Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

  • 0

Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer en LitNet-redaksielid Cliffordene Norton vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit ’n ongepubliseerde werk, Ouma Blommies is ’n foodie (werkstitel):

Dag 17: “Hoekie vir die (nie-) eensames” deur Cliffordene Norton

“Dis nie ’n vakansie nie, julle kan nie oor en weer kuier nie. Beskou dit as huisarres – julle mag jul eenhede verlaat slegs om inkopies of jul wasgoed te doen.” Dít was die boodskap van die bestuurder van ons woonstelblok kort voor die inperking.  

“Huisarres” klink baie harsh vir my woonstel. Ek voel veilig hier, gemaklik en tuis. Nie woorde wat ek met “arres” sou koppel nie. My woonstel is nie baie groot nie, maar dit kyk uit oor ’n mooi sirkel in die Kaapse middestad. Elke oggend staan ek op, en drink my koffie voor die venster. Die stad is stil; as ek meer as tien mense of karre op ’n dag sien, is dit baie.

 

My oggendkoffie met ’n view.

’n “Besige” dag in die stad.

Ek woon in ’n woonstelblok met ongeveer 300 mense oor tien vloere, maar ek hoor geluide slegs wanneer iemand iets laat val of as die skoonmaakpersoneel nege-uur op ons vloer besig is. Daar is geen gelag nie. Geen mense wat loop om hul Uber Eats-bestelling by ontvangs te gaan afhaal nie. Geen mense wat in die gange staan en gesels nie. Net stilte.

Soms voel dit asof ek die enigste een in die gebou is, maar ek is nie eensaam nie. Ek skryf daagliks – en karakters is vriende en familie vir my. Dis lekker om ’n skrywer te wees, want verbeeldingsvriende is aanvaarbaar ongeag hoe oud jy is.

Dit voel by tye asof daar niks aan my lewe verander het nie. Ek kon voor die korona-era soms elke naweek in my woonstel bly sonder om ’n toon uit my plek te sit. Dit was vir my lekker. Ek het dosyne boeke in my woonstel, en 150 op my Google Books app, en is ’n ywerige leser van Harry Potter en The Mortal Instruments fanfiction.

Ek het ook die afgelope jaar ’n liefde vir niefiksie ontdek. Ek lees nou ’n lys boeke wat ek deur vriende, blogs en YouTubers ontdek het. ’n Gunsteling is Marina Keegan se “The opposite of loneliness”. Dié essay (waarna die betrokke bundel vernoem is) begin met die woorde:

We don’t have a word for the opposite of loneliness, but if we did, I could say that’s what I want in life. What I’m grateful and thankful to have found at Yale, and what I’m scared of losing when we wake up tomorrow after Commencement and leave this place. It’s not quite love and it’s not quite community; it’s just this feeling that there are people, an abundance of people, who are in this together.

Ek herlees gereeld hierdie paragraaf die laaste ruk, want dis hoe ek voel – al sit ek alleen in my woonstel. Elke oggend van 06:00 tot 08:00 begin my dag met boodskappe van my ma, beste vriende, my familie in die Noord-Kaap.

“Dis tyd vir ons Tuesday check-in,” het ’n sestien-minute-WhatsApp-boodskap deur ’n vriendin op Dinsdagaand begin. Ek het kos en koffie gemaak, en  kruisbeen op my bed gesit om na een van my beste vriende se borrelende stem te luister. Sy het vertel van haar week, hoe die koronavirus haar besighede – biltongwinkels – beïnvloed en hoe dit met haar familie gaan.

“Ons eet vanaand hoenderdompels,” was my niggie se boodskap gisteraand. As die enigste familielid wat nie kan kook nie, is dit vir my ’n running joke dat almal my vertel wat hulle eet. Ek kan die disse wat ek kan kook op my een hand tel: pasta, noodles (óók pasta – maar ek tel dit apart), eiers, en as ek rêrig moeite doen, paptert. My niggie, wat by my ouma bly en haar kookvernuf geniet, gee my ’n menu-update elke kans wat sy kry.

Hoenderdompels is plat dompels wat bo-op die hoender gekook word, voor die groente en ander bestanddele bygevoeg word. Dit is hemels!

My susters stuur soms net ’n groot rooi hart. My beste vriendin se voice note sluit altyd ’n “Deenieeeeeeeeee” van haar seun in. ’n Nuwe vriendin begin altyd haar boodskap met “Hey girl! How’s you?”

Dié tyd is egter nie sonder kommer nie. My twee aunties moet steeds werk en ons hoop maar hulle word nie siek nie. Ek luister hoe hulle sukkel om by die werk te kom, want die taxi’s is skaars en ry nie as dit nie vol (sewe mense) is nie. Die taxibestuurders verloor al klaar geld, en kan nie met minder as sewe mense ry nie – dit dek nie hul petroluitgawes nie.

Ek volg mense op Twitter en Facebook wat die ander kant vertel. Die mense wat in shanties bly, mense wat onmoontlike spasies met hul hele familie moet deel, oumas wat nie hul Sassa-geld ontvang het nie en na leë koskaste moet teruggaan. En ek kry skaam en is dankbaar.

Ek lees op oor die ekonomie en die werkloosheidsyfer, en wonder hoe gaan Suid-Afrika na die koronavirus lyk, terwyl my gewete hoopvol sê: “Ten minste gaan daar nog ’n Suid-Afrika wees?”

Ek wonder hoeveel mense het hul werk verloor. Tydens die tweede week van selfafsondering (nie die inperking nie) het ons gehoor dat maatskappye in ons kantoorgebou toemaak. Vryskutwerkers het probeer om hul huurkontrakte te kanselleer. Ek wonder oor daardie mense – kom hulle reg?

Ek is bekommerd, maar vir die eerste keer in ’n lang tyd gee ek ook my volle aandag aan wat en wie ek in my hart ronddra. Ek skryf daagliks, en lees boeke waarvoor ek nie vroeër kans gehad het nie. Ek stuur nie ’n vinnige WhatsApp op pad winkels toe nie. Ek kuier op WhatsApp met my niggie, susters en familie. Ek whatsapp mense met wie ek lanklaas gesels het en maak seker hulle is veilig. Ek dink vir die eerste keer aktief aan mense se veiligheid en “wees veilig” het ’n dieper betekenis bygekry.

En ek besef hoeveel voorreg ek het, hoeveel ek as vanselfsprekend aanvaar, en ek sê opreg dankie – die eerste keer ’n baie lang tyd.

Cliffordene lees voor uit Ouma Blommies is ’n foodie (werkstitel):

Lees ook

Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel 2020: ’n Onderhoud met Cliffordene Norton

Lees nog Kwarantynketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top