
Karen Zoid en Emile Swiegers (foto: Ben Francis)
Naomi Meyer praat met Elmarié Dercksen oor haar en Karen Zoid se onlangse optrede in die NG Kerk Bloubergstrand – en oor die item Zoid Psalms, vanjaar op die Toyota Stellenbosch Woordfees se program.
Elmarié, daar is 'n item op vanjaar se Woordfees-program met die naam Zoid Psalms. Dit klink musikaal – en dit klink kerklik. Wat is die oorsprong hiervan? Hoe ken julle mekaar? Waar het alles begin?
Karen toer hard (in haar eie woorde), dus beantwoord ek jou vrae, Naomi.
Karen hang soms hier by ons rond as vriend van ons gemeente (NG Kerk Bloubergstrand). Toe sy verlief raak op ons klein kerkgeboutjie, was dit vir haar kreatiewe kop net ’n klein treetjie tot by ’n volledige show. Ons het dit maar so met wat ons het, aanmekaar getimmer soos ’n Picasso-kitaar. Sy verlos die orrel van sy verkrampte verlede met humor en deernis, en ons trek die kerkkoor nader.

Karen Zoid en Elmarié Dercksen (voorgrond) rock & roll (foto: Ben Francis)
Ek weet nou al hierdie produksie het in die NG Kerk Bloubergstrand gedebuteer. Vertel my daarvan. Dalk is daar ook foto's van die geleentheid?
Daar was drie shows en die kaartjies het soos soetkoek verkoop. Dit was ’n gemeenskapsfees met borge uit ons omgewing, harde werk vir gemeentevrywilligers, maar groot pret! Dit was vir ons wonderlik om gasvryheid te betoon aan besoekers wat nie ons gemeente ken nie. Karen se produksiemaatskappy het ook die hele kunsmark versorg en die bemarking hanteer.

Salomé van Wyk (foto: Ben Francis)
Wie het almal hier opgetree? En watter instrumente was betrokke?
Karen en haar superorkes is steeds die hartklop van die show, maar ons gemeente se ongelooflik bekwame orrelis, Salomé van Wyk, is ’n integrale deel hiervan. Sy speel nie net kerkmusiek saam nie, maar rock- en Zoid-liedjies ook. Verder is die gesamentlike koor van die NG Kerke Bloubergstrand en Melkbosstrand die agtergrondsangers, met hier en daar soloverrassings.

Karen Zoid en Elmarié Dercksen (foto: Ben Francis)
Hoe gaan hierdie item vanjaar by die Woordfees lyk? Watter elemente is ooreenstemmend?
Hoewel nog ’n nuwe show in Karen se arsenaal is die konsep redelik vas. Die vertonings vind plaas in Kruiskerk, waar die orrel benut kan word en daar genoeg optreeruimte vir die groot ensemble kan wees. Hoewel daar ’n geestelike element deurskemer, is dit nie hoogheilig of superspiritueel nie – Karen is eenvoudig te eg daarvoor. Hierdie is haar psalm, soos elke mens ’n psalm het: ’n mash-up uit die hart, soms vol pyn, soms jubelend, verlangend na God en heerlik nostalgies.
........
Hierdie is haar psalm, soos elke mens ’n psalm het: ’n mash-up uit die hart, soms vol pyn, soms jubelend, verlangend na God en heerlik nostalgies.
........
Een van Karen se sêgoed is dat alle musiek spiritueel is. Sy maak dit voelbaar.

Tydens die optrede in Bloubergstrand (foto: Ben Francis)
Julle het saam opgetree in Bloubergstrand. Wat was julle persoonlike ervaring by daardie geleentheid? Het julle verwag om so aangeraak te wees deur hierdie optrede?
Enige nuuskieriges en ook gesoute Zoid-aanhangers sal die show geniet. Dis steeds ’n rockshow, miskien net met ’n sagte hart. Daar is oorgenoeg van Karen se eie treffers, van haar en Salomé se gunstelinge saamgegooi, en kerkliedjies daarmee saam.
........
Enige nuuskieriges en ook gesoute Zoid-aanhangers sal die show geniet. Dis steeds ’n rockshow, miskien net met ’n sagte hart. Daar is oorgenoeg van Karen se eie treffers, van haar en Salomé se gunstelinge saamgegooi, en kerkliedjies daarmee saam.
........
Natuurlik was dit ’n heerlike voorreg om saam met Karen te sing. Ek sing ook al ’n leeftyd lank, maar haar vokale vermoëns en haar tegniese kennis van rock is eenvoudig verstommend. Sy het wysheid en warmte en daardie “iets”: ’n aanvoeling vir beide musiek en mense wat aan ’n show magic verleen.
Hier is nog inligting oor Zoid Psalms by vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees.
Lees ook:
Persverklaring: Kortlyste vir kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024 bekend
Elmarié Dercksen gesels oor "You had me at hello": ’n 2023 Toyota US Woordfees-gesprek

