MEDIA24 BOEKE LITERêRE PRYSE 2020│2020 MEDIA24 BOOKS LITERARY PRIZES
MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Illustreerder
MER Prize for Illustrated Children’s Books: Illustrator
Keurders│Judges: Magdel Vorster, Jaco Jacobs, Aldré Lategan
WENNER│WINNER
Theodore Key: Die hasie van fluweel, geskryf deur Margery Williams en vertaal en verwerk deur Linda Rode (Human & Rousseau)
Met Die hasie van fluweel slaag Linda Rode, soos met vele ander jeugverhale, om ’n klassieke kinderboek binne die verwysingswêreld van Suid-Afrikaanse kinders te plaas. Theodore Key se atmosferiese illustrasies in ink en waterverf vertel kliphard saam aan dié verhaal en maak ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van visuele geletterdheid.
Key se uitbeelding van hierdie klassieke verhaal is gepas nostalgies, maar terselfdertyd, danksy sy reeds bekende karikatuurstyl, verfrissend modern. Sy karakters se gesigsuitdrukkings en houdings is ekspressief en vol humor en patos. Die towerfee van die kinderkamer se uitdrukking en houding wissel van agterdogtig na vasberade na teer wanneer sy uit die blomkelk verskyn, met die fluweelhasie na die populierbos vlieg en hom naby die hasies gaan neersit.
Key se hoofkarakters sit of staan of lê ook nie rond nie, hulle beweeg saam met die storie. Wanneer Nana halflyf by die linkerbladsy ingehardloop kom, is die seuntjie al halfpad in die volgende bladsy. Dié “halwe” of gedeeltelike uitbeelding van volwassenes verleen benewens beweging ook ’n bekoorlike kinderperspektief wat aldus Rode in haar slotwoord, in Margery Williams se werk weerspieël word.
Theodore Key bewys beslis met hierdie boek dat hy een van Suid-Afrikaanse kinderliteratuur se belowendste en opwindendste illustreerders is.
KORTLYS | SHORTLIST
Vian Oelofsen: Liewe Heksie en die pampoene deur Verna Vels (Human & Rousseau)
Vian Oelofsen, bekende en bekroonde illustreerder van plaaslike sowel as oorsese kinderboeke, het met sy spitsvondige, prettige styl diep in die harte van Liewe Heksie-liefhebbers gekruip. Hy het nie net Liewe Heksie nie, maar ook al die geliefde karakaters soos Matewissie, Blommie Kabouter, Karel Kat, koning Rosekrans en die gifappeltjies deur die jare sy eie gemaak. Sy illustrasies spreek van sy passie en besonderse fyn aanvoeling vir ontwerp, waarin kleur, lig, ruimtelike perspektief en beweging ’n sentrale rol speel. Wat sy illustrasies verder besonders maak, is sy aandag aan detail wat ongesiens, ongevraagd en irrelevant tot die teks, by die hoofillustrasies insluip en deel word van die prettigheid en humor – soos ’n nuuskierige voëltjie, ’n waaksame uil, ’n feetjie op ’n vlieënde perd in die maanlig, ’n vriendelike wurm wat sy kop by die pampoen uitsteek, muisies wat versigtig nader kom of wegskarrel, en ’n vlugtige naaldekoker. Sy subtiele gebruik van collage plek-plek in die illustrasies dra verder by tot die uniekheid van sy aanslag en bekoorlikheid van sy werk.
Tumi K Steyn: Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen
Tematies is Die dag toe die draak kom allermins ’n maklike teks om te illustreer. Die sensitiewe, ontstellende tema, naamlik kindermolestering, stel ingewikkelde eise aan die illustreerder, wat met fyn suggestie en ekstra deernis te werk moet gaan om gebeure aan die jong leser oor te dra. Steyn se swart-en-wit illustrasies beeld Kyla uit as ’n onverskrokke, vindingryke klein vegter – nie bloot ’n slagoffer nie – maar gee ook haar vrees vir die oortreder, die “draak” in hul huis, oortuigend en treffend weer. Die karakters se liggaamstaal verklap en suggereer baie. Die oplettende leser word van meet af aan – en met die herlees – nie geflous deur oom Jason se gemoedelike houding nie; Kyla se ousus, Abby, se liggaamstaal aan etenstafel is ’n leidraad wat die oplettende leser bedag maak daarop dat iets ernstig verkeerd is. Die tegniek om Kyla se hondjie, Tiekie, sentraal te maak in die illustrasies werk uitstekend – die oulike hondjie se gesigsuitdrukkings en liggaamstaal is aan die een kant komies en help om die atmosfeer te verlig, maar verskaf ook belangrike visuele leidrade oor wat in die verskillende tonele gebeur en hoe om dit emosioneel te vertolk. Die illustrasies is vir die jong leser ’n belangrike sleutel tot die interpretasie van dié belangrike boek, wat ongetwyfeld baat by die weldeurdagte, lesersvriendelike aanslag van die baie talentvolle illustreerder.
Die dag toe die draak kom (vir seuns en vir meisies) deur Fanie Viljoen: ’n resensie van albei boeke