’n Hart is so groot soos ’n vuis
PP Fourie
NB-Uitgewers
ISBN: 9780795710018
Daar’s minstens twee laerskoolfoto’s in my lêer waarop ons saam is – die een so simpel soos die ander. Nie klasfoto’s nie. Nee. Die een is van ’n spreekkoor, en ons staan daar uitgevat, seuntjies met cheese cutters en rooi onderbaadjies en dogtertjies met sulke lawwe wit kepsies op. Glimlag! In die ander een is die seuntjies uitgevat soos Blommie Kabouter, en die dogtertjies is almal Liewe Heksies. Onthou jy? Ons het deelgeneem aan ’n massiewe – wat? tablo? massakonsert? gimnastrade? – op die veld van die huidige Vrystaatstadion. Ander skole was ander karakters, soos Heidi en Peter. Die 20-jarige viering van die Republiek. Heeltemal absurd, as mens nou daaraan terugdink.
En toe: Vrydag se Murray la Vita-artikel. Ek kyk jou foto’s só – iets aan die mond, iets aan die oë, en definitief die naam, lui ’n klokkie.
Die volgende dag is ek en een van my kinders in die boekwinkel; ons soek ’n dagboek.
Ieder geval, daar’s jou boek.
En ek koop jou boek.
En ek begin lees aan jou boek.
En dit slaan my wind uit.
Uit Murray se stuk weet ek jou boek is ’n feit/fiksie mash-up, ’n “faction”.
Maar jy weet, ek was daar, in daardie tyd, in jou skool en jou woonbuurt en jou kerk (wag, dalk was jy nie in die kerk nie). Jou ouers het by dieselfde plek kom werk as waar my pa gewerk het. So jy was vaagweg, baie effentjies, op my radar.
Ons het stapafstand van mekaar gewoon, maar dit het ek eers in jou boek raakgelees. Ons was nie maatjies nie. Wel, jy hét nie maatjies gehad nie – jy kon nie. Daar’s ligte verwysings na die laerskool. Van ruite raakskiet (darem nie uitskiet nie) met ’n kettie en albasters. Jy sal dalk lag of gril of geamuseerd wees om te hoor dat ’n vergroting van die spreekkoorfoto saam met ’n spul ander van oor die jare in die saal hang. Teen die agterste muur. Verewig, jy so met jou cutie smile.
Daar is ’n telefoonnommer op bladsy 78 wat ek ook uit die kop geken het, nes jou hoofkaraktertjie. Anders as hy was dit nooit vir my nodig om een nag in doodsangs die nommer skakel nie.
Chronologies het my wêreld ’n klein bietjie vroeër uitmekaargespat as jou (goed, jou karakter se) ontmoeting met die duiwel (hoofstuk wat op bladsy 70 begin). Seker ’n jaar of ses maande of so. Die plek waar ons pa’s gewerk het, was ongelukkig in die vroeë 1980’s ’n nes van promiskuiteit. ’n Versameling kunstenaars en kansvatters en wannabees. En saamryers, en meedoeners. ’n Nes waar jy vir geen oomblik moet dink iemand is aangespreek oor hulle wandade en prettige hedonisme nie. Ag ek veralgemeen dalk nou, maar ek onthou definitief ’n paar shady karakters, en ons twee weet mos wat ons weet. Jy wys hulle en andere selfs op bladsy 84 uit as medepligtiges. Wel, ek ook. In my gedagtenarratief.
So dan is daar die trauma, die breekpunt. Die gesinne is in hulle moer. Eers myne, dan joune. Ons bly in die stad aan, mankerig, terwyl jy en jou ma vlug. Dis soort van die aksie, en sorg vir boeiende leesstof. Of persoonlike herinneringe Dis baie goed geskryf, in jou boek – dis soos Stephen King: die demoniese pa al agter klein Danny aan in die toegesneeude hotel. Nou ja, breekpunt.
Dan begin die swaar deel. Deel twee. Die deel waar jy as kind verdwaas na die skerwe van jou gesin, eintlik jou lewe, kyk, en tot verhaal probeer kom. In jou boek noem jy dit “tesserae”, ’n versameling individuele stukkies glas of klip of wat ook al waaruit ’n mosaïek bestaan. Mens weet dit nie, nie dan nie, maar nou moet jy begin bou. Aan jou mosaïek. Jy weet dit nie, maar jy moet van daar tot hier kom. Van toe tot nou. Van 11 tot 48. Van stukkend tot ’n geïntegreerde, goedfunksionerende volwassene.
Jy moet meganismes kry om jouself bietjie te troos, bietjie skanse te bou, elke dag bietjie vir bietjie. Meganismes om te cope. Ag en jy beskryf dit so omvattend, en bitterlik eg en opreg. Soos die rol van musiek. Na die raaklees van jou hoofkarakter se ontdekking van die Chess-klankbaan (bladsy 116) was ek al weer in trane – ek het in my eie brose tyd die kasset gaar geluister. Ek hoop jy deel op ’n manier die boek se klankbaan met lesers, ver en wyd. Die Arvo Pärt-musiek is regtig onbeskryflik.
Ek jok, jy beskryf dit meesterlik in die hoofstuk wat op bladsy 130 begin.
En so word ons groot en slim en versigtig, en lag vir die naïwiteit van ander mense. En behou altyd maar ’n korreltjie wraaksug en verbittering, en selfbehoud. En behou ook altyd maar ’n stukkie deernis vir daardie kind wat in jou geheue daagliks nog in daardie vagevuur vasgevang is (hoofstuk beginnende op bladsy 222).
Ek was op ’n stadium gefikseer daarop om ’n gepaste Vadersdagkaartjie te kry. Maar Hallmark het nie van gebroke gesinne geweet nie. Ek het uiteindelik op bladsy 202 van jou boek gekry waarna ek al die jare in so ’n kaartjie gesoek het. Wat presies verwoord het wat in die kaartjie moes staan:
Vir my pa wil ek sê
Skaam jou.
Fok jou.
Ek is lief vir jou.
So jou boek het my gepootjie. Getrip. Laat trip. Op ’n trip gesit. Down memory lane. Want jy sien, ons is oukei. Dis baie jare later, daar is betekenisvolle beroepe en mense, verbintenisse, sin, joy, selfs vergifnis. Maar soms pootjie iets jou, en “dan spoel die ou nostalgie, daardie verleidelike onmiddellikheid …, die hartseer, oor my en ek sug” (bladsy 213). Ek as leser het aanklank gevind by jou as outeur wat in jou skryfwerk my eie struggles so akkuraat verwoord het. Dankie vir jou boek.
My kinders kyk graag my ou skoolfoto’s deur – lag vir haarstyle, sub A se swart-en-wit foto, en vriende se ouers wat hulle herken. Op die spreekkoorfoto kan ek hulle almal se name onthou en opsê, behalwe so een of twee, met ’n vae idee van waar elkeen is. By jou het ek keer op keer vasgehaak, en niks van jou geweet nie, en oor jou gewonder. En gewonder of jy oukei is, en ek dink jy is.
Kommentaar
Ek het nog nie die boek klaar gelees nie, en nou hierdie brief.
Ongelooflik hoeveel hartseer weggesteek word agter mure en deure en glimlagte.
Ek het nie dieselfde nagmerrie gehad as kind nie, wel my eie, waarmee mens leer om mee saam te leef en oud te word en weer jou eie lewe te begin en te BESLUIT om dinge anders te doen.
Dankie tog dat, hopelik die meeste, kinders redelik heel grootword
Ek het die boek gelees en later gepieker oor die moeder se beweerde ure lange naakstanery op tafels terwyl sy beswadder word. Sy het 'lief' gebly vir die man en hom telkens weer in hul lewens toegelaat.
Was dit 'bondage' het ek gewonder?
Ek lees op die internet: "Many of us, especially women, are brought up with the idea of guilt in relation to sex or, at the very least, in relation to certain acts or behaviour: The 'nice girls don’t do that' mentality. Bondage can be used to expiate this guilt by providing the convenient excuse of being tied up and thus ‘unable’ to resist, safe word not withstanding. Thus, the social restraints are removed: Freedom through bondage!"