Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer en LitNet-redaksielid Naomi Meyer vertel meer oor die eerste weke van die inperking en lees voor uit haar kortverhaal (wat in ’n bundel met die voorlopige titel Plus twee sewe, wat deur Frederik de Jager saamgestel is en later vanjaar by NB-Uitgewers sal verskyn, opgeneem sal word):
Dag 18: “Die tyd van virtuele voortbestaan” deur Naomi Meyer
virtueel’ b nw en bw 1 Betreffende ’n voorstelling van die werklikheid: skynwerklikheid. 2 (rek) Wat verwys na optiese beelde op ’n rekenaarskerm met gepaardgaande klank wat ’n plek in die werklikheid voorstel en die gebruiker hierdeur elektronies toegang gee tot die werklike plek en dienste daaran verbonde: Virtuele werklikheid. Op die internet kan feitlik enigiets deesdae virtueel beleef word. [L virtus krag, deug] (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. FF Odendal, RH Gouws. Perskor. 2000.)
Voordat hy nog ’n buitengewoon-onrealistiese en lewensgevaarlike aksie moet uitvoer, raak dr Smolder Bravestone benoud: “I can’t do this!”
Moose Finbar sê: “I just saw you fix a helicopter in mid-air!”
Dr Smolder Bravestone, die hoofkarakter in die film waar die karakters ingeslurp word in ’n rekenaarspeletjie en die menslike gedaantes aanneem van die avatars wat hulle in die spel gekies het, stry vreesbevange: “It’s a lot easier to be brave when you’ve got lives to spare. It’s a lot harder when you only have one life.”
Moose Finbar herinner hom: “We always only have one life, man. That’s how it is.”
Die film is Jumanji, welcome to the jungle, ’n Netflix-gesinsgunsteling tydens die staat van inperking. In die virtuele werklikheid van die fliek – die fliekdimensie – maak hierdie dialoog volkome sin. Ná ’n paar dae van grendeling raak die woorde my diep, ontroer dit selfs.
Ja, ons elkeen het net een lewe. In die mikrokosmos van die dag en die aand word die lewe van die gesin tasbaar geleef: werk van die huis af, die bakker van die huis wat vir die gesin tuisgebakte ciabatta en baguette voorsit, almal wat saam kaart speel, inperkingskriekettegnieke in die oprit oefen, tent opslaan op die erf, slaaptydstories by flitslig lees voordat jy jou dogtertjie in haar eie bed in die huis onder die duvet toevou. Daar is hoogtes en dieptes. Marathonsessies van bordspele. Dae wanneer die grootste prestasie is dat broer en suster tot dusver nog nie mekaar se nekke omgedraai het nie. Dis ’n baie onnatuurlike ineenvervlegte werk- en vakansietydperk. Daar is rede om dagboek van dankbaarheid te hou, soos wat Marita van der Vyver oor haar ervarings in hierdie selfde tyd op ’n ander kontinent skryf.
Die agtergrondgeraas gaan nooit weg nie. Daardie verwysing in Jumanji: net een lewe elk. Die beelde op die TV. Kiste. Lyksakke. Monsteragtige ruimtepakke wat die draers daarvan heeltemal insluk.
Ons verbeel ons ons sien ’n toekoms deur die venster, maar daar sit die hele tyd ’n vaal kol op die glas. Ons het nie ’n idee hoe die toekoms sal lyk nie; dis ’n verbeelde werklikheid. Dis virtueel, soos al die flikkerende skerms in my sitkamer.
Alex Welte van GroundUp het op News24 gevra: “COVID-19: What happens after the lockdown?”
Die epidemie gaan nie net teen die einde van April verdwyn het nie. Wat maak ons daarna? Wat van as die epidemie weer buite beheer raak? Hoe lank kan sosiale-afstand-beheermaatreëls volgehou word? Wat van die skole waar kinders nie aanlyn tuis kan skoolgaan nie? (Hieroor skryf Olivia M Coetzee ook as deel van die skrywersketting.) Wat van die ekonomie: besighede,, kleinsakeondernemings, vrugteverkopers, huiswerkers, mynwerkers, klerewinkels, feeste, saamtrekke, sport?
Hierdie siekte is geen gelykmaker nie; dit aksentueer net hoe ongelyk die samelewing is.
Ek wens dat ek die tyd gehad het van die mense op al die menigte WhatsApp-groepe waarvan ek nou besef ek deel is. Sommige groepe gesels oor elke denkbare onderwerp onder die son. Ander bak Kersfeeskoeke in April. Baie mense klim trappe, of hardloop in die agterplaas. ’n Man in ’n township staan voor sy eenslaapkamerwoonplek, waar hy pas handwasmiddel ontvang het, en betuig sy dank: “I always had to wash my hands with Sunlight Liquid.”
Wat maak ons ná April?
The Guardian sê: “We can’t go back to normal.”
“Everything feels new, unbelievable, overwhelming. At the same time, it feels as if we’ve walked into an old recurring dream. In a way, we have. We’ve seen it before, on TV and in blockbusters. We knew roughly what it would be like, and somehow this makes the encounter not less strange, but more so.”
’n Ierse vriendin skryf op WhatsApp en op Facebook. Sy is optimisties oor hoe hierdie tyd ons kinders sal leer om anders na die lewe te kyk. Haar werklikheid lyk anders as Suid-Afrika s’n – die kloof tussen ryk en arm kan nog daar ver, in Europa, oorbrug word.
Nog nuus kom virtueel, op al die toestelle in die huis, se skerms verby: syfers wat styg. Gevalle neem toe, sterftes ook. Is enige sprankie van hoop, soos gerugte oor die BCG-inenting, dan ook fopnuus?
In China word mense virtueel dopgehou, stuur iemand ’n video op die sosiale media, en deur middel van tegnologie word hul gesigte herken en word elke beweging gevolg.
Ons weet nog nie wat ons moet doen nie. Ons staar na skerms, elk in sy eie Big Brother-huis.
Ons vra die verkeerde vrae. Ons dink korttermyn: As die restaurante geleidelik begin oopmaak, wat van die kroeë? As ’n kitskoskassier kan begin werk, waarom nie ’n tuinier nie? Ons dink nie aan volhoubare alternatiewe vir ’n samelewing wat so ongelyk is dat dit onmoontlik is om mekaar se wêrelde te verstaan nie.
Maar ons kan ook beswaarlik anders. Ons moet eet, ons moet oefening doen. Terwyl ons om die huis stap, om en om, onthou ek lirieke van Pink Floyd uit my studentedae: “We are only two lost souls swimming in a fish bowl year after year, running over the same old ground. What have we found? The same old fear. Wish you were here.”
As ons nog nie die virus onder lede het nie, kyk ons vanuit ons bevoorregte omstandighede na hoe ander mense, ook in bevoorregte omstandighede, as gesin saamdans.
As die tydelike ontvlugting verby is, vertoon daar op nog ’n skerm foto’s van koorsige en beswete gesigte.
Uiteindelik is siek en gesond wees – en lewe en dood – nie virtueel nie. Werklik.
Luister na ’n klankgreep waar Naomi voorlees uit haar kortverhaal
(wat in ’n bundel met die voorlopige titel Plus twee sewe, wat deur Frederik de Jager saamgestel is en later vanjaar by NB-Uitgewers sal verskyn, opgeneem sal word):
Lees ook
Lees nog Kwarantynketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen