Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis

  • 3

Met die land wat vir drie weke in kwarantyn is, gaan 21 skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!

Dag 3: “Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het” deur Koos Kombuis

“And indeed it could be said that once the faintest stirring of hope became possible, the dominion of plague was ended.” – Albert Camus, The plague

Jare gelede het ek The plague van Albert Camus gelees.

Ek onthou dit as ’n skrikwekkende, boeiende leeservaring.

Nooit in my wildste drome het ek gedink ek sal myself ooit in so ’n situasie bevind soos die fiktiewe karakters in Camus se storie nie.

Dit is fiksie, after all?

Woensdag hierdie week – een dag voor ons laaste dag van “vryheid” – het ek in my kar geklim om vir my ou pel Beyers Truter op die plaas Beyerskloof te gaan hallo sê. Hallo, of koebaai, of wat ook al, want ons het nie geweet wanneer ons mekaar weer in lewende lywe sou sien nie.

Dit was vreemd om nie vir Beyers te kon groet met ’n broederlike omhelsing soos gewoonlik nie. In stede daarvan het ons twee meter van mekaar af gestaan met ons elmboë gepunt. Soos wat pres Ramaphosa dit daai eerste aand op die TV gedemonstreer het.

Ons het gesels en gelag soos altyd. Maar die onderliggende luim was ietwat somber.

Na die tyd het hy vir my ’n paar bottels wyn geskenk (dit was natuurlik een van die redes hoekom ek vir hom gaan kuier het), en ek het die pad huis toe gevat.

Ek het deur die pragtige wynlande van die Kaap gery. Daar was min verkeer. Dit was vreemd om verby Root44 te ry en geen motors in die parkeerarea te sien nie.

Ek het gedink aan The plague van Albert Camus. Hoe die storie begin met die hoofkarakter wat een aand – of was dit een oggend? – in die straat buite sy huis op iets trap wat onder sy skoen meegee.

Hy het afgekyk, en dit was ’n dooie rot.

So het dit begin. Met iets so onbenullig.

En tog so grusaam.

Twaalf jaar gelede het Bob Dylan ’n album uitgereik, Modern times, waarop hy ’n lang ballade sing genaamd “Ain’t talkin’”. Dis ’n lied vol Ou Testamentiese beelde van wraak, verraad en tikkies waansin, soos die meeste van Bob Dylan se werk.

Halfpad deur die lied sing hy hierdie vers:

Ain’t talkin’, just walkin’,
Through the world mysterious and vague
Heart burnin’, still yearnin’,
Walking through the cities of the plague.

’n Skrikwekkende beeld.

I’m driving through the cities of the plague, het ek by myself gedink. En ek het gewonder: Hoe lank voor ek weer op hierdie pad ry met hierdie motor?

By die huis gekom het ek my motor in die motorhuis getrek, na my studio toe gestap, my tekenmateriaal nader getrek en die beeld uit Dylan se lied in potloodskets probeer vasvang.

Ek kon nie heeltemal daarin slaag nie. Ek is ongelukkig nie ’n baie goeie kunstenaar nie. Ek glo ek is, maar nou ja.

Maar met soveel tyd skielik op hande, moet ’n mens maniere kry om jouself besig te hou.

Ek het selfs begin om bekfluitjie te leer speel.

Sulke goed.

Wat anders kan ’n mens doen?

Ewenwel: Ons sou hierdie week by die KKNK in Oudtshoorn gewees het. Om die waarheid te sê, dit sou môre of vandag die laaste dag van die fees gewees het.

Fok.

Kyk, die verlies van die Olimpiese Spele was erg.

Maar die KKNK?

Die Olimpiese Spele is laas gekanselleer in die tyd van Hitler.

Is dit die tye waarmee ons hierdie fase van die geskiedenis moet vergelyk?

Hoe gaan toekomstige generasies na die jaar 2020 verwys? As die jaar toe die wêreld geëindig het? Of die jaar toe die mensdom wakker geskrik het uit sy droom van ekonomiese groei, uitbuiting van die natuur, gierigheid en kollektiewe manipulasie?

Almal dra nou maskers as hulle waag om hul huise te verlaat om vinnig brood of melk te gaan koop.

Fisiese maskers.

Die maskers wat ons tot nou toe gedra het om mekaar te bevark en te belieg en mekaar te misbruik, was onsigbaar.

“Frankryk het die burka verbied,” het iemand vir my in ’n gesprek gesê (laas week, toe ons nog backstage met medemusikante kon skerts voor ons op die verhoog moet gaan). “Toe straf God hulle met die koronavirus.”

“Is jy seker dis God wat hulle straf? Is dit nie dalk Moeder Natuur nie?”

Die virus was toe nog nie ernstig nie – nie hier by ons nie – almal het nog grappies daaroor gemaak. Ek ook.

Grappies oor kakpapier, woordspelings, en Chuck Norris.

Nou, vanuit die posisie van lockdown, lyk alles anders.

Nou, met vriende en kennisse wat die een na die ander vermoed dat hulle ook siek kan wees, lyk alles baie meer ernstig.

Ons is daar. Ons is in die middel van die grap. Maak iemand in die kosmos iewers ’n attachment oop, kyk af na ons, en lag LOL?

Ons staan op die stadsplein aan die einde van die wêreld en hou ons eie vernietiging dop wat op ’n reuse-TV-skerm voor ons afspeel.

Getalle, statistieke, feite. ’n Ekonomiese sisteem wat in duie stort. ’n Wêreldorde wat val soos Rome van ouds.

Maar die vyand wat ons samelewing bedreig, is nie barbare nie. Die vyand is nie die kommunisme nie. Die vyand is nie aliens nie. Die vyand is nie kernwapens nie. Dis nie hongersnood of oorbevolking nie. Dis nie een van die gewone nie.

Dis ’n virus. ’n Virus wat so klein is dat jy dit nie met die blote oog kan sien nie.

’n Fokken virus.

Mens voel lus om vir hom te sê: “Hey, man, pick on someone your own size.”

Maar jy kan niks vir hom sê nie, want hy antwoord nie.

Hy word net meer en meer en meer.

.....

Dag drie.

Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het. Die Oudtshoornfees.

Hier is ’n uittreksel uit my song “Die laaste dag van die fees”
van die album Koos Kombuis (die wit album).

Dié van julle wat die hele lied wil hoor, kliek hier.

.....

Need something funny to put you in a better mood after being locked up for 21 days? Don’t miss out on the new novel by Joe Kitchen, Sushi with Hitler
Details available at www.naledi.online.

.....

Lees ook

Die hele wêreld word stil

Lees nog Kwarantyn-ketting-bydraes:

Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux

Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha

Dag 4: Kwarantyn-ketting – "Dagboek van dankbaarheid in die tyd van die virus" deur Marita van der Vyver

Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach

Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee

Dag 7: Kwarantyn-ketting – "Van Pieter-Dirk Uys in Darling"

Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer

Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots

Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse

Dag 13: Kwarantyn-ketting – "Die inperking: die geskenk van gekonsentreerde tyd" deur Riana Scheepers

Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal

Dag 15: Kwarantynketting – "Koue wind" deur Ruan Kemp

Dag 16: Kwarantynketting – "Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall" deur Danie Marais

Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton

Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer

Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges

Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp

Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen

  • 3

Kommentaar

  • Christine Barkhuizen-Le Roux

    Ek lees vanoggend Koos Kombuis se 3de dag kwarantyn-ketting, en ek luister na sy liedjie. Ek onthou die boeke wat ek al gelees het was wáár geword het: Animal Farm, 1984, Nooit meer slapen . . . en dit maak nie bang. Ook vir dit wat ek self skryf. Koos, jou lied sit in my keel vas. 'n Ontroerende brok waarheid. Dankie daarvoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top