditeite die rots is waarop ons samelewing gebou is.

LitNet Akademies-resensie-essay: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

                                                            
Etienne van Heerden: Die biblioteek aan die einde van die wêreld (Tafelberg)

Net ’n paar maande voordat die wêreld soos ons hom geken het geëindig het, verskyn Die biblioteek aan die einde van die wêreld, ’n boek waarin Etienne van Heerden ’n hele biblioteek vol kwessies, karakters en kinkels laat pas het. Soos dit dikwels met die groot romansiers gaan, het die tyd ook vinnig gewys dat Van Heerden se vinger reeds op die pols was van ’n saak wat baie mense tot onlangs min kon traak, maar wat byna oornag (te midde van die Coronavirus-pandemie) vir elkeen relevant en aktueel geword het. Sigbewaking (surveillance) word nou ook plaaslik op verskeie maniere aangewend om byvoorbeeld siekes se kontak met ander mense na te spoor. Die vraag oor waarvoor en hoe hierdie soort toegang tot persoonlike en biometriese data aangewend kan word, word in ’n verskeidenheid kontekste ontgin in Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Die boek skram nooit weg van die beduiwelende kompleksiteit van die kontemporêre Suid-Afrikaanse samelewing nie, en verken op ’n vreeslose wyse verskillende skakerings van die ervaring van menswees in hierdie plek. Die skrywer skrik nie vir die skaal en omvang van die temas wat hy aanroer nie, en sy waagmoed het ’n boek help vorm wat groot belonings aan lesers bied.

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

LitNet Akademies-resensie-essay: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top