Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

  • 2

Foto van Kerneels Breytenbach: Naomi Bruwer

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer Kerneels Breytenbach vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit sy nuwe roman, Servaas (werkstitel):

Dag 5: “A day in the life ...” deur Kerneels Breytenbach

Oorlede my ma het altyd gesê al wat sy nodig had om haar kinders groot te maak, was Job se geduld. Ek hoop daai geduld het genetiese dimensies. Dít is waarvan ek nou baie nodig het, hier in die eerste dae van die inperking. Synde iemand wat half introvert, half ekstrovert is. Hou daarvan om op my eie te wees, kan nie sonder mense klaarkom nie.

Vir die rekord: Ingeperk saam met my is my geliefde, Ali, my dogter Jana, twee honde en drie katte. Ons beplanning vir die inperking is gedoen op die veronderstelling dat noodinkope onnodig is, dat ons steeds by winkels sou kon uitkom vir die allernoodsaaklikste.

Ons grootste bekommernis is Nombeko, die vrou wat een dag in die week kom help om die huis ordentlik te hou. Ali is haar vertroueling, en ons het gesorg dat daar in die drie weke geld vir die onderhoud van haar vier kinders en werklose man sou wees. Ali het al haar ander werkgewers gekontak met die versoek dat hulle ook sulke bystand sou oorweeg.

Nombeko en haar gesin het geen geriewe nie. Gister was daar berigte oor mense op straat, mense in toue, mense wat die inperkingsbevel verontagsaam. Ons sal by die reëls hou, maar ek verkwalik hulle nie. Cyril die Wyse en sy karnavalkomitee se lockdown konsentreer op dié wat het en nie op diegene wat nie het nie. (Ja, ek is pynlik bewus van die invalshoek waaruit ek hierdie opmerking maak.)

Maar ons is ’n selfoonoproep van Nombeko af, en daar is afgesproke planne vir wanneer haar situasie onuithoudbaar word.

Tuis is dit wesentlik geen groot verandering nie. Jana was die afgelope jaar in ’n groot stryd teen beenmurgkanker gewikkel. Haar behandeling het ingesluit die volledige afbreek van haar immuunstelsel ten einde ’n nuwe een te vestig. Sy was in Oktober en deel van November 2019 reeds in eensame afsondering, en het sedertdien hier by ons aangesterk. Ons vermy kontak met siek mense, en sorg dat haar kontak met die groter mensdom minimaal is.

Die inperkingstyd bied haar die kans om haar immuunstelsel sterk genoeg te kry om al die inspuitings wat sy as baba en as peuter gekry het teen kindersiektes, weer van voor af te kry. Die geneuk is net dat sy tans deel van die uiters-hoërisiko-groep is wat die koronavirus betref.

Dit is hier waar Job se geduld inkom.

Ek en Ali het elkeen ons eie strategieë vir die inperktyd. Ali het haarself van Facebook en haar selfoon gespeen, en lees vervaard. Slaap laat, doen wanneer sy kans kry die dinge wat al lank uitgestel is: kaste regpak, uitdun aan jare se clutter. Sy het ’n lys van take. Heel diplomaties vra ek nie daaroor uit nie.

Jana slaan soms onverwags toe, soos vanoggend toe sy Anna Olsen se plaatkoekieresep gemaak het. Maar in die algemeen is sy rustig. Haar hare is besig om van die fel aanslag van haar laaste chemo te herstel, en sy is nou al mooi poenskop. Oor drie weke, sê sy, kyk sy die mensdom in die oë.

Ek is aan ’t werk aan ’n nuwe roman, en daar is ander skryfprojekte wat ook tyd opslurp. Tussendeur soek ek resepte vir pastasouse wat my spens pas. Daar is ’n braai-aartappel-resep waarby gemmer ’n rol speel wat ek wil beproef. Ali het gisteraand ’n vegetariese lasagna gemaak; ek sal haar moet bedank met iets wat daarby aanpas. Ek gaan kers opsteek by Jamie Oliver se TV-reeks oor Italië, en interessante soorte pasta self maak. So gaan die tyd verby.

Saans haal ons ou TV-reekse in. Ons het die afgelope maande Vera tot by die 10de seisoen kafgedraf, Silent witness tot by die 23ste, en selfs nuwe dinge soos Giri/Haji beproef. Tans besig met Homecoming, mik na Freud. Teen die derde week van die inperking behoort ons diep binne My brilliant friend se tweede seisoen te wees. Jana stig saans kortliks af om Masterchef te kyk, soms The bachelor.

Vanoggend die nuus gekry dat die ondersese kabel wat Suid-Afrika help om via die internet verbind te bly, weer gebreek is. Ook maar goed so. Ek hou van Ali se idee om nie in hierdie weke ’n slaaf van die internet te wees nie. Dis ’n goeie idee, maar nie altyd prakties nie. Ons het baie vriende wat alleen ingeperk is, en probeer daagliks met soveel van hulle via WhatsApp gesels. 

Altyddeur, op die agtergrond, is daar nuwe musiek. Oor die noen het ons Bob Dylan se nuwe liedjie, “Murder most foul”, geluister. Dit sink stadig in. Soos ek nog altyd met Dylan se beste musiek gevind het, sal dit met die herluisters algaande meer nuanses verklap. Sy stem, sy klavier en ’n tjello. Frases waarin tye vasgevang is, van Kennedy se dood af aan. Die ou verrukking tree weer in. Die profeet se suiwer oog, die siener se silwer tong.

Sodra ons koppe swymel, beweeg ons aan na Alice Coltrane se Journey in Satchidananda, Snarky Puppy se We like it here en Dominic Miller se First touch

Job se geduld. Die dag is nie leeg nie.

Kerneels lees voor uit sy nuwe roman, Servaas (werkstitel):

Lees ook

LitNet Akademies-resensie-essay: Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Video: Bekendstelling van Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach

Kerneels Breytenbach (1952–)

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 2

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Wanneer kom die fliek van Kerneels se boek "Ester" uit? Ek sien baie uit daarna. Dit het mos een of ander tyd 'n groot prys gewen dat die boek 'n fliek gaan word. Hoop die wag is nie meer te lank nie want ek het die boek baie geniet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top