Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is nie Danie – ’n onderhoud met Nico Scheepers en Albert Pretorius

  • 0

Foto: verskaf

Naomi Meyer praat met Albert Pretorius en Nico Scheepers oor Ek is nie Danie, wat binnekort by die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke is.

Danie Marais het pas die Breyten Breytenbach-prys vir die bundel Ek en jy bestaan nie, gewen.

Albert en Nico, julle is besig om te werk aan die produksie Ek is nie Danie. Nico, jy is regisseur, en Albert, jy is verteller/sanger van die gedigte. Het julle Danie Marais se werk geken voordat julle by die produksie betrokke geraak het? En al het julle dit nie geken nie: Wat het julle leer ken toe julle hiervoor begin voorberei en daaroor nagedink het? Watter van sy gedigte het in die besonder geresoneer?

A: Ek het van Danie se werk geken, nie alles nie en ook nie werk uit al sy bundels nie. Ek glo enige iemand met ’n pols sal kan aanklank vind by sy werk, selfs moontlik ’n paar siele sonder polse. Dis so menslik en alledaags, maar ook so groots en enorm; ’n hele kosmos in ’n korrel sand. Dit lyk eenvoudig, maar sodra jy begin delf, kom jy vinnig agter daar skuil veel meer. Elke woord sorgvuldig gekies. Daar is te veel waarmee ek resoneer om op te noem. Ek dink by eerste oogopslag het “Ma” my hard getref, maar sedertdien het ek ’n hele paar nuwe gunstelinge. Ek is ’n fan.

N: Danie is ’n ongelooflike digter. Albert is ’n ongelooflike akteur. Schalk is ’n meestermusikant. Dus, hierdie was heel maklik om voor ja te sê! Om saam met hierdie drie te kon skep en bou aan die produksie was die grootste eer en voorreg. Dit is ’n moeilike produksie om in ’n boksie te druk, en ek dink dit is ’n goeie ding.

Nico Scheepers (foto: https://woordfees.co.za/program/ek-is-nie-danie/)

Dit val my op hoe baie musiek daar in Danie se gedigte is, en ook dat jy die gedigte baie mooi sing, Albert. Is sang iets wat mens oefen as mens ’n akteur is, of is dit iets wat jy moet oefen en aanleer? 

A: Musiek speel ’n reuserol in Danie se lewe en natuurlik sal daar meer as net broodkrummels daarvan wees in sy verse. Ons wou sy liefde vir musiek eer. Van die begin af het ons glad nie geweet wat presies ons gaan doen nie. Sang was nie noodwendig op die kaarte nie. Ek sal myself ook nie as ’n sanger uithuur nie. Ek is ’n akteur wat bietjie noot kan hou, so dis iets in my gereedskapkas, maar ongelukkig nie iets wat ek gereeld olie nie. Maar ek en Schalk Joubert het begin rondspeel en eksperimenteer met klanke en tegnologie en instrumente en toe begin dinge in ’n sekere rigting beweeg.

Nico, en jy is betrokke by die mees wyduiteenlopende produksies of films: van Hen tot teaterproduksies soos hierdie een. Hoe kry jy dit reg om in een kompartement in DAARDIE kompartement te wees, of infiltreer al die kamers mekaar?

N: Ek dink al die kamers infiltreer mekaar tog tot ’n mate – ’n mens is ’n ongelooflike komplekse sameflansing van lig en donker, en so ook met kreatiewe werk. Ons moenie wegkruip vir die moeilike stories nie. Ek dink dit is ons verantwoordelikheid om dit na te jaag net soveel soos die lig. Ek dink uiteindelik moet jy gaan waar die storie jou lei, en die onderskeie produksies dien nie jouself nie. Wat ’n voorreg om in soveel verskillende genres en mediums te kan en mag werk.

Bogenoemde, nadat ek soek na vrae om julle te vra nadat ek met kort video-uittreksels na die melancholiese en aangrypende voordrag by jul repetisies kon luister. Vertel my asseblief wat in die produksie gebeur. En daarmee bedoel ek: Wat kan die gehoor verwag en wat gebeur nou terwyl julle besig is om voor te berei en julleself hierin in te leef – en wat gebeur met JULLE?

A: Dis nogal ’n moeilike vraag op ’n manier. Dis ’n mengelmoes van style en woorde en klanke. Die bron is Danie se gedigte en dit vorm ’n tipe narratief wat ons dan met musiek en ander elemente saamweef. Dis ook 150% nie ’n eenmanvertoning nie! Dis ek en Schalk heeltyd op die verhoog besig om aan Danie se woorde lewe te gee. Ons het van die begin af geweet ons wil nie net ’n gewone poësievoordrag-program doen nie en ek voel ek kan met oortuiging sê dis vir seker meer as net ek wat gedigte mooi vir julle voorlees, terwyl Schalk agtergrondmusiek in die donker maak.

N: Dit is nie net blote voordrag nie. Dit is wat mense moet verstaan. Die produksie is ’n two-hander tussen Albert en Schalk wat musiek en woorde gebruik om homself uit te speel. Dit was die heerlikste skeppingsproses en ek kan nie wag dat mense sien wat hierdie manne alles aanvang nie.

Albert Pretorius en Schalk Joubert in die agtergrond (foto: https://woordfees.co.za/program/ek-is-nie-danie/)

Waarom moet mens na hierdie produksie by die fees kom kyk? 

A: Ek dink werklik Danie se gedigte is so blerrie roerend en mooi en toeganklik en dat ons ’n ervaring rondom dit skep wat meer as net ’n tradisionele toneelstuk is of ’n musiekvertoning of ’n poësievoordrag-program. Mense wat repetisies gesien het, sê hulle het nog nie so iets gesien nie, want dis soveel genres ineen dat dit iewers tussen alles sit. Ek dink daar is iets exciting aan dit. En met Nico, Danie en Schalk is my job baie maklik en baie lekker: Ek voel vir die eerste keer of ek in ’n regte band is.

N: Want dit is eerlik en eiesoortig en werklik iets nuuts. Danie se woorde, Schalk se musiek en Albert se stem – wat meer kan mens sê?

Waarby is julle albei nog by die Woordfees betrokke?

A: Ek is ook betrokke by Moedswil en muitery deur Ingrid Winterbach. So, tussen die twee produksies is my kop nogal vol groot Afrikaanse woorde. Dalk te veel. Goue ster as jy weet wat ’n troefalaboom is 😉

N: Ek behartig ook die regie en ontwerp van Seun, met Wilhelm van der Walt.

Hier is nog inligting en die skakel vir kaartjie-aankope.

Lees ook:

Commendatio: Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2025

Ek en jy bestaan nie: ’n onderhoud met Danie Marais

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Saartjie Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top