Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

  • 1

Foto van Pieter Odendaal deur Retha Ferguson

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Digter Pieter Odendaal vertel meer oor die eerste dae van die inperking:

Dag 14: “Onoplosbare liefde in die vloedtyd” deur Pieter Odendaal 

Dis nou maar hoe my oggende deesdae begin – met ’n katalisator en ’n goeie diep huil. Gister was dit Trantraal se “Insoluble” uit Oolog:

En ek sit innie droegste plek
wat ek kry innie voorhys
inne vyl baadjie en twie paa ompaa kouse
tewyl wate op my collar drip
Ek meditate in my eie way
Ek voel hopeless, soe low
soes rain-soaked skoene
soes modder agte op jou broekpype
As ek gewiet et hoe
sou ek my form oek opgie
wegdrift innie condensation.

Vandag probeer ek iets minder devastating kies: Lo Wolf se “Be like water”. Die stemme is suiwer en skoon, water uit ’n ander tyd. Daar’s ’n YouTube-video met clips van water van regoor die wêreld. Als is deurweek van sterflikheid op ’n manier wat NP nie sou kon voorsien het nie: die golwe wat instroom, die vrou met haar voet in die rivier, die seeskilpad oor korale wat anderdag wit van die dood sal wees. Sy’s lankal poegaai – dis net dat die stadige afsterf van die planeet nou ook in ons borste kom lê het. Daarom staan ek nie teë nie – ek maak my sluise oop en witness.

Dis of die membraan tussen my en die wêreld (wat nog altyd maar bra dun was) heeltemal opgelos het, nes die lipiede in die potensiële virusmembrane wat ek in my ouers se badkamer van my hande af was. Ek tel die sekondes af tot al die halflewendiges hul houvas verloor. Heeldag lank tel ek. Die push-ups in die garage. Die sigarette wat oorbly. Die eiers bo die yskas. Die gevalle. Die gevalle. In New York. In São Paolo. In Guayaquil. In Bloemfontein. Die wêreld stroom in.

Ek luister onwillig RSG op die drie radio’s wat soos ankers deur die huis versprei is. As ek nou weer vir ’n liefdestreffer moet huil, gaan ek dit nie maak nie. So ek skuif rond om die songs te vermy, Kalmer se In ’n land sonder voëls ongelees in my hande. Buite langs die boom. In die garage. Voor die vetplante by die voordeur. In die badkamer, die woonkamer, my bed. Die voëls hou aan sing, salig onbewus. Ek gee op, begin weer die nuutste #coronavirusSA tweets te lees, my kop teen die kussing. Ek verorber Al Jazeera, CNN, News24, The Guardian. My skerm is ’n homemade masker wat goggas ligweg deurlaat. Dat ’n halflewende só kan oorvat. Miskien is ons anyway lank reeds halfdood van die kontant wat nou besmet in ATM’s lê. Miskien is hierdie die onafwendbare einde waarop ons lankal wag. Die wêreld stroom in.

Die persoonlike en die politieke is all mixed up. Ek is my koördinate kwyt. Die polisie skiet mense wat nie tuis bly nie. Ek weet nie wanneer ek en Jorge mekaar weer sal sien nie. My supervisor se tannie verloor die stryd teen COVID-19 in Engeland. Die departement van behuising gaan mense forcibly uit digbevolkte gebiede remove, “for public health concerns”. Ek weet nie wanneer die pad tussen ons weer duwweltjievry sal wees nie. ’n Reuse Chinese steenkoolmyn is pas ’n hanekraai ver van die Limpoporivier goedgekeur, onder korona se dekmantel. Niks maak sin behalwe jy nie.

Hoe langer ek my afsonder, hoe meer deurlaatbaar word ek. Ons is almal onsigbaar aan mekaar verbind, een globale tasfees. Orals waar ons vat, lê microbes wat van ons verbygaan getuig. Ek wil my neus in jou oor begrawe en nooit weer opstaan nie. My hart is lankal reeds in Peru. Daarom dat die res van my nou ook luglangs wil disperse:

             Op die 5 000 vlugte wat vandag nog oor flightradar geflikker het.
Op die whatsapptekste wat ek frantically in die vroemôre vir jou stuur.
             Ek word al meer virus, ek eet die wêreld op.
Ek vermoed ek begin jou reuk vergeet.
             Ek is die vuishou wat julle sien kom het.
Ek soen jou sonder om aan die skerm te raak
             Ek slaan elke dag dieper.
Jy bly verder weg.
             Ek eis my pond vleis en julle kan niks daaraan doen nie.
Jy wasem op.

*

Ek probeer dit uitskryf, laat die woorde los. Maar ek bly sit met my onvermoë, my vergeetagtige neus, en my pogings om niksdoen tot ’n kunsvorm te elevate. Môreoggend sal ek opstaan en nêrens heen gaan nie. Ek sal ronddwaal, iewers binne hoorafstand van RSG gaan sit. En hiérdie sal my katalisator wees:

dis nag en ek is bly jy is hier hond
by my ouerhuis in bloem
waar my pa stresdrink oor sy werk
en my ma verder agter haar skerm verdwyn
terwyl my partner groente plant in Peru
vir die stew wat hy vir ons sal berei
as die grense weer eendag oopgaan

ek hol deur ’n eindelose woud
die bome bespiegel oor uitkomkans
virusse gloei rooi soos vuurvliegies rondom my
en sit my agterna

as ek wakkerskrik van die sweet
lê jy swart langs my opgekrul
en ek druk jou styf vas
want honde kry nie covid nie
en my partner
            onruikbaar ver
plant getrou groente in Peru.

Lees ook

What the water remembers: ’n onderhoud met Pieter Odendaal

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie: ’n onderhoud met Pieter Odendaal

Foto van Pieter Odendaal deur Izak de Vries

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top