Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

  • 3

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

.....

Dag 1: "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Hoe hou ’n mens jou gees heel wanneer jy voel jy word van alles en almal afgesluit? Ek sukkel om te skryf, maar ook vanweë die feit dat ek moeite het om inligting te kry – ek glo dienste soos Amazon.com gaan ook nie nou onmiddellik vir my films, of boeke deur Libanese skrywers aanstuur nie – en wanneer kry ek dit? Wanneer die poskantore oopmaak, gaan daar so ’n klomp onafgelewerde stukke wees dat dit waarskynlik nooit by my gaan uitkom nie.

Maar lees, lees ek. En ek dink aan die invloed wat boeke in my lewe gehad het. Die heel eerste lewenswaarheid uit my broer (vier jaar ouer as ek) se leesboek wat ek voorskools in ’n storie gelees het: die waatlemoenverkoper wat vir die vrou wat die heel laaste waatlemoen wou koop, aangeraai het om dit nie te doen nie, aangesien dit ’n steekplek gehad het. Integriteit. Natuurlik het ek die woord nie geken nie, maar ek het dit gevoel, gewéét.

My Nederlandse voorgeskrewe boek in matriek: Karakter, deur Bordewijk: In kort, Katadreuffe wil die gelukwensing van sy pa, wat sy en sy ma se lewe deurgaans ondraaglik gemaak het, nadat Katadreuffe sy graad in die regte ontvang het, nie aanvaar nie, en antwoord hom: “Nooit. Nooit van een vader die mij mijn hele leven heeft tegengewerkt.” Dreverhaven wat opstaan, stadig, en skor die woorde uitstoot: “Óf méégewerkt.”

Christine Barkhuizen-Le Roux

Ek het agter in die klas gesit – immer die stout een wat allerhande goed wou aanvang, behalwe om nét te leer. Die haartjies op my arms en in my nek het regop gaan staan. Daardie aanhaling het een van my lewensmotto’s geword – dat ek iets wat téén my kan werk, ook kan gebruik om vír my te werk. Dus, COVID-19, ek gaan (probeer, met alle mag) dat jy my dinge leer wat ek nie geweet het nie.

Uit Primo Levi se boek Is dit een mens sien jy hoe oorlog en epidemies, pandemies, mense tot oorlewingspogings dwing: deur verraad, te organiseer, medelye te wek by ander, en deur te steel. Mag ons hiervan behoed word – alreeds “besteel” mense mekaar deur alles wat hulle kan opgaar voor die neuse van andere weg te raap.

Ek kan, benewens dit wat ek heel laaste sal noem, helaas net dink aan die literatuur wat my hoop gee. In Judith Herzberg se poësie waarin ek ’n meestersgraad by UWK gedoen het, het ek gedigte bestudeer en só geïnternaliseer dat dit deel van my menswees geword het:

Byvoorbeeld:

De visser 

Er is verslaving in mijn staren
zodra ik uitgooi komt in mij
het woelen en het zoeken tot bedaren
mijn oog rust op de dobber, maar het is meer
dan rusten, het is alsof ik eindelijk
vrij ben op één plek te blijven,
en zo verstijft mijn blik - ik wacht niet
op het bijten van een vis – ik lijm
het ogenblik. Ik hoef niets hoef niet
te kijken. Bepaal mij tot de rimpelingen
bemoei mij niet in diepte door te dringen.
Los van wat boven of wat onder mij
verschijnt, verdwijnt, los van wat was
en los van wat nog te gebeuren staat.
De gladde kleuren die het vlakbij water glanst
zijn mij al veel te veel gebeuren
en kijk daar komt de eerste ring
van één of andere verre dompeling.
Wat kan ik beter doen dan niets,
dan niet bewegen. Zelfs het geringste
opslaan van een oog haalt onherstelbaar
overhoop en brengt teweeg en brengt teweeg.

Vanoggend was ek onwillig vir die nuwe dag – hoewel die son buite skyn en die voëltjies sing. Ek woon op ’n plaas en is dus redelik beskermd teen korona, hoewel mense van buite dit kan inbring. My seun en sy gesin is hier vir die drie weke van afsondering, maar ons mag vir twee weke nie met hulle kontak hê nie. Nie ter wille van hulle nie, maar ter wille van ons, sê my kind – bang dat hulle die siekte op die plaas kan aanbring. Ek gaan my kleindogter van ’n jaar en drie maande dus vir twee weke nie regtig mag sien, optel, met haar speel of “knuffelen” nie. Die binnekante van my boarms pyn alreeds van smagting na daai lyfie. Maar Henry Miller het gesê: “One’s destination is never a place, but a new way of seeing things.”

Ek dink meteens aan Paulus se woorde: “Wat sal ons van al hierdie dinge sê?” Of, soos die nuwe Afrikaanse vertaling dit stel: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?” En skielik is ek ook weer jammer dat die nuwe Bybel sulke mooi sinne soos wat die eerste aanhaling gebruik, weggooi.

En ek weet meteens: Die afgelope Woordfees se tema, gehaal uit Jan Rabie se woorde: “Aanhou beweeg en geraas maak”, is so gepas.

Eergister kom ek af op ’n aanhaling van Sint Augustinus: Solvitur Ambulando – “Dit word opgelos terwyl jy stap.” Vir my is dit ’n oproep: Gaan stáp! Jy het die ruimte en die afstand van ander wat die virus dalk mag hê of kry. Dalk kom die gedagtes en oordenkings oor dit wat ek wil skryf, dan duideliker na vore. Laat ons oorleef, vóórtleef. Ons almal saam. !ke e: /xarra //ke. Laat ons in hierdie tyd ménslik word, en laat ons verenig, alle mense in hierdie mooie land Suid-Afrika.

Luister hier na ’n voorlesing deur Christine:

Lees ook

Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 3

Kommentaar

  • Stem saam stap is ‘n kuur, maar ons minister van polisie wil dit nie toelaat nie. Sal maar my Labrador om die huis laat loop soos die donkie wat meultrek.

  • Pingback: In memoriam Christine Barkhuizen le Roux - Kanttekeninge

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top