Gedeeltelik bewolk: ’n onderhoud met Ruan Kemp

  • 12

Gedeeltelik bewolk
Ruan Kemp
ISBN: 9780624088585 
NB-Uitgewers

Ruan Kemp praat met Jonathan Amid oor Kemp se Gedeeltelik bewolk.

Ruan, om te debuteer sal die meeste skrywers op hul senuwees hê, maar Gedeeltelik bewolk het behoorlik die tonge los. Ek voel dis belangrik om in diepte met jou te gesels en om iets substantief omtrent die ontstaansgeskiedenis van hierdie besondere roman op kuberpapier te kry.

Vertel asseblief in soveel moontlik detail van jou verhouding met “DB”, oftewel Dave Bishop. Waar en hoe het julle ontmoet, en wanneer het jy hom laaste gesien? Het jy stiptelik boekgehou van julle tyd saam, of is dit eerder in jou geheue ingebed?

Ek het David toevallig in ’n koffiekroeg in Observatory in 2005 ontmoet, soos verhaal in die boek. En ja, die oorgewig polisievrou wat straat af skreeu, en die chicks met issues en klein handsakkies was ook daar. Ons het tot laat gekuier, en David het my genooi om ’n aand in Stikland te oornag. Ek het die geleentheid aangegryp – ek was ’n vryskutjoernalis, heeltyd op die uitkyk vir ’n storie. Maar ek het meer as ’n storie gevind; ’n briljante man wat stories borrel, en ’n intellek in skrille kontras met die toestande waarin hy geleef het.

Weldra het ons goed bevriend geraak en ooreengekom hy vertel my net wat hy wil, en ek skryf net wat ek wil. Indien dit dan in publikasie ontaard, was die ooreenkoms om die tantième 50/50 te deel.

Oor ’n tydperk van vier jaar het ek David omtrent een keer ’n maand besoek, in inrigtings, agterkamers, halfweghuise, en ouetehuise (my vrou dring aan dit was omtrent een keer ’n week). Hy het my sy verhale vertel en ’n boel skinderstories daarby, en ek het begin bou aan my boek. Vanaf September 2008 skryf ek voltyds, terwyl my vrou werk, tot en met die voltooiing van die manuskrip in Julie 2009.

Nadat die manuskrip deur Tafelberg afgekeur is, en toe deur Umuzi, moes ek om den brode van loopbaan verander. Ek en David het stelselmatig vervreemd geraak, en mekaar in Desember 2012 laas gesien.

Ek was nog nooit ’n stiptelike boekhouer nie, maar ek het vragte joernale (sonder datums), e-posse (met datums), en ’n goeie geheue.

Was, of is jy ook met sy eks-vrou, Marita, bevriend? Kom Simon in die prentjie? Hoekom word die boek aan “DB” opgedra, en nie aan Dave Bishop nie? Is dit om iets vas te vang van ʼn meer intieme, onverwagse vriendskap tussen julle?

Ek het Marita van der Vyver een keer ontmoet, tydens die bekendstelling van haar Bestemmings in die Somerset Mall. Ek het haar vlugtig meegedeel dat ek vir David ken, en dat ek werk aan ’n boek.

Ek en Simon is die enigste mense wat David goed geken (en ondersteun) het oor hierdie tydperk. Voor publikasie het ek aangebied om die naam Simon (’n plekhouernaam waaraan ek geheg geraak het) te verander, en beloof om my en David se ooreenkoms na te kom. Omdat dit my boek is, het Simon voorgestel ek skenk eerder ’n persentasie aan ’n liefdadigheidsorganisasie verbonde aan Stikland. Simon is net so verslae soos ek met die klakkelose aantygings van plagiaat.

Ek het die boek aan DB opgedra omdat George Moore nie David Bishop is nie. In haar resensie van my boek verwys Joan Hambidge na die “binne-leser” en die “buiteleser”. Myns insiens is DB voldoende vir beide lesers.

Is DB George? Hoekom of hoekom nie? Belig vir ons die raakpunte en ooreenkomste tussen die werklike persoon, DB, en die fiktiewe George Moore, “mal man”, vader en anargis.  

David en George deel heelwat lewenservarings – baie trauma – maar hulle beleef, en verwerk dit verskillend. Dit verstom my dat die sogenaamde destydse vriende van David hulleself nou hees kef dat omdat daar raakpunte tussen David en George is, die een noodwendig die ander is, maar terselfdertyd blind is vir die verskille. Die David wat ek geken het, was byvoorbeeld nie ’n boef en ’n dief nie. Ook, David was wel verwaarloos, nooit walglik nie.

Nog ’n voorbeeld: Ek het David gereeld uitgeneem vir ete (hy het graag ekstra vet bestel) en toe ons ná een so ‘n uitstappie die Bellville Spur uitstap, merk ek dat die restaurant se sleutels aan die buitekant van die deur hang. Ek het die deur toegestoot en gesluit. Ek en David het verstik soos ons lag, maar toe ons by die kar kom, het hy bleek geraak (dalk die ekstra vet), bekommerd teruggedraf, en die gevangenes bevry. George, daarenteen, sou die sleutels wegmoer, en die volgende oggend die plaaslike koerant fynkam vir beriggewing rondom die “traumatiese Spur-insident” en daaroor lag.

Hoe sien jy die verhouding, of die “skeidslyn” tussen die private en die publieke, wanneer daar ʼn duidelike agtergrond tot ʼn roman se inhoud is? Anders gestel: is dit vir jou belangrik om literêre tekste te lees met die sosiale konteks in gedagte?

Ek het nie ’n siening rondom só ’n skeidslyn nie, maar my boek ondersoek inderdaad daardie verhouding. Sosiale konteks is altyd betrokke, selfs by fantasieverhale en wetenskapsfiksie, maar ek dink nie dit is nodig (allermins belangrik) dat een of ander “sosiale konteks” op jou bedkassie moet sit en beenswaai terwyl jy lê en lees nie.

So, uit die staanspoor: Weet jy of Dave Bishop ooit aan ʼn manuskrip gewerk het, en waar hierdie manuskrip sou wees, indien daar wel een is? Indien wel, het jy ooit hierdie manuskrip gesien, en in oorleg met jou uitgewers met of sonder goedkeuring daaruit aangehaal, of enige gegewens daaruit verwerk?

Ek weet George het idees gehad vir ’n boek oor Bomber Harris, maar hoe ver hy gevorder het, weet ek nie. Dan was daar die idee vir Urija, ‘n poging om van die grens sin te maak, maar die naaste wat ek aan ’n manuskrip gesien het, was ’n sinopsis van 12 000 woorde met stuk-stuk prosa. Ek kan dit met jou deel, en jy sal saamstem: dit verskil hemelsbreed in terme van inhoud én styl van my skrywe rondom George se tyd aan die grens. Daar is niks wat ek met of sonder goedkeuring aangehaal of verwerk het nie.

Het jy ooit enige ander kreatiewe skryfwerk, soos briewe, gedigte of kortverhale, vanuit David se pen gelees?

All of the above.

Behalwe vir een paragraaf in die boek, “Hoe om ’n genie te kweek” (bl 146), in kursief gedruk, wat ek met David se toestemming uit een van sy briewe geleen het, is daar niks wat ek met of sonder goedkeuring aangehaal of verwerk het nie.

Is daar enige ooreenkomste tussen die oorledene se skryfwerk en skrywerstem, en jou eie, van wat jy kan aflei? Is dit ʼn relevante vraag, gegewe dat jy nie ʼn skrywersnota vir lesers voorsien waarin jy julle verhouding verklaar of opsom nie?

Vir my is dit voor die hand liggend dat daar geen ooreenkomste is nie, maar hoe sou ’n skrywersnota lesers oortuig? Indien dit enigsins relevant is, moet lesers maar self besluit deur David se skryfwerk met myne te vergelyk. Ek is seker daar is talle destydse vriende wat met e-posse van David gebombardeer is.

Die implisiete en eksplisiete veronderstelling in Deborah Steinmair se meningstuk (mens kan dit nie heeltemal ʼn resensie noem nie, daarvoor is dit geheel en al te eensydig en polemies van aard) in die Vrye Weekblad is dat beide Ruan Kemp, skrywer, en NB-uitgewers, korporatiewe eenheid, met Gedeeltelik bewolk hulle skuldig maak aan konkelwerk. “Plundery,” met ʼn hoofletter P. Skuldige en slagoffers, dus. ʼn Buite-literêre speurtog, met ʼn duidelike hipotese en verdagtes. Is jy genader deur die skrywer om insette te lewer voor die stuk die lig gesien het? Voel jy dat daar doelbewus ʼn smeerveldtog van stapel gestuur is om die roman verdag te maak?

Dis ’n raak beskrywing, Jonathan. Ja, desnietemin die verskuilde komplimente in Steinmair se kwasi-resensie, het ek nogal erg aanstoot geneem – en dit vanuit ’n blad wat hom roem op feite soek. Nee, ek is nie genader om insette nie. Dit is moontlik dat daar wel ’n kabaal kleingelowiges daarbuite is, maar ’n doelbewuste smeerveldtog sou uiters kinderagtig wees.

Kom ek vra reguit, want ek en talle ander wil en verdien om te weet: is jou uitgewer besig met ʼn fyn beplande bemarkingstrategie, waar daar soveel moontlik "hype" rondom die boek bewerkstellig word, en die uitgewer dan later met ʼn sak patats vorendag kom?

Nee, daar is net die gewone bemarking. My brein sê vir my: “there is no such thing as bad publicity”, maar my binnegoed is erg omgekrap.

Waarom Gedeeltelik bewolk as titel? En ook die baie interessante subtitel – ʼn lewensbeskrywing van ʼn mal man?

Die titel het die boek vooruitgegaan, ’n geval  van ’n boek wat by ’n titel pas. ’n Vriend het jare terug vertel hy gaan nog ’n boek oor die weer skryf, dit sal soos soetkoek verkoop, want almal praat die heeltyd oor die weer. Na Dawie Boonzaaier se geruggie in Rapport (dat ek ’n denkbeeldige manuskrip gegaps het) bel my vriend my en vra vir Boonzaaier se kontakbesonderhede; nee, hy wil aan Rapport vertel hoedat ek sy titel gesteel het.

Die subtitel heet só omdat "biografie" neig na nie-fiksie, én omdat die boek geskryf is in die trant van ’n reisbeskrywing.

The death of the author – in die Foucauldiaanse sin van die leser wat uiteindelik die teks se betekenis moet bepaal – hoe speel dit uit met Gedeeltelik bewolk? Gaan enige leser werklik die ‘kern’ van jou teks kan ontsyfer, of is dit doelbewus so geskryf dat elke leser sy eie betekenis moet skep, en dat elkeen se interpretasie noodwendig sal verskil en steeds geldig sal wees?

Ek het Foucault gelees; die helfte verstaan ek nie, en met die ander helfte stem ek nie saam nie. Soos ek vir Hannes van Wyk op Kwêla Boekminuut vertel het, die boek is ’n ui, lae op lae betekenis maar in die middel is daar niks. Die sin van ons bestaan is om betekenis te soek, en ek is seker die leser wat geduld het met die boek sal vind waarna hy soek.

Hoe skryf ʼn mens oor iemand wat "mal" is? Wat is die protokol wat jy volg, of moet volg?

Ek herhaal hier Verwoerd se "navorsingsmetode" wat ek geleen het vir die boek, en maak gebruik van "indinkingseksperimente", “omdat geen protokolle van die gevalle vir ons doel afgeneem is nie.”

Is die idee van ʼn mal protagonis bevrydend of inhiberend?

Vir die skrywer: bevrydend. Vir die karakter: bemagtigend.

Hoe reflekteer jy "malheid" in die struktuur van die roman, met sy vier verskillende afdelings en tydsgewrigte?

Die eerste en laaste boekdele is mal op volspoed, en bracket die middelste twee boekdele, wat George se grootwordjare en die voorgeskiedenis van sy geesteskwaal beskryf. In jou resensie vir Boeke24 merk jy op dat die twee middel-episodes net sowel uit ’n totaal ander roman kon wees. Dit is uiteraard hoe dit hoort, want dit speel af voor die bom-in-die-parlement-insident. Die doel van die brackets is om die leser tromp-op te konfronteer met die waansin en die walg, en dan die geduldige leser te beloon met die mens daarbinne.

Is elke skrywer nie ook ʼn bietjie trollie-af nie?

Wanneer vreemdelinge hoor ek het ’n boek geskryf, wil hulle natuurlik weet waaroor die boek gaan, dan sê ek dit is ‘n storie oor die avonture van ’n mal man. Dan vra hulle (natuurlik): “Is dit outobiografies?”

Hierdie roman is vol geweld – elke soort waaraan jy kan dink. Hoe skryf jy oor geweld – struktureel, fisies, en emosioneel of geestelik – sonder om bloot sensasioneel te raak?

Toe ek byna ’n dekade later my manuskrip afstof, het ek van heelwat sulke sensasionele tonele ontslae geraak. Ek sou nie ’n dekade gelede met soveel geweld my skeppinge kon verwoes nie. Dieselfde geld vir oulikgeite. Snoei.

Ek hoor graag oor die naamgewing in Gedeeltelik bewolk. Daar is baie duidelik ʼn tipe intertekstuele spel aan die gang, met onder meer Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie – vertel asseblief in soveel detail moontlik wat jou idee was met herkenbare fiktiewe karakters, en met George Moore, as ʼn naam vir jou gefolterde hoofkarakter?

Ek en Van der Vyver is beide deur David begeester en beseer. Van der Vyver se George was eerste. Die lesers moet self maar kies watter George hulle verkies, en of dit ooit dieselfde George is.

George is een van die mees fassinerende karakters wat onlangs op die toneel verskyn het. Hoe sal jou mees simpatieke leser hom "ontmoet"? Tot watter mate het sy karakter jou uitgedaag, en hoekom die besluit om so ʼn "bewolkte" en moeilike man te beliggaam?

As ’n man wat seergekry het. Dit was heel moeilik om ’n karakter met soveel helderheid van verstand die kluts kwyt te laat raak. Moeilik om ’n man wat seergekry het – wat beide helder en donker is – te verstaan. Moet in sy skoene staan.

Jou roman karteer ʼn duidelike fisiese, maar ook besliste geestesreis. Dis uiters lewensgetrou in die sin dat daar verskeie diep onverwagse afdraaie en uitdagende verhoudings na vore kom. Hoe vind jy betekenis in jou eie lewe, en wat vind George veral betekenisvol op sy eie reis?

Ek vind (soms) betekenis deur betekenis te soek. George kom baie naby, hy snap die lewe, maar die lewe is geniepsig. Hy is in ’n wurgjak gedruk, magteloos teen die dinge wat met hom gebeur. Die noodwendige frustrasie is tog vir ons almal in ’n mindere of meerdere mate herkenbaar.

Is om mal te word die begin, of eerder die einde, van sin maak en verstaan?

Die meeste mense is, streng gesproke, nie mal nie, maar hulle maak geensins moeite om sin te maak, om te verstaan nie. Die wêreld is mal. En dis hoekom George ’n martyr is; deur sy bewolktheid wys hy ander mense se tekortkominge uit.

Watter uitdagings het dit gebied om oor soveel verskillende landskappe en fisiese ruimtes, van die plaas, tot die huis, die straat, kroeg, malhuis, te skryf? Hoe vang jy ʼn plek of ruimte se essensie op papier vas?

Jy moet reis: plaas toe, strate toe, kroeg toe, inrigting toe. Jy moet gesels met plaasmense, straatmense, kroegmense, mense in inrigtings.

Jy werk al ʼn dekade of meer aan die roman – kan jy ʼn duidelike tydlyn teken van waar jy oorspronklik begin het, hoe die manuskrip vorm aangeneem het, en toe aanvaar is en ontwikkel is vir publikasie? Wie het jou begelei van die uitgewerskant met hierdie proses, en hoe het insette van jou redakteur jou gehelp, of uitgedaag?

Ek het die eerste sowat 3 000 woorde in een ruk in my vrou se kantoor in Augustus 2008 uitgeskryf, kort nadat ek en David van ’n weeklange reis deur die Noord-Kaap teruggekeer het. Hierna het ek met elke skrywe ge-back up via e-pos. Die skryfproses (en outeurskap) kan dus met forensiese akkuraatheid geoudit word.

Ek het die manuskrip op 20 Julie 2009 voltooi, die dekbrief op 22 Julie, en die manuskrip gepos. Tafelberg se stelsel wys hulle het die manuskrip op 29 Julie 2009 ontvang.

Toe ek teen Oktober nog geen terugvoering ontvang het nie, het ek telefonies navraag gedoen en verneem dat niks ontvang is nie. Ek het aangeneem dat my manuskrip moontlik tydens ’n poskantoor-strike weggeraak het. Ek het toe die manuskrip met die hand gaan aflewer. Tafelberg se stelsel wys hulle het dit op 7 Oktober 2009 ontvang.

Ek het ’n generiese afkeurbrief op 10 Februarie 2010 ontvang. Ek is nooit meegedeel presies hoekom my manuskrip onpubliseerbaar is nie, en ek kon nooit agter die kap van die byl kom nie.

Desember 2017 stof ek die manuskrip af en begin beitel.

Julie 2018 vertel ek aan Toast Coetzer tydens ’n Buckfever Underground gig op Bainskloof dat ek werk maak met my boek en dat ek selfpublikasie oorweeg.

Kort hierna kontak Etienne Bloemhof my en vertel dat Toast en Erns Grundling van mening is dat ek kan skryf maar dat ek nog nie gepubliseer is nie. The rest is history.

Te danke aan Etienne se besondere sin vir humor is die boek se potensiaal raakgesien. Solette Swanepoel het my  hand vasgehou deur die hele proses, en Solette en Anita van Zyl (beide geniaal) het my help spit en polish, en goeie voorstelle gemaak.

Hoekom het jy besluit om te skryf? Was dit ‘n kompulsie wat jy eenvoudig nie kon keer nie? Kies jy ʼn boek, of kies dit jou?

’n Snaakse ding het met my in Standerd 9 gebeur. My ma het vir my ’n kopie van André Brink se ’n Droë wit seisoen gegee. Dit het my kop oopgeblaas. Ek het ná die lees daarvan minder radiotjies en afluistertoestelletjies gebou en meer gediggies begin skryf. Ek het die soldeerbout vir die pen verruil.

Ek was opsoek na ’n boek toe ek een kry. Toe dit nie uitwerk nie, moes ek noogedwonge weer ’n kopskuif maak, die pen neerlê.

Wat loon aan skryf, en wat – behalwe vir media-sirkusse – is die moeilikste deel van die proses?

Skryf is sy eie beloning. Dit is lekker om ’n gedagte of ’n indruk neer te pen. Die moeilikste was, nadat ek besluit het nou word al hierdie snippertjies sketse ’n boek, daardie dae wat die legkaartstukkies net nie inmekaar wou pas nie, die skerm wit bly.

Waar kom jou liefde vir stories vandaan?

Van Bo. Ouma Babs se stories. Oom Leon se stories. Stories wat my ma van baie kleins af vir my gelees het.

Het jy gunstelinge wat skrywers en romans betref?

DeLillo is loshande my gunsteling, Libra is ’n boek wat ek nie genoeg kan lees nie. Steinbeck. Chatwin. Kapuściński.

Hoe beïnvloed jou liefde vir filosofie jou skrywe?

Ek het nog maar net my groottoon in die filosofie natgemaak. My belangstellingsveld is wyd.

Dien musiek en reekse enigsins as inspirasie?

Ek luister nie musiek terwyl ek skryf nie. Ek kyk nie veel reekse nie.

Jy is getroud – hoe beïnvloed dit jou manier van dink, indien wel?

Die huwelik is ’n lewende gewete. My vrou is ’n reality check, en my beste vriend.

Het jy ʼn vaste roetine wanneer jy skryf? En waar skryf jy?

Op papier: in die loop, of op die stoep. Op die skerm: in my studeerkamer, in stilte.

Jy doen briljante werk om mag en magstrukture te ondersoek. Groter strukture en regimes, en ook mag en kompleksiteit in intieme verhoudings, vriendskappe, kennisse en assosiasies. Waar kom jou mensekennis vandaan? Hoe baklei ʼn mens teen ʼn sisteem soos apartheid? Hoe hou jy kop in ons huidige post-apartheid konteks?

Ek dink die wreedhede van skoolkoshuis het my sterk gemaak. Ek het ’n weersin in arbitrêre mag, en om dieselfde rede, ’n minagting vir ja-basies. Ná skool, veronderstel om te swot, het ek twee jaar die underbelly van Pretoria deurkruis, en baie survivors tussen die uitgeworpenes en die wegkruipers gevind. Met tyd het my Pa my vergewe dat ek twee jaar opgedinges het: “ten minste is jy nou street wise.”

Hetsy apartheid of post-apartheid; ek dink mens hou kop deur óf die inherente leuen van arbitrêre mag uit te wys, jouself teen elke sulke stelsel te verset, óf om te verdwyn.

Verhoudings gekoppel aan trauma word tot op die been ontgin in Gedeeltelik bewolk – veral die verhouding tussen ouer en kind, en die verlies van ʼn kind word met groot deernis aangepak. Wat was die grootste uitdaging met die skryf van karakters wat pyn ervaar en met daardie pyn moet saamleef, tot verhaal kom? Het die skryf jou meer empaties gemaak?

Om oor die dood van ’n kind te skryf, was bitter pynlik, amper ondenkbaar moeilik. Nie vir ’n oomblik sal ek beweer dat hoeveel empatie ook al, enigsins genoeg is nie.

Waar sou jy jouself op die introvert-/ekstrovert-skaal plaas? Hoe beïnvloed jou siening van mense wat jy skryf? Is jy geneig om meer sinies te wees, of probeer jy om die goeie in mense raak te sien?

Ek is oorwegend ’n introvert, en my vriendskappe is eg. Ek is eerder skepties as sinies, en ek gaan nie uit my pad uit om die goeie in mense raak te sien nie; dit ís daar, of dit is nie.

Hoe gaan jy te werk, as betreklik onervare skrywer, om volronde karakters te skep, om dialoog lewe te gee, en om prosa te stileer wat die leser se aandag enduit behou? Wat is die beste raad wat jy al ooit by iemand gekry het – buite die sfeer van skryf – en binne die raamwerk van die romankuns, met sy woorde en wysheid?

Ek was bederf met George deurdat hy deels op ’n regte mens geskoei is. Kom ons kyk hoe vaar ek met boek twee. Lewensgetroue dialoog leer mens deur te luister, én deur af te luister. Stilering verg oordoen en oordoen met wreedheid.

Beste raad buite die skryfwêreld: Moenie tob oor hoekom nie, vra hoe?

Binne: Moenie wag vir inspirasie voordat jy voor die tikmasjien inskuif nie.

Write what you know? Of nie so eenvoudig nie?

Skrywers is eerstens lesers.

Wat inspireer jou?

Mense wat voet neersit, sê genoeg is genoeg, nie bang is nie.

Is daar onderwerpe waaroor jy liefs nie sou wou skryf nie?

Sportsterre, sakereuse, selfhelpwenke.

Voel jy enige druk om oor maatskaplike kwessies te skryf? Behoort skrywers ʼn verpligting te hê om oor die samelewing waarin hulle hulself bevind, te skryf?

Die term "maatskaplike kwessies" maak my bedruk. Daar is natuurlik geen verpligting nie, maar ook weinig wegkom van (somehow) skryf oor die samelewing waarin jy jouself bevind.

Humor, donker en aweregs, skyn deur die bewolktheid in jou roman. Watter rol speel humor, en lekker lag, in jou alledaagse lewe? George se verhaal is vreeslik tragies in vele opsigte, maar hy is ook "wys" – is hy ʼn soort "wise fool"? Are those with greater insight into the cruelty of this world doomed to suffer?

My vriende stel voor ek lag meer en kla minder. Jy som George goed op.

Hoe gaan jy te werk om te verseker dat jy nie jou karakters gebruik bloot om buikspraak vir jou eie opinies en waardes weer te gee nie? Is daar ooit iets soos ʼn skrywer wat objektief na die wêreld om hom/haar kan kyk?

Ek mag met graagte deur ’n karakter praat, en ek mag iemand anders met ander opinies deur óf ’n ander óf deur dieselfde karakter maak praat. Ek dink Major Tom is redelik objektief: “Far above the moon. Planet Earth is blue. And there’s nothing I can do.”

Hoe reageer jy op die veronderstelling dat jy eenvoudig te jonk is om die vergange dae, en die troebel tydsgees en manier van praat, vas te vang? Is dit nie ʼn uiters, uiters naïewe siening van die skrywer se verbeelding nie?

Naïef is nog een ding; ek dink hierdie veronderstelling is bloot onsinnig: dat my lees- en luisterwêreld beperk moet wees tot die kontemporêre. Al my ghoeroes kom dan uit die ou tyd.

Vertel asseblief meer oor Camus as leidende interteks in jou roman, en die ander literêre verwysings, so volop?

Marita se George was natuurlik eerste Camus-mal, maar David was wel rêrig erg oor Camus. Ek het alles deur hom gaan oplees en ook ’n aanhanger geraak. Camus het my ook op ’n spoor gesit wat my by Hayek uitgebring het; selfde boodskap as Camus, maar baie duideliker.

Is dit onafwendbaar om ons verhoudings met die dooies te verromantiseer? Is die persoon wat ek geken het, en die een wat jy geken het, noodwendig dieselfde mens?

Ek dink dit is ewe maklik om iemand op te hemel as om iemand af te duiwel. Elke mens het baie mense in hom; so ja, ek en jy ken dele van dieselfde mens.

Is skryf jou poging om die dood te besweer, en jou eie feilbaarheid en swakhede in die gesig te staar?

Ek is nie bang vir my eie dood nie, maar ek is bang vir baie dinge. Skryf is een talent, en ja, dus een wapen teen die bang.

Dit wil tog voorkom of die skinderbelustigdes hul verlekker in die kontroversie rondom wat in vele aspekte ʼn absoluut voortreflike roman is. Dit sou waarlik tragies wees as een van die mees oorspronklike, aweregse, onverwagse en evokatiewe (debuut)romans van ons tyd nie behoorlik na waarde geskat sou word nie, as gevolg van buite-literêre redes en persoonlike vetes wat die voortou neem.

Dit sal hartverskeurend wees, soos dit was toe my manuskrip in 2010 om buite-literêre redes afgekeur is.

Hoe beskut jy jouself teen kritiek, en wat motiveer jou wanneer jy skryf?

As die kritiek eg is, het ek geen beskutting nie.

Woede is ’n great enjin. Die swart hond by my voete help ook. Eindelik is die groot motivering die soeke na betekenis.

Empatie. Ongemak. Uiteindelike begrip. Is dit wat jy wou daarstel met hierdie skrywe? Watter reaksies tot dusver het jou die meeste genoegdoening verskaf, en waar het jy bloot jou kop geskud?

Ek hoor hier Fanie Olivier se resensie, en hy is in die kol.

My gunstellingreaksie was Beth Hunt, van Hemingway’s Bookshop op Hermanus, se kinderlike opgewondenheid oorlat ek my boek gepubliseer kon kry. Sy het die boek nie eers gelees nie, maar sy wou alles van voor tot agter weet, my laat sit in ’n gemakstoel en het vir haarself ’n voetstoeltjie nadergeskuif en uitgevra en uitgevra. Dit was baie spesiaal.

Ek skud my kop oor hulle wat blaffend aandring dat George David is.

In hierdie tydsgreep van fopnuus en waarheid-as-konsep wat gedurig bevraagteken word, voel jy verplig om kompleksiteit en veelvlakkigheid/veelkantigheid as jou skryfwerk se kenteken te maak? Is dit nie uiteindelik absoluut wonderlik dat jy iets kon skep wat soos ʼn literêre Rorschach-toets iets anders wakker maak in elke leser nie?

Veelvlakkigheid is non-negotiable in hierdie ambag, en die enigste verpligting wat ek voel, is om leuens uit te wys.

Ek hou van daai beeld: ʼn literêre Rorschach-toets.

Is Gedeeltelik bewolk vir jou ‘n soort kruistog? Was jy en jou redakteur en uitgewer behoorlik voorbereid op die storm wat sou losbars? Hoe pantser jy jouself teen kritiek?

Pasop, een van die dae is die woord ‘kruistog’ rassisties; gewapende Christene wat heilige plekke van Moslems suiwer.

Ek het ’n mate van belangstelling verwag, definitief nie aantygings van plagiaat nie.

Ek het nie ’n probleem met kritiek nie, ek het ’n probleem met leuens.

Sou Dave Bishop Gedeeltelik bewolk geniet het? Is hierdie jou eerbewys, of monument, aan hom? Het dit al enigsins opgekom dat iemand jou gekontak het en laat weet het: “Ruan, hierdie is ʼn kak boek?”

David het nie van my manuskrip gehou nie, syns insiens was dit ‘reddeloos’ (dis op rekord), maar hy sou die relletjie wat die boek ontketen het, geniet het. Ek kan my verbeel ek hoor hom lag. Ja, die boek is ’n monument aan hom.

Moet jou leser vertroud wees met die konvensies van fiksie en die metafiksionele spel om sin te maak van jou roman? Sien jy skryf as ʼn soort spel (in wese seker ook magspel) tussen skrywer en leser?

Nee wat, mens kan mos maar bloot lees vir ontspanning of vir die uitdaging.

Ek is ’n amateur as dit by game theory kom, maar ek kan Sylvia Nasar se A Beautiful mind aanbeveel, ’n biografie oor John Nash, ’n baanbreker op hierdie gebied.

Is daar ʼn regte of verkeerde interpretasie van wat jy hier doen?

Is interpretasie nie ’n mensereg nie?

Was die skryf van Gedeeltelik bewolk tot ʼn mate jý wat windmeulens bestorm, op ʼn soort pelgrimstog gaan waar die eindbestemming nooit heeltemal in fokus kom nie? Ek meen, jy moet nogal waansinnig wees om so ʼn projek aan te pak?

Ek dink jy’s reg. Call me Don.

Wat beteken die woorde "inspireer" en "inspirasie" vir jou? Wat, in die literêre konteks, is "fair game", en wat is "off-limits"?

Wat noem jy ’n hasie in die Spur?

Ek dink dit wat fair game en off-limits is, is nie veel anders in die literêre konteks as wat dit in die reg is nie.

Verduidelik asseblief hoe die idee van iemand wat "van hulle sinne beroof is" op verskeie vlakke in jou roman ter sake is.

Dis ’n grappie wat ek eerder vir die leser los.

Wie is Ruan Kemp wanneer hy nie skryf nie? Vertel bietjie van jou avonture en ervarings in die buite-literêre wêreld voor jy begin skryf het?

Voordat ek kinders gekry het, het ek gereeld godsvoet geraak, dan stap ek vir dae, weke aanneen, klouter kranse, klim berge. Ek het dwarsoor Spanje gestap, ek het van Pennington Koffiebaai toe gestap, Jeffreys tot Plett, Hermanus tot Stilbaai. Ek is deesdae rustiger.

Misdaadfiksie en liefdesverhale verkoop soos soetkoek; gaan die volgende Ruan Kemp-roman iets wees wat op die oog af betreklik straightforward blyk te wees, maar iets wat die spot dryf met sekere persone? Roman à clef à la Ruan Kemp?

Roman à clef: maybe.

À la Ruan Kemp: definitief.

Het die eindproduk jou verbaas in sekere opsigte?

Baie mooier uitgekom as wat ek myself verbeel het. Die tipografie en die omslag.

Hoe voel Simon oor die boek? Het jy met hom geskakel toe jy geskryf of redigeer het?

Simon is van mening dat ek vir David, ’n eksistensialis, die grootste geskenk moontlik kon gee: betekenis.

Ek en Simon is gereeld in verbinding. Hý is ’n inspirasie – bitter moeilik grootgeword, nou is hy ’n mooi, sterk man en goeie pa.

Wat is jou reaksie op hierdie brief van Julia Viljoen wat Woensdag in Die Burger verskyn het (https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/hoofkarakter-gn-fiktiewe-skepping-20190806) waarin Viljoen vir erkenning vra vir Bishop se rol in die boek?

Skud kop.

Ter afsluiting: is jy enigsins, vir een oomblik, spyt dat jy die boek geskryf het? Waarop is jy die meeste trots?

Nee, ek is nie ’n sekonde spyt nie. Ek is baie trots op my boek, maar ek is veral trots op George, dat hy nie tou opgooi nie, dat hy aanhou voortskroef die onregverdigheid in.

  • 12

Kommentaar

  • Fantasties, perfekte reaksie. Ek is absoluut mal oor die boek en het die nuusberigte gevolg, en was baie teleurgesteld oor sekere aantygins. Maar hierdie antwoorde sal almal hopelik laat besef dat hulle moet erkenning gee waar dit nodig is, en nie net kritiek sonder enige fondament op iets so briljant nie.

  • My storie, jou storie en die waarheid... dis hoogtyd dat Ruan Kemp se kant van die saak aangevra word.

  • Marita van der Vyver

    Baie dankie, Ruan Kemp, vir hierdie deeglike en breedvoerige antwoorde op vele vrae wat lesers tot dusver gepla het. Ek dink jy is werklik 'n goeie skrywer en sien uit na jou volgende boek.

  • Robert van Staden

    Gedeeltelik Bewolk is een van die briljantste Afrikaanse romans wat ek nog ooit gelees het - en ek lees baie. Ek was so weggeblaas dat ek dit twee keer na mekaar gelees het. As dit nie volgende jaar al die literêre pryse wen nie, is daar groot fout met die Afrikaanse letterkunde. Baie dankie, Ruan Kemp. En dankie vir al jou insiggewende antwoorde.

  • Baie dankie, Marita. Tesame met Beth Hunt se opregte belangstelling in my boek, is jou reaksie my gunstelling; 'n kompliment deur 'n skrywer wie ek baie hoog ag.

  • Deborah Steinmair

    Ek weet ’n mens lewer nooit repliek op ’n repliek nie. Jy bly weg uit die modder en stel jouself nie verder bloot nie. Maar ek voel ’n repliek in my kriewel. En ek gaan my nie bedwing nie.

    Almal wat my ken, weet ek het net liefde in my hart. Boeke is my asem en ek sal moeite doen om alle skrywers aan te moedig.

    Ek ken Ruan Kemp nie van Adam nie en het geen agenda teen hom nie, wou hom nie ‘verdag maak’ of aanval nie. Niemand het my aangesê om die gewraakte artikel te skryf nie, nie eens Vrye Weekblad nie. Ek het self besluit om oor die boek te skryf omdat ek soveel vrae gehad het (soos baie ander mense). En nee, Jonathan en Ruan, dit was nie ’n resensie nie, nie eens ’n kwasi-resensie nie.

    My en ander lesers se vrae is geensins beantwoord in hierdie kwasi-onderhoud vol leidende vrae nie. Moet die vraesteller nie ten minste objektiwiteit waan nie – en as hy wel vir die skrywer woorde in die mond lê, moet hy nie ten minste die vraag waarin hy soos ’n souffleur voorsê, weglaat nie?

    G’n inkilte antwoord is verskaf nie. Dit lyk my Kemp het gegryp na my strooihalm (dat die George in Marita se boek baie sexiër is as in syne) en dring daarop aan dat George NIE David Bishop is nie. Goed en wel, hy is nie die DB wat met Marita van der Vyver getroud was nie, maar moontlik wel die afgetakelde man wat die strate van Kaapstad bewandel het.

    Jonathan verskaf selfs ’n skakel na ’n baie geldige vraag van ’n Burger-leser:
    Hoofkarakter geen fiktiewe skepping: Uit die resensie van die roman Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (DB, 05.08) lyk dit asof die resensent Jonathan Amid opreg glo die hoofkarakter in die roman is ’n louter fiktiewe skepping. Allesbehalwe. Die verhaal van George Moore is in breë strekking sowel as verbasende besonderhede gegrond op die lewe van ’n man wat talle van ons Kapenaars geken het.
    As Amid inderdaad hier onder ’n wanindruk verkeer, verras dit nie. Daar word immers nêrens in die boek erkenning gegee aan dié mens se rol in Kemp se boek nie. Al petieterige aanduidinkie van die man wat Kemp se verhaal so kant en wal vol staan, is die motto voorin: “In memoriam DB.”

    Wat antwoord Ruan Kemp hierop: “Skud kop.”

    Regtig?

    Dis duidelik dat lesers nie antwoorde gaan kry nie. Staak dan maar ook die beeldpoetsoefeninge. Die wolke sal oorwaai.

    En wat presies is jou rol in hierdie troebel klein poel, Jonathan Amid? Dis duidelik dat jy briljant en belese is en jou entoesiasme vir boeke is lieflik. Maar as ek ’n wenk mag gee: Curb your enthusiasm. Elke debuut kan nie ’n grondverskuiwende kragtoer wees nie. En waak daarteen om enigeen se handpop te word.

    Ek sluit af met ’n Amid-aanhaling: “Hoe meer lesers gesprekke oor die Lettere voer, hoe beter. Hoe meer stemme, hoe meer vreugde.” Dankie.

  • 'n Skrywer WIE ek hoogag?
    Wat 'n kragtoer dus, om die destydse Hiemstraïsmes, aldus sommige lesers, so deeglik te kon bemeester het.

  • Etienne Bloemhof

    Dankie, Marie, 'n kragtoer is Ruan se roman gewis. Ek wil net graag daarop wys dat NB se redaksielede en medewerkers ook 'n bydraetjie lewer wanneer dit kom by die finale versorging van 'n manuskrip – as dit nie nodig was nie, was uitgewerye deur die bank veel meer winsgewend as wat wel die geval is. Glo my, élke skrywer het maar sy of haar hebbelikhede . . .

  • Johannes Le Roux

    Ek het Gedeeltelik Bewolk verorber gedurende ‘n lang vlug tussen Kaapstad en Sydney. Die boek vryf nou skouers met ander op die ‘spesiale’ rak in my boekrak; Huxley, Orwell, Mathabane, Coetzee, van Niekerk, ens. Ek was uiteraard van die saak geintereseerd oor ander se menings oor hierdie fantastiese boek, wat my gelei het na artikels in die Vrye Weekblad, Rapport, Die Burger en Litnet. ‘n Effense media stormpie, maar dalk nie so groot soos Julius Malema se keuse om ‘n Gucci handsak saam met ‘n rooi overall te paradeer nie – dit het nou die media behoorlik aan die gons gehad!

    Ek was natuurlik geboei deur die aantygings van plagiaat deur Deborah Steinmar. As ‘n akademikus in die natuurwetenskappe is ek bewus wat sulke aantygings inhou vir enige outeur, en dat ‘n mens nie sommer plagiaat skreeu sonder konkrete bewyse nie. En dis hier waar ek ongelukkig nie verstaan wat presies Steinmar se voornemings met haar aantygings is nie, sekerlik stel sy haar self bloot in die afwesigheid van enige bewyse vir haar uitlatings?

    Die Vrye weekblad artikel wenk dat Steinmar nie regtig belangstel om Kemp se antwoorde op haar (en ander lesers s’n, myne ingesluit) vrae nie te hoor nie, tenspyte van die feit dat sy beaam om hard aan die soek te wees na antwoorde. Hoekom het sy Kemp nie self gekontak met al haar vrae nie? Haar Vrye weekblad artikel se ‘scenarios’ ontduik ‘n vierde een, in my opinion die mees waarskynlikste: dat Kemp so briljant is as skrywer dat hy selfs gesoute lesers wat Bishop goed geken het kan flous om te dink dat laasgenoemde die skrywer was!

    Ek moet bieg dat ek Steinmar se volle naam en van deur Google moes sit om te sien wat aan die anderkant uitkom. My kubersoektog het dit duidelik gemaak dat sy een van die beste persone is om ‘n mening te hê oor Afrikaanse literêre sake; sy is belese, ‘n skrywer, ‘n joernalis en ‘n redakteur by Protea Boekhuis. Op die ou einde van die dag kan ons, die jan-alleman lesers, slegs ons eie opinies vorm oor wat presies hier aan die gang is. Myne is dat Steinmar iets weet wat ons nie weet nie, maar wat ons geregtig is om te weet óf dat daar ander versteekte redes is gegewe haar duidelike invloed in die Afrikaanse literêre omgewing. Byvoorbeeld, ander outere wat direk deur Gedeeltelik Bewolk geraak, word ook deur Protea Boekhuis gepubliseer. Ek hoop van harte dat ek verkeerd is in beide gevalle, maar dit maak nie die aantygings teen Kemp minder ernstig nie.

    ‘n Mens kan weg bly “uit die modder en … jouself nie verder bloot [stel] nie”. Ek het dalk ‘n onnodige modderbol geslinger, ek hoop ek het mis gegooi.

  • Sandra Pretorius

    Een vraag wat ek graag beantwoord wil sien: As Van der Vyver Kemp se verduidelikings kan aanvaar, hoekom wil Steinmair nie?

  • Maar aanvaar Van der Vyver daardie verduidelikings? Haar versigtig bewoorde opmerking laat nie blyk hoe sy eintlik voel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top