Sêgoed van Danie Marais “So, as dit kom by die betekenis van literêre pryse, het jy ’n bietjie ’n gevoel van jou eie absurditeit en belaglikheid en terselfdertyd probeer jy wat jy doen, ernstig opneem. Ten minste kan ek nou sê daar is mense wat geglo het dat wat ek skryf, meriete het.” (Beeld, 14 Desember 2007) “As mens bereid is om my skryfwerk gedigte te noem, dan wil ek daarmee aangaan.” (Beeld, 14 Desember 2007) “Dis ’n baie moeilike balans om outobiografies te skryf. Jy wil ’n soort intimiteit met die leser hê, maar jy wil nie ’n punt bereik waar jy soos ’n flasher in die park, ’n emosionele streaker word nie. Jy wil jou ontbloot sonder om jouself heeltemal te wys.” (Beeld, 14 Desember 2007) “Maar as dit kom by wat poësie is, dan dink ek as woorde by jou spook in ’n sekere volgorde, dan is dit poësie. En dit is vir my die belangrikste ding. Ek dink baie mense werk volgens ’n baie formalistiese rymskema of ding, terwyl ek nogal voel die idee of die storie of die toneel het eintlik sy eie struktuur en sy eie ritme. Vir my is dit eerste. Dis vir my ’n soort van outobiografiese shorthand.” (Beeld, 14 Desember 2007) “Nostalgie is ’n tema soos dood, liefde of grootword – dit sal altyd relevant bly. As ’n mens gedurig huis toe verlang, word nostalgie egter iets wanhopigs.” (Die Burger, 4 Mei 2007) Oor kritiek: “Ek is nog maar baie onervare wat dié aspek betref, maar dink ’n mens moet ’n balans tussen gesonde eiesinnigheid en ’n oopheid vir goeie kritiek probeer vind. Ek neem Andries Visagie se kritiek oor eenselwigheid ernstig op. Sulke bruikbare kritiek kan van groot hulp wees, maar ek dink nie ’n mens hoef kritiek ter harte te neem wat jou misverstaan laat voel nie.” (Die Burger, 4 Mei 2007) “I hope people will find some comfort and understanding in my poetry that will make them feel less alone. My poetry does not change the cold facts, but I hope it will be a shot of whisky on a freezing night to anyone who experiences life the way I do.” Waar begin ’n gedig? “Dis wanneer jy warm en koud raak oor die gewone goed rondom jou, dit ’n geweldige emosie roer. En die noodsaak by jou opdoem om hierdie knop in jou keel aan ’n ander oor te dra.” (Rapport, 16 Maart 2008) “Om in ’n ander taal te leef en te werk, beteken om na jouself te moet luister in ’n weergawe wat nie noodwendig jou eerste keuse is nie. Aan die ander kant help dit jou om uit te vind watter dele van jou onlosmaaklik met ’n ander taal en plek verstrengel is. Duits en Duitsland het my vir die eerste keer laat besef hoe Afrikaans ek is.” (Beeld, 29 November 2006) “Om Afrikaans te praat en te skryf, is vir my om na die Johnny Cash-weergawe van myself te luister. Of dit groot kuns is, weet ek nie en die stem en die opname krap ’n bietjie, maar dis die naaste aan die intieme essensie van die liedjie van my lewe.” (Beeld, 29 November 2006) Oor opname in Groot verseboek: “Erkenning is vir skrywers die broodnodige troos dat al die gespartel nie heeltemal verniet was nie – iémand het gedink dit was die moeite werd.” (LitNet) Oor sy praatstylverse: “Ek het beslis nie doelbewus iets nuuts probeer ter wille van vernuwing nie. Die ontwikkeling van enige skryfstyl is ’n organiese proses wat oor ’n hele paar jaar se skryf en weggooi en weer probeer, ontstaan.” “Ek het daardie aand (in Duitsland by ’n poësievoorlesing) begryp dat die plek waar ek vandaan kom, die plek waar ek hoort en van weggevlug het en na terugverlang het, nie ’n plek op ’n kaart was nie. Dit was nie ’n plek waar jy kon afneem of besoek nie, maar ’n onthoude plek, ’n verbeelde met taal en rou emosie. Ek kon dit oproep soos ’n gees of deel met ou vriende, soos herinneringe en verlies, maar ek kon dit nie bewoon of terugwen nie. Dit was ’n plek wat veral uit Duitsland baie na nêrens gelyk het, ’n plek vol bekrompenheid, misdaad, zeffers, Bybelversies, geweld en Apartheid. Dit was baie dinge: onvoorwaardelike ouerliefde en begrip, my eerste soen, erfskuld en skoolsokkies, wrewel, misverstande en vakansies by die see. Maar dit was in 1998 bowenal vir my ’n noue ontkoming.” (Oulitnet) “Die gedigte in In die buitenste ruimte handel oor situasies waar mens magteloos voel. Die poetry waarvan ek hou, is soos marmer monotone wat aanhou drone, maar dit irriteer my. Ek wil net sê wat ek wil, sonder om na te boots en te klink soos ’n NG-predikant of ’n Jackie Nagtegaal in Afrikaans.” (Beeld, 3 Oktober 2010) “Harold Bloom het eens gesê digkuns is soos ’n secular prayer en dat jy hoop iemand hoor. Daarmee stem ek saam. Vir my is digkuns ’n coping mechanism, iets om die estetiese waardigheid aan jou beteuterde bestaan te gee.” (Beeld, 3 Oktober 2010) “Ek was al baie na daaraan om die digkuns af te sweer, en ek wil graag glo dat ek sou kon. As jy ’n rekenmeester is, sal jy altyd ’n goeie balansstaat kan optrek, want dis deel van jou professionaliteit. Maar om kreatief iets van waarde te maak, moet daar ’n persoonlike kompulsie en obsessie by jou talent en visie kom. In die groter kosmiese prentjie maak dit nie regtig saak of ek nog twee boeke skryf, of vier, of geen nie. Dit maak nie vir my sin om te skep as jy die mense rondom jou gaan verwaarloos in die naam van jou talent of kuns nie.” (Die Burger, 5 Julie 2014) “Ek kan eksperimenteer en vrae stel sonder om die uitkoms op ’n manier te probeer dokter. Om só te dig, is eerder ’n manier van dink as om mense te probeer leer of help. En soms kry jy ’n manier van begrip, maar dis nooit gelyk aan ’n eenvoudige oplossing of plan van aksie nie.” (Rapport, 6 Julie 2014) “Gedigte skryf is ’n bietjie soos adverteer in die hoekie vir eensames. Of soos om konfyt te maak en goed in te lê. Of soos om die rumoer vir ’n oomblik te laat stil word.” (Beeld, 12 Desember 2010) “Dit voel vir my of die ruimte vir analise, en veral vir kuns en kultuur, kritiek verskriklik krimp. Daar is iets ernstig wat verlore gaan. Kritiek is ’n manier om die wêreld te lees en om sin te maak van die manier wat mense iets doen.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Ek was, net soos Fokofpolisiekar se bendelede, reeds as tiener baie bewus van al die leuens wat stelselmatig oor 12 skooljare lank aan ons verkoop is. Ons was baie geneig om alles te wantrou wat die grootmense voor jou gedoen en gesê het. Jy het, sommige van ons wel, jou lewensmodelle oorboord gegooi.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Daar is soveel goed waaroor ek gewonder het in my twintigs. Ek het gewonder of ek ’n tatoeëermerk moet kry en gewonder wat ek moet kry en waar. Dan het ek nou weer langhare en oorbelle gehad en ’n leerbroek en dan dink ek ek moet nóg ’n leerbroek kry. En nou, twintig jaar later, dink ek waarom op aarde het ek my tyd daarop spandeer! Living is not an exact science.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Ek dink een van die clichés in die lewe en van ons tyd wat ons so baie hoor, is die ding van ‘leef jou passie, volg jou drome’. As jy genoeg kunstenaars en skrywers ken dan besef jy daar is baie mense wat wurg aan hulle drome en wat vrek aan hulle passie. Die probleem is, om regtig ’n passie te hê maak jou weerloos, maar dit maak jou ook uitbuitbaar. Ek dink as mense wil aanhou met hierdie idee van ‘leef jou passie en dan sal jy gelukkig bly’, dan moet daar op ’n manier, as dit vir die samelewing belangrik is om hierdie goed te hê, meer daarin belê word.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Die verskil tussen my en 20 jaar gelede, is dalk, as ek nou 20 jaar in die toekoms aan myself verskyn, ek dalk sal luister. Ek is nou baie meer nederig as wat ek 20 jaar gelede was.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Daar is sekere soorte pyn en lyding wat net oor jou pad kom. As jy mense lief het, is dit net onafwendbaar. Romantiese illusies wat aan skerwe spat, is ’n ander soort pyn as wat jy ’n ouer verloor, wat jy weet gaan gebeur. Daai romantiese illusies wat ’n mens koester, hou ’n besondere gevaar in.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) “Ek dink daar is twee goed wat ek wens mense vroeër vir my gesê het. Ek wens ek het nie destyds vir die voorligter geluister wat gesê het as jy ’n familie wil onderhou gaan doen BCom regte met regsvakke nie. Ek het geweet ek wil eerder filosofie en tale studeer. Ek het baie kompromieë in die laaste 20 jare aangegaan om myself meer sekerheid te gee as wat filosofie en tale my sou gee en ek het altyd weer teruggekom daarby.” (Aan Mizan van der Merwe, Reflekteer) |
Gebore en getoë
Daniel Marais is op 30 Mei 1971 in Kimberley gebore. Sy pa en ma het in Goodwood ontmoet en sy ouma-hulle het in Parow-Noord gebly. Sy pa moes sy ingenieursbeurs wat hy van die destydse Spoorweë ontvang het, in Kimberley gaan afwerk en dis waar Danie toe gebore is.
Hy gaan skool in Pretoria. En matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Menlopark. Hy vertel dat hy ’n baie dromerige mannetjie op skool was. “Op laerskool het ek krieket en rugby gespeel en ek wou beroepstennisspeler word. Ek het ball sense gehad, maar ek was nogal lui. Daar was ’n stadium wat ek dominee wou word, omdat dit so lekker gelyk het as my dominee-oupa, Dirk Jordaan, sy gemeente seën. Hy was ’n dominee in die Sendingkerk in Distrik Ses,” vertel hy aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007).
Danie beskryf die omgewing waarin hy grootgeword het as ’n veilige middelklas huis. Sy pa, die ingenieur, het van klassieke musiek en wyn gehou, maar het nie veel gedink van die letterkunde nie. Dit was sy ma, ’n bibliotekaresse en ’n Afrikaanse onderwyseres, wat aan hom die wonder van die geskrewe woord geleer het. Sy het daarop aangedring dat Danie en sy broer na Johannes Kerkorrel moet gaan luister. “Sy het geweet iets belangriks was aan die gebeur.” (onderhoud met Fred de Vries)
Verdere studie en werk
Na skool gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy B Com met regsvakke studeer soos dit ’n goeie seun betaam wat na sy pa se raad moet luister, aangesien dit die pad is na ’n bourgeois droom van ’n goeie werk, ’n goeie inkomste en ’n liefderike vrou. Hy behaal sy graad in 1993. Op universiteit het Danie altyd gelag vir die ouens wat hulle “silly little poems in little books and magazines” publiseer. (in ’n onderhoud met Fred de Vries)
Hy ontmoet ’n Duitse uitruilstudent in Suid-Afrika en in 1992, sy finale jaar, is hy sak en pak agter die meisie aan. Hy was maar 22 jaar oud. In Duitsland het hy as au pair werk gekry om sodoende naby die meisie te wees. Sy visum het egter verval en dit was haar voorstel dat die twee van hulle moet trou. Op 23-jarige ouderdom is Danie toe getroud. Hy vertel aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007): “In jeans en met lang hare voor die magistraat in Oldenburg. My pa, Kallie, was daar en hy het nogal moeite gedoen om ons onder ’n herfsboom af te neem. Maar my pa lyk besonder ongelukkig op die foto’s. Ek moet sê daai foto het nooit my ouma se mure in die ouetehuis gehaal nie; dit het nie vir haar soos ’n troue gelyk nie.”
In 1995 studeer hy Duits, wiskunde en filosofie aan die Carl von Ossietzky-universiteit in Oldenburg in Duitsland en gaan gee klas by ’n laerskool in Bremen.
Hy vertel verder aan Kirby van der Merwe: “Ons het te vroeg getrou. Sy het my nooit haar man genoem nie, altyd haar boyfriend. Ons het nie ringe of vanne geruil nie. Ons het geweet dit gaan ’n onkonvensionele huwelik wees, maar ons het nie geweet wat dit veronderstel was om te wees nie. Ek was baie verlief. Sy was ’n bietjie soos Betty Blue: sy het haar emosies ten volle geleef. As sy vir jou kwaad was, was sy vir jou kwáád. As sy vir jou lief was, was sy vir jou verskriklik lief. Só het die huwelik ’n lang en eensame dood gesterf.”
Danie se verlange na Suid-Afrika was op ’n stadium allesoorheersend, maar sy vrou het nie kans gesien om terug te kom nie. “Ek was totaal depressief. Sy was ’n argitek daar en het nooit vir haar ’n toekoms hier gesien nie.”
Danie beskryf die nege jaar in Duitsland as “die donkerste tyd in my lewe, nege verloopte jare”.
Oor sy verblyf in Duitsland vertel Danie in Die Burger van 4 Mei 2007 dat wat hy daar gemis het, is die intimiteit en ongekunstelde warmte wat daar tussen mense is en wat ’n mens nie sommer maklik in Duitsland kry nie: “Die infrastruktuur werk goed genoeg vir mense om nie op mekaar aangewese te wees nie en in ’n digbevolkte land word elkeen se private sfeer ’n beskermde heiligdom. Dit lei egter tot groot vereensaming en ’n wedersydse openbare wantroue.” Hy mis die biblioteke en die musiek-, fliek- en teaterkultuur waarvan daar baie is. En ook goeie openbare vervoer.
En toe in 1996 begin Danie gedigte skryf. Hy vertel aan Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007): “Ons het in baie linkse kringe beweeg en ek dink dit was vir haar ’n verleentheid dat ek ’n wit Suid-Afrikaner was. En omdat dit vir haar ’n verleentheid was, het ek altyd politiek verdag gevoel. Ek het oor my agtergrond gevoel soos ’n ou in die tronk: jy wil so half iets goeds daarin sien, maar jy kry nie juis iets goeds om daaroor te sê nie. Maar Suid-Afrika was nogtans die plek waar jy grootgeword het, jou eerste soen gehad het, jou geboorteland. En op die ou einde het ek gevoel ten minste kan mense in Suid-Afrika makliker sien waar jy vandaan kom. Jy word nie so ten volle op jou baadjie getakseer nie.”
Na hy in 2002 na Suid-Afrika teruggekeer het, het Danie aan ’n Duitse skool in Pretoria onderwys gegee en in 2003 begin om vryskutwerk vir Beeld, Rapport, Insig en LitNet te doen. Danie was die redakteur van LitNet se webruimte vir Afrikaanse poësie en skryf op ’n gereelde basis ’n rock-rubriek vir Beeld en Die Burger. Hy is ook ’n fliekresensent van Die Burger. Hy was teksredakteur van Visi en subredakteur en artikelskrywer van Boeke-Insig voordat dit gesluit het, asook adjunkdirekteur van Rapport Boeke. In 2007 was hy mede-aanbieder van The unhappy hour, ’n alternatiewe musiekprogram, op Bush Radio saam met Clive Smith. Hy is tans vryskutjoernalis in Kaapstad, asook rockresensent van Die Burger.
Hy is weer getroud met Karlien de Villiers, ’n grafiese kunstenaar, en vertaal ’n strokiesprent van haar, My mother was a beautiful woman in Duits (Meine Mutter war eine schöne Frau). Karlien doseer grafiese kuns aan die Universiteit Stellenbosch en haar solo-uitstalling Who can a monster blame for being blue? was in 2007 in die Erdmann-galery in Kaapstad.
Danie en Karlien is intussen geskei. Hy en sy dogter, Lea (op ’n gedeelde basis), en Levinia sy kat bly in Rosendal in Stellenbosch.
Op 22 Maart 2019 is Danie met Carine Terreblanche getroud. Hulle woon in Stellenbosch. Carine is ’n senior dosent en koördineerder van juweliersontwerp by die Departement Visuele Kunste aan die US en haar pa was Sampie Terreblanche.
Danie noem die name van Raymond Carver, Philip Larkin, Anne Sexton, Fernande Pessoa, Ted Hughes, Czeslaw Milosz, Gert Vlok Nel en veral ook die vroeëre verhalende Breyten Breytenbach van Koue vuur en Die hand vol vere wat ’n groot impak op hom gemaak het. En musiek was ook altyd daar: “Een van die eerste plate wat ek gekoop het, was Bruce Springsteen se Born in the USA en Prince se Purple rain. En van toe af was ek verslaaf. Veral op die lirieke van Lucinda Williams, Emmylou Harris en Johnny Cash se baie gestroopte country blues. Daar is ’n pragtige intimiteit en eerlikheid wat ek nie by ander musiek kry nie: Cash het dit reggekry om iets positief te maak uit sy versukkelde roots. Hy het iets eerlik, eg en aards geskep. Hy het dit reggekry om iets te maak uit ’n agtergrond wat eintlik agterlik was. En natuurlik Leonard Cohen, Tom Waits, Nick Cave, Bob Dylan, PJ Harvey. Dis almal helde,” in ’n onderhoud met Kirby van der Merwe in Beeld, 14 Desember 2007.
In 2014 was Danie by Bruce Springsteen se konsert en hy vertel aan Mizan van der Merwe (in Reflekteer): “As jy ouer word, word baie dinge minder indrukwekkend, behalwe Springsteen, hy word meer indrukwekkend. Baie van my ander helde is so half ironies en subversief en Springsteen kry dit reg om hierdie groot ironielose kuns te maak, wat jou by tye net bly laat voel dat jy gebore is en asemhaal, maar terselfdertyd bring hy jou onder die indruk dat die manier hoe ons nou leef, dwaas is en dat ons nie so kan aangaan nie en dat daar tog ’n beter manier van saamleef moet wees. Dit is vir my ongelooflik wat hy kan regkry.”
Danie se gedigte word opgeneem in Nuwe stemme 3, Honderd jaar later en My ousie is ’n blom. Andries Visagie het Danie as die sterkste stem in Nuwe stemme 3 beskou. Hy word in 2005 genomineer vir die DaimlerChrysler Poetry Award. Sy gedigte is ook in die Stellenbosse poësietydskrif Vlugskrif gepubliseer, asook in die Nederlandse literêre tydskrif Meander. In 2007 is hy genooi om aan die Poetry International Festival in Rotterdam in Nederland deel te neem.
In 2018 is van Danie se gedigte opgeneem in The new century of South African poetry wat deur Jonathan Ball uitgegee is. Hieroor was Danie baie bly, vertel hy aan LitNet.
’n Konsep vir ’n drama (Wit-wit, wit-wit klop my hart?) is gekeur vir die Kunste Onbeperk Teksmark vir 2018. ’n Uittreksel daarvan is op 4 September 2018 in die Baxter Teatersentrum onder regie van Mari Borstlap opgevoer met Geon Nel en Elana Afrika wat die teks vertolk het.
Hy is tans betrokke by die Stellenbosch Woordfees, waar hy die media en publisiteit hanteer, en hy is ook sedert 2016 die koördineerder van die Woordfees se filmfees.
Vanaf 2015 werk hy as vryskutbasis by kykNET as taalkonsultant, vertaler en kopieskrywer vir hulle bemarkingspan. Hy was die inhoudsregisseur van Die Afrikaners, ’n dokumentêre reeks van 17 episodes wat gebaseer is op Herman Giliomee se gelyknamige boek. Die reeks is in 2018 op kykNET uitgesaai met Kabous Meiring as die regisseur.
Hy is ook betrokke by plaaslike en nasionale radiostasies, soos Bush Radio, RSG en Smile 90.4FM. In 2016 bied hy saam met Kerneels Breytenbach ’n musiekreeks van 13 episodes op RSG aan –Van Oppikoppi tot anderkant Elvis verby – en in Desember 2014 is hy gereeld op gasFLITS – kykNET se weeklikse laataand kuns-en-kultuur-geselsprogram. Van 2012 tot 2014 was Danie een van die aanbieders van Silwerskerm-insetsels toe hy saam met Suzette Kotzé-Myburgh op kykNET se ontbyt-TV-program, Dagbreek, films geresenseer het.
In 2013 en 2014 neem Danie as kommentator-paneellid deel aan 10 uit 10 op kykNET saam met onder andere Rian van Heerden, Haidee Muller, Margit Meyer-Rödenbeck en Gavin Prins. Hy was gasaanbieder van die Fiësta-uitsending op kykNET oor die Darling Voorkamerfest 2014 en ook aanbieder by die tweetalige Kaapse radiostasie Smile 90.4FM van 1 Januarie 2013 tot 31 Oktober 2014. In dieselfde tyd was hy ook die hoof van digitale inhoud en strateeg van dieselfde radiostasie.
Danie se daaglikse Number ones at one van 13:00 tot 14:00, wat hy aanvanklik alleen maar later saam met Benito Vergotine aangebied het, was een van Kaapstad se gewildste radio-ure. Op Smile 90.4 FM bied hy ook Film Friday / Fliekvrydag aan saam met Mehboob Bawa (weeklikse fliekbesprekings) en Theatre Thursdays / Drama-Donderdag, waarin hy met die sterre en vervaardigers van verhoog- en musiekproduksies onderhoude voer. Danie voer ook onderhoude met verskeie besoekende internasionale musikante, onder andere Kris Kristofferson, Suzanne Vega, Mike Rutherford (Mike & The Mechanics) en Bonnie Tyler.
Hy is vanaf Mei 2011 ’n gereelde gasaanbieder by The Wrong Rock Show op Bush Radio saam met Botha Kruger en Greg Donnelly en sy liefde vir musiek kom verder na vore in die reeks insetsels oor punk rock en politiek wat hy saam met Martelize Brink op RSG (Maart – September 2010) aangebied het.
Sy debuutbundel, In die buitenste ruimte, word in 2006 gepubliseer en word bekroon met die Eugène Marais-prys in 2007 en in dieselfde jaar met die Universiteit van Johannesburg-prys vir die beste skeppende debuutwerk. Hy palm ook die Ingrid Jonker-prys vir 2007 met hierdie bundel.
Die titel van die bundel verwys na waar die gedigte afspeel. “Toe ek Duitsland toe is, was ek vasbeslote om ’n nuwe identiteit vir myself te skep. Maar op ’n emosionele vlak het Duitsland vir meer na die buitenste ruimte gevoel. Vryheid en anonimiteit laat ’n mens dikwels voel asof jy gewigloos is en vryval. Die verhouding wat ek wou laat werk het, het soos ’n huwelik in die buitenste ruimte gevoel. Namate ek en my eks-vrou van mekaar vervreem geraak het, het ook die verhouding ’n eensame, geïsoleerde ruimte geword,” aan Die Burger (4 Mei 2007).
Danie vertel aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 14 Desember 2007) dat die gedigte in In die buitenste ruimte ’n weerspieëling is van die agteruitgang van sy huwelik met sy eerste vrou en die pyn wat daarmee gepaardgegaan het. “Die digter Raymond Carver of sy vrou het gesê hy het sy poësie gebruik soos ’n mens ’n helikopter sal gebruik: om moeilike terrein te verken. Vir my is dit baie dieselfde. Ek skryf net oor goed wat ek nie weet hoe ek daaroor voel nie. Al wat ek weet, is dit druk my of pla my op ’n manier en as jy klaar geskryf het, dan het jy nie noodwendig ’n oplossing nie, maar jy het ’n greep daarop. So, my skryfwerk het vir my ’n greep gegee in ’n oorweldigende situasie.”
’n Vriendin, ’n skilder, het vir Danie gesê: “Jy weet, Danie, ek weet nie of wat jy skryf gedigte is nie, maar ek kan dit nie vergeet nie. Daai gedig oor Barcelona, ek weet nie of dit ’n gedig is nie, maar ek kan dit nie vergeet nie.” En Danie se kommentaar: “Ek voel dan is dit reg so. Jy weet as dit iets vir iemand beteken of dit hou hulle aan pla, dan is dit vir my poësie:
Barcelona – 2 en ’n ½ jaar later
Ons sit waarskynlik ’n laaste keer saam in ’n restaurant.
Die plek se naam is La Veronica –
die ene minimalistic chic in die gothic deel van Barcelons, nogal:
pragtige slaaie, ’n bottel rooi wyn en ’n bottel water voor ons,
’n huwelik agter ons
en jou bril is donker en jou top is oorlogrooi.
Die stoele en die tafels is wit oblivion wit.
My hemp is blou, raserige Hawaii-blou.
Party mure is rooi, jou oorlogrooi,
en ander mure is wit wit.
Dis ’n lang gedig. Meedoënloos beskryf dit die stadige dood van sy huwelik:
Uit frustrasie draai jy ’n suikersakkie nek om
sodat wit suiker stadig val
op die raving oranje tafeldoek,
terwyl jy begin huil agter jou donkerbril.(Die Burger, 14 Desember 2007)
Joan Hambidge skryf in Rapport (6 Mei 2009) dat In die buitenste ruimte ’n genotvolle bydrae is tot wat genoem word die praatgedig en dat wanneer die digter self sy gedigte voordra, is die ervaring nog beter. “’n Mens sou Marais waarskynlik verder ten beste kon tipeer as die digter van die nostalgie en juis vanweë die buite-blik, wat ’n soort dubbel-perspektief tot gevolg het, kyk hy dikwels met ’n vreesloosheid na Afrikaans en haar digkuns. [...] Daar is ’n sterk buiteblik, ’n vermoë om onvergeetlike waarnemings in jukstaposisie te plaas en ’n ongelooflike, hartverskeurende weerloosheid. Ek ken min gedigte waarin die berou oor die afloop van ’n huwelik met soveel skuld en aandadigheid bely word. [...] In die buitenste ruimte is ’n aangrypende debuut wat waarskynlik vir sommige lesers min wisseling in toonaard sal bied en wat miskien, as ’n klein kritiek in die kantlyn vir die digter, die gevaar mag loop om té woordryk en uitgesponne te raak. Die snoeiskêr moet soms ’n bietjie ingelê word.”
Vir Bernard Odendaal (op Versindaba) daag Danie se verse die gevestigde beskouings oor die verskil tussen prosa en digkuns uit: “Hy maak minder staat op byvoorbeeld metaforiek of die klank en ritmelae van taal. ’n Anekdotiese, verhalende element oorheers eerder, met ’n opvallende voorkeur vir aldagtaal in langer, dikwels voortstromende sinne, meestal met redelik konvensionele leestekengebruik. [...] Tog word die normale sinsbou dikwels ietwat ontwrig of andersyds geritmiseer. [...] As resultaat kry ons ’n digkuns wat helder, toeganklik aandoen en waarin soms op ontroerende wyse die storie vertel word, in brokke en stukke, van ’n liefdes- en huweliksverhouding wat in Suid-Afrika begin het en na nege jaar se verblyf in Duitsland op die roste geloop het. Die indruk van direktheid is egter ’n bietjie misleidend. Die bundeltitel, wat op talle wyses dwarsdeur die bundel eggo, is ’n leidraad na die betekenisverwikkeldheid wat onder die stilistiese helderheid skuilgaan. Ontheemdheid is die sentrale toestand wat uigebeeld word.” Odendaal meen ook soos Hambidge dat sekere gedigte “alte uitweidend” raak, maar dat dit ’n werklik belofteryke en welkome debuut is.
Op LitNet beskou Daniel Hugo In die buitenste ruimte as ’n uitsonderlike debuut en wel om twee redes: “In ’n era van kort liriese uitbarstings bestaan die bundel grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse. (Die langste gedig beslaan ses bladsye!) Verder is Marais die eerste van ’n jonger geslag ‘expats’ wat hulle buitelandse ervaring poëties verwoord. Al neig afsonderlike gedigte soms tot wydlopigheid en onsamehangendheid, vorm die bundel as geheel ’n stewige eenheid. Dit is ’n gekondenseerde outobiografie van ’n fyngevoelige digter wat weet hoe om sy woorde én trane te slyp.”
In ’n onderhoud met Kirby van der Merwe (Beeld, 14 Desember 2007) laat Danie hom as volg uit oor die kwessie van literêre pryse: “Dit sal baie snaaks klink as ek nou sê ek het iets teen sulke pryse. As ek niks gewen het nie, sou ek dalk ’n ander opinie daaroor gehad het. Maar nou smokkel dit so ’n bietjie met my kop. Omdat my gedigte baie toeganklik is en omdat ek juis probeer het om nie ’n soort van akademiese ding te doen nie, het dit my baie verras dat die bundel so goed gedoen het wat betref pryse.
“Nou sit ek half met die dilemma. Ek kyk na die klomp nuwe gedigte en dan lyk dit nie vir my na ’n bekroonde digter se werk nie. Ek probeer nou my eie werk fynkam vir literêre gehalte of vooruitgang, jy weet, en ek is bietjie deurmekaar daaroor. Dis eintlik vreemd, maar ek noem nie myself ‘digter’ nie. Nee, steeds nie. As mense my vra wat ek doen, sê ek ek’s ’n vryskutjoernalis, want ek voel dis so half... Dalk oor jy nooit weet watter gedig jou laaste een is nie. Ek is altyd verras as daar weer een kom, want ek glo vas daaraan dat ’n mens moet skryf as jy iets het om te sê, as daar iets is wat jou pla. Ek glo nie ek kan elke Sondag ’n tydjie opsy sit en dan moet daar iets kom nie.”
Aan Marius Crous (Die Burger, 4 Mei 2007) erken hy dat dit lekker is om bekroon te word, want dit voel of ’n mens nie net al die jare jou tyd gemors het nie. Dis asof ’n besonder ongelukkige stuk van sy verlede nou terugskouend ’n positiewe betekenis gekry het. “Maar dit maak my ook angstig, want ’n mens wil nie graag teleurstel nie. Ek is egter vasbeslote om my gewone ou gang te gaan, want dis die enigste sinvolle ding om te doen. Die Afrikaanse taalgemeenskap is betreklik klein en dit sal dodelik wees om ’n literêre prys kop toe te vat.”
Danie se gunstelingboek in 2006 was The corrections van Jonathan Franzen. Hy beskou dit as die eerste Groot Roman van die 21ste eeu. “Dis ’n kontemporêre Amerikaanse familiesage so tydloos soos Tsjechof en die see. Franzen se tragies-realistiese vertelling oor die Lamberts is ’n karaktergedrewe meesterstuk wat deernisvol worstel met al die ou klassieke temas van liefde, verlange, identiteit, ambisie, ouderdom en dood in ’n siniese tydgewrig.”
Hy vertel aan Ronel Nel (Beeld, 30 November 2006) dat deur Duits te studeer, hy kennis gemaak het met die Duitse digter Rolf Dieter Brinkmann wat ’n kragtige invloed op sy uitkyk van die digkuns gehad het. “Ek glo soos Brinkmann dat ’n mens liefs van abstraksie en retoriek moet wegbly as jy wil dig. Ek stem ook saam met sy siening van ’n geslaagde gedig as ’n goeie snap shot wat ’n direkte, biologies voelbare impak op die leser moet maak. Ek hou daarvan as ’n gedig – al het dit dalk oor maande ontstaan – spontaan en ongekunsteld klink.”
Danie se tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, word in 2009 deur Tafelberg uitgegee. Tydens die bekendstelling van hierdie bundel het Danie aan Francois Smith gesê hy dig oor die “klippies” in sy “eie skoen”. Oor die melancholie in sy gedigte meen Danie nie dat vrolikheid en geluk ’n doodskoot vir ’n digter is nie. Hy laat hom as volg uit teenoor Daniel Hugo (op LitNet): “Maar dalk het die digter wanneer die lewe genoeg is, nie die digkuns nodig nie. Dit is ook moeiliker om vlietende geluk en ekstase te verwoord. Melancholie, vertwyfeling en teleurstelling is daarenteen sulke ryk, geskakeerde emosies. En selfs al is jy geseënd, oftewel gelukkig, bly melancholie ’n verstaanbare en dikwels gepaste reaksie op die wêreld. ‘Death is the mother of beauty’, het Wallace Stevens geskryf. In dié besef lê die durende melanchole. ’n Alewige vrolikheid is vreemd.”
Daniel Hugo vra ook hoekom is die maan ’n misverstand? “Sodra die mens sy emosies – en vernaam sy ongeneeslike verlange – op die maan projekteer en daarvan ’n metafoor of simbool maak, word dit ’n misverstand omdat alle beeldspraak of simboliek meerduidig is en as ’t ware bestem is vir misinterpretasie. Die maan, die liefde en die digkuns lei gedurig tot growwe mistastings, maar ’n mens leef, bemin en dig desnieteenstaande. Neem byvoorbeeld dié reëls uit Raymond Carver se gedig ‘Marriage’: ‘The moon sails west / as I watch, armed to the teeth, hunting / for my children’. Dis onsin, letterlik gesproke, maar die teleurgestelde romantikus se ore tuit.”
Deborah Steinmair skryf in haar resensie (Die Burger, 27 April 2009) dat sy nie op ’n intellektuele vlak na die gedigte kan kyk nie, en dus ’n meer emosionele bespreking gaan doen: “Op Marais se planeet is selfs die gelukkigste oomblik egter omgeef van ’n sweempie melancholie, skeidingsangs en ’n bewustheid van die dood en die donker. Neurose is ’n asemtog ver. Die digter self is sentraal in die bundel: die geïnspireerde stamelaar, iemand wat soms ‘simpel voel’, wat ‘veg vir volle beheer oor sy eie verleentheid’ (‘Ma’). Hy is onbeskaamd emosioneel, gooi flikkers na sentimentaliteit. [...] Die bundel het ’n samehang; verloor amper nooit sy draad nie, laat ’n lewe ontvou soos ’n roman. Die alledaagse, die veilige opsie – ’n voorstedelike bestaan met vrou en kind – word in Marais se verse ontbloot as vreesaanjaend, ’n bedreigde hawe, ’n weerlose fort. Geluk is vervlietend en verdag. Die masjinerie van digkuns word blootgelê, maar dit neem niks weg van die magiese, misterieuse element daarvan nie. [...] Marais se beelde is meestal vars en verfrissend. [...] Maar Marais skep van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans. Hy is ’n ontsnapkunstenaar, ’n literêre dwelmsmous; sy blik op die werklikheid verslawend soos opium. Hy verwoord die getoorde oomblik oor en oor en laat subversiewe skoonheid soos ’n mes flits.”
Marius Crous (Beeld, 12 Mei 2009) beskou Danie se tweede bundel as ’n verlenging van die temas wat in sy eerste bundel te vinde is: “Ons het weer die kenmerkende praatpoësie. Ons het ’n voortsetting van die temas, soos die liefde, die lewe in Duitsland, die hunkering na die jeug, die rol van vriende en familie en ons het weer te make met ’n outobiografiese ek-spreker se perspektief. Maar waar ons in die debuutbundel hoofsaaklik gedigte gehad het oor die beëindiging van ’n liefdesverhouding, het ons in die tweede bundel die viering van ’n nuwe liefde.” Crous sien uit na nog verdere digbundels uit Danie se pen.
HJ Pieterse (Rapport, 6 Mei 2009) skryf dat hoewel “die digte(r), saamgetrokke verse met ’n deurlopende sterk beelding verkies, is hy dikwels meegesleur deur gedigte wat soms epiese afmetings aanneem, dikwels om uit te vind ‘hoe die storie eindig’ en deels omdat daar genoegsame interne binding, spanning en slim, hegtende beelde is wat die belangstelling lewendig hou. Marais bewys hom weer sonder twyfel as ’n vernuftige digter met ’n eiesinnige blik op dinge en daarom vind ek dit jammer dat die leisels nie stywer oor die vormgewing getrek is nie. As die bundel met so 20% gesny was, sou dit myns insiens sterker gestaan het as wat dit tans staan. Al is die maan ’n misverstand is dus ’n bundel wat beslis die moeite werd is om te lees, wat sy juwele prysgee met ’n tweede, derde en vierde lees, maar wat hierdie leser laat hoop op ’n sterker sturende hand in die toekoms.”
Die verhalende gedigte wat aan prosa herinner, verhef dikwels ’n skets uit die alledaagse lewe tot poësie. Dit verhef ook alledaagse spreektaal tot poësie. Danie sê aan Francois Smith tydens die bekendstelling van Al is die maan ’n misverstand: “Ek weet ’n gedig werk as ’n gewone reël wat binne ’n ander konteks nie poëties is nie, in my vers poëties word. [...] Ek het nooit omgegee of wat ek skryf poësie is nie, maar ek het gevoel dat prosa fiksie moet wees en ek wou nie namens enigeen anders praat nie.”
Danie wil ook nog prosa skryf, vertel hy aan Francois Smith, en dat hy graag saam met vriende sou wou skryf oor Die Warm Trane, “’n alternatiewe Afrikaanse country band”. Hy wil ook ’n briefroman skryf waarin een karakter gedigte vir ’n ander stuur. “Maar almal waarsku dat jy nie oor jou toekomsplanne by boekbekendstellings moet praat nie, want dan gebeur dit nooit. So nou sal dit seker nie gebeur nie”, by die bekendstelling van Al is die maan ’n misverstand.
Van Danie se gedigte is opgeneem in die nuwe “geblikte” uitgawe van Groot Verseboek wat in 2008 verskyn het. In sy reaksie op hierdie opname het Danie op LitNet gesê hy is gewoon bitter bly en dankbaar. “As jy wil skryf, moet jy in die reël bereid wees om jare lank ’n toegewyde skadubokser te wees sonder om ooit te weet of jy iets of iemand werklik getref het; of dit wat jy doen vir enigiemand van duursame waarde sal wees; of jou gegriffel hoegenaamd gepubliseer gaan word, eendag. Jy vertroetel ’n privaat obsessie waaroor jy nagte om wil praat, maar vir iemand wat nie jou belanngstelling deel nie, is daar niks verveliger nie. Jy sit dus gereeld met ’n veraf uitdrukking in druk tafelgesprekke omdat jy nie jou vriende en familie gedurig met jou knaende, allesverterende stokperdjie wil lastig val nie. Daar is baie redes om kanoniseringsprosesse met agterdog te bejeën en daar sal sekerlik ook stemme wees wat nie met al die keuses in die nuwe Groot verseboek gaan saamstem nie, maar vir my om gelatenheid te veins oor die opname in ’n toonaangewende bloemlesing sou verregaande wees.”
Toe Daniel Hugo op LitNet aan Danie vra waaroor ’n “expat” skryf as hy terugkom in sy vaderland, is sy reaksie: “Dié land maak jou skoon duiselig van alles wat gedurig om jou gebeur – temas is daar meer as genoeg, maar die Suid-Afrikaanse werklikheid is so oorweldigend dat dit eintlik baie moeilik is om daaroor te skryf. Ek glo ook nie dat ’n mens ernstig behoort te gaan sit om jou netjies rasioneel af te vra ‘Watter belangrike tema pak ek volgende?’ nie. Daar is beslis wel skrywers wat so werk, maar ek glo nie aan so ’n serebrale benadering nie. Raymond Carver het gesê hy dink die woord obsessie is meer akkuraat as die woord tema.”
Tydens die Poetry International Festival in Rotterdam in 2007 sê Danie aan Robert Dorsman: “For white South Africans, however, the burning house of their fathers is contaminated with a past a progressive person is not supposed to feel nostalgic about. When you are confronted with the records of the Truth and Reconciliation Commission outside the white community in which you grew up, it seems inconceivable or rather perverse, that your personal experiences of beauty and innocence could take place in such a place and time. It feels wrong to want to yearn back to something like it, especially so when you consider the shameless idealisation of the ‘good old days’ by many a white compatriot. From a politically conscious angle every picnic in those days, every romance and every cherished memory appears a product of reckless white apathy.”
Wat inspireer Danie om te dig? “Oorweldigende emosie en die gevoelens van magteloosheid wat dikwels daarmee gepaardgaan, gee my altyd weer aanleiding om te skryf. Tess Gallagher het gesê dat die kortverhaalskrywer en digter Raymond Carver sy poësie soos ’n helikopter gebruik om emosioneel onbegaanbare terrein te verken. Poësie vervul vir my ’n soortgelyke funksie. ’n Mens ontdek dikwels eers deur die skryf van ’n gedig hoe jy voel, oftewel hoe kompleks ’n stel emosies is. Wanneer ’n mens oor ’n tema of idee skryf, neig die gedig maklik tot hol retoriek. My ander inspirasie is die werk van digters wat ek bewonder. Ek het nog altyd geskryf as ’n leser. Sodra ek ’n goeie gedig gelees het, is ek ook weer lus om te skryf.”
In 2013 is Danie as Media24 Koerante se naaswenner in die Leefstyl-joernalis van die Jaar-kategorie aangewys. Hy het die prys ontvang vir dié artikels, wat almal die afgelope jaar in By verskyn het: “Steedshierpolisiekar – 10 jaar later” (23 Februarie 2013); “Die Rolling Stones: 50 jaar sonder satisfaksie” (21 Julie 2012); “Middagete met Jack Parow” (12 Mei 2012); Spookasem-rubrieke: “Wanneer Lollos en ‘London Calling’ ontmoet”, asook “Ek is jou vader”.
In 2015 word Cordis-Trust se Orde van die Beiteltjie aan hom toegeken vir sy deurlopende ywer in die bevordering van gebiede van die Afrikaanse woordkuns.
Danie se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is in 2014 gepubliseer. Emosies wat hy in hierdie bundel aanroer, is onder andere die trauma van ’n egskeiding, die ander dinge van ’n enkelpa en dan ook die hoop wat ’n nuwe liefde beteken.
Bibi Slippers skryf in Die Burger van 5 Julie 2014 dat hierdie derde bundel se titel reeds ’n terugkeer na die aarde simboliseer. Waarmee Danie heeltemal eens is: “Ja, ek dink Major Tom het definitief met ’n harde slag aarde toe gekom.” Hierdie sinspeel hy op David Bowie se “Space oddity”. “Dit is maar wat dit is: Met ’n kind raak ’n mens se beweegruimte minder. Jy is verstrengel in ’n klein oorlewingstryd. Daar is nie tyd om in die buitenste ruimte rond te dryf nie. The heat is on. Daar is net druk. Ek voel in ’n groot mate het hierdie gedigte ook maar net in ’n absolute drukkoker ontstaan. Ek wou eintlik baie graag ’n roman skryf oor goed wat ek nie eerstehands beleef het nie. Soort van ’n ervaring wat jy graag sou wou gehad het, deur fiksie verken.
“Maar toe het my lewe net ontspoor. Ek moes dit maar los. Dis eintlik ’n geval van die volle sirkel voltooi, want net soos ek begin skryf het, het ek hierdie keer weer uit ’n sekere nood geskryf.
“Aanvanklik het ek dit as ’n soort nederlaag gesien, want ek het gedink ek gaan nou ’n roman skryf – I’m gonna take this to the next level – en hier skryf ek nou weer in selfverdediging gediggies. Maar wat vir my wonderlik is daarvan, is dat ek dink wanneer jy so by 40 kom, sukkel jy regtig om jou geloof te behou in ’n klomp romantiese ideale wat jou in jou twintigs en dertigs aan die gang gehou het.”
Danie vertel aan Bibi Slippers dat daar toe iets baie interessants gebeur het: “Die feit dat ek toe tog uit vertwfeling begin skryf het, en dit help terwyl niks anders help nie, het my geloof in die skryf van poësie bevestig het. Ek weet nie wat die maatskaplike belang is nie, maar dis iets wat vir ’n mens op ’n persoonlike vlak lewensnoodsaaklik wees.”
Solank verlange die sweep swaai bestaan uit verskillende afdelings en dit is die eerste keer wat dit gebeur. Vier van die afdelings beeld ’n ander adres uit waar Danie die vorige vyf jaar gewoon het. Nathan Tarentaal se bundel, Chokers en survivors, het nogal ’n invloed gehad op Danie se nuwe bundel. Nadat Danie die bundel gelees het waarin Trantraal dit het oor werkersklasgoed, het Danie besef dat hy met amper dieselfde goed sukkel, naamlik hierdie riskante middelklasbestaan, of soos Danie dit noem, “die promosie-relegasie-wedstryd”
“Die adresse word ’n manier om te sê ‘hier is dit nou: Middelklas-man worstel onbeskaamd met middelklasprobleme’. Maar ek het ook besef daar is ’n groot verskil tussen woon in Woodstock, woon in Kylemore net buite Stellenbosch, of woon in die onderdorp van Stellenbosch. Elkeen van daardie plekke beïnvloed die naggeluide wat jy hoor, jou vrese, jou drome. Op party plekke is dit maklike om ’n valse gevoel van veiligheid te hê. Dit laat ’n mens wonder: As my perspektief so geweldig verander kan word deur die klein skuifies wat ek gemaak het, hoe onmoontlik is dit om die perspektief van soveel Suid-Afrikaners te verstaan wat in plekke woon wat jy eintlik net van buite sien, wat eintlik vir jou onvoorstelbaar is.” (Die Burger, 5 Julie 2014)
Terwyl Bibi Slippers met Danie gesels het, het Levinia, die kat, en Danie se dogtertjie, Lea, gereeld kom gesig wys. Toe hy vir Lea vertel het dat Pappa ’n nuwe boek het, was haar reaksie: “Wow, lucky jy!” en sy is terug na haar indrukwekkende versameling speelgoeddrake.
Danie vertel aan Maggie Marx (Rapport, 6 Julie 2014) dat hy die bundel om twee redes in afdelings verdeel het. “In ’n stadium het ek gedink ek wou as ‘NP van Lykskou’ ’n klomp gedigte skryf wat meer van ’n pop-inslag het, meer senuagtig is.
“Ek wou ook vreeslik graag oor gruwelflieks skryf. Sien,” aan Marx, “gruwelflieks maak my baie bang en dis altyd vir my interessant hoe die monster ’n ekspressionistiese gestalte is van menslik gemoedstoestande of afwykings. En ook hoe die gruwelgenre om mense se grootste vrese draai. Dit het toe die Frankenstein-verse-afdeling geword.”
In ’n onderhoud met Gisela Ullyatt op Versindaba wou sy iets meer weet van die ontstaan van die titels van Danie se bundels en of die keuse van ’n bundeltitel spontaan gebeur. Danie meen dat dit beslis “spontaan, organies en deels onbewus” ontstaan. Al drie die titels van sy bundels kom uit ’n versreël of frase uit ’n gedig uit die spesifieke bundel. En hy het gewoonlik al met die samestelling van die bundel begin voordat daar besluit is op ’n titel.
Hy verduidelik verder: “Ek hou baie van die moontlikhede wat bundel- sowel as verstitels bied om met gedigte of ’n hele versameling in gesprek te tree. Ek soek altyd hard na ’n titel wat nie inperk nie, maar tog omvou en kontekstualiseer en ook op sy eie sou kon staan; ’n titel wat jou weer laat wonder oor die hele gedoente wat dit voorgee om te benoem.
“My tweede bundel, Al is die maan ’n misverstand, wou ek lank Dwaalkoeëls noem en vir die jongste een was Ek’s ’n dronk woord en Die hart se rooi gemors oorwegings. Hierdie moontlikhede het ek uiteindelik verwerp omdat dit myns insiens een aspek/tema van die betrokke bundel oorbeklemtoon het.”
Danie baklei in sy gedigte met die “voorstedelike swerftog wat eindig waar dit begin het”. Oor hierdie stoeiery verduidelik hy aan Maggie Marx dat as jy middelklas is, jy jou hele lewe lank “in ’n promosie-relegasie-wedstryd speel met die wete dat jy nooit regtig iets meer as middelklas sal kan wees nie. Jy leef met hierdie besef dat die geskiedenis nooit aan jou kant gaan wees of jou gaan jammer kry nie. En dis daai ding wat vir my interessant is in die Afrikaanse digtersgemeenskap – dat mense hal jaloers is op Nathan en Ronelda (Kamfer) oor hulle skryf uit ’n plak van geregverdigde woede wat ons middeklas-wittes nie toekom nie.”
Maggie Marx wou weet of hy dink sy middelklasbestaan hom beskerm, waarop Danie antwoord: “Kyk, ons moet die keiser gee wat hom toekom en alles het ’n sekere prys. Ek wil glad nie enigiets wat Nathan deurgemaak het, verromantiseer nie. Ek stem saam met Bukowski: ‘Nobody suffers like the poor’. Maar ons weet dit in ons middelklasbestaan en tog vind ons ons lewe soms ondraaglik. En wat dit amper meer ondraaglik maak, is die besef dat ons pyn eintlik ’n vorm van bevoorregting is. Dat dit altyd erger kon wees. Dit is dus ’n absurde posisie om in te wees, maar om nie te verklaar vanuit watter posisie jy skryf nie, maak nie vir my sin nie.
“Ronelda en Nathan stel vrae wat ek dink die Afrikaanse literêre establishment moet ernstig neem as hy wil relevant bly. Nathan se werk is ’n herinnering dat die digkuns ook oor klas en kleur in gesprek kan en behoort te tree.”
Maar Danie voel dat hy nie as ’n spokesperson van enige spesifieke groep of klas persone kan optree nie, want hy skryf veral om sy eie gevoel van magteloosheid te probeer verstaan en vrede daarmee te maak. “Wanneer ek by die radio werk of ek is ’n pa of ek’s by ’n skoolvergadering of wat ook al, voel ek verplig om ’n sekere standpunt te verteenwoordig. Maar in die poësie is daar niks wat my dwing om enige standpunt in te neem nie.”
Solank verlange die sweep swaai se omslag is deur Anton Kannemeyer gedoen. Danie meen dat mens Anton nie altyd reg verstaan nie. “Hy word beskou as ’n ikonoklas, maar aan die ander kant is hy ’n moralis. Al sy werk gaan oor, en veg teen, magsvergrype. In ’n tyd wat mense van kuns ’n kommoditeit maak, pak hy kuns met integriteit aan. Ek het het Anton gevra om die omslag te ontwerp, omdat daar ’n ander kant aan hom is wat baie melancholies is. Hy het twee jaar gelede ’n uitstalling oor landskappe gehou, waarin ek ’n verlange en melancholie gesien het. Hy’t gesê hy wil iets anders met die omslag doen. Nie die tipiese Bitterkomix-, Kleinboer-aanslag nie. En toe was ek verskriklik bly daaroor. En verras.” (Rapport, 6 Julie 2014)
Vir Daniel Hugo (Rapport, 6 Julie 2014) kan Solank verlange die sweep swaai gelees word as ’n herskrywing van sy eerste bundel, aangesien sy tweede huwelik ook misluk het, maar nou is daar ’n dogter wat deels by hom en deels by haar ma bly. Hy pendel tussen sy huis op Stellenbosch en die een in Kaapstad en dit is hierdie adresse wat die titels van die afdelings in die bundel is.
Hugo gaan voort: “Net soos in sy vorige bundels sleur Marais die leser mee met sy onderhoudende geselstrant wat opgekikker word met onverwagse beeldspraak. En dit is juis dié beeldende vermoë wat die gedigte moet help red van die gevaar om blote prosa te word. (...) Uiteindelik kan ’n mens Danie Marais se jongste bundel lees as verhandeling oor die liefde. (...) Danie Marais bly ’n digter wat boei en verras.”
Oor die musikale verwysings in sy poësie verduidelik Danie aan Gisela Ullyatt op Versindaba dat dit “nes die intertekste, altyd my manier is om in gesprek te tree met woorde en gedagtes wat my besig hou. My reël is gewoon om nooit iets aan te haal net ter wille van literêre gewig of garnering nie, maar slegs wanneer dit nodig is vir die leser om ‘die gesprek’ te volg.”
In Danie se gedigte maak sy kat, Levinia, gereeld haar verskyning en Ullyatt wou by Danie die rede hiervoor weet: “Levinia is gelukkig nie fiktief nie en ook nog met ons. Ek weet nie of ek daardie sjarmante, totaal selfgesentreerde, sensuele klein luistert van pels ’n zen-meester sou noem nie, maar ek is verknog aan haar.
Levinia fassineer my. In die gedigte speel sy dikwels die vierbeen-weergawe van daardie ondeurgrondbare, onkenbare Ander wat ’n lewe en ’n ruimte met ons deel. Hoe katte se kop werk, weet ek beslis nie, maar ek vermoed ek en Levinia projekteer ewe veel wedersyds. Ek is waarskynlik die vreemdste kat wat sy ken, en sy is ongetwyfeld die beste jagter in my vriendekring. (Maar daardie stelling sê dalk meer oor my vriendekring as Levinia se jagvermoëns. Sy’s nie ’n vreeslike suksesvolle roofkat nie, maar haar bekruipstappie getuig van styl en dodelike erns.)”
Raymond Carver was een van die vroeëre invloede op Danie se digkuns. Hy vertel aan Ullyatt dat Carver ’n vormende invloed op hom gehad het in die 1990’s.
Hy het ook aan Murray la Vita (Beeld, 12 Desember 2010) gesê: “Ek het vreeslik baie van Gert Vlok Nel gehou en die vroeë Breyten, en ek was byvoorbeeld verlief op Ted Hughes se werk, maar elke keer wanneer ek probeer skryf het soos Hughes, het my stem te gedrae geklink. Dit het so ’n gótiese element bygekry wat vir my te . . . Dit het vir my gevoel of ek myself te belangrik hou. Asof ek ’n ou is wat ’n pruik opsit en in ’n snaakse stem met mense probeer praat.
“En toe lees ek Carver. En sy poësie is vir my by uitstek hierdie kort filmpies, en ek kom ’n manier agter wat poësie ook kan wees. Daai hele skool van grinterige Amerikaanse realisme is iets waaraan ek baie geheg is. Dit is om realisme te gebruik met die wete dat dit ’n illusie is. Maar hulle skep daai illusie so goed dat dit voel soos die regte lewe. Dis so half éérlike, tuisgemaakte kos.”
“Ek dink partykeer poësie is ’n bietjie soos adverteer in die hoekie vir eensames, vertel hy aan La Vita. “Jy soek eintlik kontak met mense wat dieselfde voel as jy, met wie jy iets deel. En indien mense nie daarvan hou nie dan is dit maar gewoon soos pos wat by die verkeerde adres afgelewer is. Of iemand wat daai hoekie vir eensames lees en dink: ‘Wie’s hierdie ou? Dis nou die laaste ou wat ek sal bel.’ ”
En Danie kan homself nooit iets anders as ’n digter sien nie (Beeld, 12 Desember 2010). “En ek is ook so half bang om my een te noem, want ek is so half bygelowig dat die gedigte gaan opdroog. Hierso in 1995, ’96 rond was die eerste keer dat ek érnstig probeer het om te skryf. Ek het in Duitsland geland. My verhouding was nie soos ek gedink het dit sou wees nie. Om ’n grootmens te word was vir my ’n moerse teleurstelling. Ek het verlore gevoel. Ek het baie goed geweet wat ek nié wil doen nie, maar ek het glad nie geweet wat ek wíl doen nie.
“En nadat ek hierdie soort van noodlanding in Duitsland gemaak het, het ek begin om baie poësie te lees. Ek het verskriklik baie van Philip Larkin gehou en toe Anne Sexton. Ek het so die een ná die ander begin deurwerk. Ek wou probeer om te doen wat hulle aan my doen. Jy besef daar is ’n ongelooflike mág in poësie net op ’n intiem-persoonlike vlak.
“Om ’n mens te wees is ’n intens mágtelose ervaring, maar wanneer jy ’n gedig skryf, is dit die een ruimte waar jy kan speel met die beligting, die choreografie, die snitte ... jy kan bepaal hoe die lig val. Wanneer jy ontvanklik is vir mooi woorde of poësie dan ervaar jy ’n soort van ’n verruiming van jou bewussyn. Dit maak jou léwe meer waardevol.
“Jy het ’n gewaarwording, ’n diép ervaring wat jy andersins nie sou gehad het nie, word gefasiliteer. Dis soos dwelms vat ... jy raak op ’n manier verslaaf aan daai ervaring waar jy vergeet van die alledaagse en jou ónbenulligheid en jou sterflikheid. So, dis ’n transendentale oomblik. En om dit vir mense . . . Daar’s ’n liedjie van Goldfrapp waar sy sê: ‘The world stops for snow.’
“As jy dít kan regkry, daai oomblik waar iemand vir ’n oomblik werklik net stilstaan, dan is dit fantasties. Ek dink dis William Burroughs wat iewers sê as woorde op ’n sekere manier gebruik word, kan dit stilte veroorsaak. En ek dink dis min of meer die grootste ding wat jy kan regkry, om hierdie rumoer vir ’n oomblik te laat stil word in een helder oomblik.”
In 2015 word Pruimtwak & skaduboksers gepubliseer met die newetitel rubrieke, heildronke en nagedagtes. Dit was op die kortlys vir SALA se Nadine Gordimer-kortverhaaltoekenning in 2016.
Danie vertel aan Mizan van der Merwe dat die goed op die bladsye van Pruimtwak dít is waaroor hy ”met speelse erns en entoesiasme” wonder. “Die outobiografiese elemente in hierdie bundel is eenvoudig vir my belangrik omdat dit eerliker is, omdat jy soortvan sê waar jy in jou lewe was toe hierdie goed op jou ’n indruk gemaak het. Dit is die rede hoekom ek die aanhaling 'perspektief is nie ’n speelding nie' van Fokofpolisiekar voor in die boek gesit het.
“Die boek gaan eintlik maar oor die goed wat my van kleins af besig gehou het. Ek was nog altyd geïnteresseer met die underground en met randfigure en die kontra-kultuur van protes.”
Hy verduidelik aan Mizan dat die “skaduboksers”-hoofstuk in die boek gaan oor randfigure wat hy oor meer as ’n jaar vir By geskryf het. ”Mense wat Suid-Afrikaans is of tyd in Suid-Afrika deurgebring het, wat iets sê oor wie van ons deel is. Die mense wat ons tot randfigure verklaar sê iets oor die res van ons as mense.”
Daar is ook die “heildronk”-hoofstuk. Hierin skryf hy oor talle herdenkings en persone soos Queen, die Simpsons en Fokofpolisiekar, asook oor sy ou skooljuffrou en sy ma. “Ek het dit geskryf om te probeer bepaal hoekom sekere goed só ’n groot impak het en wat die blywende invloed van dinge is.
“My digbundels is ’n verwerking van ervaring, waar ’n boek soos daai bestaan uit ander stories en gedagtes en temas. Ek is baie bly dat hulle die boek uitgegee het. Ek wou nog altyd só ’n soort boek geskryf het. Soos alle skrywers hoop ek dat die boek sal verkoop, bloot vir die feit dat dit ’n bewys is dat daar ’n behoefte is aan dié tipe joernalistiek.”
Die uitgewers se inligtingstuk oor Pruimtwak lui as volg: “Om sin te maak van die hele virtuele warboel in die 21ste eeu moet ’n mens hoog en laag soek. En dis presies wat die bekroonde digter en joernalis Danie Marais doen in Pruimtwak en skaduboksers – ’n onderhoudende versameling van rubrieke, essays, heildronke en nabetragtings wat met speelse erns en entoesiasme die verbande verken tussen boeke, die tydsgees, popkultuur en die verdwaasde gewone ou wat naweke in sy braaivleisvuur tuur. In hierdie stukke wonder Marais – soms sober, soms skertsend – wat geword het van rock 'n' roll, sy generasie X en randfigure soos Peter Blum. Alles en almal van Darth Vader, die Simpsons, Katy Perry, Bruce Springsteen, Fokofpolisiekar, die boeremusieklegende David de Lange en The Big Lebowski tot die agterryers van die Anglo-Boereoorlog praat saam in ’n bundel wat jou laat glimlag én dink.”
Herman Lategan is die resensent van Pruimtwak in Volksblad van 9 Maart 2015 en hy is baie beïndruk met Danie en sy vermoëns as skrywer: “Danie Marais is nie ’n man wat met die spreekwoordelike kielie in sy hart rondloop nie. Om met daai einste kielie so rond te loop, beteken jy is geamuseer, maar lag nie hardop nie. Marais is nie so nie. Hy steek nie sy blymoedigheid weg nie, hy sit dit nie onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
“As jy hom sien, is sy glimlag soos ’n wegholveldbrand. Hy is so opgeruimd, ek het al oorweeg om klasse by hom te loop. (...) Maar moenie geflous word nie. Moet net nie dink Marais is ’n giggelende skuimkoekie nie. Agter daardie persona skuil iemand wat al ’n paar keer pynlik deur die lewe met die plathand omgeklap is, maar elke keer dapper opstaan.
“Agter daardie voorkop skuil biblioteke vol toomlose kennis, verwysingsvelde en horisonne wat min perke ken. Woorde doen vurige kwêlas, rumbas en tarantellas in daardie brein van hom. Hy is bekend as bekroonde digter, (...) en al het jy nog nie sy bundels gelees nie, laat die poëtiese toonkleur van die woorde jou binnekamers se gordyne wapper.
“Met Pruimtwak & skaduboksers is daar ook die belofte van iets wat roer en bakkeoerie (bolmakiesie slaan): in die kooi, agter die deur, onder die bossie loer ’n mossie. (...) Hier sit ons nou met die dik melkvet van sy rubrieke, essays, heildronke en nagedagtes, met ’n titel wat volmaak inwerk op die inhoud, kompleet met stoepstories, soene en snotklappe. (...)
“Daar is baie hoogtepunte, maar wat uitstaan, is sy eersteklas magiese realisme in die onderhoud wat met die digter Peter Blum in die Kimberley-hotel in Kaapstad gevoer is. Blum is natuurlik reeds dood, maar die hele gesprek loop af asof die twee met ’n glasie lawaaiwater tog te lekker sit en klets oor die letterkunde.”
Vir Lategan is daar ook die stukke oor Wopko Jensma, ’n digterkunstenaar en talentvolle man wat reeds oorlede is; oor Neil Goedhals, wat selfmoord gepleeg het en ’n pionier was van plaaslike konseptuele kuns en die meesterbrein-kitaarspeler van die punk-noise-groep KOOS; en oor Freddie Mercury en Queen se 40ste verjaardag.
Lategan sluit af: “Kry die boek, anders gaan jy die paartie van die jaar misloop!”
Ook Rooi Rose (Junie 2015) is baie opgewonde oor Pruimtwak: “Die boek is nou al ’n rukkie in die omgang, maar dis met vrees en bewing dat ek daaraan dink dat van ons lesers nog nie daarvan weet nie. Danie Marais se skrywes in doodeenvoudig briljant: snaaks, skerp, indringend, laf, diep, roerend en soms maak dit jou kriewelrig. Goed so. Dis ’n versameling van sy beste rubrieke en stukke, en kan stuk-stuk gelees word. Net vir daardie slag as jy weer ’n stuk inspirasie loop soek. Bravo!”
Een ding waaraan hy wel vasgeklou het nadat hy alles verwerp het, was ’n baie romantiese idee oor die liefde, vertel hy aan Mizan van der Merwe. “Ek het gedink as ek nou die liefde het dan moet ek dit net volg, dan sal die liefde nou vir my sorg. Ek dink as ek nie met daai oordrewe romantiese idee oor die liefde en verhoudings die wêreld en oor die oseaan ingestorm het nie, sou ek myself waarskynlik baie pyn en lyding gespaar het.”
Danie het aan Van der Merwe gesê dat hy nie werklik die regte persoon is om te vra vir raad oor die liefde nie en hy verduidelik dat hy dink dat ons almal verlief is op die idee van valse liefde soos die soort wat romantiese films vir ons gee. “Daar is ’n verskriklike onrealistiese idee oor wat die liefde moet doen. Ons het hierdie idee van as hierdie persoon nou lief is vir jou, dan moet hulle jou liefhê vir wie jy is en dit beteken jy gaan die heeltyd jou slegste kant en al jou geite by hierdie persoon uithaal, en hierdie rommelhoop wat jy skep, is dan veronderstel om hierdie happy ever after huis te wees. Ek dink ons verbrysel mekaar met hierdie ongelooflike hoë verwagtinge wat ons stel aan romantiese liefde en die huwelik omdat al die ander instansies eintlik op ’n manier verbrokkel het en ons versaak het,” verduidelik Danie.
Hy gaan voort: “Ons kan nie meer op die staat vertrou nie en baie van ons het ernstige twyfel met die kerk en opvoeding, so nou maak ons hierdie kerk van die huwelik en liefde wat veronderstel is om soortvan alles vir ons uit te sorteer en dit kan nie!
“As daardie droom van ’n huwelik doodgaan, is dit ’n geweldige ding om te verwerk. Ek dink mense verloor hulle geloof in die mensdom en in liefde, maar miskien is verlore sake, die enigste sake.”
Sedert November 2013 is Danie aktief betrokke by die werksaamhede van PEN Afrikaans – aanvanklik as bestuurder van PEN Afrikaans en nadat hy in November 2017 bedank het as bestuurder, as ondervoorsitter –- ’n posisie wat hy met die skryf van hierdie bywerking nog beklee.
Met sy verkiesing tot bestuurder van PEN Afrikaans het Danie die volgende te sê gehad: “Ek is om verskeie redes opgewonde om by die bestuur van PEN Afrikaans betrokke te raak. Hierdie opgewondenheid berus enersyds op al die nuwe moontlikhede wat die digitale wêreld aan ’n taal- en skrywersgemeenskap bied; andersyds op die feit dat daar geruime tyd al by my en vele ander kommer bestaan oor bepaalde leemtes wat in die Afrikaanse skryfwêreld ontstaan het – leemtes wat PEN Afrikaans kan help aanspreek.
“Wat ek in die vooruitsig stel, is ’n webruimte/blog in diens van alle Afrikaanse skrywers en joernaliste wat ’n knooppunt word vir inligting oor en besprekings van skrywers en boeke. Met ander woorde, ’n webruimte waar enige lid van PEN ’n profiel kan hê wat enige belangstellende in sy/haar werk vinnig in al die regte rigtings sal stuur – dit wil sê na plekke op die internet waar resensies, onderhoude en inligting, in geskrewe vorm of as potgooie of videogrepe beskikbaar is.
“PEN Afrikaans wil nie net die vakuum vul wat deur die Afrikaanse Skrywersgilde gelaat is nie, maar ook stelselmatig projekte van stapel stuur wat daartoe bydra om taalruimtes wat bedreig word te verruim, te versterk of aan te vul. Ek is dus sowel begaan oor die argiveringswerk van NALN as die krimpende moontlikhede vir die beoefening van Afrikaanse kuns-, kultuur- en boekjoernalistiek van gehalte.
“Die plan is egter nie om funksies te probeer verrig wat reeds deur organisasies en/of maatskappye soos die ATKV, Media24, Solidariteit, die Afrikaanse Sakekamer, AfriForum ens behartig word nie. PEN Afrikaans staan in die diens van almal wat skryf in Afrikaans. Ons wil egter graag saamwerk met enige groep of instansie wat ’n belang in die voortbestaan, bevordering en gebruik van Afrikaans as geskrewe taal het, mits daardie groep of instansie ook inklusiwiteit en nierassigheid as beginsels ondersteun.
“Ek sien dit dus as een van die primêre doelwitte van die bestuur om te werk daaraan dat wit, bruin en swart Afrikaanse skrywers ewe tuis voel by PEN Afrikaans.
“Om Afrikaans te bevorder, soos ons dit wil doen, is nie ’n vasklou aan enige lewensbeskouing of verlede nie. Dit is ’n strewe wat berus op die oortuiging dat enige taal soos enige mens iets het om te sê en dat daar ruimtes nodig is waarbinne gepraat, geskryf en daarmee ook geluister en gelees kan word.
“Ek vind dit daarom verblydend dat PEN Afrikaans geregistreer is as NRO wat nie op winsbejag ingestel is nie. Globalisering het ons immers gewys dat die mark geen vriend van verskeidenheid is nie – in elke winkelsentrum van die Kaap tot by Beitbrug oorheers dieselfde kettings en produkte.
“By PEN Afrikaans hoef ons egter nie te vra of iets gewild gaan wees of geld gaan maak nie. Ons moet net wonder of ’n bepaalde projek of besluit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en lesers strek.” (LitNet)
Tussen 13 en 16 Oktober 2015 het Danie saam met Bettina Wyngaard die 81ste PEN International-kongres in Quebec, Kanada as afgevaardigdes van PEN Afrikaans bygewoon.
In 2017 is Danie as kykNET-Rapport se boekresensent van die jaar vir fiksie aangewys. Dit is aan hom toegeken veral op grond van sy resensie van Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17 in die Media24-dagblaaie op 4 Julie 2016.
In haar commendatio vir hierdie toekenning skryf Bibi Slippers op LitNet: ”Danie Marais se diepgaande kennis oor die onderwerp waaroor hy skryf verhef sy resensie van Bitterkomix 17 tot ’n hoër vlak. Nuwe lesers – diegene wat nie bekend is met Bitterkomix en die werk wat deur die jare in dié comic-tydskrif gepubliseer is nie – word gou op die hoogte gebring met ’n deeglike, bondige terugblik wat inlig en kontekstualiseer sonder om vervelig te raak.
“Hier het ons nie net gewoon ’n resensie van ’n teks nie: die resensent bou ’n boeiende storie rondom die fenomeen van (wit) verset, en bied Bitterkomix as gevallestudie aan. Buiten die beoordeling van Bitterkomix word dit ook ’n beskrywing van onlangse politieke en artistieke geskiedenis wat vir die leser waarde toevoeg. Dis ook nie ’n geval van ’n 'anonieme' resensent wat 'objektiwiteit' probeer voorgee nie: die resensie toon ’n eie visie en mening oor méér as net die boek wat ter sprake is. Daar is ’n opstapeling van feite oor die inhoud en samestelling van hierdie spesifieke uitgawe van die comic-tydskrif wat telkens ook lei na ander aanvullende inligting en verdere konteks.
“Daar is werklike diepgang in Marais se beskouing van Bitterkomix en ’n wye verwysingsveld word by sy bespreking betrek – van die filosoof Slavoj Žižek tot die Poolse digter en Nobelpryswenner Wisława Szymborska en die akademikus Christi van der Westhuizen – maar die resensie verval nooit in ’n vaal Akademiaans nie. Die liefde, respek en geesdrif waarmee hy oor sy onderwerp skryf sleur die leser mee, sodat selfs diegene wat nie gewoonlik comics lees nie uiteindelik met nuwe oë na die hele genre móét kyk.
“Marais se taalgebruik is beeldryk en lewendig, en die leser van die resensie kan hom- of haarself aan sy aanwending van subtiele humor verkneukel sonder om ooit te voel dat iets belaglik gemaak word of afgelag word. Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing.”
Danie is ’n baie gewilde keuse as dit kom by die aanstelling van beoordelaarspanele – veral by dié wat literêre pryse moet toeken. Hy het al gedien as paneellid vir die 2018-kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse; sameroeper van die Kanna-paneel vir die ABSA KKNK 2015 en 2016; lid van die ABSA KKNK-kunstekabinet 2015 vir kontemporêre musiek, musiekteater en woordkuns; beoordelaar van die WA Hofmeyr-prys vir die beste literêre werk in Afrikaans in 2015, 2016 en 2017; beoordelaar van die Protea-prys vir poësie 2005 en die ATKV-Woordveertjie vir Poësie 2011, 2012, 2013 en 2014; beoordelaar van die Jan Rabie Rapport-prys vir die beste debuut- of (vroeë) tweede werk in Afrikaans 2013, 2014, 2015, 2016, 2017 en 2019; sameroeper van die Ingrid Jonker-pryskomitee van September 2010 tot Januarie 2017, asook beoordelaar van die Huisgenoot Tempo-toekennings 2008.
Publikasies:
Publikasie |
In die buitenste ruimte |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0624044580 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Al is die maan ’n misverstand |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780624047612 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
South African Literary Award Poetry Prize 2010 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Solank verlange die sweep swaai |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780624068426 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Pruimtwak & skaduboksers: rubrieke, heildronke en nagedagtes |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780624073277 |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale en anekdotes |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Danie Marais as samesteller:
- As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg, 2009 [ISBN 9780624048015 (sb)]
- Britz, Etienne:
- Buiteland se roepstem vervaag
- Etienne Britz resenseer As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe saamgestel deur Danie Marais
- Cilliers, Stefnie: Verlange die tema wat uiteenlopende verhale saambind
- Hough, Lucelle: As almal ver is: Suid-Afrikaners skryf huis toe ’n wêreldreis van emosies
- Human, Thys: Vir almal wat ver én naby is
- Rossouw, Johann: As daar nie meer ’n huis is
- Britz, Etienne:
- Nuwe stemme 4; saamgestel deur Danie Marais en Ronel de Goede. Kaapstad: Tafelberg, 2010 [ISBN 9780624048732 (sb)]
- Cochrane, Neil: “Ons is hier!” bundel wat oortuig
- Nuwe stemme 4
- Odendaal, Bernard: Bundel bied iets anders
Artikels oor Danie Marais beskikbaar op die internet
- ABSA Ketting: Daniel Hugo gesels met Danie Marais
- Crous, Marius: Marais keer terug uit die buitenste ruimte
- Danie Marais
- Danie Marais
- Danie Marais: die emosie van ontheemding
- De Vries, Fred: Danie Marais; or how melancholy finally paid off
- ’n Kans in Afrikaans: Willa Boezak en Danie Marais gesels op kykNET
- La Grange, Borrie: Harttaal-bundel lê alledaagse tragedie bloot
- La Vita, Murray: Wanneer woorde skielik stilte skep
- Louw, Adriaan: Afrro – met Danie Marais
- Marx, Maggie: Die lewe se op en af voed digkuns
- Nel, Ronel: Marais dig kinderlik eerlik
- Ongesteld of kreatief?
- Ronel S: Danie Marais maak poësie van die alledaagse
- Slippers, Bibi: Commendatio: kykNET-Rapport boekresensent van die jaar 2017: fiksie - Danie Marais
- Slippers, Bibi: Danie Marais kom terug aarde toe
- Staatmaker-skrywer
- Stilte in die hof!
- Tweegesprek: Danie beantwoord Daniel
- Twee digters gesels oor woorde – en hoopl
- Van der Merwe, Kirby: Wanneer woorde spook
- Van der Merwe, Mizan: ”Living is not an exact science”: verlore liefde, geleerde lesse en alles tussen in
- Wat lees ons ... boekwurms vertel
- Wentzel, Jana: Van dominee tot Rock ’n Roll: agter die Woordfees-skerms met Danie Marais
- Willim Welsyn: ’n Gesprek met Danie Marais
Artikels deur Danie Marais beskikbaar op die internet
- Die 81ste PEN International kongres in Quebec, Kanada
- ABSA Ketting: Danie Marais gesels met Ronelda Kamfer
- Boek-krismis by Dennegeur in November
- Danie Marais
- Danie Marais oor sy opname in die splinternuwe Groot verseboek
- Danie Marais se woord van die jaar 2017
- Danie Marais – vertalings in Engels
- Danie Marais vertel meer oor “Dédicaces”
- Dié skoene sal jy dra
- Gedigte
- Hier is nie meer ’n lied [rubrieke]
- Hoe PEN Afrikaans oor die US se hersiene taalbeleid voel
- In die akwarium onder ons [gedig]
- In memoriam: Sampie Terreblanche (17 April 1933-17 Februarie 2018)
- Indrukwekkend steeds aktueel
- Interview: Darrell Roodt on Treurgrond
- Die lewe is ’n wrede sepie
- Noem my eerder ’n “leftie” as ’n “loose canon” [onderhoud met Rhoda Kadalie]
- Om te bie of nie
- Om te ly aan medelye [rubrieke]
- Op soek na
- PEN Afrikaans: bestuurder se verslag en vooruitskouing [2015]
- PEN Afrikaans: bestuurder se verslag en vooruitskouing 2016
- PEN Afrikaans AJV 2017: Bestuurdersverslag
- PEN Afrikaans-gesprek: Kan ’n Afrikaanse skrywer nog ’n impak maak?
- Die prys van gratis nuus [rubrieke]
- ’n Roerende chaos
- SA stripkuns in Bremen
- Skop, skiet en soene
- Die stand van meertaligheid van Kaapstad tot in Tibet: konferensie van PEN International se Komitee vir Vertaling en Taalregte - TLRC (Translation and Linguistic Rights Committee)
- Suid-Afrika - ’n rap-sodie op die boud [gedig]
- Tussen die harpoen en die rubberboot lê die duiwel én die diep blou see?
- Uit die argief: gedigte deur Danie Marais
- Uitgewery wil inheemse skryfkuns bevorder
- Voëlvry in die suburbs
- Wat is daar hier? [gedig]
- Witter as wit, manliker as ooit
- Die xenofobiese geweld wat Suid-Afrika teister
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.