Vurige gesprekke verwag by Suidoosterfees se Jakes Gerwel-reeks

  • 1

Die Suidoosterfees, vanjaar van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad, speel weer gasheer vir die Jakes Gerwel-gespreksreeks wat in vennootskap met die ATKV aangebied word. Dié gesprekke, waar skrywers en meningsvormers interessante onderwerpe aanpak, is gratis vir die publiek, maar vooraf besprekings is noodsaaklik. Vanjaar is daar ’n sterk fokus op politiek, identiteit en uitstekende literêre werke wat onlangs verskyn het. Melt Myburgh het vir Theo Kemp, wat die gespreksreeks organiseer, uitgevra oor wat feesgangers in 2022 te wagte kan wees.

***

’n Bekgeveg het op Facebook uitgebreek toe die Jakes Gerwel Stigting aangekondig het dat oudminister Ronnie Kasrils op 28 April oor sy boek International brigade against apartheid: Secrets of the people’s war that liberated South Africa by die Suidoosterfees gaan praat. Dié publikasie is onlangs vrygestel en handel oor mense wat destyds in die geheim by die bevrydingstryd betrokke was.

Sommige kommentators op Facebook was verontwaardig oor Kasrils se teenwoordigheid by die fees en het gevra: “Wat dink Kasrils nou van die land wat sy geliefde ANC so geplunder het?” Te oordeel aan die debat wat onderaan die aankondiging gewoed het, gaan heelwat gesprekke op die Suidoosterfeesprogram robuuste reaksies uitlok.

Maar dit is presies die tipe gesprek wat die Jakes Gerwel Stigting aanmoedig in die Suid-Afrika van vandag, sê Theo Kemp, die stigting se uitvoerende hoof en samesteller van die diskoersreeks. “Dit is belangrik dat gesprekke in die naam van Jakes Gerwel nie net gemoedelik kan wees nie. Ons wil en moet robuuste besprekings fasiliteer, hoe kwaad of ongemaklik dit mens ook al maak.”

Theo se reaksie aan die Facebook-gebruikers was onomwonde: Moenie vir Ronnie op Facebook afskiet nie, kom na die sessie en vra hom self!

Thuli Madonsela vra op 29 April om 10:00 vir Jonathan Ancer en Chris Whitfield by die Suidoosterfees uit oor hul Pravin Gordhan-biografie, Joining the dots (Foto: Naomi Bruwer); Ronnie Kasrils praat op 27 April om 14:30 oor sy boek, International Brigade Against Apartheid (Foto: verskaf)

Ronnie Kasrils se gesprek is nie die enigste op vanjaar se program wat kontroversie gaan uitlok nie. Heelwat sprekers gaan politieke aangeleenthede onder die vergrootglas plaas. Steve Biko en Mamphela Ramphele se seun, Hlumelo, kom gesels met Bongani Kona oor sy boek Black consciousness – a love story. Hulle sal onder meer bespiegel oor wat Steve Biko van Suid-Afrika vandag sou dink.

Thuli Madonsela gaan daar wees om ’n gesprek met Jonathan Ancer en Chris Whitfield te lei oor hul boek, Joining the dots, wat handel oor Pravin Gordhan se stryd teen staatskapers toe hy tydens die Zuma-bewind minister van finansies was. Feesgangers gaan waarskynlik nog meer ontnugter wees oor staatskapers se magspeletjies agter die politieke skerms.

Op 29 April om 13:00 vertel Nick Dall en Matthew Blackman vir Marianne Thamm van die publikasie Spoilt ballots (Foto’s: verskaf)

Die gevierde joernalis Marianne Thamm is ook teenwoordig. Sy sal ’n gesprek met Matthew Blackman en Nick Dall lei oor hul opspraakwekkende boek, Spoilt ballots, wat fokus op “verkiesings” wat draaipunte in die geskiedenis verteenwoordig, soos toe Koning Shaka tereggestel is, en toe Cyril Ramaphosa in 2017 as oorwinnaar by Nasrec weggestap het.

Kritiese debat oor politieke en historiese aangeleenthede staan in die gees van wat Jakes Gerwel sou wou bevorder. “Dit is waarom ek van die begin af vir Hlumelo se uitgewer gesê het: In die titel van die gesprek moet ons al krities wees oor daardie land waarvoor Biko (net soos Kasrils, Madiba en Gerwel) geveg het,” verduidelik Theo. “Ons almal weet die land en ons samelewing is beslis nie waar ons ná demokrasie behoort te wees nie, maar wie weet hoe ons die roeiboot weer uit die slym en modder gestoot gaan kry? Na wie kyk ons om hulp? Kom ons práát, asseblief tog.”

Omstredenheid is natuurlik niks ongewoon by die feesgeprekke nie. Verlede jaar het twee jong digters, Ashwin Arendse en Veronique Jephtas, wenkbroue in Kunstekaap laat lig toe hulle die keuse van ’n wit, nie-Kaapssprekende vraesteller (Danie Marais) tydens die gesprek bevraagteken het. Baie gehoorlede was ontsteld daaroor. “Ek ook,” sê Theo. “Maar agterna het ek besef dat die ervaringe van daardie digters vir hulle ’n werklikheid is. Net omdat ek dit nie wou hoor nie, omdat ek glo die werk waarmee ek besig is help my om my nie te omring met mense wat rasbehep is nie, beteken nie dat ander mense se ervaring van byvoorbeeld wit rassisme nié bestaan nie.”

Theo se aanvanklike krapperigheid oor dié vraag het intussen na iets heel positiefs verskuif. “Deesdae probeer ek nog harder om te luister as mense praat. Dit is uiteindelik wat die gesprekke moet doen: Een moet praat, ander moet luister; iets moet binne almal skuif.”

Bronwyn Davids en Shana Fife is op 28 April om 11:30 in gesprek met Francois Bloemhof oor die boeke Dearest Lansdowne en Ougat (Foto’s: verskaf)

Identiteit is ’n onderwerp wat deesdae dikwels op Suid-Afrikaners se lippe is, en met die relletjie oor die stigting van die Kaapse Forum nog vars in almal se geheue, is dit duidelik dat dié onderwerp nog lank nie uitgepraat is nie. Vanjaar gaan Bronwyn Davids en Shana Fife gesels oor hul boeke, Lansdowne dearest en Ougat. Ismail Lagardien en Ivan Johnson se publikasies, Too white to be coloured, too coloured to be black en But he speaks so well, verken ook identiteit, spesifiek in die manier hoe bruin Suid-Afrikaners hul plek in die “Nuwe Suid-Afrika” opeis.

“Dit is moeilik, moet ek bieg, om as ’n wit man gesprekke te fasiliteer oor bruin identiteit,” sê Theo. “Wie is ek nou om sulke gelade temas op die tafel te sit? Maar dan weer, as die bom bars oor iets soos die Kaapse Forum, besef ek opnuut dat ek nie my werk sal doen as ek nie plek maak vir brandende kwessies om bepraat te word nie.”

Gesprekke oor identiteit is plofbaar, reken Theo, omdat Suid-Afrikaners so ontsaglik uitgelewer is aan wat die regering aan die een kant op mense afdwing en, daarteenoor, die verwagtinge van mense in eie groeperinge op voetsoolvlak. “Baie mense is vir so lank daarvan ontneem om te kon praat oor hoe en met wie hulle identifiseer, en toe ons uiteindelik kon begin gesels, moes die land opgebou word. Soveel dekades later in ’n demokratiese Suid-Afrika, en ons is onsekerder as ooit oor waar ons inpas.”

Ivan Johnson en Ismail Lagardien is op 29 April om 11:30 aan die woord oor hul boeke, But he speaks so well en Too white to be coloured, too coloured to be black (Foto’s: verskaf)

Taal en identiteit is uiteraard moeilik om van mekaar te skei, en dié onderwerp word deur die Afrikaanse Taalraad se gesprek, “Vele tongvalle, een taal”, onder die loep geneem. Gerda Odendaal lei op 30 April om 10:00 die bespreking oor variëteite van Afrikaans met Jeremy Vearey, Anzil Kulsen en Elvis Saal op die paneel.

Afrikaanse boeke is natuurlik jaarliks die pêrels in die kroon van die gespreksreeks. Kirby van der Merwe gesels oor sy roman Eugene. “Ek kan eerlikwaar nie wag om Eugene te lees nie,” sê Theo, self ’n bekroonde skrywer. “Ons het darem wragtig lank gewag vir Kirby se tweede boek, en nou is dit hier.

“Dan natuurlik sien ek uit daarna om vir Ronelda Kamfer te hoor praat oor Kompoun. Die boek was vir my ’n hou in die maag. Ek dink juis omdat dit deur ’n digter geskryf is, was die houe baie meer sekuur, veel harder.”

Audrey Jantjies is ook by die fees om oor haar debuutroman, As die katjiepiering blom, te gesels. Marita van der Vyver tree in gesprek met Cintaine Schutte oor haar jeugmemoirs, ’n Baie lang brief aan my dogter. Philip Rademeyer se drama Opdrifsel, wat vanjaar by die Suidoosterfees op die planke is, is pas deur Protea Boekhuis gepubliseer. Opdrifsel se akteurs, Brendan Daniels en Tinarie van Wyk Loots, sluit by Cornelia Faasen van NATi aan om met Rademeyer oor die opvoering en sy boek te gesels.

Audrey Jantjies vertel op 27 April om 11:30 vir Ronelda Kamfer van haar debuutroman, As die katjiepiering blom (Foto: verskaf); en op 28 April om 13:00 praat Ronelda oor haar Kompoun (Foto: Nathan Trantraal)

Baie van die skrywers het aan hulle boeke gewerk tydens skrywersresidensies of mentorskapprogramme wat deur die Jakes Gerwel Stigting gedryf word. Voordat die stigting se inisiatiewe vir skrywers posgevat het, was sulke geleenthede vir kreatiewe geeste vergelykbaar met skeefgetrapte ou plakkies, maar nou is dit soos blink vellies. Theo is dankbaar om ’n leidende rol hierin te speel: “Die mentorskapprogramme wat ons in Jakes Gerwel se huis in die Oos-Kaap aanbied, het in ’n kort tydjie – vanaf 2019 – soveel momentum gekry dat dit my verbysterd laat oor die talent en die rykdom van stories wat daar is. Dit gee my ’n bepaalde kick om te dink wat nog alles gedoen kan word.”

Die stigting se inisiatiewe word ondersteun deur “versiende en besorgde” borge soos Naspers en die Trust vir Afrikaanse Onderwys, asook vennote soos PEN Afrikaans, LitNet, Huisgenoot en NB-Uitgewers. “Dit is vir my ontsaglik belangrik dat skrywers soos skrywers moet voel as hulle in Somerset-Oos gaan skryf. Ons moet ons skrywers koester, want hulle hou dagboek en herinner ons as ’n soort nasie, ’n kollektief, dat ons dinge vorentoe moet neem. Dit is belangrik om veral skrywers te koester wat kom uit ’n geskiedenis van aanhoudende aftakeling.

“Skryf verg daardie intrinsieke stem van stille geloof wat jy so nodig het as jy teen die ongelooflike moet kan inskryf, soos om te bly roei met die wind stormsterk van voor, en jy het geen idee waar die oewer is nie.”

Kirby van der Merwe gesels op 29 April om 14:30 oor sy roman Eugene (Foto: Brenda Veldtman); en op 30 April om 13:15 word Philip Rademeyer uitgevra oor sy drama, Opdrifsel (Foto: verskaf)

Dit is vanjaar die vierde keer dat Theo die gespreksreeks vir die Suidoosterfees saamstel. Vroeër in sy loopbaan was hy verantwoordelik vir skrywersprogramme by ’n verskeidenheid kunstefeeste. “Die aard van die reeks het die afgelope paar jaar aansienlik verander. Waar die fees aanvanklik vir my gevra het om drie of vier gesprekke saam te stel, spog ons vanjaar met twaalf aanbiedinge.”

In die verlede moes Theo dikwels “smeek en soebat” om inklusiwiteit in die samestelling van skrywersprogramme te bevorder, maar dinge is nou anders, danksy die sterk reputasie van Jakes Gerwel se Stigting. “Die naam is gewoon so sterk dat inklusiwiteit nie anders kan as om in die gene van die stigting te wees nie. Dit verskaf vir my oneindige plesier wanneer my trustees, vennote, medewerkers, mentors en mentees eenvoudig net almal saam moue oprol en help. Almal koop onwrikbaar in, sonder dat enigiemand op die verhoog wil staan vir applous.”

Die stigting ding nie mee met ander instansies nie; hulle help waar hulle kan en gooi hul net wyd oop vir “meelopers wat saam glo in die land waarvan Jakes Gerwel gedroom het: ’n plek waar mense-potensiaal ten beste ontsluit kan word en waar almal absoluut gelyk is, ongeag waar jy vandaan kom, hoe jy lyk of wat jy verdien.”

***

Aanbiedinge in die Jakes Gerwel-gespreksreeks in Kunstekaap is gratis vir die publiek, maar sitplekke is beperk ingevolge Covid-19-maatreëls. Feesgangers moet daarom vooraf bespreek deur ’n e-pos aan Theo Kemp te stuur by theo@jgf.org.za. Die gesprekke is hier gelys, en die volledige Suidoosterfeesprogram is op www.suidoosterfees.co.za beskikbaar.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Department van Sport, Kuns en Kultuur, die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Media24, Die Burger, NATi en kykNET. Die Jakes Gerwel-gespreksreeks word ondersteun deur die ATKV, NB-Uitgewers, Jonathan Ball, Protea Boekhuis, Jacana Media, Penguin Random House SA, die Afrikaanse Taalraad en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument.

LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool word in Oktober vanjaar saam met Huisgenoot aangebied. Daar word op die skryf van tydskrifverhale in Afrikaans en Engels gefokus, en die aanbieders is Rachelle Greeff en Niq Mhlongo. Belangstellendes het tot Vrydag 10 Junie 2022 tyd om aansoek te doen vir deelname. Klik op die foto bo vir meer besonderhede.
  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Lyk interessant. Kasrils is al baie jare lank krities oor die ANC. Ek dink egter nie dit beteken hy soek apartheid terug in die land soos sekere mense nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top