Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer Alta Cloete vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit haar jongste romanse, Vir altyd lente:
Dag 10: “Om die swart hond te tem in die tyd van korona” deur Alta Cloete
Die jaar 2019 was vir my ’n goeie jaar, ná ’n paar jaar waarin die swart hond van depressie voortdurend aan my hakskene gebyt het. Ek het lanklaas ’n jaar met soveel optimisme tegemoetgegaan soos vir 2020.
Alles gaan klopdisselboom. Ek praat my man (baie maklik) om vir ’n vinnige trippie Kgalagadi toe ná die onlangse reën. Ons ry deur die droogtegeteisterde Noordwes-Kaap (die Kenhardt-omgewing, noord tot by die Kalahari) en ons praat met die mense. Ons sien swaarkry en vasbyt en ons kom nederig en dankbaar terug.
In Februarie toer ons vir twee weke in die Oos-Kaap. Ons soek ou vriende op, ons soek geliefde plekke op. In Addo stap die matriarg van ’n trop met ’n baie klein baba so naby ons verby dat ons die beeld moet uitzoem om die video geneem te kry. In die Bergkwaggapark kopspeel die bokke in die goue laatmiddaglig en die eerste nag sing die reën op ons sinkdak.
Ons kom veilig terug in die Boland en ek val vinnig van my pienk wolkie af, die harde werklikheid in. Ons vallei is warm en droog en ons berge is aan die brand. En stadig, stadig kruip die nuusberigte uit die Ooste nader en nader. Ons leer ’n nuwe woord: korona. Ek stoot dit van my weg. Dis ver. Ons is veilig. My kinders in Noorweë is veilig.
Een goeie oggend noem Ouboet oor Skype asof terloops: “Ons is gevra om van die huis af te werk.” Hy is geensins ontsteld nie, want hy begeer min dinge méér as om ongestoord met sy navorsing voort te gaan. Ek verset my verbete teen die kommer – tot ek Noorweë se koronasyfers gaan naslaan. Toe weet ek: Hierdie ding is werklikheid. Enkele dae daarna word dit regtig ook óns werklikheid: Die noodtoestand word afgekondig. Na die President se toespraak staan ek in my kombuis met my hand op my hart en sing valserig die eerste paar reëls van die volkslied.
My sogenaamde primitiewe brein skop oorentoesiasties in: My keuse is veg, en veg sal ek veg. En ek weet dadelik my grootste geveg gaan (hopelik) nie teen die virus wees nie, maar teen depressie.
Ek span al die wapens in wat ek deur die jare in my arsenaal versamel het. Ek stap en ek strek en ek mediteer en ek doen my asemhalingsoefeninge en ek eet (min of meer) reg en ek predik dankbaarheid en positiwiteit vir almal wat wil hoor en nie wil hoor nie. Ek begin stadigaan meer kos koop en pak my kaste geleidelik vol. Ek is hoegenaamd nie paniekerig nie.
En ek geniet die grappies wat soos manna uit die hemel van iewers uit die Afrikaner-psige op ons almal neerdaal. Ek stuur grappies rond vir ’n vale.
Teen die tyd dat president Ramaphosa die tyd van inperking aankondig, is ek in hoogste versnelling. Ek koop nog kos en – asof dit ’n sonde geword het – skaam-skaam ook toiletpapier. Op die drie dae voor inperking ry ons elke dag uit en gaan sit op ’n bergpas, kyk uit oor ons vallei en eet ’n nederige maaltyd. Geleidelik besef ek ek is besig om plekke te groet, waar ander mense hulle families groet. My kinders is ver en my familie is ver en hulle is in elk geval almal op my drumpel via die tegnologie. Die heel laaste aand gaan stap ons ’n ekstra vyf kilo’s op ons ou roete en ek groet elke huis en elke hond wat ek al vir jare soggens halfses nukkerig aankyk.
Die eerste drie dae van inperking werk ons hard aan ’n nuwe roetine. Ek is gewoond van die huis af werk, gewoond aan my eie ruimte, gewoond aan ’n man wat lang ure werk. Maar nou is hy hier, elke uur van elke dag. Ons vaar wonderlik goed, want hy is ’n dierbare, verstandige, kalm man en ek is vol van ’n vreemde kombinasie van adrenalien en kalmte.
Die grootste verlies in die nuwe leefstyl is om na 26 jaar se vaste gewoonte skielik nie soggens te mag gaan stap nie. Die slimfoon wys gou-gou vyf kilo’s behels 60 maal om ons huis. Ons doen dit in twee skofte: 30 soggens, 30 saans. Saans stap die bure se lewendige hondjie saam. Saterdag doen ons ons parkrun om die huis. Ons voel goed, ons raak hierdie ding baas.
Ek weet lankal ek is liggies verslaaf aan Facebook, maar nou kan ek my hande nie van my foon af hou nie. Ek deel en deel en deel tot ek myself irriteer. Grappies by die dosyne, sinvolle artikels, foto’s van ons laaste uitstappies, wenke vir persoonlike groei. En nog grappies.
Ek kan nie meer in my geliefde koffiewinkels gaan skryf nie, maar ek maak ’n plan. Elke dag moet my geduldige man my in ’n ander vertrek afneem met my laptoppie paraat gereed om te werk. Ek gryp die grappies van Spice Route en Mugg & Bean en Ocean Basket gretig aan, en my Facebook-maters se waardering vir my foto’s laat die goedvoelhormone deur my spoel.
Elke middag vieruur drink ek oor Skype of WhatsApp-video heerlik koffie saam met iemand wat vir my kosbaar is. Ek kuier meer as wat ek onder normale omstandighede kuier.
Ek kontroleer my blootstelling aan die nuus noukeurig, sodat die harde feite my nie oorweldig nie. Maar diep in my hart weet ek: Dit gaan erger word voor dit beter word. Ek verlustig my in berigte van gesinne wat saamkom, van besige mense wat tot stilstand gedwing word en mekaar weer regtig raaksien, van inkeer en dankbaarheid en doelbewuste pogings om die beste van hierdie uitdaging te maak. Maar ek weet die hele tyd ek funksioneer uit ’n hoek van ongelooflike bevoorregting.
’n Week is verby. My vlaag adrenalien is besig om in die sand van die werklikheid weg te syfer. Maar ek het dit tot hier gehaal. Ek is dankbaar vir tallose klein seëninge, ek is trots op ons nasie, ek is meer connected as ooit in my gewone lewe.
Maar ek weet van die matelose lyding wat vir die weerloses voorlê. En dit breek my dankbare, nederige, hoopvolle hart.
Alta lees voor uit haar jongste romanse, Vir altyd lente:
Titel: Vir altyd lente (e-boek)
Skrywer: Marilé Cloete (romanse-skrywersnaam van Alta Cloete)
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799399318
Opsomming:
Jennie neem een dwase besluit en dit kom haar duur te staan. Sy breek uit ’n toksiese verhouding en keer terug Klein-Karoo toe. Haar ouers het geen genade nie – en sy word werkloos; swanger en alleen gelaat. Herman was nog altyd daar en hulle is al jare vriende. Maar nou is vriendskap nie meer genoeg nie.
Lees ook
Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen