Emosionele oorlewing in die tyd van korona

  • 3

Was jou hande! Bly by die huis! Moenie aan jou gesig vat nie!

Ja, instruksies oor hoe om die verspreiding van die virus te beperk, kom van alle kante op ons af.

Soms is daar ’n paar instruksies op die lysie wat vaer is, moeiliker om vas te vat, ingewikkelder om uit te voer: Bly kalm! Moenie paniekerig raak nie!

Ja, die fisieke sy van enige situasie is dikwels makliker om te hanteer as die emosionele aspekte. Ons is nou eenmaal geneig om ons fisieke welsyn bó ons emosionele gesondheid te stel. As ons in hierdie tyd egter nalaat om ook na ons geestesgesondheid om te sien, kan die pandemie merke op ons laat wat ons nog lank ná die fisieke bedreiging verby is, kan affekteer.

Vir diegene van ons wat saam met ’n geestesiekte leef, is dit ekstra belangrik om in hierdie tyd noukeurig na onsself om te sien. En nee, dis nie selfsugtig om eerste aan jouself te dink nie. Dis ons verantwoordelikheid om mooi na onsself te kyk, juis sodat ons ook in staat kan wees om ’n wyer bydrae te lewer, op watter maniere ook al in ons situasie van toepassing is.

As iemand wat saam met depressie en angs lewe, moes ek die afgelope tyd mooi introspeksie doen en besin oor hoe ek hierdie uitdaging gaan hanteer. Want ja, soos met alles in die lewe, het ons ’n keuse hóé ons op die virus gaan reageer.

Ek noem graag ’n paar punte wat vir my as belangrik uitstaan. Ek beweer hoegenaamd nie ek kry dit alles reg nie, maar dit gee my iets om op te fokus en na te streef.

  • Indien jy saam met ’n geestesiekte leef, wees in hierdie tyd ekstra op jou hoede vir ’n insinking. Neem jou medikasie, gebruik elke moontlike ondersteuningstelsel, doen toegewyd die dinge wat jy weet jou kan help.
  • Maak seker dat jou inligting korrek is en dat jy nie onnodig ontsteld raak oor onbetroubare “feite” nie. Hierdie diens van die Departement van Gesondheid kan jou help.

  • Moenie elke nuusbrokkie wat jy ontvang, outomaties wyd en syd aanstuur nie. Neem ’n oomblik om te dink of dit werklik nodig en nuttig en bowenal korrek is.
  • Spreek mense aan wat onsinnige/foutiewe/dwase/opruiende inligting rondstuur. Sorg dat die verspreiding daarvan by jou stop.
  • Konsentreer op inligting waarmee jy iets kan doen. Is dit werklik noodsaaklik om die verloop van die virus in elke liewe land noukeurig dop te hou?
  • Wees ekstra versigtig op sosiale media. Ja, dit kan wondere verrig in ’n tyd van selfisolasie om met mense in kontak te bly. Maar pasop vir te veel skermtyd, te veel memes, te veel brokkies inligting waarmee jy nie werklik iets kan doen nie.
  • Bestuur wat jy op sosiale media sien. Onthou van die Unfollow-knoppie op Facebook. Skakel “vriende” uit wat ontstellende goed rondstuur.
  • Dink ’n oomblik voor jy memes en skakels deel. Is dit waar? Is dit nodig? Is dit nuttig?
  • Neem die besluit om op enige denkbare manier ’n positiewe bydrae tot die situasie te lewer. Selfisoleer waar moontlik, werk van die huis af indien moontlik, was jou hande. Moenie dink jou klein bydrae is nie belangrik nie.
  • Positiwiteit beteken nie ontkenning nie. Ons moenie hierdie ding onderskat nie. Maar ons moet ook nie so beangs raak dat ons ons greep op die werklikheid verloor nie.
  • Moenie al jou aandag op die verloop van die virus toespits nie. Om ’n bal-vir-bal-verslag van die wêreldwye verloop van die pandemie te volg, kan tot geweldige angs lei. Besluit liewer om byvoorbeeld een of twee keer per dag op hoogte van sake te kom en daarmee te volstaan. Onthou, daar is nog ander dinge in die lewe ook wat ons aandag nodig het.
  • As jou gejaagde lewe hierdeur tot stilstand gedwing word, benut die kans om na binne te draai en ’n bietjie te besin en stiller te word.
  • Gee aandag aan jou geliefdes se emosionele toestand. Dra veral sorg dat kinders en bejaardes nie oorval word met die soort inligting wat tot paniek kan lei nie.
  • As jou lewe dalk ’n bietjie leeg is, gebruik die kans om te besin oor waar jy ’n positiewe bydrae kan lewer. Ook wanneer hierdie tyd verby is.
  • As jy ’n ietwat selfsugtige persoon is, gebruik die geleentheid om wyer as jou eie heil te probeer dink. Jou beloning kan groot wees.
  • As jy ’n hoogs sensitiewe persoon (HSP) is, aanvaar dat die emosionele impak van die situasie op jou sterk gaan wees en kyk ekstra mooi na jouself. (Jy kan hier ’n aanduiding van jou sensitiwiteit kry: https://hsperson.com/test/highly-sensitive-test.)
  • Fokus doelbewus op dinge om voor dankbaar te wees. Daar is áltyd iets om voor dankbaar te wees.
  • Gebruik die geleentheid om gedagtigheid (bewustelikheid, “mindfulness”) te beoefen. As jy nie vertroud met die begrip is nie, lees gerus hier: https://mindfulness.org.za.
  • Meditasie hang nou saam met gedagtigheid. Nee, jy hoef nie ’n Boeddhis te word of jou lyf in onmoontlike posisies te knoop nie. Meditasie is eintlik net ’n manier om uit jou knaende gedagtes te kom en op jou sintuiglike ervaring te fokus. Gereelde meditasie kan help om kalmte en irritasie te verlig. Op YouTube is massas meditasies van verskillende lengtes beskikbaar. Insight Timer is ’n toepassing wat baie goed werk om jou aan te spoor om elke dag ’n tydjie aan meditasie af te staan.
  • Asemhalingsoefeninge is fisiek vir jou goed, omdat jy meer suurstof inneem, maar kan ook wondere vir ’n onstuimige gemoed verrig. Talle oefeninge is op die internet beskikbaar. Die kernbeginsel om angs te verminder, is om jou uitaseming langer as die inaseming te maak. Asem byvoorbeeld vir vier tellings in, hou jou asem vir nog vier tellings in, asem uit vir ses, hou vir twee. Herhaal. Glo my, dit werk!
  • Oefening is een van die heel beste stresontlaaiers wat daar is – enige oefening wat vir jou werk en op lang termyn volhoubaar is. Joga kan baie ontspannend wees. Selfs net ’n paar strekoefeninge bring voordele.
  • Probeer om elke dag (op ’n veilige plek) in die natuur uit te kom, al versorg jy net ’n enkele plant op jou balkon.
  • Musiek – enige musiek wat jou hart bly maak – verlig spanning en bring vreugde. Verskeie nuwe stromingskanale is alreeds beskikbaar. https://www.vulture.com/2020/03/coronavirus-the-metropolitan-opera-to-stream-free-operas.html?utm_campaign=nym&utm_source=fb&utm_medium=s1&fbclid=IwAR1dxV-eFnH-ey1f20k1454JJiGyRmS6aOB26q65bfPZZm1WgPGQHMwmkzQ.
  • Enige vorm van kuns wat tot jou spreek, kan jou nou ekstra baie help. Daar is al reeds wonderlike goed aanlyn beskikbaar. https://www.fastcompany.com/90475447/stuck-at-home-because-of-coronavirus-how-to-get-your-art-and-design-fix-from-your-couch.
  • Dis nou jou kans om vir ontspanning te lees. Maak seker jy lees nie iets wat terneerdrukkend is nie. Lekkerleesboeke is wat ons nou nodig het. Kyk gerus op Facebook by “Kom ons lees weer Afrikaans”. (https://www.facebook.com/groups/46583772414) en Lekkerleesboekrak (https://www.facebook.com/groups/lekkerlees) vir inspirasie. Vir die kinders is daar Afrikaanse boeke by https://www.facebook.com/groups/1435466360108982.
  • Dit mag wees dat hierdie pandemie die wêreldoorlog van ons geslag is. Maar is dit nie wonderlik dat ons almal (hopelik!) aan dieselfde kant veg nie? Konsentreer daarop om jóú deeltjie in hierdie groot veldslag te doen.
  • Dwarsoor die wêreld maak mense tans groot en klein opofferings om die virus te help bekamp. Moenie dink jóú opoffering en ongerief is die belangrikste nie. Oppas ook om na almal se hartseer stories oor ontwrigting en ongerief te luister. Konsentreer op dinge waaraan jy iets kan doen.
  • Probeer om verby jou eie ongerief en vrees (ja, ons is almal bang – erken dit maar) te kyk en die groter prentjie raak te sien. Elkeen van ons kan ’n bydrae lewer om hierdie ding hok te slaan.

Dis bekend dat skoonheid dikwels uit lyding te voorskyn kom. Kom ons verlig mekaar se emosionele lyding op elke denkbare manier en sien saam uit na die groei en verryking wat uit hierdie tyd na vore kan kom.

Lidi de Waal (https://www.facebook.com/kalaharies) sien dit so:

in hierdie tyd van histerie en angs
in hierdie tyd van binnetoe leef
en die buitewêreld uitsluit
laat ons tog probeer
om ons liefde uit te dra en nie ons angs nie
om ons omgee te gee
en nie ons bitterheid nie
ons vreugde te gee en nie ons ellende nie
ons optimisme en nie ons twyfel nie
as jy jou oop liefdevolle hart wys
sal mense en diere
en die hele universe jou goodwill aanvoel
dis hierdie dinge
wat die heelal oplig en voed
as jy ’n verskil wil maak
as jy jou lewe wil laat saakmaak
wys te midde van als wat skeefgeloop het
steeds jou beste kant aan die wêreld.

Lidi se wens is ook my wens vir jou!

  • 3

Kommentaar

  • Charles Van Wyngaard

    Baie dankie vir hierdie uitstekende en kalmerende uiteensetting van só ’n uiters belangrike onderwerp in ons huidige situasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top