Media24 Boeke Literêre Pryse 2020: MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke – commendatio’s

  • 0

MEDIA24 BOEKE LITERêRE PRYSE 20202020 MEDIA24 BOOKS LITERARY PRIZES
MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Skrywer 
MER Prize for Illustrated Children’s Books: Author
Keurders│Judges: Jaco Jacobs, Aldré Lategan, Magdel Vorster

WENNER | WINNER

Fanie Viljoen: Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies (Human & Rousseau)

Foto van Fanie Viljoen: verskaf

Bekroonde skrywer Fanie Viljoen wys weer eens sy staal as iemand wat nie wegskram van moeilike onderwerpe in sy boeke nie. Om met kinders oor seksuele molestering te praat en hulle toe te rus om hulleself te beskerm, is nie ’n maklike taak nie. Deur middel van ’n eenvoudige, dog aangrypende verhaal, waarmee kinders van ses tot 12 jaar kan identifiseer, lig hy hulle nie net in oor die gevaartekens van seksuele misbruik nie, maar moedig hy hulle ook aan om so gou moontlik met mense wat hulle vertrou daaroor te praat en hulp te vra. Die draak, oftewel die molesteerder, kan enigiemand van enige ouderdom wees: ’n ouer, grootouers, ooms en tannies, die dominee, die onderwyser, die sportafrigter en selfs sibbes. Ouers en ander versorgers is nie altyd daarop bedag dat kinders in hulle sorg seksueel misbruik word nie – hulle sien eenvoudig nie die gevaartekens nie. Daarom dat die waardevolle inligting en riglyne agterin die boek, vir kinders, ouers en die uitgebreide gesin, asook onderwysers, oor hoe om in so ’n situasie op te tree, ’n uitstekende wegspringpunt is om oor hierdie skrikwekkende werklikheid te praat. ’n Onontbeerlike boek wat ook aangepas is vir seuns, en beide is in Engels vertaal.

Die dag toe die draak kom (vir seuns en vir meisies) deur Fanie Viljoen: ’n resensie van albei boeke

Die dag toe die draak kom: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

KORTLYSSHORTLIST

Mari Grobler: Bella en Sebastiaan (Tafelberg)

In Bella en Sebastiaan is Bella ’n tipiese wysneus wat telepaties met haar kat, Sebastiaan, of Seb, soos hy verkies om genoem te word, kommunikeer. Anders as haar dialoog word sy gedagtes of antwoorde nooit tussen aanhalingstekens gedruk nie. Bella en Sebastiaan se verhaal word in vier moderne stories vertel, kompleet met onder andere Bella op haar skaatsplank wat as misterieuse koper werk. Daar is egter ook ’n goeie dosis aksie, humor en fantasie met Bella se toorwoorde wat soms ’n bietjie te letterlik deur wie ook al toorwoorde interpreteer en laat gebeur, opgeneem word. So toor sy reg aan die begin, net ná Seb kat se gedagtes kry, per ongeluk die huis rot en kaal.

Mari Grobler se plek-plek volwasse humor en woordspelings is skerp, maar steeds toeganklik en gepas vir die teikengroep van nege tot 11 jaar oud. Bella en Sebastiaan se kaskenades herinner aan Liewe Heksie en Matewis se avonture, maar daar is ’n groot verskil. Bella en Sebastiaan is vir “groot” kinders wat nie meer “kleintjies” se stories wil lees nie, bedoel. En so kry en hou Mari Grobler ’n belangrike leessku teikengroep aan die lees.

Dihanna Taute: Die legendariese Lua Verwey 2: ’n Plaas se geraas (Human & Rousseau)

Met dié opvolgboek bewys Dihanna Taute weer eens dat sy deeglik op die hoogte van die eietydse kinderboekmark is, en kinders se leef-, taal- en ervaringswêreld goed verstaan. Die reeks herinner aan oorsese topverkopersuksesse soos Diary of a Wimpy Kid en Dork Diaries, maar slaag daarin om nooit in blote navolging of nabootsing te verval nie. Die spitsvondige, vindingryke Lua en haar eksentrieke holderstebolder-gesin sorg vir ’n heerlike leeservaring met humoristiese beskrywings en wilde avonture wat aan die meeste gesinne met jong kinders maar alte bekend is. Die skrywer se aanslag is deurgaans lig en prettig, sonder om haar ooit aan prekerigheid skuldig te maak, en tog word kwessies aangespreek wat ’n belangrike rol in die teikengroep se leefwêreld speel, soos stereotiepe geslagsrolle en die slaggate van vriendskap. Die taalgebruik is boonop in die kol – met trefseker dialoog wat oortuigend op die oor val en prettige, oorspronklike beskrywings wat op elke bladsy bydra tot die leesgenot. Reeksboeke is dikwels ’n onderskatte genre in die kinderliteratuur, maar ’n boek soos dié, met sy herkenbare karakters en lekkerlagavonture, is vir baie jong lesers die sleutel tot ’n leeftyd se leesplesier. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top