Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer Nini Bennett vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees voor uit haar jongste bundel kortprosa, Meiboom (voorlopige werkstitel):
Dag 9: “Agter die kwarantyngordyn” deur Nini Bennett
Ideas and products and messages and behaviors spread like viruses do. – Malcolm Gladwell, The tipping point
Die nuwe woorde het oornag ontstaan: paniekaankope en grendelstaat. Woorde wat vroeër niksseggend sou gewees het. Daar was ’n vreemde opwinding – en vrees – in die lug toe ek en my suster ons laaste inkopies voor die lockdown gedoen het. Sommige mense het reeds maskers gedra, ’n koors tussen die klante soos dit laas met Black Friday die geval was. Ek het my kartonne sigarette getel en snoep tussen my onderklere versteek.
Maar iets was verkeerd.
Elders op Facebook het ek weer Dickens se woorde gelees: “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity ...” Hierdie ambivalensie, hierdie verwarring word elke dag van die nasionale inperking al duideliker.
Dit is vreemde tye. Die lugbesoedeling begin op te klaar en snags staan die geïsoleerdes in hulle tuine om die sterre te bewonder. By gebrek aan sosiale interaksie wend mense hulle tot die sosiale media. Die onderbewuste kan immers nie tussen reële en virtuele sosiale kontak onderskei nie. In die verbygaan merk ek ’n paar koddighede op wat hulle patroonmatig begin herhaal. Mense neem meer foto’s van hulself as voorheen, of nooi hulle vriende uit om mee te doen aan so “uitdaging”. Kiekies is immers die herbevestiging van die self, ’n uitvlug van ’n eksistensiële vakuum. Ander, weer, maak keurige video’s waarin hulle roerend poësie voorlees. En soos die kwarantynhorlosie verbytik, raak van die foto’s ook meer bisar: Mense trek slaapsakke aan, verf hulle gesigte met politoer of drapeer helderkleurige serpe om hulle neuse en monde. Tot onlangs nog sou hierdie einste foto’s afgemaak gewees het as belaglik, verspot ... Maar nou lag ons daaroor.
Teen dag 6 begin ek te verstaan waarom gevangenes so huil wanneer ’n spinnekop of goggatjie in hulle selle doodgaan – in die film Winnie Mandela (2011) was daar so ’n toneel: aangrypend en onvergeetlik.
En skielik verstaan ek hoe Chuck Noland in Cast Away gevoel het toe sy bal, met die bloedgeverfde gesig, weggewaai het van sy vlot: “WILSO-O-O-O-ON!!!” (Terloops, dis baie fliekvlooie se gunsteling-Tom Hanks-meme.)
Dit is nie meer snaaks nie. Die irrasionele het ons leefarena betree en dit word, gemeet aan omstandighede, die nuwe normaal.
Dié wat psigologies kwesbaar is, diegene wat bipolêre versteuring, angs of depressie het, begin te praat. Hulle bieg: Sosiale isolasie is nie vir sissies nie. In teenstelling met hierdie weerloses het die selfaangestelde rasieleiers, hoofseuns en -dogters sedert dag 1 op Facebook na vore getree en ons betig: Wees positief, moenie dit nie, moenie dat nie. Soveel morele vermanings. En as die teenpool hiervan het die doemprofete gemurmureer: Suid-Afrika gaan nie die pandemie oorleef nie, die ekonomie gaan nooit herstel nie, die rand bly verswak, ens, ens. Ek lees alles, vaagweg geïrriteerd. Mens het nie veel beheer oor die noodlot nie.
Toe hou ek op lees. Ek voel vasgevang tussen niks en niks. En ek begin dink; teorieë oor ruimtereisigers wat die slagoffers is van cabin fever. En Nicholas Taleb se Antifragility-konsep: Hoe sterker ons word, hoe broser word ons ook. Globalisering het soos ’n dief in die nag gekom, versluier met ’n N95- sjirurgiese masker en handskoene. “Dit is deel van die ordentlikheid van die Dood dat hy onaangekondig kom, met bedekte gesig en hande, op ’n tyd wanneer mens hom die minste verwag. Hy hoort langsaam te kom, saggies soos sy broer, die Slaap; of vinnig en gewelddadig soos die volvoering van die liefdesdaad …” Ek besin oor dié aangrypende en poëtiese aanhaling uit Morris West se Afrikaanse vertaling van sy roman The devil’s advocate (1962). Daar is die versugting van die estetiese. En daar is teorieë en projeksies. In Malcolm Gladwell se The tipping point beskryf hy hoe die geringste gebeure die sneller kan word wat die skale op makrovlak beïnvloed; dit deel ooreenkomste met die chaosteorie. Daar is spekulasies dat die wêreld soos ons dit eens geken het, onherroeplik mag verander.
Soos universiteite. Die aanvraag vir – of noodsaak van – aanlyn onderrig neem meer toe as ooit tevore. Die konsep van ’n universiteit soos ons dit ken se dae is dalk getel. En of dit nou Blackboard, Moodle, Zoom, Canvas of ander opvoedkundige tegnologie is, tersiêre onderrig moet voortgaan. Maar hierdie programme kan werk slegs as studente toegang tot betroubare internet het, soos op kampusse of in koshuise. Daar wag talle uitdagings.
Dag 3 van die inperking kon ek dit nie meer hou nie – ek moes úít. Ek is net eerlik. En natuurlik het mens altyd iets dringend nodig vir ’n huishouding ...
Eers het ek gemaak of ek pos uithaal, net om van die elektroniese skuifhek af die (normaalweg besige) straat te kan bespied. Daar was geen kar, geen fietser, geen siel in sig nie.
Toe glip ek oor die spookstraat, die vulstasie se 24/7-superette in my visier. Bedags was die geloei van sirenes in die verte hoorbaar – nuwe koronagevalle? Of huismoles?
Genadiglik geen padblokkade, geen weermagstewel wat my vastrap nie. By die glasdeur besluit ek op witbrood en spiritus (nie vir bloutrein nie, dink ek wrang) – brandspiritus ontsmet, en brood is kos. Geen fout daarmee nie.
En ek koop toe sommer ’n hele spul goed vir die huis en handevol lekkergoed, iets wat ek nie normaalweg sou doen nie. Die vriendelike winkelier, gemasker en gehandskoen, deins twee treë terug van die toonbank met die betaalslag.
Buite was twee ongemaskerde petroljoggies verveeld die petrolpompe.
Terwyl ek terugstap, besef ek: Dit gaan oor grense; ek wou ’n onsigbare grens uitdaag en ek is nie deur die owerheid gekonfronteer nie. (Die waarheid is dat ek doodbang vir polisie- of weermagbrutaliteit.) En ek leer iets van myself: Dis in my aard om bestaande grense te toets.
Tuisgekom voel ek vry en uitgerus, asof ek vir weke met vakansie was.
Maar dis net tydelik. Elders lees ek dat die joernalis Melanie Verwoerd beweer dat almal geraak gaan word deur die virus – finansieel, fisiek, emosioneel. Ons treur oor die onsekerheid wat is, en wat mag volg. Ons verdriet is individueel én kollektief. Ons is verward.
Weer blaai ek deur Facebook. Verbeel ek my, of is die virtuele gange leër, meer verlate? Waar ís die mense?
Dan breek my verjaardag aan. Saam met Van Gogh s’n. Heel gepas deel van die lockdown; van ’n dreigende apokalips.
My vriende kom wens my geluk en ek is oorweldig deur die reaksie en loods terstond ’n stroom memes en cartoons, maar teen dag 6/7 merk ek dat humor nie meer die gepaste paljas is nie. Die koronaskaduwee verdonker. Ons raak disfunksioneel en ek herkou aan Camus se The plague; aan Frankl se Man’s search for meaning, en bestel nóg vitamiene by die apteek.
Die apteker, ’n jong lat met ’n motorfiets, kom lewer self die pakkie by die voordeur af, sy valhelm argeloos oopgestoot bo sy masker.
Op my vraag of die apteek nog maskers in voorraad het, vertel hy my dat daar weinig, of geen voorraad in farmaseutiese winkels is nie, maar dat daar iewers ’n ou in die Ooste is wat maskers vanuit sy huis verkoop. Aha, lei ek af, dis die volgende fase: sluikhandel in dié kosbare kiemwerende stukkie lap.
“Made in China,” voeg hy droog by, en ons lag onbedaarlik oor die stukkie vervaardigingsinligting.
En van maskers na die mens se beste vriend. Sedert dag 1 het ek gewonder oor die buurt se honde. Dag 2 en 3 was Wagter en kie nog relatief stil, die gebrek aan uitstappies en die normale sensoriese lading ten spyt.
Hoe klink ’n kwarantynblaf? dink ek, en wonder dan vir ’n oomblik of ek dalk die kluts kwyt is. En wraggies, teen dag 4 het dit gekom, daardie vermoeide, lui blaf van honde wat ’n spookbuurt bewaak. ’n Hond wat verveeld agter sy eie blaf aan blaf.
Social distancing. Die gonswoorde op almal se lippe. Tog: Hoe groter jou ekonomiese status, hoe groter jou sosiale ruimte. Jou kantoor. Jou kar. Erf. Jou comfort zone. En hoe armer jy is, hoe kleiner krimp dié ruimte dienooreenkomstig – in ’n informele nedersetting is social distancing net ’n luukse. In effek beskerm die regering die bevoorregtes, tob ek; nie almal kan social distancing bekostig nie.
Ek besluit om my liewer te wend tot my skryfwerk. Weer Morris West: “... Ek skryf uit die algemene behoefte van die mens aan gemeensaamheid, al is dit ook met ’n skoon vel papier; omdat die wete van wat ek is soos ’n gewig aan my hang …”
Die voorlopige werkstitel van my bundel kortprosa waaruit ek voorlees, is Meiboom:
Lees ook
Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen