Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

  • 0

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer Riana Scheepers vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit haar roman, Stormkind (Tafelberg, 2018):

Dag 13: “Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd” deur Riana Scheepers 

Ek het die afgelope drie jaar geweldig baie, en uiteenlopende, studies gelees oor die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog. Dit het begin by ’n biografie van Lenin, en toe moes ek natuurlik ook die biografieë van Stalin en Churchill lees. (En toe Trotski.) En hoe meer ek gelees het, hoe minder het ek geweet. Elke nuwe boek oor die Tweede Wêreldoorlog het ek begin lees. Fassinerend. ’n Studie van Anna Reid oor die beleg van Leningrad het my aangegryp, so ook die formidabele boek van Sarah Helm oor Ravensbrück, die konsentrasiekamp vir vroue waarvan die Weste eers in die sewentigerjare te hore gekom het. Uiteindelik verstaan ek ’n bietjie meer hoe ons lewe soos ons dit nou ervaar, ontwikkel het.

Wat het die studies oor die Tweede Wêreldoorlog te doen met ons huidige inperking? Die feit dat ek besef hóé maklik ons dit het. Dit wat ons nou beleef, is nie ’n fraksie van die trauma en ellende wat miljoene mense oor die aardbol heen ervaar het tydens die oorlog nie. Ek is nie soos Anna Frank in ’n Achterhuis ingeperk waarin ek vreesbevange en doodstil soos ’n muis moet leef, afhanklik van weldoeners vir kos en veiligheid, en saam met onaangename mense in my persoonlike spasie nie. Ek is nie in ’n konsentrasiekamp nie; ons is geborge in ons eie huise. My lewe word nie bedreig deur oorlog nie. My mense is gesond en veilig. Ek het genoeg kos. En wyn. Sigarette was nog nooit deel van my lewe nie. Ek kan uitstap in ’n tuin of ’n stoep en kan musiek maak en sing en dans en werk en ervaar en skep.

Ek kan nie verstaan waarom mense in opstand kom teen die inperking en probeer om die sisteem te omseil nie. Dit is verskriklik dat mense oor die wêreld heen sterf. As inperking die enigste praktiese ding is om nou die pandemie te stuit, dan doen ek graag mee.

Die isolasie waarin ek nou is, is nie vir my nuut nie. Kunstenaars is bekend met afsondering en isolasie. Om die waarheid te sê – en dit klink amper onheilig – dit is vir my ’n wonderlike, fassinerende tyd. Want dit is die weergalose geskenk wat ons so onverwags gekry het: gekonsentreerde tyd.

Ek is gelukkig dat ek en Johann nie net vir mekaar lief is nie, maar dat ons regtig, regtig van mekaar hóú. Ek weet nie wanneer ek laas só baie gelag het nie. Ek weet nie wanneer laas ek my man só intens beleef het nie. Seker op ons wittebrood laas?

Ons het besluit om doodgewoon voort te gaan met ons lewens. ’n Basiese roetine met oorgenoeg ruimte vir verrassings. Ons staan op en maak bed op. Ons hou die huis netjies en skoon, want ek kan nie funksioneer in ’n deurmekaar gedruis nie. Ons werk voor ons rekenaars tot ons lus is vir iets anders. En dan doen ons iets wat ons lankal wóú doen, maar waarvoor ons nooit was lus nie, of tyd gehad het nie, elkeen op sy eie tempo. Of saam. Johann hou van houtwerk. Hy het boekrakke gemaak, en wynrakke. Ons het al ons kunswerke gefotografeer, gemeet en beskryf vir ons versekering. Ons het ons deurmekaar wynversameling georden. Een aand, en dit was nie eens naweek nie, het ons al die bietjies-bietjies bottels opgedrink: limoncello, rum, port, brandewyn ... en toe daardie aand heeltemal vergeet om kos te maak. Ek wonder hoekom. Ons luister na lekker musiek terwyl ons werk. Ons sien hoe ons ruimte mooier word, beter ingerig. Ons skep harmonie.

Ons eet eenvoudiger kos, want ek gebruik wat in my koskas is. Ek dink baie aan die inwoners van Leningrad wat onder beleg was: van September 1941 tot Januarie 1944. Dit is twee en ’n halwe jáár! Vir die beleerders was dit makliker om die stad deur uithongering op sy knieë te dwing as deur ’n militêre aanval. In die eerste jaar van die beleg het bykans ’n miljoen mense gesterf. Van hongerte. Die stad het ’n voedingskema ingestel deur ’n rantsoenstelsel. In die mees kritieke tyd het die inwoners van Leningrad daagliks ’n skamele 150 g brood elk gekry. Die bejaardes, verswaktes en die kinders het eerste gesterf. Daarná die mans, en toe die vroue. Tieners het die grootste kans op oorlewing gehad. Omdat die moeders hul rantsoen aan hul kinders gegee het.         

Wat my die meeste interesseer van Leningrad se geskiedenis, is dat daar ’n sekere soort mens, of gesin, was wat hierdie ellende oorleef het. Hulle was in presies dieselfde benarde posisie as al die ander mense, maar hulle het dit gemaak. Hulle het ’n paar basiese dinge gedoen. Ek stel dié lys op, die kortlys vir oorlewing.

  • Daar was eerstens ’n ma wat geweier het om moed op te gee. Sy het ’n streng roetine van orde in die huis gehandhaaf. Almal móés opstaan en was. As sy moedeloos geword het en in die bed bly lê het, het die dood gou gekom, vir almal in die huis.
  • Die vrou van die huis het ’n regime van netheid gehandhaaf. Al was daar net ’n korsie om te eet, is die tafel gedek en die borde agterna gewas.
  • Nog iets wat ouers gedoen het, was om almal kreatief besig te hou. Kinders wat oorleef het, kon jare later nog ellelange gedigte opsê wat hul moes memoriseer. Die hele gesin het gelees, skaak gespeel, musiek gemaak en gesing, raaisels bedink. Hulle het gedigte en briewe geskryf, dagboek gehou. Hul kreatiewe aktiwiteit het die aandag weggelei van die intense behoefte aan kos.
  • Nog iets waarop ’n sorgsame ma aangedring het, was dat almal elke dag ’n bietjie son kry. In ’n snerpende winter het die kinders vir ’n halfuur buite in ’n flou sonnetjie gesit.

Maar die belangrikste was om nooit, ooit moed te verloor nie.

Hoe ek die inperking, die grendeltyd beleef? Ek mis my fiets en ek kry vir Klara Skaaphond jammer wat saam met die fiets wil hardloop. Maar ek weet dit gaan nie vir ewig duur nie. Ek geniet elke sekonde hiervan. Ek koester ’n ongewone, nuwe ervaring, iets wat ek nie noodwendig vir myself sou bewerkstellig het nie.         

En ek begin skryf.

Riana Scheepers lees voor uit haar roman, Stormkind (Tafelberg, 2018):

Lees ook

Stormkind deur Riana Scheepers: ’n resensie

Riana Scheepers (1957–)

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top