Met die land wat tans in kwarantyn is, gaan skrywers – een per dag – ’n korona-kettinggesprek voer oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. Volg die kwarantynketting daagliks!
Skrywer Danie Marais vertel meer oor die eerste dae van die inperking en lees twee gedigte voor:
Dag 16: “Dowwe paniek en onwerklikheid in die Eikestad Mall” deur Danie Marais
“Language is a virus from outer space,” het William Burroughs in sy roman The ticket that exploded (1962) geskryf. Hierdie ryk metafoor verwoord iets van die enigmatiese, alchemistiese effekte van taal.
Maar as taal ’n virus uit die buitenste ruimte is wat alles verander waaraan dit raak, is hierdie koronapandemie ’n koloniaal-imperiale taal uit die sekulêre bose – een waaraan jy moet stik en stotter al laat dit jou sprakeloos; ’n koors wat alles waarmee dit in beroering kom, vervorm en verkleur.
Dié dat ek sedert die begin van kwarantyn voel ek stoei met ’n ondeurdringbare emosionele babelas in ’n parallelle onwerklikheid. Dis of ek in die verkeerde, vervelige distopiese roman beland het – ’n saai nagmerrie, ’n ongeïnspireerde weergawe van die apokalips in ’n volkleurstomfilm. “I wanted zombies. This virus sucks!” soos een meme dit stel.
Maar dan loop ek deur Stellenbosch se godverlate Eikestad Mall met ’n masker op pad na die winkel en ’n paniek oor ekonomiese armageddon en honger hordes desperate mense oorweldig my voor dit weer in ’n vae onvoorstelbaarheid verdwyn en net die kil beton en geslote glasdeure onder die dowwe logo’s van siellose franchises oorbly.
In die grootliks afgesperde mall dink ek weer, soos so dikwels sedert die afkondiging van die inperkingsmaatreëls, aan “Inexhaustible resource” – ’n gedig uit Tony Hoagland se heel laaste bundel, Priest turned therapist treats fear of God wat in 2018, die jaar van sy dood aan pankreaskanker, verskyn het.
Ek kry nie die oorspronklike Engelse weergawe aanlyn nie, maar hier is my Afrikaanse vertaling:
Onuitputbare hulpbron
“As die oseaanvlakke aanhou styg, sal hierdie alles onderwater wees,”
sê die bioloog en sprei haar hande oor die restauranttafel,“En daarmee bedoel ek skubaduik in Manhattan:
jy dryf verby die klipgargoyles van die Chrysler-gebou;
jy swem in en uit by die vensters van die Trump-toring.”“Geen rede om opgewerk te raak nie,” sê die Boeddhis aan tafel.
“Selfs die term ‘aardverwarming’ is ’n geval
van planetêre sentrisme.”…
Slagting van die olifante en walvisse
Pandemie van die insekte en paddas
Skending van die koraalriwwe en gletsers
Plundering van die riviere en mere
Uitwissing van krieke in moerasse
Die mis wat wieg in die arms van sipresse aan die kus
…Soos John Keats, in sy laaste brief, geskryf het:
“Ek kry die gevoel dat my regte lewe verby is –
ek voer reeds ’n postume bestaan.”…
Selfs in hierdie dae voor die komende storm,
ons angs, ons gewroeg en klaagliedere,
ons verslae statistiek en wetenskaplike rusies,– kan iemand vir my sê, asseblief,
hoekom dit soos ’n vertoning voel?…
Verbeelding, ons laaste immuunstelsel.
Ongeloof, ons mees onuitputbare hulpbron.
Onwerklikheid, my groot liefde, beskerm my.(Uit “Inexhaustible Resource”, Priest turned therapist treats fear of God,
Tony Hoagland. Graywolf Press, 2018.)
Luister na Danie se voorlesing van “Onuitputbare hulpbron”:
Hierdie gedig verskerp die fokus op die nuwe onwerklikheid, nes die pandemie skynbaar alle vrese en gewaarwordings van onmag en weerloosheid versterk.
In die troosteloos ontvolkte Korona Mall kan ek my daardie skubaduiker helder voorstel wat by die Trump-toring in en uit swem in New York waar die lyke opstapel. En tog kyk ek steeds deur ’n vlies van ongeloof na die ware onwerklikheid voor my.
Die idee van duisende dooies en sterwendes in die slapelose spookstad New York herinner my ook aan ventilators. En dan dink ek aan die afskeid van my ouers op 23 Maart en ek weet nie of ek ’n fout gemaak het om my ma nie behoorlik te druk en te soengroet nie – my ma wat reeds nadat sy ’n superkiem in ’n hospitaal gekry het, 40 vreesaanjaende dae op ’n ventilator was in ’n tyd toe ek haar nie kon besoek nie; my ma wat al ’n paar keer op die hiernamaals se drumpel omgedraai het.
Voor die virus al het die beeld van my ma wat in die wagsaal van die dood lê en net met haar oë kan uitreik na my pa langs haar bed, my dikwels snags vervul met ’n rasende magteloosheid toegedraai in berou en verdriet oor soveel verspeelde lentes en die radikale onvermoë om enigiets aan my ma se lyding of die verloop van enige sake te doen.
In die mall voel dit of ek niemand behoorlik gegroet het nie en of ek my vryheid soos my jeug verkwis het. Waarskynlik omdat die mall nou soos ’n museum is wat geen besoekers meer lok nie; ’n monument vir ’n morsige manier van lewe.
Maar daar is iets in hierdie ervaring wat ook opwindend is. Die Franse filosoof Alain Badiou praat van “The Event” as ’n historiese draaipunt; ’n gebeurtenis wat tyd en ruimte skeur en iets nuuts in die wêreld laat verskyn. Hy noem die Franse Revolusie en die studenteopstande van 1968 as voorbeelde van sulke “gebeurtenisse” wat alles skynbaar netjies in vóór en ná die “Gebeurtenis” verdeel.
En hierdie is ’n “Gebeurtenis” – dalk die grootste sedert die val van die Berlynse Muur en Mandela se vrylating in 1990, my eerste jaar op universiteit. Hierdie pandemie kan en het reeds alles in die politiek en ekonomie verander.
In 2005 in die dokkie Žižek! het die Sloweense filosoof Slavoj Žižek die volgende (sedertdien gereeld aangehaalde) stelling oor die wêreldorde sedert die val van die Muur gemaak:
Think about the strangeness of today’s situation. Thirty, forty years ago, we were still debating about what the future will be: communist, fascist, capitalist, whatever. Today, nobody even debates these issues. We all silently accept global capitalism is here to stay. On the other hand, we are obsessed with cosmic catastrophes: the whole life on earth disintegrating, because of some virus, because of an asteroid hitting the earth, and so on. So the paradox is, that it’s much easier to imagine the end of all life on earth than a much more modest radical change in capitalism.
Maar skielik word groot organisasies genoop om mense voor profyt te stel en regerings dwarsoor die wêreld moet allerlei sosialistiese ingrypings oorweeg. Die skynbaar een en enigste stelsel se toekoms is in die weegskaal.
Die krisis gee ons dus ook die geleentheid om weer te dink oor die strukturele geweld van ’n ekonomiese stelsel wat saam met rykdom vir ’n minderheid ook eksponensieel groeiende ongelykheid produseer, maar skynbaar demokraties onhervormbaar geword het.
Die joernalis-regisseur David Simon het dit mooi opgesom in ’n essay wat hy oor sy seminale HBO-televisiereeks The wire (2002–2008) geskryf het:
The Wire depicts a world in which capital has triumphed completely, labour has been marginalised and moneyed interests have purchased enough political infrastructure to prevent reform. It is a world in which the rules and values of the free market and maximised profit have been mistaken for a social framework, a world where institutions themselves are paramount and everyday human beings matter less.
(Uit The Wire: Truth be told. Canongate, 2009, saamgestel deur Rafael Alvarez.)
Maar hierdie skynbaar enigste manier van sake doen is lamgelê. Wall Street en Times Square is in spitstyd so leeg soos die Eikestad Mall.
En dit maak hierdie krisis ook anders as waarskuwings oor die gevolge van toekomstige omgewingskatastrofes. Hierdie ramp hét ons getref. Wat hierna volg, is radikaal onseker, maar om aan die weerloosheid ook van instansies en mense wat onaantasbaar gelyk het, herinner te word, is nie net ’n slegte ding nie. Ons het ’n kans om veel armer maar ook sagter en medemensliker aan die ander kant hiervan uit te kom.
Korona onderstreep egter ook die heersende ongelykheid. Mense word nou gehok – óf in gemak óf in onuithoubare gehuggies. Sommige slaap sleg oor hulle pensioenfondse en aandeleportefeuljes wat aanhou val; ander weet nie waar die volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Elkeen se situasie is skielik meer akuut.
In die New York Times skryf Nicholas Casey hoe studente wat in koshuise dieselfde ruimtes gedeel en dieselfde kos geëet het, nou deur videobyeenkomste herinner word hoe verskillend hul huislike omstandighede is.
Onder die soeklig van die virus wonder ek opnuut oor die geldigheid van die gedigte waarmee ek in die laaste twee tot drie jaar gestoei het; gedigte oor die vrese en bevoorregte magteloosheid wat voorstedelinge teister.
By die onlangse Woordfees, wat so net-net nog plaasgevind het, sê die jong teatermaker-skrywer Mercy Kannemeyer vir my vriendelik dog ernstg: “Dis tyd dat jy weer uit die suburbs kom.”
Sedertdien het ek gewonder of ’n mens werklik uit die suburbs kan kom as dit van kindsbeen in jou was. Selfs in die cooler buurte waar ek gebly het, het ek nooit aan ’n sekere geïnternaliseerde voorstedelike verwagtingshorison ontsnap nie.
Maar dalk gaan die suburbs nou ’n bietjie uit die suburbs geboender word? Ten goede of ten kwade.
Want wat ek wel weet, is dat die suburbs van Stellenbosch ook die tuiste van ’n onhoudbare paranoia en beklemming is. In hierdie voorstede leef jy in wit gemak, maar vreesagtig soos ’n pionier in ’n hartbeeshuis wat op betwiste grond gebou is. Op die buurtwaggroepie wemel dit voortdurend van “verdagtes” wat stil-stil hul behoeftige weg deur die strate baan.
Ek wil hê wat die suburbs gee, maar nie waarvoor dit staan of wat dit vat nie.
Daarom sukkel ek nou al maande met hierdie gedig wat al verskeie titels en slotstrofes gehad het. Nou kan ek dit net sowel deel. Die virus en sy nadraai sal besluit oor die relevansie daarvan, maar al hierdie dinge het ek met ’n groter koorsigheid gevoel in ’n nuwe onwerklikheid waar die slaap snags dikwels ontwyk:
O, die sentimentele roofdiere
Charles Bukowski het iewers geskryf:
“A poet needs pain
Like he needs a typewriter”,
maar niemand gebruik meer ’n tikmasjien nie
Ek is nie eens seker of ek Bukowski reg onthou nie –
Google haal haar skouers op
oor daardie klaarblyklik onklassieke low-brow Beat-gedagte,
maar ek onthou daardie apokriewe boodskap so goed
asof dit destyds direk gerig was om my te herinner
my gepoetste pyn
deug darem vir ’n bietjie poësie my pyn
is so half universelerig want ek
is die gewone ou, die kleinman geskik
om ’n onmerkwaardige, onvooringenome ek
soos ’n sonde, ’n peilstif, ’n voelstafie
deur die binneste duisternis
van die derms van blinde gevoel
en metafisiese verlange
te jaag
op soek
na daardie enigste gedig
Leonard Cohen se
“The Only Poem”
daardie gedig wat jy soos Leonard leer skryf wanneer
jy nie kan slaap nie
en jy niks
en niks jou
kan bykom nie
dié een gedig
wat net jy kan skryf
vir iemand soos jy om te lees
in ’n diep onderwaternag soos dié
wanneer jy met seekat-arms gryp
na suiwer woorde maar arms vol soutwater
aan jou bors druk
terwyl dit lyk of jy wuif na ’n leë saal
anderkant die akwariumglas.Deesdae is ek diep onder die verlammende indruk daarvan
dat ek vir mense soos ek skryf mense
wie se dae getel behoort te wees mense
wat aan soortgelyke vetgevrete skete ly
sentimentele roofdiere
skandalig goed beloon net
omdat hulle opgedaag het in die regte huis
gebou op onreg so oud
soos hebsug en vrees
’n huis omhein
met weermagte en intelligensiedienste befonds
met die plundertogte van eeue verdoesel
deur waansinnige idees wat tot onherbergsame
klein koninkryke gestol het
waarvan die dekadentste patrisiërs in Rome
nie in hul wildste orgies
kon droom nie.Deesdae voel ek in my derms op nagte soos dié
hoe luuks en sag die tuin om my lê hoe uitspattig
ons middelklastuinmeubels in die maanskyn skynheilig
kringetjie hou langs die blinkswart altaar
van die Weber waaruit die rook van dooie diere
naweke krul maar die offers geen gode meer behaag nie
die voorstede ’n uitgestrekte Versailles
met ’n helder uitsig op die blikhuise
op bloederige knieë
teen Papegaaiberg op.Deesdae voel my pyn al minder geldig
skryf ek daardie een gedig oor en oor
nag ná nanag net vir jou
wat ook bang-bang wens jou oneerbare lewe sal gespaar word
wanneer bevind word
jy was geen besonder goeie mens nie jy wou
maar net klou
waaraan almal klou net
nog ’n voetnootsoldaat
tot die blinde, bloedige mars van die geskiedenis.Deesdae weet ek my naggedig is afstootlik
vir almal wat nie meer in gepoeierde
burgerlik boetvaardige woorde
in die plek van huise en harde kontant
belangstel nie.Deesdae eindig my naggedig vervaard
in ’n kinderlike gebed in die wind
om my kinders ontwil:
mag die sondes van hul vaders
vergewe word
deur mense wat beter is
as wat mense is.Maar wanneer ek terugkeer bed toe
en warm agter jou inkruip jy
wat my oortuig het
“bullshitloos”
is die mooiste semi-Afrikaanse woord
wanneer ’n nag soos dié my terugspoel
teen jou sagte kuslyn aan weet ek
vir jou en hierdie huis
kan ek moor
soos my voorgeslagte gemoor het.
Luister na Danie se voorlesing van “O, die sentimentele roofdiere”:
Lees ook
Lees nog Kwarantynketting-bydraes:
Dag 1: Kwarantyn-ketting – "Liefde en leef in die tyd van korona" deur Christine Barkhuizen-Le Roux
Dag 2: Kwarantyn-ketting – "Tussen die boom en die bas" deur Lien Botha
Dag 3: Kwarantyn-ketting – "Vandag sou die laaste dag van die fees gewees het" deur Koos Kombuis
Dag 5: Kwarantyn-ketting – "A day in the life ..." deur Kerneels Breytenbach
Dag 6: Kwarantyn-ketting – "Die internet is ’n lewensreg" deur Olivia M Coetzee
Dag 8: Kwarantyn-ketting – "Het jy ’n foto van ’n aardwolf?" deur Toast Coetzer
Dag 9: Kwarantyn-ketting – "Agter die kwarantyngordyn" deur Nini Bennett
Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete
Dag 11: Kwarantyn-ketting – "Aanhou beweeg en geraas maak" deur Debbie Loots
Dag 12: Kwarantyn-ketting – "Die bome behoort nie aan jou nie" deur Wilna Adriaanse
Dag 14: Kwarantyn-ketting – "Onoplosbare liefde in die vloedtyd" deur Pieter Odendaal
Dag 17: Kwarantynketting – "Hoekie vir die (nie-) eensames" deur Cliffordene Norton
Dag 18: Kwarantynketting – "Die tyd van virtuele voortbestaan" deur Naomi Meyer
Dag 19: Kwarantynketting – "Om anders na dinge te kyk" deur Remona Voges
Dag 20: Kwarantynketting – "Force majeure" deur Tertius Kapp
Dag 21: Kwarantynketting – "Die zombiewêreld van COVID-19" deur Ena Jansen
Kommentaar
’n Briljante stuk skryfwerk , Danie!
Dankie, Danie.
Baie stof tot nadenke!
Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Maar daar sal hulle wees wat ons gou weer sal wil oortuig dat alles weer na normaal sal terugkeer, soos die lewe BC (Before Corona) dat die impak op die aarde nie positief is nie, skoon lug, vissies in Venesië was fake news, veral die wat die ekonomiese hef in die hand het, want hulle het die meeste om te verloor!
Doen so voort, Danie!
Neewat, al het hulle die meeste om te verloor, sal hulle meer oorhê as die meeste mense in ons land.
Ek dink die kern van Danie se gedig is die reël: “deesdae lyk my pyn al minder relevant ...”