Christine Barkhuizen-Le Roux is op 18 November 1959 te Vryburg gebore. Sy studeer op Stellenbosch en in 1980 behaal sy ’n BA-graad met Bybelkunde en sielkunde as hoofvakke.
In 1994 en 1999 woon sy die ATKV-Skryfskool olv Hans du Plessis op Potchefstroom by.
In 2000 word haar debuutdigbundel, dimensie, deur Ronnie Belcher van Suiderkollege-Uitgewers gepubliseer. Dit word besonder gunstig deur kritici en lesers ontvang. In 2002 behaal Christine haar honneursgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy volg dit in 2005 op met ’n meestersgraad (cum laude) in Afrikaans en Nederlands met Nederlandse poësie as haar navorsingsveld. Haar skripsie fokus op die poësie van die Joods-Nederlandse digteres Judith Herzberg, met studieleier Wium van Zyl.
In 2005 behaal haar kortverhaal "’n Persiese sprokie" die tweede plek in ’n nasionale kortverhaalwedstryd wat deur die Stellenbosch Woordfees en Protea Uitgewers geborg is.
Sy skryf ook artikels en kortverhale vir Insig, en word in Januarie 2006 benoem as een van die vyf finaliste in LitNet se Beste Prosastukke van 2005 (vir "’n Persiese sprokie"). In Maart 2006 verskyn haar debuutkortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, by Lapa Uitgewers, en einde Augustus 2006 verskyn haar tweede digbundel ook by Lapa, onder die titel roset.
Tussen 2000 en 2006 word verskeie van Christine se gedigte in Nederlandse publikasies opgeneem, sowel as in Afrikaanse bloemlesings. In 2005 en 2006 verskyn daar ook van haar gedigte en kortverhale in Tydskrif vir Letterkunde.
In 2008 slaag sy haar MA in skeppende skryfwerk met lof aan die UK met Etienne van Heerden as studieleier. Uit hierdie studie vloei Padmaker voort, haar eerste roman, gepubliseer deur Human & Rousseau.
Van haar verse is ook in die nuwe Groot verseboek opgeneem, en ’n kortverhaal, “Om te bêre”, is opgeneem in Die groot Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Abraham de Vries.
Haar tweede kortverhaalbundel, Wat die oog gesien het, verskyn in 2011 by Human & Rousseau, en in dieselfde jaar verskyn haar vertaling van Ingrid vander Veken se boek Papawers by Lapa.
Hierop volg haar tweede roman, Getuie, in 2012 by Human & Rousseau.
In 2015 verskyn ’n derde digbundel, skynskadu, by Naledi-uitgewers. In dieselfde jaar verskyn ook Die buitekant van meneer Jules, haar vertaling van Diane Broeckhoven se De buitenkant van meneer Jules.
Haar derde roman, Drieklawerblaar, wat in die Klein Karoo afspeel, verskyn in 2016. Hierop volg haar roman My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, in 2019.
In Januarie 2020 verskyn haar derde vertaling uit Nederlands, geskryf deur Griet Op de Beeck, Kom hier dat ek jou soen by Protea Boekhuis.
’n Kortverhaal, “Kind sonder naam”, word onlangs in Die nuwe Afrikaanse prosaboek opgeneem deur die samestellers Steward van Wyk en Sonja Loots.
Christine woon saam met haar man Bertus op ’n plaas 30 km vanaf Barrydale. Hulle het drie kinders: Joané, Albert en Carli. Die afgesonderde leefwyse op ’n plaas en in ’n kleindorpse gemeenskap het volgens haar ’n definitiewe invloed op haar skryfwerk – dít, sowel as haar buitelandse reise, wat kontrasterend op die daaglikse lewe inwerk. Sy is ook ’n skilder en doen veral studies met ’n simboliese inslag.