Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

  • 1

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Skrywer Pieter-Dirk Uys vertel meer oor die eerste dae van die inperking:

Dag 7: “Van Pieter-Dirk Uys in Darling”

2 April 2020. Gister was April Fool’s-dag. Maar die ongelooflike, skrikwekkende nuus wat breek is nie ’n grap nie. Ek dink hier in die huis doen ons nog oukei. Was hande soos Caligula (google); bly tuis soos Jan Tuisbly (sonder sy karretjie). Maar hier in Suid-Afrika is ons nog ook maar net B in die alfabet. Ek hou vat-distansie van almal danksy indringerige Twitter, skril WhatsApp en al die ander nuwe-eeuse Orwelliaanse (google weer) maniere om te omhels, al voel die lewe soos iets uit die 14de eeu.

Ek doen iets wat ek vir 40 jaar nie kon doen, mag doen nie, maar so graag wou doen: Ek groei ’n baard! Weens die vrouens in my lewe was dit onmoontlik. Nou is hulle almal weg van my onder kwarantyn, met die Tannie in haar boks onder die kleedkamertafel. Ek skryf daagliks aan iets wat die lewe om my weerspieël sonder om te verwag dat iemand anders dit ooit sal lees (niks nuuts daar nie!). Ek en Fanny, Vegan, Boesman, Meeps, Chili, The Donald verfoei ’n berig op die internet wat verkondig dat katte die virus kan oordra. Toughies ou Toet, dan gaan ek en die ses verpleegsters in my huis (Katte 1, 2, 3, 4, 5, 6) saam na Liewe Jesus sonder om ons hande te was!

Die toekoms is ’n Harry Potter-verhaal. Vandag is noodsaaklik, môre is ’n belegging en die res maar net hopelik. Wie weet wat gaan gebeur? Die wêreld was nog nooit in hierdie cul de sac nie. Individueel ja, ons is almal alleen daardeur: die wakkerword in die nag, die koue sweet van stres, oor werk, familie, gesondheid, geluk, toekoms en verlede. Maar vandag is ons almal (7,7 miljard?) in dieselfde bootjie, ’n Titanic van spanning en vrees, en die donnerse ysberg steek hom ook weg in ons belangrike glase gin & tonic. Niks sal wees soos dit drie weke gelede was nie. Net drie weke gelede? Toe was Harry en Meghan voorbladnuus!

Boer maak ’n plan.

Plan A: Ons sit alleen afgesluit (lockdown? sien HAT) om hopelik aan einde Julie weer te begin.

Plan B: Na 16 April word daar weer ’n toesmering van vryheid aangekondig en ons is weer op ons Robbeneiland afgesluit.

Plan C: As vermaaklikheidsenergie, vra hierdie vraag: Wanneer sal ’n toekomstige gehoor (mense wat die lewe wil geniet en lag – oormôre se Google?) veilig genoeg voel dat die gogga nie vir hulle nog êrens wag in ’n gehoor met talle ander nie? 2021?

Evita se Perron by die voormalige ou Darling Stasie is nou ’n voormalige teatertjie, geslote en wagtend. My dagboek is vir die eerste keer vol leë wit blaaie wat deur die volgende vier maande geen verligting van werk fluister nie. (Hopelik dan daardie Plan A?) Was eers die hande en sing “Afrikaners is plesierig” twee keer voordat te veel fake optimisme koppe laat dronk saamknik.

Hou ’n dagboek. Ontdek die hokkies van inspirasie wat ’n normale lewe toegesluit het. Voer voëls en troeteldiere. Los die histeriese televisie met sy negatiewe nuusbrake. Die einde van die wêreld is na genoeg om te hoor as hy/sy in die straat buite brom. Dag vir dag, nag vir nag. Tannie Evita het al maande gepraat van haar nuwe kalender: Eens op ’n tyd was daar 365 dae in haar jaar. Nou is dit twee: vandag en môre. Mense het gedink dis baie snaaks en nogal oulik.

Miskien ook is Afrikaans die enigste taal in die Corona-heelal wat die beste antwoord het vir die internasionale vraag: Sal ons hierdie krisis oorleef?

Ja-nee.

.....

Soek ’n glimlag in die 230 episodes van Evita’s Free Speech op YouTube.
Plus heelwat ander plesiertjies.

.....

Lees ook

Weerklink van ’n wanklank: ’n onderhoud met Pieter-Dirk Uys

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 1

Kommentaar

  • Albert Kloppers

    Die reën het stil
    gekom
    een nanag in April
    die donker ontmasker
    die vrees ontsmet
    die gees ontgrendel
    my laat onthou
    dat ek gelukkig
    IS

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top