Sampie Terreblanche (17 April 1933 – 17 Februarie 2018)

  • 2

’n Blywende indruk – dis wat Sampie Terreblanche gelaat het.

As student kon ek kwalik deur die vlamme en rook van my eie storm en drang sien. Die establishment het in die vroeë 90’s ’n bitter nare klankie gehad en vir my was die meeste dosente op Stellenbosch ’n baie ongeloofwaardige deel daarvan. Maar Sampie se lesings het ek nooit vergeet nie. Hy het my aandag gehou en laat voel dat ek veel meer aandag behoort te gee – nie net aan my eie frustrasie en begeertes nie, maar aan die spesifieke maniere waarop dinge vir die meeste mense in hierdie land nie werk nie.

Sampie Terreblanche tydens ’n vurige lesing (bron)

Ek tel dit daarom as een van die groot gelukkige toevalle van my lewe dat my pad lank ná my eerste jaar via sy jongste dogter weer met syne gekruis het. In die o so bo-blink Stellenbosch was dit altyd verkwiklik om te gesels met iemand wat met so ’n entoesiastiese mengsel van minagting en diep teleurstelling gekyk het na die maniere waarop geld mense goedkoop maak; iemand wat so diep onbeïndruk was met enige vertoon en materiële oorvloed. 

“Ek kom van die DDC – die Depressie, Droogte en Calvinisme. Ek kan nie lekker niks doen nie,” het hy graag gesê. Die ideaal om so gou moontlik genoeg geld op te gaar om so lank as moontlik niks te kan doen nie, was vir hom ’n waarlik vreemde strewe. Wanneer hy en sy vrou, Ina, in haar gunsteling-koffiewinkel iets bestel het, moes hy die pryse toehou en haar laat betaal, want hy kon dit nie oor sy hart kry om soveel geld op te duur koffie en luukse koek te mors nie.

Sampie en sy vrou, Ina (bron)

Sampie het mense gepolariseer en soms skuim-om-die-mond woedend gemaak, maar hy was nooit sinies of net aspris nie. Pessimisties en met afgryse vervul dikwels. “Dit was nie ’n transformasie nie, dit was ’n uitverkoping,” het hy die nuwe Suid-Afrika opgesom. “Ons leef in ’n aaklige tyd,” het hy ook dikwels gesê. Ná die publikasie van sy boek Verdeelde land: Hoe die oorgang Suid-Afrika faal (2014) het hy vir my en Carine met ’n tikkie tipiese, trefseker melodrama gesê: “Ek dink ons moet nou baie pessimisties wees.” Voorin dié boek het hy vir ons geskryf: “Ek hoop my voorspelling vir 2034 is verkeerd.”

Daardie inskripsie laat my steeds glimlag en by terugskoue roer dit my ook, want Sampie was ten spyte van al sy skerp kritiek en bars protes nie bitter nie – selfs al het hy nooit graag op foto’s geglimlag nie. Toe hy in 2015 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang, het ’n persfotograaf hom afgeneem saam met sy oudste kleinkind, Nina Kirsten, wat op dieselfde dag haar M in ekonomie ontvang het. Die fotograaf het Sampie probeer aanmoedig om saam met Nina te glimlag, maar hy het beslis gesê: “Nee! Die ekonomie is nou te sleg.” (Dit was net nadat Zuma die destydse minister van finansies, Nene, in die pad gesteek en die rand na nuwe laagtepunte getuimel het.)

Sampie het desnieteenstaande en ten spyte van alles altyd bly hoop mense kan meer as huursoldate vir blinde, ongebreidelde kapitalisme wees. Miskien het hy gedink mense kan verander omdat hyself so ingrypend verander is deur sy deelname aan die Theron-kommissie se ondersoek na bruin armoede tussen 1973 en 1976. Dit is hier waar hy “mens-onterende armoede” begin verstaan het as ’n strukturele probleem, wat van buite lyk na ’n kultuur en ’n leefwyse. Omdat sy eie Damaskus-ervaringe hom mettertyd gelei het vanuit die Broederbond en die hart van Afrikaner-nasionalisme, uit dit wat hy as sy eie “ignoble period” bestempel het, tot radikale kritiek van die ou en nuwe bestel in Suid-Afrika, het hy (dalk heel onbewus) aanhou glo dat ander ook kan verander. En as gevolg van hierdie geloof en die feit dat hy so uit die moed van sy volle oortuiging gepraat en gehandel het, kon hy vir vele ander uit vyf generasies van studente hul eie Damaskus-gewaarwordinge gee.

Na aanleiding van Hollywood se obsessie met apokaliptiese rolprente, sê die Sloweense filosoof Slavoj Žižek in die dokumentêr The Pervert’s Guide to Ideology (2012): “Dertig, veertig jaar gelede het ons nog gedebatteer oor wat die toekoms sou inhou: kommunisme, fascisme, kapitalisme of wat ook al. Vandag bespreek niemand eers hierdie kwessies nie. Ons het almal in die stilligheid aanvaar globale kapitalisme is hier om te bly. Aan die ander kant het ons ’n obsessie met kosmiese katastrofes: die hele lewe op aarde wat disintegreer as gevolg van een of ander virus of ’n asteroïede wat die planeet tref, ensovoorts. Die paradoks is dus dat dit nou makliker is om die einde van alle lewe op aarde voor te stel as ’n beskeie hervorming van kapitalisme.”

Sampie kon net nie glo dat ons van Kaapstad tot in Washington so eenvoudig en kortsigtig kan wees nie.

“Maar is ons dan mal?” het hy met kinderlike erns gevra elke keer wanneer hy met die N2 na Kaapstad tegelyk aan al die ellende én die spoggerige motors verby moes ry. “Blinker en duurder kan dit nie,” het hy gewoonlik verontwaardig bygevoeg.

Uiteindelik het hy soos enige oortuigende karakter in ’n goeie boek meer vrae as antwoorde gehad, maar hy het tot op die allereinde die mees dringende vrae gerig aan almal wat wou en nie wou hoor nie – daardie vrae wat die N2 tussen Stellenbosch en Kaapstad so pertinent aan ons almal stel.

Hy het waaragtig niemand ooit koud gelaat nie.

  • 2

Kommentaar

  • Sampie was die klippie in elke Suid-Afrikaner se skoen. Hy't ons gewete aangeval en bestorm met die trots van 'n Don Quixote. Hy't ons laat ander pad kyk met verontwaardiging en skaamte. En vir wat?
    Almal, myself inkluis, het 'n staaltjie of twee van die eksentrieke prof en sy sosialistiese neigings gehad. Hy't ons uitgedaag maar meestal was dit kognitiewe masturbasie. Ons het lekker gekry as hy die establishment aanvat om maar net weer terug te val op ons ou selfsugtige weë.
    Hy was die harlekyn wat ons moes vermaak maar wat tog nie te ernstig opgevat moes word nie.
    "Whatever you do, just don't rock the boat, baby."
    Dit is vir ewig tot ons skaamte dat Sampie nie verhef is tot pre eminente vaderfiguur en held nie. Erger nog dat sy ekonomiese modelle met 'n grynslaggie opsy gestoot is soos 'n ekstra porsie nadat ons reeds vol geëet was.
    Saam met Don McLean sing ek ook:
    "This world was never meant,
    for one as beautiful as you ..."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top