Hy was my broer

  • 0

Sy voel die woede eers die derde oggend ná die voorval. Vir die eerste keer. So kan dit tog nie wees nie – is sy dan regtig verplig om die kroon op sy haarlose kop te hou? Is dit wat van haar verwag word in hierdie wye en droewe land en die skreiende onreg waaroor hy dit self gehad het in sy aanbieding voor die groep kursusgangers? Die versetverse wat hy uitgeryg het, sy eie, teen die ou bestel, die nuwe bestel wat die oue op ’n ander manier maar net vervang het. Eers nie wit genoeg nie, nou nie swart genoeg nie ...

Die tweede dag, terug in Kaapstad, kon sy haarself nie veroorloof om te dink en te voel nie; daar was nog die onderhoud wat voorop gestaan het, wat sy moes afhandel ter wille van haar eie produk. Ter wille van haar trots. Sy moes konsentreer, haar energie gebruik om te fokus.

Op die lang pad huis toe met die motor agterna het dit begin terugkom, die verskrikking van daardie aand. Die kneusing, letterlik, waar sy vingers en hande in haar vel in geboor het. Maar ook die psigiese letsels waar die mes van sy tong haar oopgekloof het.

Toe sy die eerste oggend ná die gebeure haar oë oopmaak, was sy nie in staat om verder te dink as dat sy hierdie dag moet omkry nie. Sonder om haar toe te rol in die outydse kombers van die stokou gasvrou by die gastehuis waar sy vir die duur van die kursus oorgebly het. Met hom, langsaan in die kamer, saam met wie sy gehaal sou word om die voordrag, syne, by te woon. Met wie sy saam aan die ontbyttafel sou moes sit, lughawe toe moes ry later.

Hoe tree ’n vrou in sulke omstandighede op? Moet sy, durf sy, die direkteur van die bedryf inlig? Die sukses van die laaste dag van die kursus het van Gieljam afgehang. Hy was die hoogtepunt, gebêre om die kursusgangers in te lig oor sy soort taal, die stories uit sy kontrei – en om hulle te vermaak. Daarmee was hy goed, die eiesoortige verhale en dialek. Sy lyf wat saam met sy mond en sy hande beweeg het, het mense van vroeg af reeds voor hom in bewondering laat neerval. Sy tong het uitgekap en geskoffel soos die lywe van die voormense van vroeër in die Noord-Kaapse wêreld.

Van hulle eerste ontmoeting af het sy hom aanvaar as ’n mens sonder enige aanstellerigheid; iemand wie se sukses nie na sy kop toe gegaan het nie. ’n Seun op wie sy bejaarde moeder trots sou kon wees. Iemand wat dit gemáák het in die lewe. Sy was bly wanneer sy hom raakloop; hulle kon praat oor die ooreenkomste in hulle werk, selfs op ’n manier ooreenkomste in hulle agtergronde, ten spyte van die een groot verskil. Hy het ’n bróér geword – liewe Gieljam. Eseltjie, het die na-mense wat hom goed geken het hom genoem. Op die bynaam wat sy oupa hom as klein seuntjie gegee het. “Ja, ek was my ma se mooiste kind, die slimste,” het hy dikwels aan gehore vertel, “... maar oeee, het ek slae gekry by my grootjie omdat ek nie wou hóór nie. Eseltjie was ek, soos Jaffie, maar stout!”

Die mense was mal oor hom wanneer hy sy intellek en kuns vermeng met selfspot aangebied het; dol op die man wat hulle kon neem na ’n wêreld wat vir hulle vreemdbekend, maar eksoties geklink het.

Sy was bewerig toe sy die oggend ná die gebeure haar voete van die bed afswaai om na die badkamer te loop. In die spieël het sy met die beeld voor haar gepraat: Jy behoort anders te lyk, nie soos ek jou onthou nie – weet jy nie, onthou jy niks van wat ek gisteraand deurgemaak het nie!

In die stort het sy haarself weer eens geskrop, die onthou van sy vingers probeer afwas. Wetende dat sy die merke aan haar binnekant nie met ’n lap of seep of borsel sou kon uitwis nie.

Hy het aan haar kamerdeur geklop. Dit was amper ontbyt. Sy het oopgemaak; dit was nie nou die tyd om hom te ignoreer en die kursus te verongeluk nie. Daar was groter dinge as syself op die spel, het sy haarself probeer oortuig. Soos wat sy die vorige aand ook probeer doen het – en hy haar met daardie doodsteek in die hart getref het.                  

Die eienaar van die gastehuis, die stokou tantetjie met haar huis vol van die raarste sowel as mees ordinêre versamelings, het kom vra wat hulle vir ontbyt wou hê. Sy het ’n gebakte eier bestel, en roosterbrood. Sy was naar, maar sy het geweet sy sou iets moes eet. Ná afloop van Gieljam se aanbieding was daar nie tyd vir eet nie; die motorbestuurder van die departement sou hulle dadelik oplaai om die vlug na Johannesburg betyds te kon haal.

“Het jy nie Eyegene nie?” het hy oor die tafel gevra, tussen die happies jogurt wat hy sy mond ingelepel het.

Sy het sy oë gesien. Anders as voorheen, het sy die akkedisoogvorm opgelet. Die dun lyn van sy mond.

“Ek het Tears Naturale, ek sal vir jou gee wanneer ons klaar geëet het.”

Sy het haarself hoor praat. Hoor sê dat sy hom sou help, selfs. Verwonderd daaroor dat ’n mens so gewoon kon optree na buite. Terwyl sy die toneel van die vorige aand aanhoudend op die skerm in haar kop sien afspeel het.

Die gewoonheid waarmee hy haar nadat hulle met die aandoptrede by die kursus klaar was, genooi het om nog ’n rukkie te sit en gesels, ’n glasie wyn te drink onder die bome voor die gastehuis. Sy het hom ’n hele klompie maande nie gesien nie en dit was lekker om hom weer te sien. Dit was ’n volmaakte Noordwes-aand. Nie bedompig nie, nie koud nie. Nie ’n luggie het ’n blaar beroer nie.

Nie vir ’n oomblik het sy daaraan gedink om nee te sê nie – hy was haar kollega. Haar ouboet, het hy deur die jare geword.

Sy het gevra na sy kinders, na Joslyn, na sy werk, die nuwe projek waarmee hy besig was.

“Ek weet nie of ek moet nie, maar ek gaan dit nou nogtans vir jou sê,” het hy skielik gesê, en sy hand op haar arm gesit.

Sy het dit nie weggeskuif nie. In Suid-Afrika is daar ander soorte reëls. En hy was Gieljam, hy was haar vriend. Só kon sy hom nooit aanstoot gee nie, al het sy nog altyd ’n aversie gehad van mense wat haar ongevraagd aanraak.

Eintlik, eers agterna, het sy oor hierdie dinge begin dink, begin ontleed wat, hoe en waar gebeur het. Maar in die konteks was dit tog net normaal dat iemand jou soms aan die arm of hand sou raak as hy jou iets vertrouliks meedeel.

“Ek wil ... jy is ...”

 

Terug in die ontbytvertrek het sy haar kop heen en weer gedraai. Nee. Sy kon nie bekostig om nou ...

Hy het na haar sit en kyk. Sy oë was inderdaad rooi. Moes sy die gebeure van die vorige aand toeskryf aan die whisky in sy bloed? En moes dit as ’n verskoning dien? Is iemand wat moord pleeg onder die invloed van onwettige dwelms nie skuldig aan moord nie? Hoeveel versagtende omstandighede moet ’n mens dan toelaat?

In die lesingsaal, ’n driekwartier later, het sy verstom sit en aanskou hoe hy die gehoor bekoor. Die man wat as kind dit nie maklik gehad het nie, het ’n prins geword in sy land, ’n koning; ’n gesalfde wat versoening help bring het met sy woord en taal. ’n Legende in sy eie leeftyd, iemand wat sowel met sy lippe as met sy lyf die riel kon dans.

Die oggend het te lank gevoel. Teetyd was daar kursusgangers wat nog wou gesels; haar wou vra na haar eie werk waaroor sy die vorige dag gepraat het. Daaroor was sy dankbaar – dat haar eie lesing afgehandel was. Sy kon haar nie voorstel hoe sy voor die groep mense haar pose sou kon hou nie; nie met hom wat dan ook in die gehoor sou sit met sy groen Mandela-hemp en die wete van sy hande nie; sy woorde wat sy nou nooit weer sou kon ónhoor nie.

Sy het die motorbestuurder gesien staan waar hy met die direkteur staan en gesels het. Liewe goeie Thomas, wie se taak dit was om sowel kursusgangers en projekleiers heen en weer lughawe toe te karwei. Thomas wat haar vertel het van sy mammie in Atlantis wat die vorige week uitgevaar het.

Sy het na hom toe geloop.

“Thomas, kan jy nie dalk êrens ’n kussing in die hande kry nie, asseblief? Ek is baie moeg – en môre het ek nog ’n onderhoud in die Kaap waarvoor ek moet voorberei.”

Dit het gehelp; op pad na Johannesburg het sy op die kussing oor haar handsak agter in die motor gelê. Gehoor hoe Thomas en Gieljam gesels. Gewonder wat Thomas sou sê as hy moes weet. Of hy sou voel Gieljam het hom ook op ’n manier verraai; hom en sy kinders, vir wie hy alles wou doen om te verseker dat hulle ’n gelykwaardige toekoms in hierdie land kan hê.

Die teerpad het onder die wiele deurgeglip; Thomas was ’n goeie bestuurder. Sy het doeksag gelê en luier, met die gruwel van die vorige aand in haar kop.

Die groot lyf wat haar vasdruk, die arms wat haar knel sodat sy nie kan wegkom nie. Sy woorde wat by haar ore indring sonder dat sy iets kan doen om te keer. ’n Gedagte het by haar opgekom: Hoe is dit dan dat God die mens ’n ooglid gegee het om toe te maak wanneer hy nie meer wou sien nie, maar die oor was oop, móés hoor.

“Ek sal jou nie penetreer nie,” het hy gesê. “Ek wil net ...”

Die woord was vreemd in sy mond. Erger as wat dit sou wees as hy die “n”-woord sou gebruik. Dít waarvan sy op daardie oomblik seker was waarmee hy eintlik grootgeword het –  nie met woorde soos “penis” en “vagina” waarmee sy elke tweede sin deurspek was nie. Asof hy haar met mediese en woordeboekwoorde wou oortuig van wat hy wou doen, of dit hom toegang tot haar binneste sou gee.

Sy het hom van haar af probeer wegdruk. “Nee! Jy weet tog – ek is getroud, jy ook, Gieljam ...” Versigtig om hom nie te krenk nie; nie te laat blyk dat daar op dié oomblik vir hom net walging was in plaas van die toegeneentheid van vroeër nie.

Maar sy kon nie net sê, “Fokof, los my!” nie. Só het die geskiedenis in haar agterkop haar aangepraat.

 

Die motor het stadiger begin ry, hulle was by die lughawe voordat sy beter kon voel. Haar kop was seer. Sy sou by ’n toilet moes uitkom. Die eier en brood van die oggend het in haar slukderm opgestoot.

Thomas het die kattebak oopgesluit, die tasse uitgehaal. Sy gesig het, soos altyd, gestraal van goeiigheid. Hoe kon sy haar verhaal ooit na buite vertel? Hoe kon sy hom, en sy mense, ook skade aandoen deur ’n klagte oor Gieljam se gedrag by die direkteur te gaan lê? Want dis hoe dit werk – dis hoe mense ander in groepe sit wanneer iets ergs gebeur. As sy iets sou sê, sou ’n hele stuk volk daaronder ly.

Binne die lughawegebou het Gieljam na sy kaartjie gekyk: “Ek moet SAL se inweegplek gaan soek.”

“En ek 1Time,” het sy gesê. Steeds ordentlik, soos ’n vrou in Suid-Afrika teenoor ’n man optree. En ekstra hoflik, omdat hy is wie hy is. Iemand met menseregte. Sy was steeds nie heeltemal seker hoekom sy hom nie summier in sy moer mag stuur nie, maar dankbaar dat hulle ten minste op verskillende vlugte was. Sy kon ’n ander pad inslaan.

Toe sy by Mugg & Bean sit en koffie drink, het sy op haar selfoon gekyk – sy moes nog met haar gespreksgenoot praat oor die onderhoud van die volgende dag in Kaapstad. Daar was ’n gemiste oproep van hom op haar foon se skerm. Gieljam. Esel.

Op daardie oomblik het sy die eerste stukkie rebelsheid ervaar: Ek hoef nie te antwoord nie – ek hoef waaragtig nie nou met hom te sit en gesels nie!

En tog skuldig gevoel.

In haar inbox was ’n SMS: Haai, ek is SO jammer oor wat vanaand verkeerd geloop het.

Die SMS van die vorige laatnag moet êrens in die netwerk agtergebly het, en toe eers deurgekom het. Sy het die SMS in die foon se argief gebêre. Getuienis. Wie weet wat hý later te vertelle kan hê.

Sy het die skuld van oorerwing in haar weg probeer druk: sy jammer-sê was nie genoeg rede om hom terug te bel nie, te maak of alles nou weer goed is nie. Te maak of hy haar nie met sy sterk, bruin arms vasgeknel het en haar gedwing het om te luister nie, sy stem ’n aanhoudende stroom klanke wat op sy asem na haar toe aankom.

“Ek wil jou net suig, asseblief, ek wil, ek moet, asseblief, Lynette ... ek sal niks anders nie, ek belowe, ek wil jou net lek, ek wil  ... jirre, asseblief, ek moet aan jou raak ...”
Die kelner wat die koffie voor haar kom neersit, het haar snaaks aangekyk. Sy kon nie weet hoe sy moes lyk terwyl die woorde weer en weer in haar ore weerklink het nie.

Ná ’n rukkie het hy teruggekom, Kaizer met die groen voorskoot, gevra: “Is everything all right?”

Sy het geknik. “Yes, thank you.”

Gewonder wat hy sou doen as sy vir hom sou vertel hoe alles eintlik wel was.

Toe sy deur die instaphekke is, het sy in die rigting van Exclusive Books geloop. En skielik was hy voor haar. Die man met die groen hemp, die groot figuur met die kaalgeskeerde kop, die stem wat haar vertel het hoe hy haar met sy vingers wou oopvlek, haar binnekant indring.

Hy het op haar afgekom. Haar arms, waarvan die een haar leertas, en die ander haar skootrekenaar vasgehou het, tussen syne vasgedruk: “Sorrie oor gisteraand, vergewe my asseblief.” Glimlaggend, glad van tong.

In haar kop het die tonele en klanke van die vorige aand deurmekaar geloop. Dat hy dit durf waag het om haar weer aan te raak! Met haar arms wat nie los is om hom weg te druk nie. Sy het gevoel hoe die probeer-glimlag vasvries om haar mond. Wat sy die vorige aand ervaar het, was meer as net seksuele aantasting. Meer as sy lyf wat haar vasgepen het, sy hande wat onder haar klere ingedring het sodat sy keer op keer dit moes wegdwing. Met moeite. Hy was sterk. Sy moes luister, sy moes voel.

“Ek wil nog hier rondloop,” het sy haarself verskoon, “ek is op pad na die boekwinkel.”

En nogeens gehoor hoe sy steeds mooipraatjies maak. Hoekom het sy nie net gemaak of sy hom nie sien nie, omgedraai en weggeloop nie. Hoekom nie haar handsak neersit en hom klap nie. Hoekom is sy bang dat sy die een is wat die slegste sal afkom. Hoekom moet dit voel of sy die een is wat iets verkeerds gedoen het.

Op die vlug het ’n vrou met ’n babaseuntjie van vier jaar langs haar gesit. Dit het ’n stukkie normaliteit oor haar gesalf. Broodnodig vir die volgende dag se onderhoud. En vir die nag se slaap vooraf wat ’n bietjie vergeet moes bring.

En dis vanoggend, met hierdie derde wakkerword, ná die onderhoud van die vorige dag waartydens sy haar gedagtes in ’n drukgang moes stuur, haarself moes toespits om helder en oopkop te bly, dat die witkwaad oor en in haar sprei. Noudat sy dit alles weer durf herleef. Sy harde lyf, sy arms wat haar teëhou sodat sy nie kan wegloop nie.

Ek wíl jou hê, het hy aangedring. O, jirre, ek moet, van die begin af ... jou lyf ... En altyd weer die trooswoorde: “Ek sal nie ... ek kán nie, Lynette, ek is ’n diabeet, ek kan nie ’n ereksie kry nie, vir meer as twintig jaar het ek nie seks gehad nie ... O, jirre, laat ek net, laat ek net jou kan sien – wys my jouself in jou naaktheid. Laat my tussen jou bene lê – assebliéf, ek smeek jou ... ek moet jou voel, ek wil jou ruik, ek wil jou proe ... my mond wil jou ...”

Sy het geworstel, reggekry om binnetoe te loop die aand. Hy’t haar gekeer, op die  bank in die sitkamer vasgedruk. “Nee! Bly nog hier by my – kom, kom drink nog ’n knertsie saam met my.”

“Ek drink nie whisky nie,” het sy gesê, “los my! Ek het môre nog ’n onderhoud in die Kaap.”

Êrens het haar brein gewonder oor die sogenaamde begrafnis wat hy op die nippertjie glo in Upington moes gaan bywoon. Die vlug wat die sekretaresse vir hom moes reël sodat hy in plaas van Kaap toe, Noord-Kaap toe kon vlieg. Niks het geklop met die beeld wat sy oor jare van hierdie man gevorm het nie. Dalk was sy verandering van vlugte ook deel van ’n ander plan. Dalk was dit ’n warm liggaam wat daar gewag het, en nie die koue lyk van sy oompie soos hy voorgee nie. Iemand wat hy, met die firma se geld, vinnig kon gaan vasdruk, manipuleer met sy taal en sy aansien.

Dis die woede wat die lamheid in haar bene beter maak hierdie derde oggend. Sy staan op, skuif die gordyn oop dat die lig kan inkom. Maar wat sy eintlik doen, is uitstel. Sy wil nie, sy durf nie weer onthou nie ... Tot hiertoe kon sy regkry om terug te gaan, om weer te beleef. Maar dis daardie slottoneel in die film wat sy vrees. Daardie sin wat haar stukkend gesny het; dieper as wat ’n skalpel deur ’n mens se vel in jou lyf in kan kloof.

Sy voel weer sy asem in haar nek, sy tong wat in haar oor druk, sy hand oor haar hare, dan af, af teen haar hals; die ander arm wat haar vaspen dat sy nie kan losruk nie. Sy hand wat oor haar lyf beweeg, wat die voorkant van haar langbroek probeer oopkry; sy sien hoe sy wriemel om nie aangeraak te word nie. Sy ruk haar arm los om sy hand by die band van haar broek uit te pluk.

Hy vat haar weer vas, trek haar nader, druk sy twee hande weerskante van haar kop, soen haar, dwing haar mond oop met sy harde tong, wieg met haar heen en weer ... “O, jirre, Lynette, laat my, ek moet, laat my jou vagina net lek, laat my dit aan jou doen, ek sal nie ... ek smeek jou, ek wil jou suig, ek wil jou sien – ek wil sien hoe jy in my oë ontplof ... jy mag nie nee sê nie, ek sal ...”

Sy gee ’n ruk wat sy hande nog in die lug laat staan soos hy haar kop vasgehou het, vee die nattigheid van sy mond van haar eie en van haar nek af.

Hy stamp haar weg, sy stem vlymskerp venyn. Sy woorde steek haar in die diepste sagte plek van haar menswees; hy draai die dolk en ruk sodat sy dubbelvou oor die gat waarin haar binnegoed kolk.

“O, dis só – nóú sien ek. Dis wat dit is – jy soen nie ’n bruin man nie –  en jy wíl nie met ’n bruin man nie ...”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top