Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

  • 0

Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer Tertius Kapp vertel meer oor die eerste dae van die inperking:

Dag 20: “Force majeure” deur Tertius Kapp

Ná ’n jaar se voorbereiding, leef op kredietkaarte en skryf op geloof, gebeur wat met bitter min draaiboeke gebeur: Dit word verfilm. Hierdie een doen ons self, vervaardig ons self, en gee uiteindelik vir ons crew, wat 12-uur-dae werk, ses dae ’n week, die kans om hulle handewerk te besit.

Dit gaan lekker wild, soos ons daarvan hou. Gister was ek halflyf in die rivier, besig om ’n kano te sleep met anderhalf miljoen rand se kameratoerusting op. Vannag soek ek tussen stikdonker geelhoute na ’n akteur in ’n monsteragtige paddastoelpak. Hy vertel my van sy werk op Resident evil en ek gee vir hom sy pakkie Pall Mall van die winkel af.

Ek het vier liter Dettol en net soveel handeroom, want daar is nie hand sanitiser oor in die wêreld nie. As dit nie werk nie, ook ’n liter Russian Bear, soos in die movies, want wie weet.

Weke lank al praat almal oor niks behalwe die virus en wat dit beteken nie. Sondag, af dag, speel ons krieket langs die swembad, ’n oomblik se vergeet. Waarvoor ons duur betaal wanneer die nag se gemoedere oorkook: Wat gaan aan? Wat gaan ons doen? Wat is die plan?

Ek weet nie wat aangaan nie, sê ek. Ek weet nie wat ons gaan doen nie. Ek het nog nooit beplan vir ’n pandemie nie.

Die volgende aand jaag ek oor ’n growwe grondpad en probeer hoor wat die President sê. Dit sis en verdof, en dan, van doer oor die berge, hoor ek hoe hy die enjin afskakel. Wanneer ek voor die herehuis stilhou waar ons produksiekantore opgestel het, is dit grafstil.

’n Paar uur later is als verby. Ons sal terug wees, sê ons. Sien julle oor drie weke.

Carel Nel

Carly Sam

Jaco Bouwer, Monique Rockman en Carel Nel

Louis du Preez

Mariechen Vosloo, Marie van Wyk, Monique Rockman en David Swart

Maar glo ons onsself? In China was dit twee maande, en dit is China.

Die fliek wat ons wou maak, gaan oor ’n infeksie wat die wêreld oorneem. “We are about to witness the greatest reckoning of all time,” sê die een karakter op ’n punt. Ek stap uit na die groenste moeras onder die groot geelhoutboom, waar die trane vlak lê.

’n Week later vra ’n vriend of ek nie eerder iets wil skryf oor hoe ons almal die lotto wen nie.

Op die nippertjie besluit ek om in die verlate bosdorpie agter te bly. ’n Luukse keuse deurdrenk van voorreg, tussen hoëspoedinternet en op die rivier roei in die volmaan se weerkaatsing, kielwater trek deur ’n fosforgety; visvang, ver van enige siel of long af.

Kort voor lank begin ’n ongemerkte wit Golf op en af jaag in die leë strate. Daar is glo hommels in die lug, jou selfoon word dopgehou. Vryheid word kleiner as die afstand tussen vuis en neus.

Ek lees en lees en lees. Ek lees dat die meeste van die geld in die wêreld net in die vorm van krediet bestaan. (’n Goeie ding, aangesien ek al weer op krediet leef, met vaste bates van vier liter Dettol en een bottel Russian Bear.) Volgens wet hoef banke slegs ongeveer 10% van die geld wat hulle leen, te besit. Die res word effektief oor en weer by verskillende instansies aan mekaar geleen, met die verstandhouding dat die toekoms beter gaan lyk as die verlede.

Dit lyk nie meer so voor die hand liggend nie.

Die wêreldekonomie draf al stadiger, steier tot stilstand, en wonder dan waarheen dit op pad was.

Miljoene wag in sinkhuisies, die wrede grap van isolasie, om te hoor watter nuwe hel op hulle wag. Meer as honderdduisend ter wêreld is dood, amper twee miljoen reeds siek, en Afrika hou asem op. Iewers is iemand seker ook besig om ’n fortuin hieruit te maak.

Snags, in die bosdorpie, klink ’n vrouestem oor ’n kitaar in die verte. Die volmaan kom soos ’n likkewaanoog op oor die golwe, met iets wat lyk na weemoed, of wraak.

My gunstelingliedjie vir die week

(Die pandemie laat my wonder wat Leonard Cohen daarvan sou maak. Ek luister die laaste dae heelwat na wat ek dink sy enigste wetenskapsfiksie liedjie is):

Lees ook

Liewer deur Tertius Kapp: ’n boekresensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Oorsee deur Tertius Kapp

Biebouw-resensie: Oorsee deur Tertius Kapp

Tertius Kapp oor Rooiland

Lees nog Kwarantynketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top