Raaiselroman: ’n lesersindruk van Ons skulde deur PP Fourie

  • 1

Skrywer: PP Fourie
Titel: Ons skulde
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 978-0-7957-1083-4

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Vergifnis. Vergelding. Watter een sal jy kies as iemand ’n onvergeefbare sonde teenoor jou pleeg? Gaan jy die ander wang draai soos Jesus beveel, of wil jy liewer die Dis ek, Anna-sneller trek totdat die vuurwapen leeg en die laaste woede uit jou is?

“Hang af wat die sonde is,” erken ’n vriend. “As iemand my vrou en kinders leed moet aandoen …” Hy voltooi nie die sin nie. “Ek sweer ek vermoor my man as hy rondhoer,” erken ’n vriendin.

Waar trek jy, die leser, die lyn?

En wat gemaak met skuldgevoel en boetedoening as jy die oorsaak van iemand se dood is?

PP Fourie dwing lesers in sy jongste boek, Ons skulde, om die tema eerlik te ondersoek.

Die titel van die boek word ontleen aan die Onse Vader-gebed en gee ’n vals Christelike inslag. Die teendeel is egter waar. Alhoewel “vergifnis” die skrywer interesseer, glo hy nie in die Jesus-70-maal-sewe-keer-vergewe nie, want soos hy in ’n onderhoud en Ons skulde erken: “Nie eens God kan die verlede verander nie.”

Alhoewel ek nie ’n Hart is so groot soos ’n vuis gelees het nie (maar beslis gaan aankoop), is dit duidelik dat die twee boeke sibbe van mekaar is. Die professor in politieke wetenskap beskryf sy outobiografiese debuutroman as sy gesondwordboek en Ons skulde as sy wraakfantasie. En na dese hoop ek hy het meer as een fantasie gehad en dat dit sal uitvloei in nog ’n boek(e).

Die proloog laat jou na jou asem snak en lê ’n stewige fondament. Dit is ook die as waarom die hele roman draai, alhoewel ons lesers nie dadelik weet waar en hoe dit by die storie inpas nie. Géén proloog het ’n voorblad nog ooit vir my so treffend uitgebeeld as in Ons skulde nie. Saam laat dit jou koud word. Ek daag enige leser uit om die proloog te lees en die boek dan neer te sit.

Fourie slaag meesterlik daarin om die leser die heeltyd aan die raai te hou. En jou naels te kou. Die boek val dan eerder vir my onder ’n raaiselroman, selfs spanningsroman of net roman, eerder as ’n krimi soos dit bemark is. Daar vind wel ’n moord plaas, maar die boek is groter as dit. Dink Die Groot Afrikaanse Roman. Die skrywer bewys hiermee dat die lofpsalms waarmee ’n Hart is so groot soos ’n vuis besing is, nie vals is nie, maar die hoë standaard is waaraan ons lesers gewoond gaan raak in sy boeke.

In ’n neutedop: Emma, ’n navorser en projekbestuurder van ’n internasionale nuustydskrif, bieg aan haar man, Simon, dat sy ’n buite-egtelike verhouding met haar kollega aangeknoop het. Simon beëindig sy lewe deur voor ’n bus in te loop. Dit neem haar op ’n reis na Clarens waar sy sy as wil strooi. Sy gaan tuis by Simon se tannie – en dan breek die boek die klankgrens. Want met die verskyning van ’n geheimsinnige koevert – ongeveer 80 bladsye in die boek – versnel die leestempo met die spoed van lig. En dit word donkerder. Vreesaanjaend. Die inhoud van die koevert, wat vir die eerste keer in 2013 onheil voortbring, vererger in trappe van vergelyking van bad na worst.

Queillerie se inligtingstuk vra: “Wie koester ’n wrok teen Vera? Waarom? Sal Emma antwoorde vind voordat die teisteraar se wraak toeneem?”

Die skrywer van Ons skulde sê hy het min tyd vir fiksie lees, tog het hy tegnieke van maestro’s soos Stephen King (vrees) en Karin Slaughter (suggestie) deeglik onder die knie.

Ek het die boek so geniet, dit voel soos verraad om enige kritiek teenoor hierdie meesterstuk uit te spreek, maar ek voel dat dit die skrywer sal help met ’n volgende boek. Dialoog help lesers om karakters van mekaar te onderskei. Drie karakters, naamlik Vera Steyn (bl. 56), Sandra Swart (bl. 202) en Dawid du Plooy (bl.259) verwys na die hoofkarakter, Emma, as “my skat”. Die karakters sal sterker voorkom indien die skrywer sy karakters in die kleinste maniere moontlik verder onderskei.

Die skrywer van Ons skulde, PP Fourie, erken in sy onderhoud aan Rapport dat sy lewensafrigter hom aan die skryf gesit het. Afrikaans dank Ria Kotzé en Margaret Orr.

Ek beveel hierdie boek vir enige persoon aan wat verslaaf is aan leesstof deur ikoniese skrywers soos André P Brink, Etienne van Heerden, Eben Venter en JM Coetzee, asook lesers wat van romans, krimis en raaiselromans hou. Die boek is werd om weer en weer gelees te word, bederf jouself.

Lees ook:

’n Hart is so groot soos 'n vuis deur PP Fourie: ’n resensie

’n Hart is so groot soos ’n vuis deur PP Fourie: ’n lesersindruk

’n Brief aan PP Fourie, by die lees van ’n Hart is so groot soos ’n vuis

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Lyk interessant dankie. Ek wonder, is daar 'n spesifieke rede hoekom Simon sy eie lewe neem? Of bly dit onduidelik?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top