Ek is nie Danie by die KKNK

  • 1

Ná hierdie stuk ses Fiëstas gewen het, was my verwagtinge hoog. Ek ken boonop Danie Marais se gedigte en Schalk Joubert is ’n meesterlike musikant. Albert Pretorius is ’n verkleurmannetjie wat enige iets of enige iemand kan speel. Gooi Nico Scheepers (as regisseur) en Niel van Deventer (wat die idee uitgedink het) se name by, dan moet dit mos goed wees.

Die enorme Absa Burgersentrum is voorberei en ...

Ek het meer gekry as wat ek verwag het.

Eenvoudige idee, komplekse uitvoering

Op papier is die stuk baie maklik om te verduidelik. Albert Pretorius dra grepe uit Danie Marais se gedigte voor. Schalk Joubert tokkel ’n bietjie met musiek. Daar het jy dit. Dalk moet ek ook die beligting noem, want visueel het hierdie ouens agter in die saal iets besonders bygedra.

Die punt is egter: Iemand vertel gedigte, iemand speel musiek.

Dis dit.

Maar dis nie al nie.

Pretorius resiteer nie gedigte soos in ’n skoolkonsert nie. Hy neem grepe, interpreteer hulle, omvorm hulle, sing sommige dele, skree ander, praat ander.

Die enormiteit van Schalk Joubert se musiek gaan vir my klein breintjie moeiliker wees om te beskryf. Gelukkig het ek ná die vertoning in Coenie de Villiers vasgeloop. Hy was oorbluf. ’n Halfuur later het hy my weer gesien en toe kon ons ’n bietjie gesels. Wat daar op die verhoog gebeur het, is ’n musikale ontploffing, en as De Villiers sukkel om dit verduidelik, dan voel ek minder ongemaklik om my eie probeersel hier te plak.

Joubert gebruik elektronika en skep kringlope. Die een sin, die een frase, die een stel akkoorde word dus oor en oor gespeel, met nuwe lae wat daarop voortgebou word.

Dit as sodanig is nie vreemd nie – ek was onlangs by ’n konsert van Elvis Blue waar hy ’n baie suksesvolle a capella-uitvoering van ’n Boerneeflied gedoen het met dieselfde tegniek.

Dis die hóé.

Pretorius se stem word neergelê en weer neergelê. Joubert werk intussen met die sintetiseerders, kitare, basviole, baskitare en ’n elektriese klavier.

Joubert bly grootliks in die agtergrond – jy kan hom sien rondloop, knoppies druk, iets verstel, kitare optel, speel, neersit, nog knoppies druk.

Ek wou by geleentheid tel hoeveel instrumente daar op die verhoog is, maar ek het later opgegee. Daar was baie. Die stel het meer soos ’n opname-ateljee gelyk as ’n tradisionele musiekverhoog.

Pretorius is self vaardig op die kitaar, en het by tye bygedra tot die klankspel. Hy het ook die basviool getokkel.

Klokkies en bakkies en allerlei ander instrumente is ook “gevind” op die verhoog en het gehelp om klanke voort te bring.

Vreemd genoeg was die musiek nie as sodanig moeilike komposisies nie. (Joubert is ’n besonder goeie komponis, ook van jazz.) Juis nie. Die skynbaar gestroopte klanke wat op wonderbaarlike maniere neergelê en geëggo word, het vir die genot gesorg.

Wit bevoorregting

Danie Marais is waarskynlik die digter wat die openlikste en duidelikste in Afrikaans oor wit bevoorregting skryf. Sy gedigte kom van diep binne-in sy bewus wees van wie hy is in die breë Suid-Afrikaanse konteks.

Die woorde, die gedigte is rou en eerlik. Die aanbieding was dus ook soms rou, soms baie laf, maar dit was altyd besig met die dinkdinge van Danie, wat ook nie Danie is nie.

Danie, ook nie Danie, word ’n metafoor. Hy verteenwoordig enige een, tog is die gedigte so dikwels oor ’n eie, klein wêreld, soos dogters, verwagtende geliefdes en egskeidings, dat ’n mens voel jy kyk na iets oor iemand (anders).

Hierdie spel tussen die diep persoonlike Marais-persona en Danie wat nie Danie is en dus ons almal, was besonders.

Ek kan verstaan waarom die stuk ses Fiëstas gewen het.

Ek kan egter ook verstaan waarom sommige mense uitgeloop het. As die klippie in die skoen jou sou pla...

Nie Danie en die digter genaamd Churchil

Ek kon nie anders as om deeglike parallelle te trek tussen Ek is nie Danie en Woordenaar, deur Churchil Naudé, nie. Albei bekyk die Afrikaner, albei praat vanuit hul eie omgewing en kaats ’n beeld na die gehoor waarin ons mag besluit om onsself te herken, of weg te kyk.

Beide stukke gebruik gedigte uit ’n ryk oeuvre gekoppel aan ’n gestroopte klankbaan, ondersteun deur die uitstekende musikante.

Waarom sou Danie se stuk die enorme Absa Burgersentrum met ten minste die helfte volmaak, maar Churchil se stuk kon nie die veel kleiner Absa Studio eers halfpad vul nie?

Dit is so dat Ek is nie Danie dalk meer kompleks was, maar hoekom? As ’n mens die Wasgoedlyn ken, weet jy dat sou daar geld gewees het, Churchil en kie ’n veel groter en komplekse musiekaanbieding sou kon gemaak het daarvan as hulle sou wou.

Afgelei uit die gedigte van Danie Marais, maar uit my eie beweging, sou ek wonder of ons maar weer met ’n wit-vs-nie-wit-nie-ding te doen het. Ek weet nie.

Wat ek hier sê, moet vir geen oomblik wegneem van die wonder van Ek is nie Danie nie – juis nie. Dit is presies oor hierdie goed dat Danie Marais, en nie Danie van die vertoning, die hele tyd wonder.

Bravo

Ek het nog altyd gedink Schalk Joubert is goed. Ek is nie Danie het dit bevestig. En Albert Verkleurmannetjie Pretorius bly my verstom.

Dit was ’n voorreg om die stuk te kon ervaar.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is nie Danie – ’n onderhoud met Nico Scheepers en Albert Pretorius

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is ook nie Danie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top