Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

  • 1

Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer Ruan Kemp vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit Gedeeltelik bewolk (Tafelberg, 2019) en nuwe werk:

Dag 15: “Koue wind” deur Ruan Kemp 

Wie rus? Die woordeboek sê Rusland is ’n saai land wat met gras besaai is wat vir weiding gebruik word om na ’n jaar of wat weer ’n gewone oes te lewer. Ek verdwaal in die woordeboek terwyl my inboks raas. Ek stap winkel toe om koffie te koop. Ek het genoeg koffie vir ’n jaar. Angstig tot die mag angstig. Apartheid, dag agt honderd agt en tag-en-tag. Day seventy eleventy. Die strate is nou, huisies hou my dop. Honde wat nie blaf nie, blaf, en die fisante fladder nie weg nie. Drie blokke af is die frangipanistruik. Ruik hoe lekker ruik die frangipani’s. ’n Kat is vermis op ’n lamppaal, sedert November. Die winkel is mensies in mombakkies. Ek het nog nooit soveel oogkontak met kasregisterbeamptes gemaak nie. Ek sê goeiemôre met mening.

Party aande maak ek my denkbeeldige bure bang wanneer ek van die stoep af skree. Voel die koue wind. Party oggende maak ek my windbuks blaf, kyk hoe die duifpeste wegvlieg. Elke dag kom ’n ou tannie verby op ’n fiets met skreeuende remme. Ons noem haar Veteran; ’n verkoue gaan haar nie afskrik nie.

Op die stoep

Wanneer my seuns nie in die tuin hardloop nie, en Raka en Koki rustig is, het ek drie hadidas: Hop-a-long, Screamer en Koue-skouer. ’n Hadida leer eet uit frustrasie uit. Pik ma se snawel, skree, pik pa se snawel, skree, pik die gras.

Ek kyk na sewe mense – vier is myne en drie is ervare met inperking, opsluiting, rehabilitasie-oorde. Hulle kyk op na my. Sien hulle wat ek sien? Dat ek onseker is, en met feitlik niks saamstem wat ek raaklees nie.

My pa teks: “When the going gets tough, the tough gets going.” Jammer om teleur te stel. Ek voel verlore. Ek het nie meer ’n wag voor my mond nie. Dáárdie beskermengel het bedank. Die wynrak lyk yl, en die twak ook. My bloed kook.

“When the going gets weird, the weird turn pro,” sê ’n ghoeroe. So, ek voer my bakkie se bak met ’n seiltjie uit, en ek tap hom vol water. Dis nie ’n viertrek nie, maar dit maak nie ’n duit saak nie. Wanneer die seuns klaar gespartel het, klim ek in my bakuzzi en druk my kop onder die water. Hou my asem op en staar na die lug. Ek verbeel my hommeltuie wat boeke aflewer. Essential Services. Ek verbeel myself ’n straler deur die lug skeur. Ek verbeel my ’n plaasbakkie op ’n stofpad, kinders agterop met gesigte soos valskermsoldate. Ek verbeel my ’n tropiese vis hier langs my spartel, Boris die budgie wie se vlerkies ek geknip het. Dan trek ek my vellies aan, bobbenjaanleer, motorbandsole, klitsgras aan die veters, en stap. Op die spoor van die vermiste kat.

Bakuzzi

.......

Luister hier na Ruan se voorlesings uit
Gedeeltelik bewolk
(Tafelberg, 2019) en nuwe werk:

Gedeeltelik bewolk

Nuwe werk

Lees ook

Gedeeltelik bewolk: ’n onderhoud met Ruan Kemp

Lees nog Kwarantynketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 1

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Ek is tans besig om “Gedeeltelik bewolk” te lees. Dis vir my een van die opwindendste en varsste Afrikaanse boeke wat ek in jare gelees het. Ek hoop Ruan Kemp skryf nog baie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top