Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 1

Foto van Ena Jansen: Menán van Heerden

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting weekliks!

Skrywer Ena Jansen vertel meer oor die eerste weke van die inperking:

Dag 21: “Die zombiewêreld van COVID-19” deur Ena Jansen

“Dit is soos ’n zombiewêreld daar buite. Dit is morsdood. Daar is níks, níks, níks daar nie. Die enigste mense wat jy sien rondloop is hawelose mense. Hulle loop doelloos rond; hulle is in ’n dwaal. Dis baie hartseer. Nogal vreemd. Soos ’n postapokaliptiese wêreld,” sê Robert Weinek, direkteur van AfrikaBurn in ’n onderhoud met Murray la Vita van Netwerk24.

’n Week voor president Cyril Ramaphosa aankondig dat Suid-Afrika drie weke lank in ’n totale grendeltoestand, “lockdown”, sou gaan vanaf Vrydag 27 Maart, het Weinek en sy groep al besluit dat AfrikaBurn nie dié jaar, soos al sedert 2007, in die Tankwa-Karoo sal plaasvind nie. Hulle het egter onmiddellik besluit om hulle organisasie se praktiese kennis en groot voorraad toilette en watertenks beskikbaar te stel aan die haweloses van Kaapstad. Dié items, wat al byna op pad was na die semiwoestyngebied 300 km noord van Kaapstad waar duisende AfrikaBurn-gangers partytjie sou hou tussen 27 April en 3 Mei, is nou ontplooi in Observatory om die menswaardigheid van haweloses te help verseker.

Flink ge-“hamster”

Die Zuid-Afrika Huis se aanlyn tydskrif Spectrum vra my om te beskryf hoe dit in Kaapstad gaan. Ek skryf ’n stuk met die titel “Die troebel tyd van COVID-19” en vertel dat ons ons huise verlaat slegs om kos en medisyne te koop wanneer dit dringend noodsaaklik is. Tot vlak voor lockdown is flink ge-“hamster” deur dié met geld en yskaste. Drank en sigarette mag glad nie verkoop word nie. Alle parke is gesluit. Jy mag nie op straat gaan stap of draf nie; swem, bergklim en kuier in iemand anders se huis is verbode. ’n Film vanuit ’n hommel toon absoluut verlate paaie, strande en wandelpaaie. Elke dag lyk Tafelberg van my voordeur af groter. Daar’s byna geen besoedeling meer nie – Stellenbosch se berge staan helder afgeteken teen die horison. Koeberg is pal noord aan die anderkant van Tafelbaai. Elke laatmiddag kry ek op my balkonfietsie koers soontoe. My kruie in hulle bakke en my vetplantjietuin floreer. Vroegoggend klim ek my woonstelblok se ses stelle trappe sewe keer op en af.

Die balkonfietsie kry koers Koeberg toe.

My vetplantjietuin floreer.

Ek stel uit om winkels toe te gaan. My buurvrou Jana los joghurt en ’n groot suurlemoen voor my deur.

As ek uiteindelik ná tien dae besluit om dit self verby die hek van San Bernardo te waag wanneer al my vars goed op is, wil ek na Checkers laer af in Kloofstraat stap. Die buurvrou whatsapp my en sê dat ek waarskynlik langs die pad “accost” sal word deur bedelaars. Alhoewel honderde daklose mense na tentkampe onder ’n oorbrug naby die hawe en na Strandfontein se parkeerterrein langs Valsbaai geneem is, swerf enkele mense tog rond. Veral naby die koswinkels. Vir so ’n ontmoeting sien ek nie kans nie. Dit voel veiliger om in my kar te ry. Die battery kan dan sommer ook ’n bietjie laai.

’n Brood, koejawels en geld

Tien dae ná ons in die grendeltoestand beland het, op Sondagoggend 5 April, loop ek haastig in die byna verlate Checkers met my boodskappelysie in my latex-gehandskoende hand rond, masker op. Dis nie besig nie en ek is verbaas oor hoe goed voorsien die winkel is. Ook oor die bonte verskeidenheid maskers wat die mense dra. ’n Tweeliter-plastiekbottel met ’n gat in gesny om plek te maak vir die man se kop lyk uiters effektief. Deur die hek van die bewaakte parkeerterrein gee ek ’n brood, koejawels en geld aan vir die paar brandmaer mense wat wanhopig op aalmoese wag. Die klandisie van mense wat normaalweg ’n kontantgeldjie verdien deur parkeerplekke aan te wys, karre op te pas en met bedelplakkate by stopstrate te staan, bly tuis. Ons ry byna nie meer rond nie, ons parkeer nie. Ons sit hoog en droog met vol koskaste agter ons mure.

’n Week later is daar net twee mense by Checkers se omheining. Ek vra wat hulle nodig het. Die man en sy dogtertjie soek ’n brood, grondboontjiebotter en koeldrank. Die vrou met ’n kleintjie op haar rug soek doeke. “Nommer 4, asseblief Mevrou.” Ek het nooit besef hoe duur Pampers is nie. Sy is oorstelp toe ek die pak van 80 vir haar gee. “Die Here seën jou, Mevrou.”

Op Donderdagaand 9 April, toe ons twee derdes deur die lockdown is en die einde in sig kom, kondig die President aan dat die grendeltoestand met nog twee weke verleng gaan word. Hy doen dit met soveel oortuiging dat ek rustig gaan slaap. Vir dié sonder werk en ’n warm bed is dit verpletterende nuus. Dis ook slegte nuus vir dié wie se drank begin opraak, wie se honde dit nie meer uithou sonder ’n snuffelstappie op straat nie.

Ek mis die berg. 

Ek mis my koffieplekke in Kloofstraat en Kloofnekweg. Ek mis die berg, ek mis dit om langs die see te stap. Maar gaandeweg word my eie koffie al hoe lekkerder. Tafelberg lyk blinker en kragtiger, word meer sigself noudat die kabelkar stilstaan en niemand meer oor hom klouter nie. Ek kan die oop see nie sien nie, maar weet dat die branders blý slaan teen die rondings van die promenade.

Tafelberg lyk blinker en kragtiger.

In Kaapstad, soos op baie ander plekke, staan ons om presies 8-uur elke aand buite om hande te klap, vuvuzelas te blaas of op ander maniere hulpdienste te huldig. San Bernardo se balkonne het pragtige uitsigte op Tafelberg en oor die stadskom. Ons hoor die golwe dankbetuigings kom en gaan en kerkklokke beier van oral om ons. Soos ’n voël vlieg, seker ’n kilometer van my af, reël vriendin Stefanie en haar buurman Jack Parow ’n verrassing vir die straat: die Tamboersklofers daar hou partytjie, almal agter hulle eie hekke. Soggens lank voor sonop is ’n moskee in die Bo-Kaap se oproep tot gebed helder hoorbaar. Nes die kerke, is moskees se deure op slot. Gelowiges bid tuis. Die sonsopkoms is byna elke dag manjifiek.

Die sonsopkoms op 15 April 

Willem Jordaan (redakteur van Die Burger) het my sonsopkoms-foto op Facebook gesien en vir Donderdag se Burger-voorblad gebruik

My WhatsApp-groepe (die Wednesday Walkers en Rainmakers met wie ek Tafelberg al van alle kante beklim het, die Tafelbaai-leeskring en ’n vriendinnegroep) stuur daagliks opkikkers rond: Dit wissel van ontroerende beelde tot belaglike grappe wat die spanning vir ’n oomblik verlig. Soos die prentjie van ’n walrus wat lê en wonder of hy ná lockdown eerste by Weight Watchers of by die AA moet aansluit. Wat ’n luukse om hieroor te kán lag. Of oor een met die teks “Does anyone know which page of the Bible explains how to turn water into wine? Asking for a friend.” Iemand stuur ’n skreeusnaakse stelletjie voor- en na-foto’s: ’n dik uitgesakte “Covid” langs Michelangelo se pragtige “David”. Die prentjies “gaan viral” – ons deel en versprei sonder om ’n lap voor die mond te neem of ons oor kopiereg te bekommer.

David en Covid

Die lewe van die bevoorregtes wentel om resepte, films op Netflix, aanlyn klasse vir Tai Chi, Pilates en joga, skakels na die wêreld se beste museums, boeke en operas wat aanlyn bekyk kan word. Dít terwyl die plakkerskampe rondom Kaapstad anderkant die lughawe – waarvandaan geen vliegtuie meer vertrek nie – steeds meer ly. Daar woon die mense wat afhanklik is van dag- of weeklone wat nou totaal weggeval het. Die grendeltoestand veroorsaak uiterste armoede op groot skaal vir baie, insluitend talle van die land se miljoen huiswerkers en hulle afhanklikes. Daar word tereg gevrees vir opstand, vir hongersnood.

Aksiewerk

Solidariteitsbewegings skiet soos paddastoele uit die grond. Sedert die struggle, dus ná 1990, was nog nooit soveel wit mense saam met swart mense betrokke by aksiewerk nie. Bewonderenswaardig is byvoorbeeld dié wat saamstaan onder die naam Cape Town Together Community Action Network (CAN). Vrywilligers doen ongelooflike werk in plekke soos Muizenberg en om hulp uit meer gegoede wyke aan townships te koppel, byvoorbeeld Seepunt met Gugulethu. Meer as sewentig CAN-groepe is al gestig. Kospakkette, water, was- en toiletgeriewe word op groot skaal georganiseer, datavoorsiening en mediese hulp word verleen. Stapels gesigsmaskers word by mense tuis gemaak en wyd versprei om ten minste te probéér sorg dat almal maskers het.

Een van die tientalle swart oogmaskertjies wat ek op KLM-vlugte versamel het, blyk dikker as die ander te wees en pas perfek oor my mond en neus.

Met my KLM-masker

Hoe maklik het ek dekades lank heen en weer oor Afrika gevlieg! Miskien wel honderd keer, het ek onlangs geskat. Met ’n paar ekstra euro per vlug het ek my skuldgevoel afgekoop sodat ’n boom iewers geplant kon word om vir die “CO2-uitstoot” te vergoed. Nou behoort ek tot die risikogroep van 65-plussers (hoe het dit skielik laat geword?) wat volgens die kundiges verkieslik tuis moet bly. Volgens CAN kan ek wel, benewens finansieel, help deur rond te bel om te hoor of ander kwesbares nog veilig is.

Soos familie

Laasweek het ek ’n stuk oor COVID-19 vir LitNet geskryf met verwysing na Soos familie (2015) en Bijna familie (2016) se hoofstuk oor die rol van huiswerkers in “troubled times”, soos ek dit in Like family (2019) noem. As tussengangers was huiswerkers dekades lank die enigste skakels, die “go-betweens” tussen bevoorregte wit mense en die townships. JM Coetzee se karakter Mrs Curren dink byvoorbeeld in Age of iron (1990): “What I know about events in Gugulethu depends solely on what Florence tells me and on what I can learn by standing on the balcony and peering northeast.”

By die Rupert-museum se tentoonstelling tydens die Woordfees. Dorothy Kay se skildery met “Cookie, Annie Mavata” (1956). Fotograaf Nicol Stassen.

Nou is alles anders. Die eeue oue verstrengelde Suid-Afrikaanse leefwyse het plotseling tot stilstand gekom. Huiswerkers mag nie meer reis om te kom werk nie; hulle was trouens al voor lockdown dikwels nie meer welkom nie – in oorvol busse en treine was hulle immers uiters blootgestel aan besmetting met die virus. Al drie weke lank vleg geen minibustaxi’s meer deur Kaapstad se meer gegoede woonwyke soggens vroeg nie, geen huiswerkers betree meer die private ruimtes van bevoorregte huishoudings nie. In die townships en veral plakkerskampe gaan dit volgens berigte van joernaliste en hulpverleners beroerd. Mense kan hulle daar onmoontlik hou aan die voorskrifte om tuis te bly, om anderhalwe meter afstand te hou as hulle op baie plekke selfs vir toilette moet toustaan.

Uitgebreide gesinne woon saamgehok in klein huisies; hulle het nie naastenby genoeg geld om vooruit vir dae lank voorrade te koop nie. Mantwa Lobie wat op ongereelde tye maar al tien jaar lank vir my werk, het hoofpyn en haar bene pyn. Van die stres, whatsapp sy my. Sy woon in Gugulethu en haar werk as skoonmaker by ’n internasionale filmmaatskappy het tot stilstand gekom. Ek koop aanlyn vir haar elektrisiteit en stuur ekstra geld.

PLAAS, die Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies, waarsku dat die strukturele armoede en ongelykheid tussen ryk en arm vinnig vererger. In “Food in the time of the coronavirus: Why we should be very, very afraid” waarsku PLAAS dat ’n massa mense honger is en steeds meer hulpbehoewend word. Anargie dreig as voedingskemas nie op groot skaal op gang kom en volgehou word nie. Huislike geweld sal toeneem, soos wat trouens ook in baie Europese lande en Amerika gebeur.

Solidariteit

In my stuk vir LitNet skryf ek: “Alle werkgewers van ’n vrou wat twee weke gelede nog as ‘soos familie’ beskryf is, sal weet dat sy nou meer as ooit hulle solidariteit nodig het. Álmal ervaar verlies en staar ’n onsekere toekoms in die gesig, maar hulp aan die een vrou wat jy van naby ken, kan die een belangrike stap van die meer bevoorregtes wees om te probeer verseker dat die virus die gaping en ongelykhede nie vergroot wat Suid-Afrika nog steeds domineer ’n kwarteeu ná die sogenaamde beëindiging van apartheid nie.”

My probleme is luuks. Die reis wat ek in Mei na Kanada sou onderneem om gaslesings by agt universiteite te gee is gekanselleer. Ek sal nie in Amsterdam wees wanneer my UvA-promovendus Tycho Maas op 2 Junie promoveer nie. In plaas van in die Agnietenkapel sal hy waarskynlik via Zoom sy proefskrif verdedig.

Die ginbottel se inhoud sak vinnig en ek besef talle van my klompie tonic-blikkies gaan dalk nog weke lank vir kwaadgeld rondstaan. 

Laatmiddag op die balkon

Gelukkig is daar nog wyn. En ’n hele voorraad patats, aartappels, butternuts en uie. Woolies het immers ’n sak van elk vir R125 saam verkoop in die stormloopdae voor 26 Maart. Ek pluk spekboomblare in die tuin om by die slaai te sit, by die soetpatats, by die aartappels.

Ystertydperk

Oordag sit en vertaal ek Age of iron in Afrikaans. Sommer vir myself. Dis al jare lank een van my gunstelingboeke. Dit voel aktueler as ooit – byvoorbeeld waar ek vertaal hoe Mrs Curren verlang na haar dogter in Amerika pas nadat sy gehoor het dat sy terminaal siek is.

Hoe betree ek hierdie leë huis nie met stadige voetstappe waarvan elke eggo vervaag het nie, waar elke trap van ’n voetsool op plank vlak en dof geword het! Hoe verlang ek nie dat jy hier was nie, om my vas te hou, te vertroos! Ek begin die ware betekenis van omhelsing verstaan. Ons omhels om omhels te word. Ons omhels ons kinders om toegevou te kan word in die arms van die toekoms, om onsself voort te plant verby die dood, om meegevoer te word. Dis hoe dit was toe ek jou omhels het, altyd. Ons gee geboorte aan kinders sodat hulle eendag ons moeders kan wees. […] Hoe verlang ek nie na jou nie! Hoe verlang ek nie om die trap op te gaan na jou nie, om op jou bed te sit, my vingers deur jou hare te gly, in jou oor te fluister soos wat ek op skoologgende gedoen het: “Tyd om op te staan!” En dan, as jy jou omgedraai het, jou lyf bloedwarm, jou asem melkerig, om jou in my arms te neem: “Gee vir Mamma ’n groot drukkie.” Die geheime betekenis daarvan, die betekenis wat nooit uitgespreek is nie, was dat Mamma nie treurig moes wees nie, want sy sou nie doodgaan nie; sy sou voortlewe in jou.

Om te lewe! Jy is my lewe; ek het jou lief soos wat ek die lewe self het.

Ek en my sussie op Stellenbosch bel mekaar gereeld. Ons het ons 90-jarige ma laas op 24 Maart in Schonenberg besoek waar sy goed versorg word en gelukkig is. Ons het haar vertel dat ’n moorddadige virus die rede is waarom ons mekaar nie gou weer sal sien nie. Sy het dadelik ’n vergelyking gemaak met 1918 se griep wat haar ouers, gebore 1900 en 1901, baie bewus meegemaak het. Ek pak my laaie reg en kom op foto’s af wat geneem is deur ’n Kaapse straatfotograaf: Op die een foto is ek en my sussie ieder aan ’n hand van onse ouma Myburgh; op die ander beur ek vorentoe aan my ma se hand. Toe het die lewe nog oop gelê.

Ek en Christine (regs) saam met ons ouma Myburgh, en ek met ons ma – Kaapstad in die 1950’s

Saans voor slaaptyd lees ek Memories of the “Spanish” flu epidemic of 1918 in South Africa (2018). Meer as 300 000 Suid-Afrikaners is toe binne enkele weke dood, veral jong mense tussen 18 en 40. Die griep het in die Kaap begin waar soldate wat teruggekeer het van die Eerste Wêreldoorlog aan wal gekom het. Ek lees die verbatim onderhoud uit 1978 met Margaret Lister (gebore 1886) wat destyds in St James gewoon en self siek geword het. Sy vertel van ’n visserman uit Kalkbaai en van boere uit Ceres wat almal in die helende krag van brandewyn geglo het, veral boegoebrandewyn. Die boek wemel van aangrypende herinneringe. Skrikwekkend is die talle stories van “lyke” wat uit die massagrafte gekruip het; van iemand wat reeds toegespyker was toe sy kis van die skotskar in Groenpunt val en hy vervaard begin klop; wakkergeskok uit sy koma.

Huisdier Honnie en Howard Phillips se boek oor die 1918-griep

Verlede week, op 8 April 2020, was Suid-Afrika se COVID-19-“rekord” nog besonder goed: 1 749 bevestigde gevalle met 13 sterftes in ’n bevolking van 56,7 miljoen. Op 13 April was daar 27 sterfgevalle. In Nederland was daar laasweek reeds 2 101 sterfgevalle; ’n week later 2 945. Daar is ’n onbevestigde hipotese dat die verpligte BCG-inspuitings teen tering wat alle Suid-Afrikaners al sedert die 1970’s by geboorte kry, miskien sorg vir ’n groter immuniteit teen COVID-19 as in Europese lande en Amerika, waar dié inenting nie verplig is nie. Dit is die afgelope paar dae hoopvolle nuus wat rasendsnel oor sosiale media versprei.

Ondertussen is die Kaap se strate so goed as tjoepstil, die lugruim leeg; en dieselfde skip lê dae lank alleen in Tafelbaai. Hadedas skater oor die stad en voëls twiet-twiet-twiet onder in die tuin. Die sterre is helder en laasweek se volmaan skitterend. Soggens kan ek nie wag dat die son opkom nie.

Kaapstad, 15 April 2020

Lees ook

LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen

Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste

Ena Jansen se Soos familie / Bijna familie in woord en beeld by Toyota US Woordfees 2020

Lees nog Kwarantynketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top