Hennie van Coller: effe "stadiger" deesdae, maar niks minder polemies

  • 1

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Jan H Marais-prys is onlangs gesamentlik aan Hennie van Coller en Ina Wolfaardt-Gräbe toegeken vir die uitstaande bydrae wat hulle tot Afrikaans as wetenskapstaal gelewer het. Melt Myburgh het met Hennie van Coller gesels oor sy luisterryke loopbaan as akademikus en literatuurwetenskaplike.

......

Hennie van Coller en sy vrou Elsa by Coert Steynberg-beelde tydens die Jan H Marais-prysoorhandiging. (Foto: verskaf)

Hennie, jy het jou lewe en loopbaan aan die Afrikaanse letterkunde gewy. Jou bydrae is monumentaal, soos wat vanjaar se toekenning van die Akademie se Jan H Marais-prys aan jou en Ina Wolfaardt-Gräbe bevestig. Wat is jou gedagtes by die ontvangs van hierdie toekenning?

Dankbaarheid veral. Vir erkenning, natuurlik, maar ook vir geleenthede en ondersteuning. Hier dink ek aan my ouerhuis, my gesin, veral my vrou Elsa en my dogters Liezel, Helena en Karien se opofferings, en aan al my leermeesters – mans en vrouens; onderwysers, dosente, studente en kollegas.

So ’n prys ontvang ’n mens nooit as daar nie mense is wat jou waardig daarvoor ag en jou voorstel nie. Daarom is ek baie dankbaar vir prof Jaap Steyn wat die inisiatief geneem het, en vir proff Anthea van Jaarsveld en WJ Botha wat die voorstel ondersteun het. Hulle is almal gewaardeerde kollegas.

Vanselfsprekend is ek meer as dankbaar vir die taal waarin ek kon werk en vir die letterkunde daarin. My werk was altyd ook my passie. Ek moet ook die skenker, Jan H Marais, bedank en die borge én die keurkomitee, want eweknie-erkenning is altyd die belangrikste.

Prof Marcel Janssens van Leuven het vir Hennie vele geleenthede geskep. (Foto: verskaf)

Jou akademiese loopbaan is indrukwekkend, om die minste te sê, en jy het nagraadse kwalifikasies aan die universiteite van Utrecht en die destydse RAU behaal. En is 1997 is jy as uitgelese professor by die Universiteit van die Vrystaat aangestel. Was dit op skool al ’n uitgemaakte saak dat jy ’n loopbaan in die akademie sou volg? Hoe het dit gebeur dat die Afrikaanse letterkunde die fokus van jou studies en uiteindelik van jou lewenswerk sou word?

Ek het in graad 5 ’n boek gelees met die titel Klatergoud waarin daar nogal ’n romantiese beeld van ’n advokaat geskilder is. Dit was van toe af my loopbaankeuse; ook weens ’n hofsaak waarin my pa betrokke was en my eie passie vir argumentering. Ek het met ’n beurs in die regte gaan studeer – my eerste jaar by die US en my graad behaal by die Universiteit van die Witwatersrand.

Van Wyk Louw het my ’n akademiese assistentskap aangebied in my derde jaar en ek het besluit om ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands te doen en later my studie in die regte te hervat. Toe ontvang ek die Seba Cuyler-beurs vir magisterstudie by RAU (saliger) en die res is geskiedenis. My arme pa moes toe maar later my beursgeld terugbetaal.

Hennie van Coller as voorsitter van die ALV saam met twee “bewonderde kritici en goeie kennisse”, FIJ van Rensburg en AP Grové. (Foto: verskaf)

Die Universiteit van die Vrystaat was jou akademiese tuiste vir die grootste gedeelte van jou loopbaan nadat jy in 1997 as senior lektor daar aangestel is. Met wie het jou pad as kollega gekruis by dié instelling? Deel asseblief jou gedagtes oor die universiteit as ’n basis van jou aktiwiteite. Wat is jou indrukke van die veranderinge wat die universiteit die afgelope dekade of twee deurloop het?

Ek is in 1973 aangestel as lektor in Afrikaans by die Universiteit van Natal in Durban en het na my terugkeer uit Nederland van 1976 tot 1978 op die Pietermaritzburg-kampus van die universiteit gewerk as lektor in die Nederlandse letterkunde. Daarna is ek as senior lektor na Kovsies waar ek in 1997 bevorder is tot uitgelese professor en ook vir 27 jaar hoof was van die Departement Afrikaans en Nederlands.

Ek het uitnemende rektore as base gehad: Wynand Mouton (wat ’n navorsingskultuur daar geskep het), Francois Retief (wat reeds die politieke druk moes hanteer), Stef Coetzee en Frederik Fourie (wat die UV van finansiële ondergang moes red). Willem Richards, toenmalige viserektor, het ’n groot rol in my loopbaan gespeel, en verskeie ander akademici het as rolmodelle gedien.

Ook my dekane het my sonder uitsondering ondersteun. Ek dink veral met dank terug aan Andries Snyman wat my help bevorder het tot uitgelese professor. Ek het uitstaande navorsers as kollegas gehad: onder andere die briljante Charles Malan, die digter Daniel Hugo en dan veral Jaap Steyn en Christo van Rensburg, saam met wie ek gepubliseer het. Later het ek baie gepubliseer met veral Bernard Odendaal en Anthea van Jaarsveld – eers as mentor en later as vennoot. Verskeie mense het my ondersteun, soos Jan Senekal, en ander het my help vorm, veral studente wat by my gepromoveer het – vandag is byna 10 in akademiese betrekkings, ses as professore. My dank gaan ook uit na elke navorsings- en administratiewe assistent/sekretaresse.

Die UV het my navorsing aktief ondersteun en ek is diep dankbaar daarvoor. Universiteite het toenemend lakeie van die regering begin raak; begryplik dalk, want hulle dra die beursie. Tog word universiteite wêreldwyd bestuur volgens sakebeginsels en die kultuurtaak word dikwels afgeskeep. Hoe is dit anders moontlik dat universiteite in België, Nederland en Suid-Afrika hul rug kan draai op onderskeidelik Nederlands en Afrikaans? Kruissubsidiëring het ’n skelwoord geraak en vakke soos Fries, Duits, Frans, Latyn en Grieks is op baie plekke bloot “uitgefaseer” (wat nogal klink na likwideer).

Universiteite raak ook gans te burokraties; by baie wat ek ken, word meer gepraat oor die kontrolering en bestuur van navorsing as wat navorsing daadwerklik onderneem word. En ten slotte: Die universiteit is nie ’n demokratiese opleidingsinstansie nie; daar is hopeloos te veel studente op universiteite wat intellektueel nie daarvoor toegerus is nie.

Bloemfontein is as ’t ware ’n hutspot van bedrywighede rondom Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde. In watter mate was jy betrokke by instellings soos NALN in die stad? Ek kan my voorstel dat jou kundigheid ’n waardevolle toevoeging vir kulturele instellings en gebeure in Bloemfontein is. Is daar dinge wat vir jou as hoogtepunte in hierdie verband uitstaan?

NALN is ’n belangrike instelling en ek ondersteun hulle waar ek kan. Veral tydens generaal Opperman se “reddingspogings” was ek baie aktief hierby betrokke. Ek is vir jare reeds voorsitter van die Vrystaatse werkgemeenskap van die Akademie en ondervoorsitter van die Stichting Neerlandia, wat veral die studie van en navorsing oor Nederlands befonds.

Verder is ek trots op die klomp leeskringe in Bloemfontein en tree altyd op wanneer ek gevra word. Ek is ook al vir baie jare aktief betrokke by die plaaslike kunstefees, nou met Corneli van den Berg as direkteur, en dit verskaf my baie genoegdoening. Voorts skryf ek reeds vir meer as 20 jaar ’n rubriek vir Volksblad, ons uithalerkoerant met Gert Coetzee aan die stuur.

Douwe Fokkema en sy vrou Elrud Ibsch tydens ’n besoek aan Suid-Afrika saam met Hennie. (Foto: verskaf)

Voordat jy in die Vrystaat beland het, was jy betrokke by Wits en die Universiteit van Natal, en het jy die voorreg gehad om in Nederland te studeer, soos jy reeds gemeld het. Watter herinneringe koester jy aan Wits en Natal? Vertel ook van jou ervaringe in Nederland. Hoekom is dit vandag steeds eintlik nóg meer belangrik dat Afrikaans akademiese en kultuurbande met die Nederlande uitbou en versterk?

Ek het wonderlike herinneringe aan beide universiteite. By die US, waar ek maar ’n jaar was, onthou ek DJ Opperman, WEG Louw; Meyer de Villiers en Willem Kempen. By Wits het ek van die allerbeste dosente gehad: Nienaber, Louw, Ernst van Heerden, Ampie Coetzee, John Miles, PG du Plessis, August Cluver – om net met hulle te volstaan. Hulle het my as bogsnuiter met respek behandel (en goeie wyn leer drink).

By Natal (Pietermaritzburg) was my baas Stoffel Nienaber, uit eie reg ’n knap letterkundige, asook sy vrou Miep Nienaber-Luitingh. Daar het ek goeie vriende gehad, almal knap mense: Adolf van Zuydam, Dranus Vermeulen, Nicky Grieshaber, Heidi de Villiers en Gert Jooste, latere departemensthoof van Afrikaans (Vista Universiteit) en hoogleraar by die destydse Universiteit van Port Elizabeth. Hy het later ’n uitstekende bydrae oor Karel Schoeman geskryf vir Perspektief en profiel en ons het groot vriende en wedersydse vertrouelinge gebly tot sy ontydige afsterwe. In Durban was daar ’n paar bekende letterkundiges soos onder andere Braam de Vries, Philip van der Merwe en Fanie Olivier.

Nederland het my akademies gevorm en ek het weer eens by die heel bestes onderrig ontvang: onder andere JC Brandt-Corstius, Frank Maatje, Wim van den Berg, Corn de Deugd, Rien Segers, Elrud Ibsch, Douwe Fokkema en Guus Sotemann, die beste stipleser wat ek ken. Nederlandse akademici is ontstemmend eerlik en krities; dit vorm jou. Boonop is die vastelandse tradisie gans anders as byvoorbeeld die Amerikaanse.

Ons taalsituasie raak toenemend iets wat ons met die Lae Lande deel: publikasie (en selfs dosering) in Engels. As jy die Afrikaanse letterkunde wil begryp, is die historiese Nederlandse literatuur onontbeerlik. Daarom het ek – in hubris – my hand gewaag aan ’n Nederlandse literatuurgeskiedenis in twee dele.

Elsa en Hennie saam met Etienne Leroux. (Foto: verskaf)

Jou proefskrif by RAU het oor die werk van Etienne Leroux gehandel. Ek neem aan toe jy in Bloemfontein beland, met Koffiefontein ’n klipgooi daarvandaan, kon jy jou verbintenis met Etienne Leroux tot ’n nuwe vlak voer? Vertel van jou interaksie met hom? Was julle vriende? Was jy redaksioneel of as raadgewer betrokke by sy boeke? Beskou jy hom as een van die grootste skrywers in Afrikaans?

Ek het aanvanklik my doktorale skripsie oor die psigologiese en mitologiese verwysings in Die mugu as ’n vergelykende studie voltooi by Utrecht, onder leiding van DW Fokkema. Dit het ek aan Leroux gestuur, wat my uitvoerig geantwoord het. Later het ek hom voorgestel vir sy eerste eredoktorsgraad in Suid-Afrika – by die Universiteit van Natal (Pietermaritzburg) waar ek toe dosent was; my baas, Stoffel Nienaber, moes as senaatslid die voorstel maak. Leroux het hierdie graad in 1978 daar ontvang.

Ek kon nie die sleutel van my motor vind toe ek Stephen en Elizabeth lughawe toe moes neem nie en hulle het hul vlug verpas. Hulle moes op eie onkoste oorbly en het ewe hoflik later vir Stoffel Nienaber gesê dat “die twee jongmans” (ek en my kollega, Adolf van Zuydam) hulle veilig en betyds by die vliegtuig besorg het!

In Bloemfontein het ons meer kontak gehad en vriende geraak. Op my voorstel het hy ook by die UV ’n eredoktoraat ontvang – soos later ook ander belangrike Sestigers: Jan Rabie, André P Brink en Elsa Joubert. Ek en my vrou was goeie vriende met Stephen, ook met sy sjarmante eggenote, Elizabeth. Sy het later aan ons ’n skildery van haar en Stephen, deur Marjorie Wallace, geskenk.

Ek was betrokke by talle publikasies oor hom en het ook in twee TV-produksies as onderhoudvoerder opgetree: Op soek na die self (Theunissen en Van den Heever-produksies). Hierdie TV-dokumentêr het baie lof ingeoes. Anders as wat Kannemeyer beweer (hy praat van 40!) is slegs een magisterstudie en een doktorsgraad oor Leroux onder my leiding voltooi, laasgenoemde die puik edisiewetenskaplike studie deur Victor Teise, tans verbonde aan die Sol Plaatje-Universiteit. Ek is bly dat ek as redakteur aangewys is van ’n nuwe publikasie oor Leroux. Die medewerking van jonger literatore en van ons voorste digters sal dit hopelik ’n besonderse publikasie maak.

Leroux kan bloot op grond van die buitelandse ontvangs van sy werk as ’n groot skrywer bestempel word.

Jy het nie teruggestaan wanneer dit kom by literêre “relletjies” in Afrikaans nie. Watter kopstampe staan vir jou vandag nog uit? Het jy dit geniet om daaraan deel te neem, en beskou jy dit deesedae vanuit ’n kalmer perspektief?

Ek wou advokaat word om in hofgedinge en vurige argumente betrokke te raak omdat ek polemies ingestel is en – dalk jammer genoeg – selde ’n blad voor my mond geneem het. Ek het as student reeds ’n NP-parlementslid aangeval oor sy houding oor sensuur en het meerdere kere daaroor geskryf, asook oor apartheid, die afskeep van die posisie van Afrikaans tydens die politieke onderhandelinge, resensering, die aanstel van een boekeredakteur by Media24, en so meer.

Ek het koppe gestamp met Jan van der Merwe (ANC-lid); JC Kannemeyer oor ’n boel onwaarhede in sy Leroux-biografie; ’n hele reeks rektore oor Afrikaans as onderrigtaal, veral Jonathan Jansen, wat verantwoordelik was vir die nekomdraai van Afrikaans by die UV; oor die verskuiwing van die Steyn-standbeeld, ens.

Die meeste van my “relletjies” het egter gehandel oor die afskaling van Afrikaans in die openbare lewe. Dit is steeds vir my vreemd dat ek so weinig ondersteuning van vakgenote gekry het. Een departement het selfs amptelik besluit om hulle te bepaal by die “wetenskaplike bestudering” van Afrikaans en nie betrokke te raak by polemieke nie. Asof ’n plantkundige moet swyg wanneer bome uitgeroei word! Toe hulle eindelik reageer, was dit te veels te laat.

Kalmer het ek nie geword nie; net stadiger. Ek het dit geniet en geniet dit steeds.

In 1979 by die Afrikaanse Skrywersgilde in Maselspoort. (Foto: verskaf)

Perspektief en profiel staan uit as ’n omvangryke literêre naslaanbron wat vandag nog onontbeerlik vir navorsers in die letterkunde is. Hoe het jy in die eerste plek by dié projek betrokke geraak, en watter herinneringe het jy aan die dae toe jy redakteur daarvan was? Ek is ook nuuskierig oor jou gevoel teenoor Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur – was daar sprake van “kompetisie” of “konkurrensie” van enige aard tussen Perspektief en profiel en Kannemeyer se literatuurgeskiedskrywing?

Perspektief en profiel word vandag selfs oorsee benut; iets wat my verheug. Ek is aanvanklik deur PJ Nienaber genader as mederedakteur. Toe hy kort daarna dood is, het ek met toestemming van sy kinders die projek oorgeneem en die breë konsep behou, maar ook sterk verander. Ek wou aan gemarginaliseerdes stem gee en het daarom vir Vernon February en Hein Willemse genader, wat beide uitstekende stukke geskryf het.

Ook Annemarié van Niekerk het ’n knap stuk oor vroueskrywers gelewer. Later was hierdie “inhaalslag” onnodig – vroue het in werklikheid al hoe prominenter in ons letterkunde geraak en van die “vroulike aanvulling …” (Opperman) was daar geen sprake meer nie.

Ek wou ’n omvattende beeld van die literêre veld gee en daarom is daar in die jongste uitgawe ook uitstaande stukke oor onder meer literêre tydskrifte, jeugliteratuur en die uitgewersbedryf; onderwerpe wat nog nooit sulke omvattende sistematiese aandag in enige literatuurgeskiedenis in Afrikaans ontvang het nie.

Verder wou ek wat medewerkers betref ook ’n veelstemmige literatuurgeskiedenis daarstel wat paradigmas, ouderdom, ras en gender betref. My grootste probleme het gelê by mense wat sperdatums geminag het. Dat ek die onderneming kon afhandel sonder vyandskappe (en aanrandings) is ’n wonderwerk.

Hierdie publikasie was nooit as kompetisie vir Kannemeyer se literatuurgeskiedenis bedoel nie; dis andersoortig. Sy eerste twee dele was ’n grootse onderneming en die belangrikste daarvan was waarskynlik sy omvattende bibliografie en voetnote. Sy latere bywerkings was minder, en die laaste swak, omdat daar geen bronnelys was nie, wat ’n absolute moet is vir enige wetenskaplike historiese publikasie. Ek het dit geopper in my resensie en dit het Kannemeyer se gramskap in so ’n mate gewek dat hy my bygekom het waar hy kon in sy Leroux-biografie wat later gepubliseer is. Hy het byvoorbeeld enige feit wat my in ’n positiewe lig kon stel, weggelaat, of blatant gelieg oor wat ek hom sou vertel het. Hierdie (anders uitstaande) biografie se betroubaarheid word sleg ondermyn juis deurdat hy spesiaal moeite doen om vyande soos Ernst Lindenberg, FIJ van Rensburg, Daniel Hugo, Charles Malan en ander by te kom waar hy maar kon.

(Literatuur)geskiedenis is nooit objektief nie, maar die uitdaging is om daarna te strewe. Verwysings na bronne is een manier om dit te bewerkstellig; die erkenning van eie vooroordele en blinde kolle, en veral die eerlike hantering van vyande, ander.

Die Van Coller-egpaar saam met hul kinders en kleinkinders. (Foto: verskaf)

Soos almal weet, hou ’n literatuurwetenskaplike se werk nooit op nie. Wat hou jou deesdae besig?

Ek het pas ’n boek voltooi saam met ’n knap voormalige student, Joanita Erasmus-Alt, wat twee doktorsgrade onder my leiding verwerf het. Dit handel oor die sogenaamde buitefaktore wat bydra tot die sukses van boeke: die bemarking; die “postuur” en posisionering van die skrywer … Maar ek het ook onlangs rubrieke gepubliseer en twee maande gelede ’n vertaling van Nederlandse gedigte uit die laaste vier bundels van Luuk Gruwez.

Hoe voel jy oor die posisie van Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite?

Geen afskaling of vernietiging is ooit natuurlik nie en dit moet gestuit word. Tale moet beskerm word, nes fauna en flora. Die situasie van Afrikaans is ’n gevolg van globalisering en die naïewe geloof dat ons heil in Engels lê – die sogenaamde universele taal van die wetenskap. Dink maar wat met die vroeëre universele wetenskapstaal (Latyn) gebeur het.

Dit is egter ook direk herleibaar tot politiek, want op gerieflike wyse word Afrikaans gebrandmerk as “uitsluitend” (wat enige taal altyd is vir mense wat dit nie beheers nie) en as sogenaamde “perpetuering van apartheid”. Hierdie argumente, wat deur “hoë” regters aanvaar is, beteken inderwaarheid dat daar geen leefruimte vir enige taal anders as Engels moontlik is nie; bepaald ook nie in die onderwys nie.

Natuurlik sal Afrikaans oorleef – ook as wetenskapstaal – deur die stig van eie universiteite en ander inisiatiewe, en veral deur volgehoue publikasie daarin. Maar dit is volstrek onregverdig, indien nie onwettig nie, dat openbare instellings wat deur die staat befonds word (en dikwels opgerig is deur gewone Afrikaanse mense se bydraes) Afrikaans benadeel, byvoorbeeld as onderrigtaal.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top