Weerklink van ’n wanklank: ’n onderhoud met Pieter-Dirk Uys

  • 1

Weerklink van ’n wanklank, Pieter-Dirk Uys se derde memoir.

Titels is vir hom ontsaglik belangrik; dit is waarom hy op Weerklink van ’n wanklank besluit het. Die Engelse The echo of a noise se Afrikaanse vertaling, “die eggo van ’n geraas”, sou nie werk nie – daar is te veel g’s en r’e. Dit is nie mooi klanke nie, verduidelik hy. “Weerklink van ’n wanklank” klink mooi. Dis soos ’n klok wat lui.

Weerklink van ’n wanklank is die bekende satirikus Pieter-Dirk Uys se derde memoir, gebaseer op sy verhoogstuk met dieselfde naam. Dié is aanvanklik in Engels geskep: The echo of a noise. Sy vorige memoirs, A part hate, a part love: A biography en Elections and erections: A memoir of fear and fun, het onderskeidelik in 1994 en 2003 verskyn.

Dit is ’n laat somersmiddag in die Eikestad en ’n uur voor hy op die Drosdy-teater se verhoog moet wees vir die Stellenbosch-bekendstelling van die boek, wanneer hy die gehoor gaan bekoor met staaltjies oor sy lewe.

Die Kersversierings is al op. Die houtvloere van die teater kraak onder die voete wat daaroor beweeg. Dié voete skarrel om seker te maak alles is gereed vir wanneer die gaste nou-nou begin opdaag in die teater. ’n Gesellige atmosfeer heers.

Agter die verhoog in die kleedkamer gesels Uys ’n hond uit ’n bos.

“Pieter,” help hy gou-gou enige persoon reg wat hom as “Meneer” of “u” aanspreek.

“Ek het eers besluit op Weerklank van ’n wanklank. Toe skielik kom weerklink by my op en ek dink toe, maar wragtig dis mos ook ’n woord! Whoeps slaan ek die HAT oop om dit te soek, en siedaar.”

Weerklink van ’n wanklank.

Hy herhaal dit.

“Dit klink mooi!” roep hy uit.

Oor die aanvanklike verhoogstuk vertel hy: “Ek het nooit gedink ek sou so iets doen nie, want dit breek al die reëls. Die toneelstuk is gestroop. Dis net ek. Geen kostuums of indrukwekkende stelle nie. Net stories.”

Pieter-Dirk Uys by die Stellenbosch-bekendstelling van sy derde memoir, Weerklink van ’n wanklank, by die Drostdy-teater.

Die verhoogstuk en boek is ’n blik op sy lewe en gaan oor die klein padwysers wat sy lewe verander het. “Gewone stories” wat soveel mense se ondervindings weerspieël en waarmee hulle kan vereenselwig. Die mooi van die lewe, die seer, en die talle lewenslesse wat ’n mens langs die pad optel.

“Mense vra altyd vir my of ek senuagtig is as ek op die verhoog is, en dan sê ek nee ek is nie, ek is opgewonde. ‘Opgewonde’ beteken ek kan dit doen. ‘Senuagtig’ beteken ek kan dit nie doen nie.”

Dit bring hom by ’n herinnering uit sy kinderjare, toe sy ma vir hom en Tessa, sy suster, gesê het: “If you win you get an ice cream and if you don’t win you get two ice creams.”

Mislukking is die rotsstukkies wat lei tot die monument van sukses. Pieter glo hy is hier waar hy vandag is danksy al die mislukkings.

“Ek leer nog elke dag iets; ek leer die heeltyd. Ek probeer minder te praat en meer te luister,” vertel hy.

Terug by sy kinderjare vertel hy hoe sy ma uit Duitsland gevlug het. Sy was ’n Jood en het na Suid-Afrika gevlug.

“Ons het glad nie geweet sy het gevlug nie en ons het ook glad nie geweet sy is ’n Jood nie. Hoe werk dit? Sê vir my? Hoe is dit moontlik dat mens nie geweet het nie?” vra hy.

“Ek het soveel lewenslesse by my ouers geleer.”

“My pa het gewerk in ’n aaklike werk. Musiek was sy liefde. My ma het klavierlesse gegee. Ons was nie ryk nie, maar ons was nie arm nie. Ons as kinders het nooit besef dat hulle ons probeer beskerm teen dinge wat ons nie verstaan nie. Hoe sou ek as ’n agtjarige kind sin maak van die feit dat my ma gevlug het en haar familie in ’n gasstoof vermoor is?”

Hy bly ’n oomblik stil.

“In daai dae was dit maar so dat ons as kinders nie vrae gevra nie.”

Hy wens egter nou dat hy sy ouers meer uitgevra het oor hulle lewens, want ’n mens vergeet soms jou ouers het ’n lewe voor jóú koms gehad.

Gaste arriveer vir die bekendstelling by die Drostdy-teater.

In Weerklink van ’n wanklank raak hy ook aan sy ma se selfdood, en die impak wat dit op sy gesin se lewe gehad het. Ook vertel hy humoristiese stories, soos dié oor sy liefde vir die aktrise en sangeres Sophia Loren, met wie hy later penvriende geraak het. Humor is immers vir hom baie belangrik.

Lag vir jou vrees en maak dit minder belaglik – dít is sy leuse, vertel hy.

Hy vertel hoe sy pa destyds op die sensuurraad was, en hoe hulle twee baklei het oor die werk wat Pieter doen.

“Maar twee weke nadat my pa ’n sensor geword het, het hy vir my gesê ek moet by hom kom eet, want hy wil met my praat. Hy sê toe: ‘Pieter, is jy bang vir hulle?’ Ek sê: ‘Wel, dis die Nasionale Party-regering, hulle kan enigiets doen.’ Hy sê toe nee, hy praat van die sensors. Hy sê hy is een van hulle, en hulle is ’n klomp blerrie ou fools. Hulle weet nie wat hulle doen nie.

“Hy sê toe: ‘Moenie dat hulle jou bangmaak nie, maak hulle belaglik.’ Daardie woorde het my lewe verander. Lag vir jou vrees en maak dit minder vreeslik. En dít is wat humor vir my beteken.”

Oor die huidige stand van Suid-Afrika, en natuurlik politiek, sê hy Suid-Afrikaners word daagliks met negatiwiteit gekonfronteer en vrees is aan die orde van die dag.

“Op die oomblik word ons almal stilgemaak deur vrees. Ons wil iets sê, maar ons doen nie.

“Tydens apartheid was alles geheg aan politiek. Jou kerk was politiek. Jou huis was politiek. Jou opvoeding was politiek. Die geskiedenis was politiek. Seks was politiek. Liefde was politiek. Alles, alles, alles. Dit was ’n virus en ons moes onsself gesond lag.

“Nou is die wêreld siek van dieselfde siekte, want alles is politiek.”

Die Drostdy-teater in Stellenbosch.

Op die vraag of satire nog funksioneel in Suid-Afrika is, antwoord hy: “Wel, vryheid van spraak is bietjie van ’n boggher, want jy mag alles sê. Hoe meer vryheid jy het, hoe minder gebruik jy dit. Vandag is die wêreld heeltemal mal. Mense soos Donald Trump het ons heeltemal stil gemaak. Ons is te bang om iets te sê, om kommentaar te lewer.

“Nou waar is ons dan vandag met humor in Suid-Afrika as niks meer snaaks is nie?” vra hy.

“En dit is tog so belangrik om humor byderhand te hou om minder mal te word, want ek dink politiek maak ons heeltemal gek.”

Almal wend hulself nou tot sosiale media, en dit help ook glad nie, meen hy.

“Op sosiale media is almal koning. Almal is die keiser. Die standaard is om so lelik as moontlik met mekaar te wees. Dit is soos graffiti in ’n toilet – ek wil nie elke dag daarin vaskyk nie. Die internet word deesdae toenemend gebruik vir tydmors.”

Satire is egter steeds relevant, glo Pieter. Kritiek is ontsaglik belangrik, maar daar is maniere om dit te doen. Daar is maniere om mense heeltemal doof en blind te maak en hulle te vervreem. Dit help nie. Daar is egter ook maniere om kommentaar te lewer op só ’n manier dat jy mense laat lag en hulle intrek.

Satire doesn’t take any prisoners. Ek wou nooit venynig of bitsig wees nie. Miskien is deernis nie iets wat ’n satirikus moet hê nie, maar ons het dit nou baie nodig. Jy het baie mag op ’n verhoog om mense te vernietig, en ek wou dit nie so doen nie. Om iemand te verkleineer en te verneder is nie die moeite werd nie; ek wil net hulle denke uitdaag. Dit is ongelukkig waar party van die komediante en satirikusse gaan – baie mense dink as jy iemand vernietig het jy gewen.”

Deernis is belangrik, beklemtoon Pieter. Ons het almal keuses. Probeer eerder ’n verskil maak as wat jy net kwaad word.

“Ken jy jou bure? Hoekom nie? Klop aan die deur. Dis Evita (Bezuidenhout) se ding. Klop aan die deur met ’n bak koeksisters en as hulle Moslem is sal hulle vir jou ’n beter resep gee,” lag hy.

“Ag en laat daai taxi tog maar voor jou indruk, dit baat jou niks om kwaad daaroor te word nie. Dit maak jou net bitter. Hoe meer kwaad jy word, hoe sieker word jy van binne.”

Pieter-Dirk Uys by die bekendstelling.

En hoekom doen hy al die jare dit wat hy doen?

Die antwoord is eenvoudig.

“Dit is my werk. Dit is wat ek doen. Almal doen iets. En ek hou verskriklik baie van wat ek doen. Ek is sedert 1975 unemployed, so ek moet my eie baas wees en my eie werk skep. Solank as wat mense kom, sal ek hier wees.

“Ek sê altyd vir kinders as ek by skole omgaan dat jy nooit die werk sal kry wat jy wil hê nie. Jy gaan altyd vir iemand anders moet werk. Wat wil jy met jou lewe doen? Wat is jou droom? Begin vandag daaraan werk. Skep jou eie werk en word vandag jou werk.

“En gaan stem. Ek wil hê jongmense moet stem. Daardie stem is die sleutel vir die deur tot jou toekoms. Dit is so belangrik.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Antoinette Jacoba Moolman

    Pieter, jy is 'n ster! Jou boek gaan 'n ereplek op my boekrak hê … om kort-kort weer stukkies daaruit te lees!

    BRAVO! DOET SO VOORT!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top