Skrywersonderhoud: Christine Barkhuizen-Le Roux oor My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

  • 0

Remona Voges het met Christine Barkhuizen-Le Roux oor haar jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, gesels. 

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan
Christine Barkhuizen-Le Roux

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798179706.

Hallo Christine. Geluk met jou nuwe boek! Jou vorige roman gaan ook, onder meer, oor die verhouding tussen ouer en kind en die impak wat een geslag op die volgende laat. In hoe ’n mate sluit My naam is Prins, ek slaap met die lig aan tematies by jou vorige werk aan?

Remona, voordat ek hierdie boek begin skryf het, het daar soveel twyfel in my kop gedraai. Sál ek dit kan regkry om reg te laat geskied aan hierdie onderwerp – aan die slagoffers van soveel emosionele én fisieke pyn? Dis om die minste te sê ’n “tall order”. Maar ek glo vas die onderwerp is deur “Iets groter as ek” op my tafel kom sit. En toe ek uiteindelik begin navorsing doen, en begin skryf, het ek besef: Eintlik het ál my romans tot dusver ook te make met onreg. En veral onreg teenoor kinders.

Ek was ongeveer twee jaar oud toe ek die eerste keer self ’n ervaring gehad het wat my laat voel het / weet het: wat hier gebeur, is nie reg nie. Natuurlik het ek nie ’n woord gehad om aan daardie gevoel te gee nie, maar deur die jare het ek besef dat dít dalk die ding is wat my die meeste aangryp. Onreg teenoor kinders, teenoor die weerloses, die randfigure – diegene wat hulleself nie kan verdedig nie. Hulle wat “nie gehoor is nie”, soos wat Juliana Coetzer dit stel.

Terselfdertyd het ek geweet dis ’n baie groot verantwoordelikheid wat ek op my skouers neem. En tog het ek besluit om die verantwoordelikheid te aanvaar en dit te dra. Natuurlik kan ek nóóit werklik in die lyf/vel van só ’n misbruikte seuntjie klim nie, maar ek het wyd gelees, baie onderhoude gevoer, werklik die meeste inligting (wat my soms so verskriklik ontstel het dat ek uit die huis gehardloop het om net asem te haal) bymekaar gemaak oor ’n tydperk van baie jare. Daarmee het ek probeer om ’n profiel van ’n pedofiel te “maak”, en so ook ’n profiel van ’n slagoffer. Ek het ’n verhaal daar om geweef wat ek gehoop het die leser die verskrikking en die onreg sal laat besef. Terselfdertyd het ek probeer om dit só aan te bied dat die leser die teks nie as walglik ervaar nie – hoewel die dade teen die kinders natuurlik wel walglik en verskriklik is.

Ek wil egter hê dat lesers dit as ’n verhaal lees, nie as ’n verhandeling nie – dis nie wat dit is nie. Hoewel ek baie navorsing gedoen het, is dit ’n roman, en nie ’n verslag nie. Dis ’n verhaal oor verhoudings – verskeie verhoudings; en nie te vergeet nie: die verhaal van ’n sielkundige wat al meer as twee jaar lank op ’n sabbatical is en nou deur ’n ekspasiënt, en veral sy dogter, gevra word om saam met hulle te reis na die plek van haar pa, Deon, se grootwordjare.

Oor of ’n sielkundige op so ’n reis sal/mag saamgaan, het ek baie navraag en navorsing gedoen by sielkundiges en psigiaters. Die tydperk wat verloop het, is lank genoeg – maar sy mag nie weer so ’n persoon se sielkundige wees nie. (Iemand wat goed lees, sal al hierdie stukkies inligting raaklees.) Deur die bank het hulle gesê dit is nie teen die morele of wetlike kodes van sielkundiges nie, en verder: hierdie sielkundige het nóg ’n ander baie belangrike motief. Sy het sedert haar sessies met Deon destyds parallelle begin sien tussen haar eie dominee-man en haar pasiënt. Frank, haar man, kruip in sy studeerkamer weg en probeer sy sorge en herinneringe verdrink in bottel ná bottel whiskey. Wanneer sy dan die kans kry om te gaan soek na ook sý verlede, weet sy sy wil haar huwelik red, en Deon en sy dogter bied haar hierdie geleentheid. Sy nooi haar man saam, maar hy weier volstrek om saam te gaan na die plek van sy grootword – dieselfde Skuilkrans as waar Deon op skool was. Daar is dus klinkklare redes waarom sy besluit sy sal saamgaan op hierdie letterlike sowel as figuurlike reis.

Daar is al in Afrikaans boeke oor kindermolestering geskryf (ek dink byvoorbeeld aan Dis ek, Anna en Thula-thula). Wat jou boek egter interessant maak, is dat dit molestering van jong seuns onder die loep bring. Hoekom het jy op dié invalshoek besluit?

Ek is bly oor hierdie vraag. My jare lange Nederlandse vriendin, Resl, het met my besoek (alles steeds toe nog in die pyplyn met proewe, ens) vir my gesê: “Christine, jij bent al meer dan vijftien jaar bezig met deze onderwerp – want het boek die je mij met onze eerste ontmoeting had gegeven, was Dis ek, Anna.” Dit het my laat dink. Inderdaad. Die onderwerp “hang” al baie lank in my kop – “hover”, die Engels, is eintlik ’n beter beskrywing. Ek het besluit om ook wanneer mense vra, reguit te sê: “My oupa het my en my sussie ook betas.” Jy vergeet dit nooit. En al is dit nie verkragting nie, blý jy weet van die aantasting van jou diepste privaatheid.

Maar om by jou eintlike vraag uit te kom: Dit het by my begin daag dat daar byna nooit ’n stem gegee word aan seuntjies/seuns wat seksueel gemolesteer word nie. Toe ek met mense daaroor begin praat, was dit soos ’n magneet wat al die ystervylsels na hom toe aantrek. Met die lees oor die onderwerp (my eerste bronne is altyd persoonlike gesprekke en dan boeke, in plaas van die internet – wat ook later bykom) was ek opreg geskok. In baie Engelse boeke, en boeke in Engels vertaal, is daar ’n magdom gevalle, meer as om op te noem, lewens, waaroor geskryf word. Daar is ook sindikate van mense in hoë posisies wat kinders – in dié geval seuns – “aangee” van die een na die ander.

In Afrikaans was daar Die reuk van appels van Mark Behr en Roepman van Jan van Tonder wat die verlies van onskuld van so ’n seun net-net aanraak, en dit in die leser se kop laat hang. Maar waar was die stem van die slagoffers? Die seuns? Die emosies en gedagtes wat jare lank in hierdie mans verwarring bly skep. Iemand moes dit skryf – en omdat ek gevoel het hierdie ding druk só hard op my hart, het ek ’n roman daaroor geskryf. Let wel, om ’n nuwe werklikheid te skep (die roman-werklikheid) uit verskeie ware werklikhede waaroor ek navorsing gedoen het. ’n Verhaal – nié ’n lys van statistieke of ’n gevallestudie nie.

Koerantberigte skok ons daagliks, maar môre is daar een wat weer skok, en oormôre weer. John Steinbeck het tydens die skryf van sy roman The grapes of wrath aan sy vriendin Elizabeth Otis geskryf: “[T]he suffering was so great that objective reporting could only falsify the moment.” Eers ná die lees van Steinbeck se roman het president Roosevelt self gaan ondersoek instel na die haglike omstandighede waaronder die mense in Oklahoma verkeer. Steinbeck skryf onder andere: “When I wrote The Grapes of Wrath ... I was filled ... with certain angers ... at people who were doing injustices to other people.”

Ook by my was daar ’n seker woede terwyl ek gelees het oor, en geskryf het oor, wat aan weerlose kinders gedoen word. Ek glo dat ’n roman ’n groter impak op die leser/hoorder kan hê as blote statistiek. As jy iemand kan “intrek” om die omstandighede self te beleef, bereik jy die hart van die mens.

Hierdie volgende vraag sluit eintlik ’n bietjie by my vorige een aan: Jy gee in die roman ’n stem aan die ongehoordes. Hoekom dink jy hoor ’n mens eintlik betreklik min oor kinderverkragtings as dit by seuns kom?

Daar is soveel redes ...

Stel vir jou ’n beeld voor van die “tradisionele Afrikanerman” (erg om so te veralgemeen, maar nuttig vir die doel van die vraag):

  • Stoer en sterk
  • Manlik, en geleer om nie emosies te wys nie
  • Die broodwinner, versorger en beskermer van sy vrou en kinders
  • Die toonbeeld van gesag en betroubaarheid.

Só ’n man is dalk ook in sy kinderjare gemolesteer, betas, verkrag.

Máár:

  • Hoe sê ek dit vir my vrou? Sy sal dink ek was/is eintlik gay ...
  • Wat sou gebeur as ek dieselfde paadjie volg en iets aan ons kinders doen?
  • Ek was te pieperig om myself te verdedig.
  • Ek is skáám om hieroor te praat, selfs te dink ...
  • Ek is eintlik nie die sterk man wat sy gedink het ek is nie.
  • Wanneer haak ek ook uit – ek twyfel oor myself.
  • Hoe kan ek uitkom daarmee – ek gaan huil – en cowboys don’t cry ...
  • Ek is nié “goed” nie ...
  • Ek is “aangetas” ...

Hierdie is maar ’n paar ruwe aanduidings oor waarom mans nie vorendag sal/wil kom daarmee dat hulle misbruik is nie. Daar is sóveel nuanses nog. Maar dit is ván die redes waarom mans nie daarmee wil “uitkom” nie. Die skuheid, die skaamte, die seerkry.

Daarom is dit nodig dat ons, die Afrikaanses wat Afrikaans lees, óók moet kennis neem van hierdie onreg wat teenoor seuns gedoen word, en wat weggesteek word onder dik komberse. Ons is so bang dat iets ons sal ontstel, ons druk liewer ons hand oor die oë en sê: “Ek wil nie hoor nie/ nie sien nie.”

Die tema van die boek is swaar, maar dit is ook in ’n sekere sin opvoedkundig. Is dit wat jy wou regkry met die boek – om mense deur die lees van die roman ook in te lig of te waarsku?

Dis ’n swaar en ingewikkelde tema, ja. Maar ek kry daagliks terugvoer van lesers wat sê die onderwerp en dít wat met die seuns gebeur, is verskriklik, maar hulle kon nie ophou lees nie. Dit was nie vir hulle ’n “grusame” leeservaring nie, hoewel dit ontstellend is om jou oë op ’n dag oop te maak en te sien: Dit gebeur hier rondom, tussen, ons!

En ja, ek het gehoop mense sal nie net “kennis neem” van wat op ’n ontsaglik groot skaal hier by almal , en in elke gemeenskap, gebeur nie, maar dat hulle ook sal begin praat. Jy hoef nie “betrokke” te raak nie – maar as jy vermoed ’n kind word misbruik, gaan gee dit aan by die maatskaplike werker in jou omgewing. Jou identiteit word nie in gedrang gebring nie! Maar as ons swyg, is ons skuldig. Net so skuldig soos die persoon wat die kinders molesteer.

Watter tekens is daar, as jy ’n paar moet noem, waarvoor ’n mens op die uitkyk kan wees as jy vermoed dat iemand seksueel misbruik word?

Ek konsentreer hier nou veral op seuns, hoewel dit ook op dogtertjies van toepassing kan wees.

  • Die kind tree vreemd, en op ’n “seksuele manier”, op met betrekking tot speelgoed en ander voorwerpe.
  • Nagmerries, slaapprobleme.
  • Word geheimsinnig oor sy optrede – waar en saam met wie hy was.
  • Die kind onttrek homself, óf wil glad nie van die ma geskei word nie, klouerig, wil nie met anders kinders speel nie.
  • Persoonlikheidsverandering, “mood swings”.
  • ’n Vrees vir sekere plekke of sekere persone.
  • Woede-uitbarstings.
  • Eetgewoontes wat verander – te veel/te min eet.
  • Skielike nuwe woorde (waaraan hy nie normaalweg blootgestel sou wees nie) wat die kind gebruik vir liggaamsdele.
  • Die kind praat van ’n gawe omie, nuwe vriend, by wie hy ook geld of presente kry.
  • Wegloop – die kind pak sy goed in en probeer wegkom van alles wat hom ontstel.
  • Onverklaarbare tekens soos sere om die seun se mond, sy geslagsdele.
  • Selfbesering – soos sny, brandwonde, blou kolle – soos wat hy homself seermaak. (As gevolg van skuldgevoelens – die pedofiel laat die seun altyd voel dit is sý skuld dat hy hierdie goed aan hom doen.)
  • Oordraagbare siektes.
  • Die kind wil nie alleen wees met ’n spesifieke ouer kind of volwassene nie.

Fisieke tekens:

  • Pyn, verkleuring van vel rondom genitalieë, bloeding, of afskeidings deur genitalieë, anus of mond.
  • Voortdurende pyn gedurende stoelgang en urinering.
  • Om homself nat of vuil te maak – onafhanklik van toiletgebruik.

Ek is nie ’n sielkundige nie – hoewel ek ook sielkunde studeer het. Tog het ek met verskeie professionele mense in hierdie rigting gepraat, en ek wil beklemtoon dat van bogenoemde simptome ook by kinders kan voorkom wanneer daar erge stres is – die dood van ’n familielid, ’n egskeiding van ouers, probleme by die skool of met vriende, of oorangstigheid as ’n psigiese manifestasie.

Dis nie te sê dat één van hierdie tekens dui op misbruik nie, maar wanneer ’n aantal van hierdie simptome by ’n kind teenwoordig is, moet ouers of voogde beslis begin uitvind en aandag gee aan wat aangaan.

Was dit vir jou moeilik om hierdie verhaal te skryf? En hoe het jy dit benader? Het jy met gevallestudies te werk gegaan?

Dis beslis die moeilikste ding wat ek nog ooit in my lewe geskryf het. Padmaker was baie moeilik, want ’n groot deel daarvan is my eie verhaal, maar Prins het my “gut” uitgeruk. Die bewuswording van onskuldige seuntjies wat misbruik word – op so ’n groot skaal! – en die stilswye van almal wat weet. Ek het verskeie gevallestudies deurgewerk, verskeie onderhoude gevoer (ook met buitelandse kundiges soos Peter Adriaenssens wat vanaf 2010 met die slagoffers van pedofilie in die Rooms-Katolieke Kerk gewerk het – die meeste toe al in hulle tagtigs), baie boeke (fiksie sowel as niefiksie) en artikels (gedruk sowel as op die internet) gelees.

Tog is hierdie boek ook ’n verhaal waarin versoening en vergifnis ’n rol speel. Ek, die skrywer, gee nie uitsluitsel hieroor nie. Maar die vraag word gevra: Kán ek ’n pedofiel vergewe? Hieroor moet elke leser vir homself/haarself besluit. Wat egter belangrik is, is dat daar heling moontlik is. Die Ierse skrywer Colm O’Gorman het aan my gesê: Wanneer jy hierdie boek skryf, maak seker dat mense daar buite, veral slagoffers, wéét dis nie bepalend vir hulle hele lewe nie. Daar ís ook lewe ná seksuele molestering.

Die skryf van My naam is Prins, ek slaap met die lig aan het my nie onaangeraak gelaat nie. Ek is iemand anders as wat ek daarvóór was.

Die boek is in ’n sekere mate ook ’n aanklag teen mense wat kies om weg te kyk. Wat dink jy is ons as ’n samelewing se verantwoordelikheid teenoor slagoffers? En hoekom dink jy kies mense soos pa Pietie se vrou partykeer om hierdie dinge te ignoreer?

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan is ’n verhaal van reaksies op gebeure; van die benadering van verskeie kwessies deur die samelewing. ’n Diverse samelewing met diversiteit wat keuses maak betref, wat besluit om te praat of stil te bly – veel meer as wat dit ’n kliniese realiteit van ’n sielkundige is.

Wat is ons verantwoordelikheid?

Deur alles waardeur ek gewerk het, weet ek: In die eerste plek moet ons as individue “wakker” wees. Waar kinders (jou eie, of iemand anders s’n) in jou omgewing is, moet jy weet: Hierdie kind is ’n weerlose wese – ons as volwassenes moet hierdie weerloses beskerm, ons moet oplet as daar iets anders as normaal by die kind voorkom, soos die dinge wat hier bo genoem is.

Ons kies, ja. Soos ons dikwels in koerante lees, kies ook pedofiele se vroue/geliefdes om weg te kyk omdat ons bang is vir die persoon of die mag wat hy oor my kan uitoefen. Ons glo ons kan nie die status van “gerespekteerde lede van die samelewing” aantas of bevraagteken nie. Ons is bang dat die “ander mense” ons nie sal glo nie of óns sal verwerp – in plaas van om die pedofiel aan die kaak te stel. Dis geriefliker om in ons gemaksones te bly sit. En die kind op te offer.

Dan is daar natuurlik ook die kwessie van hoe die kerk dikwels pedofiele beskerm, en daar is ook heelwat verwysings na die Rooms-Katolieke Kerk se priesters. Sien jy ’n duidelike verband met die Rooms-Katolieke Kerk en die manier waarop dinge dikwels in die Protestantse Kerk toegesmeer word?

Wêreldwyd word die Rooms-Katolieke Kerk daarvan beskuldig dat priesters seuns molesteer. Dat dit waar is, is nie te betwyfel nie. Maar weer eens: Dis so maklik om die vinger na die Katolieke priesters te wys. Want so bly dié van ons wat Protestante is, buite skot. Ons was ons hande in onskuld, terwyl die onskuld van kinders geskend word as gevolg van toesmeerdery deur instansies soos kerke, skole, politieke bewegings, sportorganisasies, talentkompetisies – oral waar toegang tot kinders maklik is.

Het jy in jou navorsing bevind dat pedofiele dikwels self slagoffers van die een of ander vorm van misbruik is of was?

Dit ís so dat sommige kinders wat slagoffers was, ook pedofiele kan word/wees. Maar dis glad nie noodwendig so nie. Enige mens kan ’n pedofiel wees. Daar is sekere algemene ooreenkomste tussen pedofiele wat ’n mens opval, maar dis beslis nie so dat die misbruik van ’n seun hom noodwendig óók ’n pedofiel gaan maak nie! En dis ’n groot mite dat gay mans die éintlike pedofiele is. Persentasiegewys sal die oorgrote meerderheid van pedofiele heteroseksuele mans wees. Daar is ook vroue, maar hulle is in die minderheid.

Samevattend: Al hierdie gegewens en feite is interessant, en skokkend – maar Prins is ’n roman, nié ’n handboek nie.

Laastens: Iemand het my vertel dat hy vir sy kinders gesê het: “Julle moet oppas vir die ‘lelike’ omies.” Waarop een van die kinders gevra het: “Pappa, hoe lýk ’n lelike omie?” Dit was vir my ’n hou in die maag. Want inderdaad: Hoe lyk ’n lelike omie? En: Wie wil die waarheid van ’n “goeie man” weet?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top