Twee vorige wenners van die kykNET-Rapportprys vir fiksie, Eben Venter en SJ Naudé, bevind hulle vanjaar weer op die kortlys vir dié gesogte prys. Venter is in 2014 vir Wolf, wolf bekroon, terwyl SJ Naudé in 2018 met Die derde spoel gewen het.
Daar is vanjaar een dubbelbenoeming: PP Fourie is vir sy tweede roman, Ons skulde, op die kortlys vir sowel die filmprys as die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede werke.
Die kykNET-Rapportpryse, wat saam R1 miljoen beloop, bestaan uit vier boekpryse en twee resensiepryse, en word jaarliks toegeken vir Afrikaanse werk wat in die vorige kalenderjaar verskyn het. Die vier boekpryse is die kykNET-Rapportprys vir fiksie (romans), niefiksie en film onderskeidelik, en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede prosawerke.
Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese orde volgens skrywer:
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)
- Van vaders en vlugtelinge, SJ Naudé (Human & Rousseau)
- Gebeente, Etienne van Heerden (Tafelberg)
- Decima, Eben Venter (Penguin Random House)
KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE
- Diensplig, Anelia Heese (Tafelberg)
- Dan sien ons mekaar, James Scott (Protea Boekhuis)
- Die binneland in, Dana Snyman (Tafelberg)
KYKNET-RAPPORT HERMAN BINGE-PRYS: FILM
- Ons skulde, PP Fourie (Queillerie)
- Maalkolk, Marie Lotz (Human & Rousseau)
- Vuurvoël, Elmarie Viljoen-Massyn (Human & Rousseau)
JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERKE
- Die gawe van groen, Elmarie Dercksen (LAPA Uitgewers)
- Ons skulde, PP Fourie (Queillerie)
- Konkel, Pieter Marais (Protea Boekhuis)
Altesaam 91 inskrywings is ontvang vir die vier boekpryse wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om steeds gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.
In ’n teken van die tye woon en werk drie skrywers met titels op vanjaar se kortlyste in die buiteland: Eben Venter, Anelia Heese en James Scott.
“Dit is besielend om deurwinterde romanskrywers aan die toppunt van hul vaardigheid te sien in vanjaar se diep menslike, innoverende inskrywings,”sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Dit is boeke wat die toets van die tyd sal deurstaan.”
Die beoordelaars van die kykNET-Rapportprys vir fiksie is dit eens dat die diepte van die veld van hoog aangeskrewe romans in vanjaar se inskrywings boekdele spreek oor die diepgang en lewenskrag van die Afrikaanse letterkunde, wat skynbaar gedy onder elke vorm van druk waaronder die samelewing in die algemeen en die boekbedryf in die besonder gebuk gaan. Die ryke uiteenlopendheid van tema en genre spreek verder van ’n verbeeldingskrag wat punt vir punt die uitdagings van ons tyd met kuns as antwoord tegemoet loop.
Boeke wat naas die kortlys spesiale vermelding verdien is Sluitstuk deur Johan Rossouw (Penguin Random House) en Jeanette Ferreira se roman Die melkweg en die miskruier (Tafelberg).
Vanjaar se inskrywings vir niefiksie hou vir ons ’n spieël op na ons samelewing. Daarin word ons teenstrydighede, ons ongemak, ons mites, ons wonde en ons rowe teruggekaats. Die werke getuig van fyn waarneming. Klein, skynbaar nietige besonderhede vertel groter verhale; priemende kommentaar lê in die alledaagse opgesluit. Daar word nie teruggedeins vir groot idees nie, daar word geredeneer, daar word gelag en daar word gehuil. Dit alles word in helder Afrikaans gedoen, wat ons woordeskat, ons verbeeldingswêreld en ons denkwêreld verbreed en verryk.
Die individuele prysgeld beloop R300 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys en Jan Rabie-Rapportprys, en R45 000 elk vir die kykNET-Rapport-resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word later aangekondig.
Die wenners word op 21 September 2024 bekend gemaak tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.
Die keurpanele vir die onderskeie boekpryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Frederik de Jager, Bibi Slippers, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Lindie Koorts, Bill Nasson, Kerneels Breytenbach en Andries Bezuidenhout; kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys: Anastasia de Vries, Willie Burger en Francois Smith.
Lees ook:
FMR-resensies: Die binneland in deur Dana Snyman en Hierdie land, ’n bundel deur verskeie skrywers
Gebeente deur Etienne van Heerden: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Kommentaar
Dit is baie jammer dat daar nie meer 'n groot prys vir die beste Afrikaanse digbundel van die jaar is nie. Kan die prys vir die boek waarvan die beste fliek gemaak kan word nie maar verander word na 'n prys vir 'n digter nie? Van hoeveel romans wat met hierdie fliekprys bekroon is, is daar al inderdaad rolprente gemaak? Ek sal dit waardeer as iemand vir my hierdie inligting kan gee. Ek dink nie 'n mens kan dit eers op die vingers van een hand tel nie. Dis 'n totaal onsinnige prys. Ons digters verdien beter.
Petra Pienaar-Nel het my nou aan die dink gesit met haar skrywe oor Afrikaanse poësie wat skitter in sy afwesigheid by hierdie spesifieke prysgeleentheid. Ek sou dink poësie is enige taal se kosbaarste kultuurskat, en beslis meer waardevol as 'n Afrikaanse fliek. Watter pryse is daar nog spesifiek vir Afrikaanse poësie behalwe die Ingrid Jonker-prys? Ek kan nie aan enige dink nie, so help my asseblief reg, ek is seker daar moet meer wees. Maar dit sal my ook nie verbaas as daar nie veel aangaan nie, want poësie genereer mos nie winste vir die vraatsugtige kultuurkapitaliste nie. Alles gaan net oor geld en wie mekaar ken.
Ek het al drie boeke gelees wat benoem is vir die beste roman. Al drie boeke is so buitengewoon goed, en verskil ook so van mekaar, dat ek by voorbaat wonder hoe op dees aarde kies 'n mens "die beste" van die drie. Al drie is al reeds die room van die karige oes. Omdat boeke deesdae so duur is kon ek ongelukkig nie dié lees wat in die ander kategorieë benoem is nie, behalwe "Die binneland in", wat uitstekend is en myns insiens verdien om in die niefiksiekategorie bekroon te word.