Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer en LitNet-redaksielid Remona Voges vertel meer oor haar verskillende ervarings in kwarantyn en lees nuwe gedigte voor:
Dag 19: “Om anders na dinge te kyk” deur Remona Voges
Laas week herinner Facebook my met ’n foto van ’n “get well soon”-hamper dat ek presies vyf jaar gelede ook in kwarantyn was. Anders as nou, was ek nie in selfisolasie as gevolg van ’n virus wat dreig om die wêreld soos ons dit ken te verander nie, maar weens persoonlike gesondheidskomplikasies, boonop in ’n vreemde land.
Ek is aan die begin van 2015 met ’n koffer vol verwagtinge na Nederland om met my meestersgraad in Afrikaans en Nederlands te begin. Met ’n stewige bankbalans (te danke aan ’n groot aantal studiebeurse) en die entoesiasme van ’n wêreldburger-in-wording was ek gereed om Europa in elke skakering van die reënboog te verf. Maar my opgewondenheid was van korte duur.
Wanneer mens aansoek doen vir ’n verblyfpermit in Nederland, word jy verplig om deur ’n Nederlandse dokter ondersoek te word. Dié afspraak was vir ’n maand na my aankoms in Europa geskeduleer. In die wagkamer sê ek vir ’n vriendin ek is bekommerd, iets voel nie reg nie. Ure daarna word ek met tuberkulose gediagnoseer. Die siekte is in ’n gevorderde stadium; dit loop volgens die spesialis al meer as ’n jaar met my saam. Ek het reeds in Suid-Afrika vermoed dat ek siek is, maar was ná ’n besoek aan twee dokters en ’n paar kursusse antibiotika oortuig dat om op 24 stokoud te voel, heeltemal normaal is. Ek het my drastiese gewigsverlies, die gereelde geswetery in die nag en my kroniese rugpyn aan stres en min slaap toegeskryf. (Ek het die vorige jaar voltyds studeer, saans kelnerin gespeel en die res van die tyd gepartytjie asof die wêreld elke Vrydag, Saterdag en heilige Sondag om twee-uur die oggend tot ’n einde sou kom.)
Na afloop van die diagnose moes ek onmiddellik ’n lys name saamstel van elke liewe persoon met wie ek kontak gehad het sedert ek in Nederland aangeland het. Hulle word dadelik gekontak en na die hospitaal ontbied. Toetse word geskeduleer en almal is histeries. Ek voel soos ’n melaatse. Die paranoia kry my onder: Sê nou ek het iemand aangesteek? Voorafbeplande reise moet terstond gekanselleer word. Ek mag nie huis toe vlieg nie. Binne 24 uur word ek na die Beatrixoord (’n TB-sanatorium in die noorde van Nederland) gestuur. Die gemaskerde rit na Haren, drie ure van Leiden af, voel surrealisties.
Terwyl ek na die foto van die “get well soon”-hamper op my Facebook-blad staar, besluit ek om my korrespondensie met vriende en familie op dieselfde dag na te gaan. Ek kom af op ’n Facebook-boodskap aan ’n vriend. Dis ’n beskrywing van my kamer in die sanatorium:
As jy by my kamerdeur instap is die eerste ding wat jy sien ’n hospitaalbed met lelike geel beddegoed op. Dis ’n washed out, depressing geel – heeltemal die teenoorgestelde van wat geel veronderstel is om te wees. Die venster is die tweede opmerklike feature. Dis huge, so hoog soos die dak en dit kyk uit op ’n wandelroete. Ek dink dis mooi in die somer, maar op die oomblik is die bome nog kaal en die lug grys. Voor die venster staan ’n oefenfiets (ja, ’n oefenfiets), ongebruik. Regs van die venster is ’n moderne soort boekrak, met ’n flat screen televisie aan die regterkant. Op die boekrak is ’n verskeidenheid Sylvia Plath versamelings (ek gaan deur ’n fase), digbundels van Seamus Heaney, Charles Bukowski en ’n Poolse poet, Wislawa Szymborska. Ook Afrikaanse digbundels van Antjie Krog en Marlene van Niekerk (briljant maar onverstaanbaar) en ’n roman, Buys deur Willem Anker. Ek lees baie, want meeste mense hier praat nie eers Nederlands nie, net die verpleegsters. Daar lê ook ’n bergie pille, mascara, deodorant, gesigroom, ens. Teen die boekrak geplak is ’n visuele voorstelling van hoe ’n mens veronderstel is om te hoes: Nie op iemand nie, maar weg van jou af, met ’n doek voor jou gesig (no shit!). Teen die boekrak staan ’n kitaar, gesteel uit die sitkamer en, soos die oefenfiets, ongebruik. Links van die venster ’n lessenaar, waarbo ’n kaart van Europa geplak is. Daaronder ’n gedig van Seamus Heany, “A kite for Abahin”, wat ek besig is om in Afrikaans te vertaal. Op die lessenaar ’n bos rooi en geel tulpe. Die ruiker het vandag gearriveer met ’n kaartjie namens die bestuur van my beursinstansie. Oral lê ’n klomp notaboeke, inkleurboeke, kryte. My skripsie lê ook iewers, soos ’n gewete. Links van die lessenaar is drie maandkalenders (Maart, April en Mei). Die enigste datum waarna ek uitsien is die 23ste April (in geel gehighlight), wanneer L vir my kom kuier. Teen dan sal ek hier uit wees. Ons beplan ’n trip na Berlyn. Op die bedkassie langs my lê ’n pak gummy bears, ’n paaseier en klomp chocolate-eendjies, Lip ice, antidepressante, ’n pot koffie, my iPad (tans oop op Candy Crush) en ’n besigheidskaartjie van die maatskaplike werker by die hospitaal waar ek bly. Langsaan staan ’n klerekas, wit soos die res van die kamer. Oorkant my bed waarop ek sit is ’n en suite-badkamer. En regs daarvan, langs die deur, ’n venstertjie waardeur die verpleegsters op my kan spy – die blindings kan van buite sowel as van binne oop en toe maak (what kind?!). Ek verlang na die huis. En na iemand se hande.
Die sanatorium was wêreldklas. Oor die fasiliteite kon ek nie kla nie; inteendeel. Maar in retrospek was dit in hierdie tyd dat ek vir die eerste keer met hardcore eensaamheid kennis gemaak het. Met ’n WiFi-verbinding is dit nie moeilik om kontak met mense te maak of te hou nie. Maar die verlies van en behoefte aan fisieke teenwoordigheid en aanraking (in enige vorm) – dit is iets anders.
Terwyl ek verder deur 2015 se neerdrukkende Facebook-herinneringe scroll, dink ek aan dié tussen ons wat die COVID-19-lockdown in eensaamheid deurbring. Isolasie verander ’n mens. Dit dwing jou om anders na dinge te kyk. Om regtig te dink. Om vrede te maak met jou situasie. Of nie. Om jou gesondheid en die mense in jou lewe te waardeer. Gisteraand lees ek Ruan Kemp se roman Gedeeltelik bewolk. ’n Paragraaf waarin een van die karakters oor perspektief praat val my op:
“Mens moet partykeer so terugsit,” sê Jan. “Om perspektief te kry, jy weet. Ek bedoel, die sterre is elke aand hier, maar meeste van die tyd sien mens net sulke kolletjies. Maar as mens ’n bietjie moeite doen, dan openbaar hulle hulself, dan word die hemelruim driedimensioneel. Die maan ook, partymaal kan jy hom in die dag sien, maar dis nie net ’n plat ding daar in die lug nie, as jy reg kyk dan kan jy sien dit is ’n bal, ’n ronde ding, dan verstaan jy jou plek op aarde bietjie beter. Maar dit vat oefening om so te kyk.”
Ek vier môre vir die tweede maal my verjaarsdag in kwarantyn. Dié keer is ek gesond en is daar iemand om saam met my ’n bottel wyn of twee te polish. Ons gaan op ons balkon sit en wag vir die wolke om weg te trek. Na die maan en sterre kyk. En saam oefen, probeer verstaan.
Luister na ’n klankgreep waar Remona nuwe gedigte voorlees
(“Hierdie plek is nie meer dieselfe nie” en “Would-haves in Berlyn”):
Lees ook
Toyota US Woordfees 2019: Onderhoud met Remona Voges oor Penseel & Kie
Lees nog Kwarantynketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen