Melt Myburgh oor McGregor se eerste poësiefees

  • 0

Bekroonde en bekende Afrikaanse en Engelse digters neem van 21 tot 23 Junie deel aan die eerste poësiefees wat op McGregor gehou gaan word. Melt Myburgh is een van hulle. Naomi Meyer het hom gevra oor al die disse op McGregor se spyskaart.

Melt, ek sien op Facebook jy hou van McGregor. Gaan skryf jy nie soms daar nie? Of gaan hou jy net vakansie?

Ek is gelukkig genoeg om danksy die gulhartige Billy Kennedy, wat verlief op poësie is, vrye toegang tot sy Temenos Boeddhiste-oord op McGregor te hê as ek wil wegbreek en stiltetyd vir skryf soek. Wie het gesê digterskap het nie ook sy perks nie?

Ek het die dorpie jare gelede, toe ek nog aan die stuur van LitNet-blogs gestaan het, leer ken tydens ‘n saamtrek van bloggers aan huis van Monica Haddad. Toe het dit ‘n onuitwisbare indruk gelaat. Die reuk van grondstrate en die heiligheid van stilte het my uit die staanspoor bekoor.

Deesdae gebruik ek my Temenos-“ereburgerskap” as ek wil ontsnap aan die Kloofstraat-gewoel. Op McGregor sukkel selfone om op te vang, en daar is niks meer Zen as om met jou kaal tone in poukak te trap nie. Kyk, dan daal die muse met vlerkgeklap op mens neer! 

Jy is genooi om te gaan optree by McGregor se eerste poësiefees, wat van 21 tot 23 Junie plaasvind. Vertel vir ons lesers waarna hul kan uitsien as hul na jou kom luister.

Ek gaan gunstelinge voorlees uit Oewerbestaan, bietjie praat oor wat digterskap vir my beteken, uitwei oor die landskappe wat in die bundel vergestalt word, en sommer ‘n paar nuwe gedigte vir die eerste keer aan ‘n gehoor toets.

Verder gaan ek gesprek voer met Daniel Hugo oor sy bundel Hanekraai. Ek sien baie uit daarna, want ek het eindelose respek vir Hugo as mens en as digter.

Wanneer tree jy op? En waar?

Op Saterdag 22 Junie om 10:00 is ek aan die woord in die Poetry Room van Tebaldi’s oor my eie werk. Om 11:30, wanneer ek my asem terug het, kuier en gesels ek saam met Daniel Hugo in die Wahnfried-venue – ek sal op ‘n kaart moet gaan kyk waar dit is.

Aangesien jy al op McGregor was, watter plekke of restaurante kan jy vir ons lesers aanbeveel wat vir die eerste keer hierheen sou gaan?

Tebaldi’s is my gunsteling-restaurant – heerlike disse, verkwiklike gasvryheid en genoeg wyn om mens baie gelukkig te hou.

Verder kan mens maar net in die hoofstraat rondslenter; die deure van kuierplekke maak vanself oop!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top